Suster Leanie se groot hart. Naretha Franken
nie?” Sy gee haar vriendin ’n stampie met haar elmboog. “Hopelik sal albei van ons binnekort kan aanbeweeg.”
Maré lag en bloos. “Ek sal my deel die naweek doen as jy joune doen. Jy gaan mos by Henk op die plaas kuier, of hoe? Dalk is dit tyd dat Henk-lief ’n bietjie aangepor word – dit kan nie skade doen nie.”
2
Sondagmiddag laai Henk vir Leanie voor die koshuisingang af en groet net kortaf voordat hy met skreeuende bande wegtrek. Hy is vies vir haar en gee klaarblyklik nie om wie dit agterkom nie. Die naweek het glad nie verloop soos sy verwag het nie.
Sy gooi die rugsak oor haar skouer en sleep die tas op wiele agter haar aan. Die donker siersteengebou met drie verdiepings doem voor haar op. Sy voel steeds soos ’n skooldogter elke keer wanneer sy na haar blyplek terugkeer, al is dit jare lank nie meer ’n koshuis nie. Dit help ook nie dat almal wat hier bly, die bejaardes op die grondverdieping inkluis, steeds daarna verwys as die “koshuis” nie. Dit is nou wel reg langs haar werkplek en boonop veilig en goedkoop, maar genade, sy is al ag-en-twintig – Maré is reg, dis tyd dat sy aanbeweeg. Dis net jammer dat Henk bly uitstel en verskonings soek.
Ná die heerlike vakansie op Hermanus het sy gedink dinge tussen hulle vorder weer goed. Maar alles het die naweek skeefgeloop. Sy het gehoop hulle sal tyd alleen saam hê, soos vroeër in hulle verhouding toe hy haar dikwels uitgeneem het of hulle sommer vir ’n naweek weggeglip het. Maar nee, die bederf en die tyd vir privaat gesels, het opgedroog vandat hulle verloof geraak het, en nou is ’n oor en weer gekuier en gedrink met die ander boere in die distrik al waaruit haar vry naweke bestaan. Henk wil blykbaar nie verstaan dat sy nie van rumoerige partytjies en ’n drinkery hou nie.
Sy is sowaar nou moeër as wat sy was voordat die naweek begin het. En dan raak hy boonop kwaad vir haar as sy ’n bietjie vroeër wil huis toe kom om te rus voor haar werksweek begin. Dit sou nie ’n probleem gewees het as hy haar toegelaat het om met haar eie motor plaas toe te ry nie, maar hy dring daarop aan om haar te kom oplaai. Aan die begin was dit galant, maar nou … Nou is hy vies dat hy sy kosbare kuiertjie moet opoffer om haar terug te bring.
“Kan jy nie net ’n slag ontspan nie, Leanie?” het hy geïrriteerd in sy viertrek op pad hierheen gevra.
“Ek ontspan gereeld, Henk. Lekker onder ’n koelteboom in die parkie, of met ’n koppie koffie voor die televisie. Om te drink en te raas is nie vir my ontspannend nie. Ek het in elk geval rus nodig voor die week se nagskof. Al dink jy nie so nie, is dit nogal uitputtend.”
“Ek weet nie hoekom jy jou so moet afsloof nie. Hospitaalwerk is nie vir ’n fyn vrou soos jy bedoel nie. Hoekom kan jy nie soos enige normale mens vir jou ’n werk kry waar jy van Maandag tot Vrydag en van ag tot vyf werk nie? Dalk sal jy dan nie alewig moeg wees nie en meer tyd met jou verloofde wil spandeer.”
“Ek wil tyd saam met jou deurbring, Henk. Baie graag,” het sy probeer verduidelik. “Maar nie saam met jou drinkebroers nie. En ek is lief vir my werk. Dit is ongelukkig wie ek is en wat ek wil doen. Om mense te help is in my bloed. Jy het dit van die begin van ons verhouding af geweet.”
“Daar is baie ander werke wat jy kan doen. Buitendien, wanneer ons trou, gaan ek nie toelaat dat jy verder werk nie. Ek kan vir ons albei sorg.”
“Jy is onredelik, Henk. Jy weet ek wil nie ophou werk nie. Ek sal my doodverveel as ek heeldag moet koekies bak en huis-huis speel.”
“Daar’s baie vroue wat hulle sterre sal dank as ’n man dit vir hulle sê.”
Nou hoekom gaan soek jy nie vir jou een van hulle nie, het sy hom amper toegesnou, maar haarself betyds gekeer.
Die minste wat hy kon doen, was om haar met haar bagasie te help, maar soos soveel ander kere was hy blykbaar te kwaad daarvoor.
Sy waai net vlugtig vir Tania by Ontvangs. Sy is tog nie lus om nou met haar aan die gesels te raak nie.
Leanie voel natgesweet en keelvol toe die hyser se deure oopskuif, sy instap en die knoppie druk om haar na haar verdieping te neem. Plaas dat sy drie jaar gelede al vir haar ’n ander blyplek gekry het – ’n plekkie van haar eie waar sy meer privaatheid kon hê. As sy tóé geweet het dat sy nou nog verloof sou wees, sonder enige konkrete trouplanne of planne om saam met Henk ’n huis te koop, het sy beslis. Dalk is dit ’n goeie ding dat hulle nog nie tot trou gekom het nie, want op dae soos vandag weet sy nie of sy nog met hom wil trou nie.
Sy skrik vir haar eie gedagtes.
Toe sy op haar verdieping kom, klop sy vlugtig aan Maré se deur, maar dis doodstil aan die binnekant. Sy brand om uit te vind hoe dit Vrydagaand met Maré se afspraak met die onderwyser gegaan het, maar sy sal haar nuuskierigheid nog ’n rukkie moet onderdruk. Laat sy eerder gaan rus soos sy vir Henk gesê het haar plan is.
In teenstelling met die vorige week se bedrywige nagte, is Sondagnag weer amper te rustig. Die wysers van die horlosie teen die dienskamer se muur beweeg traag en die nag is eindeloos lank.
Toe haar skof eindig, gaan maak sy eers ’n draai in die kindersaal waar Sammy aansterk na sy sleutelbeenoperasie. Sy arm is in ’n hangverband. “Hoe voel jy nou, grootman?”
“Beter, tannie,” sê hy saggies. Sy ogies lyk bietjie verlep, asof hy vaak is.
Sy kyk na sy hospitaalkaart en sien dat hy sterk pynmedikasie gekry het – die rede vir die leepogies.
“Wanneer kan ek my mamma sien, tannie?”
Leanie se hart krimp ineen.
“Nie nou nie, seuna. Jou mamma moet nog bietjie rus ná die ongeluk.” Sou hy weet dat sy pa …?
Hy knik stadig en laat sak sy groot bruin oë. “Ek was baie bang. Dit was seer en … toe kom die paddamediese oom my help. Hy was soos The Flash, so vinnig. En die ambulans was net so vinnig.”
Leanie vee gou ’n traan weg, en glimlag vir “paddamediese”. “Hou jy baie van The Flash? Lees jy die comics?”
Die seuntjie kyk vinnig op. “Ek’s mal oor hom! Ek het ’n DVD ook van hom.”
Sy lag. “Nou ja, dié tannie gaan vir jou comics koop, dan kan jy hulle lekker hier in die bed sit en lees. Ongelukkig sal DVD’s nie hier werk nie, maar ten minste sal jy lekker kan lees. Wat sê jy?”
Sy gesig helder bietjie op. “Dankie, tannie.”
Toe sy uitloop, vra sy vir ’n verpleegster of ander familie die kind al kom besoek het. “Sy ouma kom glo vandag,” sê die meisie. “Hy sal seker in haar sorg geplaas word as sy ma nie …”
Leanie wil nie verder luister nie. Sy wil nie eens daaraan dink nie. Sy groet vinnig en loop uit die saal uit.
Toe die voordeure van Worcester Med voor Leanie oopskuif, merk sy dadelik die donderweer in die lug. Dis bedompig en bewolk. Die afgelope snikhete dae gaan ooglopend op ’n storm uitloop. Lekker slaapweer. ’n Bed sal nou hemels wees, maar sy sal moet dorp toe om vir Sammy strokiesprente te gaan koop. Sy durf hom nie teleurstel nie.
Oudergewoonte kyk sy na haar arm om te sien hoe laat dit is en moedeloosheid sak weer op haar neer. Waar sal haar horlosietjie tog wees? Sy kan ’n nuwe een aanskaf, maar dit sal nooit dieselfde sentimentele waarde kan hê nie. Sy grawe haar selfoon uit haar sak en sien dis te vroeg; die winkels sal nog nie oop wees nie. Sy sal maar eers gaan ontbyt eet voordat sy dorp toe gaan.
Ná ontbyt glip sy gou by haar kamer in om gemakliker aan te trek, gryp haar handsak en draf in die gang af na die hyser toe. Sy druk die knoppie en wag. Dalk moet sy omdraai en haar motorsleutels gaan kry? Dis soveel moeite om die motor uit die koshuis se garage te gaan haal dat sy daarteen besluit. Sy sal liewer stap. Dis in elk geval goeie oefening. Sy hoop net nie die weer oorval haar nie.
Toe sy die parkie oorkant die pad van Worcester Med nader, neem haar voete haar vanself na die opening in die heining. Eintlik is die pad heelwat korter as jy met die sypaadjie langs stap, maar die parkie trek haar altyd soos ’n magneet aan. Verder kon sy die boemelaar se blou oë nie uit haar gedagtes kry nie.