Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
terwyl haar stiefpa geleef het, het sy nooit in enige man belang gestel nie. Haar stiefpa en Huis Winterrus het al haar aandag en energie in beslag geneem.
“Ek weet dit was verkeerd van my om deur Lelani se kamervenster te klim, maar ek móés met haar praat. Ek voel skuldig omdat sy haar werk as gevolg van my verloor het en sou sy weggaan … Ek sal graag wil weet waarheen sy gaan,” vervolg Arno en kyk vir die eerste maal na Lelani. “Ek is jammer, Lelani. Maar nou weet jy waarom ek vannag hierheen gekom het.”
“Het jy die man lief, Lelani?” vra Roland, sy stemtoon afgemete.
Sy vraag tref Lelani soos ’n vuishou in haar maag en sy snak onwillekeurig na haar asem. Ellendige ou klipgesig! skel sy in haar gedagtes. Sy kan raai wat hy hoop: dat sy sal instem om met Arno te trou, sodat sy en oom Giepie nie na Huis Daeraad toe sal gaan nie. Maar sy sál saam met tant Engela gaan en sy sal haar bes doen om die lewe so onaangenaam moontlik vir Roland Stadler te maak, besluit sy en flits ’n uitdagende boodskap met haar oë aan hom.
“Moenie simpel wees nie, boetie,” sê tant Engela betigtend. “’n Meisie wat liefhet, roep nie om hulp nie.”
Lelani draai simpatiek na Arno. “Ek is seker Estelle sal dankbaar wees om haar verloofring terug te kry, Arno, want ek sien beslis nie kans om dit te dra nie.” Sy loop na tant Engela toe. “Daar is ’n gerieflike rusbank in tannie se kamer. Ek sal veiliger voel as ek vannag by tannie slaap.”
“Nou waarvoor wag ons, hartjie?” vra tant Engela gemoedelik. Sy slaan haar arm om Lelani se skouers en stap saam met haar uit in die gang.
“Kom, ou seun,” sê oom Giepie en knik met sy kop vir Arno. “Ek sal jou na die voordeur vergesel.”
Arno volg oom Giepie woordeloos en bly staan toe hy die voordeur oopsluit en oopstoot. “Asseblief, meneer Taljaard … As ek weet wat Lelani se planne is, kan ek in die toekoms –”
“Daar is geen toekoms vir jou saam met Lelani nie, knaap,” val oom Giepie hom ferm in die rede. “Ek het nooit veel respek vir jou gehad nie, maar ek glo jy is opreg in jou gevoel vir Lelani. Maar sy het jou nie lief nie. Moenie ’n oorlas van jouself maak nie.”
“Maar daardie man – Roland of Herklaas …”
“Roland. Wat van hom?”
“Is hy en Lelani verloof?”
Oom Giepie huiwer en dan kry sy humorsin die oorhand. “As ’t ware reeds getroud, ou seun. Goeienag,” sê hy en maak die voordeur toe.
In Lelani se kamer bly Roland met ’n gevoel van onvergenoegdheid staan en laat sy blik langsaam oor die beknopte vertrek dwaal: ’n enkelbed, ’n tafel, ’n stoel en ’n boekrak. Die geblomde gordyne is verbleik en die vloer sonder ’n mat – in skrille kontras met die luukse ameublement van die gastekamers. Watter soort mens was Werner Boonzaaier? wonder hy wrang. Die enigste tikkie skoonheid in Lelani se kloosteragtige kamertjie is ’n blompot vol goudgeel kappertjies …
Skielik kom dit by hom op dat Lelani reg het op die warm huislikheid van Huis Daeraad, want sy … Sy gedagtes bots teen ’n muur van gevoelloosheid. Lelani is net nog ’n meisie, ’n lid van die bedrieglike vrouegeslag. Geen vrou – maak nie saak hoe onskuldig sy lyk nie – kan vertrou word nie, dink hy, onbewus daarvan dat die vingers van sy linkerhand oor die letsel op sy wang streel.
Waarom kanker die gevoel dat hy oorbodig is in sy binneste? Lelani het hom vannag nodig gehad, maar dit was oom Giepie en tant Engela wat haar te hulp gesnel het. Hy kon wel ’n bietjie fisieke geweld gebruik om Arno teen die hangkas vas te pen, maar dit was ook al. Oom Giepie was onmiddellik in beheer van die situasie en tant Engela was daar om Lelani te troos. En hy … hy het soos ’n reisiger na nêrens gevoel; ’n verbyganger wat toevallig by ’n venster ingekyk en iets gesien het waarvan hy graag deel wou wees.
Hy is nie meer deel van die lewe nie, besef hy, want om te lewe, beteken om vrylik te gee. Maar hy het lankal verleer om te gee, want sy vertroue in sy medemens het finaal gesterf toe die lewe ’n letsel op sy gesig gelaat het.
Tant Engela blik met ’n goedkeurende glimlaggie na Lelani wat langs haar in haar motor sit en haar nek verdraai terwyl hulle deur die sakesentrum van Stadlerheim ry. “Dis ’n vooruitstrewende dorp, maar sit terug en ontspan, hartjie. Jy gaan ’n kramp in jou nek kry as jy alles op een slag wil sien.”
“Die Roosblaar-bloemistery, die Boekhoekie, ’n slaghuis … Lelani glimlag opgewonde. “Dis ’n hele nuwe wêreld, tant Engela. Ek gaan die dorpie plat loop en almal leer ken.”
“Jy sal omtrent jou stapskoene moet aantrek as jy al die pad van Huis Daeraad af dorp toe wil loop. Ons sal vir jou ’n rydingetjie moet aanskaf,” kom dit ingedagte van tant Engela. Sy blik weer sydelings na Lelani en vra: “Jy kan seker motor bestuur?”
“Ja, tannie, maar toe my pa te siek geword het om motor te bestuur, het hy sy motor verkoop. Dit was terwyl ek nog op universiteit was. Maar oom Giepie het altyd gehelp. Dis net …” Sy lek oor haar lippe en sê vinnig: “Ek kan nie nou ’n motor bekostig nie, tannie. Sodra ek weer voltyds werk, sal ek wel ’n plan maak.”
“Jy het nie daaraan gedink om van die meubels en porselein- en silwerware te verkoop nie?” vra tant Engela gelykmatig.
Lelani se oë rek geskok. “Nooit nie! Dis al wat ek het om my aan my ma te herinner. Toe ek universiteit toe is, wou my pa …” Sy breek haar sin af en sluit haar lippe ferm opmekaar.
“Ek is verbaas dat jou pa nooit van die antieke meubels ontslae geraak het nie.”
“Hy wou,” erken Lelani onwillig. “Veral nadat ek mondig geword het, want toe was ek vry om enigiets wat ek geërf het, van die hand te sit. My pa het gesê dat as ek alles verkoop, hy die geld in aandele sou kon belê, maar ek het geweier. Gelukkig het oom Giepie my gehelp. Ek weet nie wat hy vir my pa gesê het nie, maar hy het my daarna met rus gelaat.”
“Jy was gelukkig om ’n knap advokaat as ’n beskermengel te hê, ou kintatjie,” sê tant Engela met ’n droë laggie.
Lelani staar haar verras aan. “’n Advokaat? Was oom Giepie ’n advokaat?”
Tant Engela lyk op haar beurt verbaas. “Hy het jou nooit vertel nie?”
“Nee … Ek weet hy het in Johannesburg gewerk, maar dis ook al. Oom Giepie praat selde indien ooit oor sy verlede. Soms kry ek die indruk dat hy sy verlede wil vergeet omdat hy nie baie gelukkige herinneringe het nie.”
“Eensaamheid maak ’n mens altyd ongelukkig, maak nie saak hoe suksesvol ’n mens is nie. En rykdom help ook nie. Ek weet, want as ek nie vir Roland gehad het nie …” sê tant Engela mymerend en ry deur gietysterhekke ’n silwereikomsoomde rylaan binne. Sy glimlag met Lelani. “Welkom tuis, Lelani.”
Lelani skuif na die voorpunt van haar sitplek en kyk gretig deur die flitsende boomstamme na die golwende, groen grasperk. Sy merk meer as een visvywer, wit geverfde tuinbankies en struike wat blom. Die rylaan eindig in ’n geplaveide parkeerterrein en Huis Daeraad troon in al sy glorie drie verdiepings hoog teen die leiblou hemelruim.
“Dis sprokiesagtig mooi,” fluister Lelani. “’n Huis van blou graniet met vensters in die teëldak. En die klimop teen die mure laat dit lyk asof die huis ’n groen mantel dra.”
“Ek is bly jy dink so,” sê tant Engela en bring haar motor tot stilstand. “Daar is mense wat glo rankplante is net ’n broeiplek vir insekte, maar wanneer ek ’n venster oopmaak en daar loer ’n groen takkie na binne, voel dit altyd vir my asof ek ’n vriendelike besoeker kry.”
“Tannie het reeds ’n ander besoeker,” sê Lelani terwyl sy uit die motor klim.
Tant Engela skuif vinnig agter die stuurwiel uit, klap die motordeur onnodig hard agter haar toe en gluur onstuimig na tant Breggie Stapelberg wat, met ’n mandjie in haar hand, hulle op die voorstoep inwag. Stuitige ou vrou met haar yl, rooi gekleurde hare en oormaat grimering, dink tant Engela en laat haar blik krities oor haar besoeker dwaal. En kyk net waar sit die vroumens se rok! Sy