Elim. Helena Hugo
Caroline ook een as geskenk saamneem. Eintlik vertrou hy nie die twee op die ponies nie. Hulle sal moet dophou en vir Lombaard uitvra oor dié mense en hul bedoelings.
Willem vat Vonk ’n ent met die heuwel op en kies ’n kliphoop van waar hy die bedrywighede in die vlakte kan dophou. Die Basotho’s vertoef nog, maar lyk darem of hulle aanstaltes maak om te groet.
Willem dra ’n sakboekie in sy binnesak. Daarop maak hy aantekeninge van datums en tye, die toestand van sy veetrop, die herstel en aanwas, die algemene gesondheid van sy vee. Hy haal dit uit en skryf: Rode kombaars met gele strepen, blauw met bruin.
Gevare skuil oral en Moshweshwe se mense is bekend vir hul strooptogte. Maar Lombaard het hom verseker hy woon in vrede met sy bure al respekteer hulle nie die landsgrense nie en al maak hulle paadjies oor sy plaas op pad Vrystaat of Natal toe.
Willem skreef sy oë. Die ruiters het vertrek terwyl hy geskryf het. Hulle word kleiner en kleiner tot hulle net stippels is. In die laagte wei sy skape saam met sy trekosse, veilig onder toesig.
Hy blaai na die volgende bladsy in sy boekie. Februarie staan einde se kant toe en die vee het nie veel opgetel nie. Hulle het nog ses dae op Melrose, dan sal hulle moet skuif. Hy mik die Noord-Vrystaat in, Sandrivier se kant toe. Oor drie dae stuur hy vir Rooivalk vooruit om te verken. Lamtyd moet hulle tot rus kom en sorg dat hulle op een plek bly tot die lammers sterk genoeg is.
Willem merk die dae af. Februarie is die kortste maand. Dit is vandag Woensdag die ses en twintigste. Maartmaand is om die draai. Hy tel op sy vingers. Desember, Januarie, Februarie. Georgina sal nog nie wys nie, veral nie met die eerste kind nie. Dalk loop sy tot sewe maande sonder probleme. Sy is fris gebou, maar weet hoe om rokke te maak wat haar skraler laat lyk. Willem glimlag. Georgina is nie verniet Kimberley se voorste kleremaakster nie. Dis haar talent en sy woeker daarmee. Hy is nie spyt dat hy die ou losieshuis en die naaimasjiene gekoop het vir haar besigheid nie. Sy het vooruitgeboer, het nou al drie naaisters in diens en is besig om ’n jongman op te lei om manspakke te sny en te pas. Die mannetjie is reg handig met die skêr, maar so verwyfd met sy bont onderbaadjies en beringde vingers, hy verdwyn skoon tussen die vroumense. Pierre Francois du Toit is sy naam. Volgens Georgina het hy, nadat sy moeder oorlede is, haar hoedewinkel verkoop, oorsee gaan reis en drie maande later teruggekom – bont soos ’n pou. Georgina kan haar so verkneukel aan sy maniertjies, maar sy en sy moeder, die ou madame, het in die verlede saamgewerk en sy het hom omgepraat om vir haar te kom hoede maak. Oorsee het hy glo baie geleer van die Paryse modes en vir haar boeke en patrone gewys wat haar asem weggeslaan het. Willem skud sy kop. Georgina het daai boeke vir hom ook laat sien, maar dit interesseer hom nie in die minste nie, al kan sy en die mannetjie ure aaneen na die prentjies sit en staar.
Naas hom is Pierre Francois die enigste ander man in Georgina se lewe, tensy sy vir hom lieg.
Willem haal sy pyp uit en stop. Die son is besig om te klim en dit raak warm, maar in die skaduwee van die rots is dit nog koel. Vreemd hoe die pyp hom kan troos as hy begin twyfel. Hoe weet hy wie kuier almal by Georgina? Daar loop gans te veel Kimberleyse spoghane rond wat niks anders het om te doen as koerant lees en nuwe klere bestel nie. Hy wou al vir Susanna uitvra, maar sy sal agterkom hy raak jaloers. Nogtans, sy goed is sy goed en Georgina is syne.
Hy maak sy pyp brand, neem die eerste trek en sit agteroor. Sterk mengsel dié en hy geniet dit. Ellendige droogte wat hom juis nou wegvat, anders was hy elke week by Georgina om die saak uit te pluis. Hy dink steeds die Kaap en aanneming is die beste plan, maar sy het hom aan die twyfel. Nou twyfel hy oor als – soms selfs oor Elie en Caroline. Hoewel Elie darem regtig te verpot is om ’n vrou met soveel ervaring soos Caroline tevrede te stel. Nee, Elie weet watter kant sy brood gebotter is en wie sy lewe gered het. Wat sal hy by sy weldoener se vrou gaan soek? Caroline het buitendien nie meer begeertes nie. Raak aan haar en sy verander in ’n plank. Elie kan probeer.
Die duiwel haal hulle as hy hulle betrap.
Willem sit en rook tot die son die skaduwee opslurp. Toe staan hy op, roep vir Vonk en lei hom bergaf. Danster en Rooivalk loop wyd om die trop. Hy kry Danster beet en vra hom of als nog reg is.
“Ja, almal is getel.”
“Jy en Rooivalk moet besluit. Een van julle kan môre Ladybrand toe gaan vir ons komberse.”
“Ja?!”
Willem glimlag en knik.
Toe dans Danster ’n paar graspolle los.
“Ek sal die geld gee, dan koop jy vir my ook een.”
“Vir wie? Nôi Kerlien?”
“Ek het my karos.”
Willem hou nie van die manier hoe Danster aan sy agterkop krap en afkyk grond toe nie. Sou die stories oor hom en Georgina nou al by die strooise rondhang of is dit sy skuldige gewete wat hom parte speel? Hy sal moet maak of hy niks agterkom nie en wegpraat van kooigoed en komberse.
“Wat sê die Basotho’s? Is daar weiding noorde toe?”
“Hulle sê die veld is geil.”
“Mooi, dan hoef ek nie een van julle vooruit te stuur nie.”
“Hulle sê die beeste en bokke en skape vrek van siekte. Hulle bring dit aan van daai kant.”
Hy wys noord en Willem dink aan sy vriend Paul Potgieter wat van Njassaland af transport ry en met dieselfde storie in Kimberley aangekom het – van die dodelike pes onder die hoefdiere wat uit Masailand deur Njassaland en Rhodesië aftrek Transvaal toe en onstuitbaar is. Paul het ’n hele span osse binne twee weke verloor, moes van die diere skiet om hulle uit hul ellende te verlos en kom nou oor die weg met ’n bont span. Transport is sy lewe, maar hy waag dit nie verder noord as Pretoria nie. Suide toe is skoon, vir hoe lank sal hy nie kan sê nie. Hulle noem die pes op sy Duitse naam, Rinderpest.
Willem se keel trek toe. Juis noudat hy met hulle voor die droogte moet uittrek, wag die volgende ellende sy diere in. Sal hy naderhand vir hulle moet kies tussen ’n hongerdood of hierdie pessiekte? Is dit sy straf, is dit wat die Almagtige vir hom voorberei het die dag toe hy Caroline teen haar sin gevat het, en Georgina begeer het en toegegee het sonder om aan die gevolge te dink. Sy pa was reg. God sien als, Hy weet wat op sy aarde aangaan. God sal Mispa se mense nie oorsien nie.
Maar moet die stomme diere dan ter wille van hulle gestraf word?
“Daai mans sê dis baie vrektes.”
“Ons sal maar sien,” troos Willem.
Danster kyk soontoe asof hy iets agter die heuwels soek – tekens in die wolke, fluisterings van die wind in die grassade. God alleen weet wat Hy vir hulle in gereedheid hou.
Hoofstuk 3
Die plan om Lutz sy eie kamer te gee, werp vrugte af. Klein-Willem speel weer met Hercules en George. Daar is vrede aan tafel, en blykbaar by die skool ook. Lutz doen sy deel op die werf, maar smiddae ná skool loop hy veldin, gewoonlik met Maria aan sy sy. Caroline kan dit nie miskyk nie. Maria se kappie blom wit op die swart verbrande aarde. Elie gaan haal hulle voor melktyd, soms met Annatjie aan die hand en Ntumka wat vooruit hardloop. Hulle dra volgelaaide sakke aan na Lutz se buitekamer. Caroline waag dit nie om beswaar te maak nie, nie terwyl die vrede nog so broos is nie.
Elie sê ook niks. Doortjie vat nog sy elfuurtee skool toe. Caroline neem hare in die eetkamer waar sy by die tafel sit en naaldwerk doen. Sy dink terug aan die dae toe sy en Georgina hul naaldwerk op die voorstoep uitgedra het. Sy het geglo Georgina is hier om haar te help, maar sy was verkeerd.
Elke herinnering is versuur en in dié weer is die stoep nie ’n goeie plek nie. Bet vee en poleer dit soggens getrou, maar die wind kom onverwags op en skep hande vol grond uit die dor aarde om haar harde werk ongedaan te maak. Dis moordend warm. Die honde soek vergeefs skuiling teen die vlieë en die sonbesies skree eentonig in die peerbome. Oor die eendedam hang verlepte wilgertakke vaal van die stof en bondel ganse en makoue in modderpoele saam.
Vrydagmiddag kom die skool vroeg uit. Die hitte is ondraaglik en die kinders word ná ete kamer toe gestuur om te rus. Elie het vir Caroline ’n boek tafel