Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
Ek beplan om hom daaroor uit te vra wanneer ek die kans kry, want Engela praat nie.”
“Ja … ja, tant Engela praat nie,” beaam hy en luister net met ’n halwe oor terwyl tant Breggie hom oor die jongste gebeurtenisse op die dorp inlig.
“Maar sal jy luister wanneer ek praat!” skree tant Breggie en pomp hom onverwags met haar skerp elmboog in die sy.
“Eina!” Hy kyk haar onthuts aan. “Was dit nou nodig, tant Breggie? As oom Naas sy vrou wil slaan en sy geld wil uitdrink –”
“Wys jou net,” val sy hom vies in die rede, “jy het nie ’n enkele woord gehoor wat ek gesê het nie. Ek is lankal by ou Naas verby. Ek was besig om oor Yvette Boonzaaier te praat.”
’n Masker van apatie sak oor Roland se gelaat. “Tannie wou sê?”
“Ek wou nie; ek het al. Yvette het te vertel dat sy ’n pragtige strandhuis van haar oorle pa geërf het. Sy meen julle tweetjies sal dit gerieflik kan gebruik wanneer julle eers getroud is.” Tant Breggie swyg om te sien watter reaksie haar woorde gaan uitlok en vervolg met ’n diep sug: “Ek het vir die meisiemens gesê sy mors haar tyd, maar jy ken haar tog: sy klou soos ’n bulterriër wanneer sy eers haar byt gekry het. Nie dat ek haar verkwalik nie – die arme mens is lief vir jou.”
“Yvette is lief vir my?” vra hy met ’n spottende ondertoon in sy stem.
Sy kyk hom geraak aan. “Moenie lag oor dinge wat seermaak nie, Roland. Jy weet self: my ou huisie staan as ’t ware in die skadu van julle ringmuur. Daar gebeur niks in Huis Daeraad waarvan ek nie weet nie.”
“Yvette woon nie in Huis Daeraad nie, tannie.”
“Nee, maar sy boer by julle, vandat sy fiets kon ry. En later was dit motor. Hoeveel pare skoene sy al agter jou aan deurgeloop het, weet joos alleen. Sy is mooi en ryk. Hoeveel maal het ek nie al vir haar gesê sy mors haar tyd nie, maar Yvette luister nie. Sy is nie daardie ander merrie nie, Roland. Yvette het jou lief. Hoe lank gaan jy haar nog laat wag?” vra tant Breggie pleitend.
Roland glimlag. “Hier is tannie se mandjie. Sit volgende keer ’n rooi lint in tannie se hare. Dit sal beter by die rok pas. Tot siens, tannie,” groet hy en loop met lang treë terug na die woning.
“Ja, tatta, Roland!” roep tant Breggie hom agterna. Sy gee ’n sprongetjie van ergernis, maak seker dat die eiers nie iets oorgekom het nie en stap mompelend met die sypaadjie langs na haar skewe tuinhekkie toe. “Kliphard … klipsteenhard. Lag en gesels en maak of hy net soos ons almal is, maar dis pure boereverneukery. Hy is anders. Daardie merrie het hom anders gemaak. En die arme Yvette … Ek sal haar dadelik gaan bel sodat sy weet Roland is terug.”
Lelani sien hoe oom Giepie ’n hek van ’n draadomheinde kampie oopmaak, dit versigtig weer agter hom toemaak en dan in ’n voetpaadjie wegstap. Haar lippe vorm reeds sy naam, maar dan besluit sy om hom liewer te volg as om hom terug te roep.
Sy het nie voor vandag besef dat oom Giepie ’n man van geheime is nie. Eers het tant Engela haar vertel dat hy ’n advokaat was en daarna het tant Breggie hom herken as dieselfde man wat tant Engela in hulle jeug in die steek gelaat het. Sy het gebrand om tant Engela uit te vra, maar sy ken oom Giepie beter. Oom Giepie sal haar die waarheid oor sy en tant Engela se verlede vertel.
Sy loop ’n wye draai om die perdestalle en bly ’n ruk lank langs die hoenderhok staan om haar aan ’n hen met ’n dosyn goudgeel kuikentjies te verkyk. Huis Daeraad is wel op Stadlerheim, maar sodra ’n mens in die agterplaas kom, kan jy jou maklik verbeel jy kuier op ’n plaas, dink sy en slenter tydsaam na die hek van die kampie.
Sy steek haar hand uit om die hek oop te maak, maar merk ’n soortgelyke hek effens regs van haar. Deur watter hek het oom Giepie gestap? wonder sy. Seker deur die tweede hek aan die regterkant, besluit sy, loop nader en stap die kampie binne. Sy maak die hek sorgvuldig toe, draai om en versteen toe iets warm en sag in haar nek proes.
“Oom Giepie, is oom laf?” vra sy vies, swaai om en kyk vas in die groot neusgate van ’n perd. “N-nee,” stotter sy, wil haar hand uitsteek om die perd weg te stoot, maar is nie in staat om te beweeg nie. Die perd proes weer, buig sy kop laag af en snuif aan haar regterhand.
Dis die einde, dink sy en knyp haar oë styf toe. Sy het nog nooit gehoor van perde wat mense lewendig verslind nie, maar hierdie perd is beslis ’n uitsondering. Eers het die perd haar beruik en nou gaan hy haar opvreet – en hy gaan met een van haar hande begin.
“Het jy onthou om vir ou Poena ’n lekker appel of ’n paar suikerklontjies saam te bring, Lelani?” hoor sy Roland vra uit die ver veiligheid van die land van die lewendes.
“Is-is jy s-simpel?” stamel sy deur ’n stokstywe kakebeen, te bang om haar oë oop te maak. “Wanneer hy my k-klaar opgevreet het, kan-kan jy vir hom nagereg aandra.”
Roland se skaterende lag is so hard en onverwags dat Poena omvlieg en enkele treë wegdraf, terwyl Lelani se oë oopvlieg en sy hom verstar aanstaar.
Witwarm woede ontplof agter Lelani se oë terwyl sy na die laggende Roland kyk. Hier staan sy letterlik in die kake van die dood, en al wat hy kan doen, is om haar uit te lag. Sy sien Poena nuuskierig nader kom, weet dat haar tydjie kort word, maar haar woede maak haar dapper.
“Jy is ’n monster, Roland Stadler!” tier sy. “Jy lok onskuldige meisies in ’n kamp en staan en lag terwyl hulle voor jou oë opgevreet word. Maar as jy dink ek gaan jou om hulp vra …” Sy bly stil toe Poena sy kop laat sak en weer in haar nek snuif. “Help! Voertsek, perd, voertsek! Roland, hélp my!” krys sy angsbevange.
Roland pers sy lippe opmekaar, maar sy skouers ruk van die lag toe hy die hek oopmaak en met sy hand uitgestrek na haar aangestap kom. “Hier, jou arme, bang kind. Vat ’n paar suikerklontjies en voer ou Poena.”
“Is jy mal?” vra sy, haar skouers hoog opgetrek, asof sy wil verhoed dat die perd haar nek afbyt. “As ek nou beweeg, byt hy my.”
“Poena is ’n perd, nie ’n hond nie,” sê hy paaiend, vir die eerste maal bewus van die omvang van haar vrees. “Kom na my toe, Lelani. Poena sal niks aan jou doen nie.”
Lelani trek haar asem diep in, kyk om en stamp haar wang teen Poena se bek. Haar kreun is ’n gesmoorde snikkie en dan sak sy weg in ’n welkome duisternis voordat haar liggaam die grond tref.
6
Roland se liggaam versteen van skok toe Lelani voor sy oë inmekaarsak en roerloos bly lê, haar gesig die kleur van ’n rypwit grasland in die winter. Hy het haar uitgelag en nou … Sy kan tog nie dood wees nie. Sy kan nie! skree die vrees in hom.
Dis nie net vrees wat hom besorg maak nie, besef hy. Hy staar byna gehipnotiseerd na die volmaakte skoonheid van haar gelaatstrekke, omraam deur haar digte, swart hare. Haar lang, digte wimpers verf donker skadu’s op haar wange, en vorm ’n skrille kontras met die byna deursigtige witheid van haar vel. Maar dis die weerlose pyntrekkie om haar sagte lippe wat die koue muur van afsydigheid in sy binneste laat verkrummel.
“Lelani.” Hy herken nouliks die skor klank van sy eie stem terwyl hy met rukkerige, gedwonge bewegings na haar toe loop en langs haar kniel. Sy regterhand beweeg met ’n eie wil en vee ’n sagte haarkrul van haar voorkop af weg. “Ek is jammer, meisie. Ek het nie besef jou vrees is eg nie.”
Langs hom beweeg Poena nader en snuif in sy nek, maar hy maak ’n ongeduldige handgebaar en die perd skrik en draf ’n entjie weg.
Wat doen hy nou? wonder hy verward. Hy kan nie Lelani alleen saam met Poena in die perdekamp laat nie, want kom sy by … Dalk ly sy aan ’n swak hart; dalk kan ’n tweede skok fataal wees. Onsin! Sy is jonk en sterk; sy was ’n hospitaalsuster. Nogtans … sy lyk so fyn en breekbaar, so volkome hulpeloos.
Hy huiwer net ’n oomblik en tel haar dan in sy arms op. Sy is ligter as wat hy verwag het, dink hy en kom orent. Hy dink skielik daaraan dat tant Engela gedurende hulle verblyf in Huis Winterrus gereeld gekla het dat Lelani te min eet en slaap en veels te hard werk. Maar toe het hy hom nie aan