Elim. Helena Hugo
dit is om haar te los, hoe moeilik om die troos wat hy by haar kry, op te gee.
Nee, Hy toon, nes jare gelede, geen teken dat Hy omgee nie!
Ou Jakob was daar, hy het sy wonde verbind, maar God …?
Willem streel Kaptein se nek. “Dis die nag, oubaas se honne, die nag is te lank.”
Kaptein druk sy kop teen Willem se skouer. Dis hoekom sy pa vir hom ’n hond gegee het. Om hom te troos. Later het sy pa die hond wat hy hom gegee het, doodgeskop. Hulle het té geheg geraak aan mekaar, dis hoekom. Willem stoot Kaptein sagkens eenkant toe. Hy grawe in sy sak na sy pyp, stop, steek aan en rook tot die gedagtes aan sy kinderdae en Georgina en Daniël uit sy kop uitgerook is, tot hy aan die slaap raak met die pyp in sy hand vasgeklem.
Danster se gewerskaf by die vuur kondig die nuwe dag aan. Die môrester het haar plek ingeneem, die maan verbleek en die nag lig haar sluier. Willem is moeg, maar hy skuif die tamheid saam met sy karos van sy skouers af. Dié worsteling oor dinge waaraan hy nou niks kan doen nie, moet end kry voor hy in sy slaap begin praat of loop soos Caroline wat heeldag in haar kamer gesit het en snags pad gevat het. Nee, hy is nie sy nie! Hy het werk en dis sy lewe. Soms dink hy dis omdat werk hom kleintyd byna doodgemaak het, maar hy dit oorleef het – en vandag so sterk is soos ’n bees – dat hy nie bang is vir harde werk nie.
Hy spring en vat die voortou om in te span, op te saal en seker te maak elke vuurtjie wat hulle aangeslaan het, is morsdood, elke gat wat hulle gegrawe het, toegegooi – die kampplek netjies skoongevee, klippe op ’n hoop.
“Ons moet goed hou,” waarsku hy. “Met die terugkomslag kom ons weer hier staan.”
Die trek vorder stadig. Hy en Rooivalk jaag die vee aan met behulp van die honde, Danster dryf die wa en osse. Nêrens langs die pad gewaar hulle water nie. Volgens Rooivalk wat die vorige dag vooruit is, wag daar wel ’n vlak pan nader aan hul bestemming. Hulle trek tot die son hoog sit voor die voorosse die water ruik. Nêrens is daar ’n opstal in sig nie. Willem laat Danster-hulle solank uitspan en vuur aanslaan vir koffie, terwyl hy ry om die omgewing te verken.
Hy was die hele tyd in die saal, teen ’n gemaklike pas wat hom en Vonk nie uitgeput het nie. Los van die wa, die vee en sy helpers voel hy so vry soos die wind. Op galop is hy weer jonk en op pad om sy lewe te begin. Hy was dertien toe sy broers van die plaas af weg is en hy soos ’n slaaf moes werk, vir hoe lank? Sewe jaar van hel en doodsangs. Vir hom was dit ’n leeftyd. Die Here het sy tyd geneem om hom te verlos, maar toe is die skade reeds gedoen. Ná sy pa se dood het hy Mispa gekry. En vir Caroline, maar was dit tot sy voordeel? Wie het haar gekies? Was dit hy of die God van sy vader en voorvaders?
Hoe wens hy hy kan die tyd terugdraai en van voor af begin, weer na sy tante se plaas toe ry, weer die boodskap van sy pa se dood oordra, aan tafel sit saam met die gesin – die blosende Fuller-dogters aan die wedywer om sy aandag, almal behalwe Caroline wat hy vir hom gevat het omdat sy hom daarom juis meer as al die ander aangetrek het. Georgina was tien jaar oud, die jongste, die laatlammetjie, skaars so oud soos Maria. As hy aan Maria dink, verlang hy na al sy kinders, die kinders wat Caroline hom gegee het.
Hy leun oor en fluister in Vonk se oor. “Lig jou pote en vlieg, Vonk. Ek sal later besluit of ons terugkom.”
Hoofstuk 4
Die eerste Sondag in Maart breek rustig aan. Op Mispa se werf word die gewone oggendbedrywighede vroeg afgehandel. Bet vee die stoepe, vanoggend poleer sy nie. Die melk word afgeroom en kom in die koelkamer onder nat melkdoeke. Siena sit ’n skaapboud in die pot en Doortjie skil pampoen. Ná ontbyt kom almal wat in die omgewing is, in die ruim kombuis saam vir boekevat.
Annatjie klouter op Caroline se skoot. Lutz maak of Klein-Willem-hulle nie bestaan nie. Blykbaar broei daar weer onmin tussen die seuns. Caroline los hulle eers. Sy sal wag tot een van hulle kom kla voor sy te vroeg ingryp en sake vererger. Cara sit langs Katryn, haar rug teen die muur, beentjies voor haar uitgestrek, kaalvoettoontjies gespits, só fyntjies. George deel sy stoel met Katryn se seun, Ntumka, ’n mooi kind met sy roesrooi krulkop en blas vel. Hulle woon al twee jaar op Mispa. Sy, as Cara se vroedmoeder, ’n vlugteling wat vir haar lewe vrees en weier om die pa van haar kind se naam op haar lippe te neem. Dalk is hy die rede waarom sy Cara nie sal opgee nie, daar moet ’n rede wees.
Maria bring die Bybel en sit dit voor Elie neer. Hy wil nie Willem se plek aan tafel inneem nie, maar Caroline het hom gevra om die huisgodsdiens te lei. Sy sukkel om die Hollands te lees en die kinders sien op na hom.
Willem was laas by die Israeliete se trek deur die woestyn, maar Elie het besluit om liewer Esther se verhaal aan te pak. “As dit voor die einde van die boek reent en julle vader terugkom, lees ons die res in skooltyd,” het hy belowe.
Caroline kyk hoe hy die Bybel by die boekmerk oopmaak en plek soek. Kanse is goed dat dit nog maande neem voor die eerste druppels val. Eintlik wens sy dit, veral noudat sy en Elie vrede gemaak het.
Hy sit sy vinger op die plek en kyk op. “Ons lees verder die verhaal van …?”
“Esther!” roep Maria met Annatjie en Ntumka agterna.
Die kinders geniet die avontuur en Caroline hou van die sprokie van die arm Jodinnetjie wat met die koning van Persië getroud is omdat sy die mooiste in die land was. Verbeel sy haar of hoor sy die gedruis van perdepote? Elie se leesstem kom tussenin, maar verdoof dit nie. Iemand is te perd op pad hiernatoe en Elie hoor blykbaar niks.
“Esther twee vers vyf. ‘Daar was een Jodisch man op de burgt Susan wiens naem was Mordechai, een sone Jairs des soons Simei, des soons Kis, een man van Jemini: Die wechgevoert was van Jerusalem met de wechgevoerde die wechgevoert waren met Jechonia den koningh van Juda den welcken Nebucadnezar de koningh van Babel, hadde wechgevoert. Ende hy was ’t die opvoedede Hadassa (dese is Esther de dochter sijnes ooms) want sy en hadde geenen vader noch moeder: ende sy was een jonge dochter schoon van gedaente ende schoon van aengesicht. Ende als haer vader ende hare moeder storven, haddese Mordechai sich tot eene dochter aengenomen.’ Verstaan julle kinders wat ek nou gelees het? Doelie verstaan jy?”
Almal kyk hom met groot oë aan. Die Hooghollands is duister en die baie name ’n valstrik vir diegene wat niks daarvan kan onthou nie.
“Dogter …” sê Doelie nadenkend en druk-druk aan haar kopdoek.
Perd en ruiter kom teen die agterstoep tot stilstand.
Is dit Willem? Caroline kan dit nie help nie, maar sy is teleurgesteld.
“Wat was die Joodse man se naam?”
“Meester, daar is iemand daar buite.”
Dit lyk jou waarlik asof Elie die ruiter wil ignoreer.
“Mordechai? Sy naam was Mordechai.”
Hy ken die huis, want die honde blaf skaars, toe tjank hulle van blydskap. Nou spring hy van sy perd af, praat sag met die diere. Dis Willem, sy is seker dit is hy.
Ag, Here, wat kom maak hy hier? Bring hy slegte nuus wat hy iewers ver van ons af ontvang het, of kom hy vooruit om te sê hulle kry nie weiding nie en al die vee lê dood?
Selfs Elie sit nou met gespitste ore. Ná die eerste drie tree weet almal wie dit is.
Daniël se voete sleep hoorbaar oor die gruis.
“Boetie Daniël!” Klein-Willem wil uit, maar Elie hou sy hand op.
“Wag, voor julle die godsdiens ontwrig!”
Daniël stoot die agterdeur oop en laat die plankvloer dreun.
Jakob spring op, hoed in die hande opgebondel.
“Ons het nie gebid nie,” maan Doelie en hy sak op sy hurke terug, sy gesig na Daniël gedraai.
Daniël haal sy hoed af, hy staan verleë. “Ek dag ek ry vroeg om betyds te wees vir vanoggend se huisgodsdiens. Nou is ek laat. Dag Meester, Moeder. Dag Doelie, Jakob, Klaas. Doortjie, julle kinders, Katryn.”
“Dag, Daniël.”
Die kind het opgeskiet.