Elim. Helena Hugo
soek nie hunning in anderse neste nie, hulle eet by die huis en klaar.”
Willem se gewete hou hom heelnag wakker. As hy ingesluimer het, was dit omdat hy sy gedagtes so oorlaai het dat sy nek nie meer kon regop bly nie. Rooivalk verras hom ligdag met ’n beker koffie en die gerusstelling dat hy en Danster om die beurt wag gestaan het.
Die takhaar en sy manskappe daag nie op nie, maar Willem besluit nietemin om aan te skuif en staanplek te soek waar hulle kan bly tot lamtyd verby is. Hy onthou die tweespoorpaadjie wat hy gister ontdek het, en volg sy neus in daardie rigting. Hier ontmoet hulle dalk ’n togryer of twee en is dan nie so uitgelewer aan rowers en moordenaars nie.
“Ons moet langs die pad bly sodat die gevaar ons nie op die vlakte vang nie,” beduie hy vir Danster-hulle.
Die son staan op elfuur toe Rooivalk die ruiters op die heuwels gewaar. Dis nie die takhaar en sy makkers nie, maar ’n lang ry Basotho’s met spitshoede op die kop en komberse om die skouers, almal met knopkieries en kortspiese bewapen.
“Dis daai kombersmanne wat hulle mense gaan roep het,” sê Rooivalk, sy oë so groot soos sopkomme.
Willem gee een kyk en sy bloed stol in sy are. Hardop verklaar hy: “Ons trek asof hulle nie bestaan nie.”
“Wat maak ons as hulle afkom en ons doodmaak?”
“Ons baklei hulle terug.”
“Ons is drie, hulle is baie.”
Willem hou hom dapper. “Wat is jy – ’n man of ’n muis?”
In sy hart bewe hy en wonder benoud of hy nie maar die Here moet aanroep nie. Hulle is in die minderheid en ’n teiken vir manne met bose planne. Sal God sy gebed uit dié dal van doodskaduwee hoor en verhoor? Dit flits deur sy gedagtes dat hy niks het om in ruil te gee nie, net sy lewe en om by sy belofte te hou en weg te bly van Georgina.
Dit, Here, het ek tog besluit!
“Hulle is weg! Daai manne is weg!”
Rooivalk se uitroep ruk hom.
So gou? Ek het nog nie eens my woorde agtermekaar gekry om te vra nie!
Hy skreef sy oë, kyk links en regs. Rooivalk is reg. Daar is nie ’n teken van die ruiters op die heuwels nie. Was hulle ooit daar? Maar drie mense kan tog nie saam dieselfde verskynsel waarneem nie? Het die Here God sy skietgebed verhoor? Angs druk sy keel toe, hy het ’n belofte voor die Lewende God gemaak en hy sal sy kant moet bring.
Hoofstuk 5
Caroline is in haar skik met haarself. Sy het dadelik met Daniël se klere begin en net tien dae gevat om drie hemde en twee broeke te sny en te stik. So twee jaar gelede het sy en Georgina nog saam klere gemaak, en hulle verskil hemelsbreed. Georgina is aangelê vir naaldwerk. Haar skatting is so goed, vir haar is dit nie nodig om te pas nie. Caroline is onhandig en het haar tyd geneem met elke naatjie. Gelukkig het Daniël twee keer per week vir kategeselesse gekom en sy het hom elke keer gevra om eers aan te pas. Dit was maklik tot sy die eerste hemp se moue afgesteek het en met ’n skok agtergekom het dat hy net sulke breë skouers soos sy pa het. Haar hande het so aan die bewe gegaan, sy moes die spelde versigtig insteek. Hoe anders? Sy dink nie eens aan Willem nie en hier staan hy voortgeplant in die liggaam van sy seun!
Daniël was in sy noppies met sy nuwe klere.
Hy het sy arm om haar gesit en haar gesoen. “Dankie, Moeder.”
“Jy moet vir jou tant Georgina dankie sê dat sy my geleer het.”
“Moeder kon sonder haar klaargekom het.”
Dit het soos ’n verwyt geklink, maar miskien is sy net oorgevoelig. Dis nie maklik om te erken nie, maar sy het skuld aan Willem se ontrou. Soms as sy snags alleen in haar bed lê, verlang sy na sy arms om haar, die manier wat hy gehad het om haar hare te streel. Hy kon sag wees as hy wou. Maar sy kon haar lyf net nie meer vir hom gee nie. Sy het moeg geword en die moegheid het haar afgetrek na ’n donker plek, diep in ’n gat waar sy skaars kon asem kry.
Die vooruitsig om ’n slag weg te kom van Mispa het haar met werkywer besiel en sy het vir die dogters ook elkeen ’n nuwe rokkie gesny. Haar Singer-naaimasjien het goed te pas gekom en Doortjie help graag met die afronding. Katryn het ook hand bygesit en die oggende rondom die naaldwerktafel het in ’n aangename samesyn ontwikkel. Annatjie en Cara is te jonk vir meester Elie se skool. Hulle het met stukkies lap onder die tafel gespeel. Later moes Katryn die knoopsgate los en help poprokke maak. Caroline het vir Cara se lappop ’n rokkie gesny wat nes haar eie Sondagrok lyk. Sy het die synate met die Singer vasgewerk en Katryn het die res gedoen. Annatjie wou als self doen en werk toe, tot haar groot frustrasie en Cara se genot, haar poprok aan haar eie rok vas.
Cara is twee en ’n half jaar oud. Katryn het haar nog nie gespeen nie en die band tussen hulle is so vas en stewig gebind, Caroline weet glad nie meer wat sy moet doen nie. Mag sy die kind vir haar terugneem of mag sy nie? Hoe vat jy ’n kind uit die arms van die vrou wat tot nou toe haar moeder was en steeds is, selfs al het sy nie aan haar geboorte geskenk nie? Cara praat haar soogmoeder se taal, glad soos seep glip die klik-klakklanke van haar klein tongetjie af. Sy vly haar teen Katryn aan en raak aan die slaap nadat sy versadig gedrink is.
Sy is ’n engelkind met haar goue lokke en persblou oë, haar vel heuningbruin van sonskyn en gesonde buitelug. Caroline kon haar verkyk aan die klein handjies wat kinderlik onhandig haar lappop se slap arms in die nuwe rok se moue druk. Die verwondering waarmee sy opgekyk het toe Caroline ’n satynlint om die pop se wolkop bind, was ’n veel groter geskenk as Nuwejaarsdag se papierblom. Daar was iets soos herkenning in haar ogies, iets van ’n oerverbintenis.
Caroline moes keer voor sy haar vra of sy die eerste paar uur van haar lewe onthou. Sy, aan die ander kant, onthou nie net nie. Sy weet dat sy haar toe nie wou vashou nie.
“Nôi, jy was siek, die kind het jou siek gemaak.” Dis wat Siena sê, elke keer as sy troos soek.
Siena se laatlam kom die nag van 10 Maart in die wêreld. Doelie is die vangouma en het nie die volgende dag kom werk nie. Sy het Griet in haar plek gestuur.
“Dis ’n vroukend,” het Griet aangekondig. “Siena is sterk, sy was klaar haar eie wasgoed.”
Caroline het ’n mandjie gepak en net ná die oggendgodsdiens strooise toe gestap.
Siena het regop gesit, plat op die grond, rug teen die strooismuur, en die baba gevoed.
“Nog ’n meisiekend,” het sy trots gesê.
Sy het gewag tot die kleintjie die tepel los, dit uit die mondjie gehaal, die stroompie melk met haar vinger afgevee en die dogtertjie vir Caroline aangegee. Die dingetjie was so styf vasgedraai in haar flenniekombersie, dit was maklik om haar vas te hou – ’n opgestopte lapworsie met ’n slaperige gesiggie, die reuk van gestampte boegoe en warm melk wolkerig om haar, ’n alwetende kyk na die vreemde vrou wat huil sonder om ’n geluid te maak.
Sy het gehuil omdat haar arms so leeg was en toe so vol van wat kon gewees het.
Siena was besig om die mandjie uit te pak, van die koekies vir die ander kleintjies aan te gee. “Gaan roep ouma Fien, sê haar nôi Kerliena is hier.”
Caroline het die baba staan en sus, trane in strome oor haar wange.
“Sy trek op ouma Fien,” het Siena gesê – gewoon asof sy die strome nie sien nie.
Caroline het haar trane gesluk. “Wat noem julle haar? Fien?”
“Ouma is blind, maar sy sien die kend met haar hande. Ons gaan haar Stefiena doop.”
“Stefiena. Dis mooi.”
“Stefiena Karoliena. Eerste naam vir ouma Fien, tweede naam vir jou.”
“Ek verdien dit nie.”
“Jy was siek, jou kend het jou siek gemaak. Eendag as jou kend jou nie wil oppas nie, sal dié ene. Sy sal jou in jou ouderdom sorg as ek nie meer hier is nie.”
“Wat