Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
huil snags in jou kussing …”
Die fabrieke maak plek vir ’n plat grys vlak wat onder die vlerk verbyskuif. Die romp van die 747-makrostraler vibreer toe die klappe uitskuif, gevolg deur ’n ligte stampgevoel toe die wiele die aanloopbaan raak. Die vier Pratt & Whitney-motore brul in trurat en die straler verminder spoed.
Arabel knip haar gordel los. “Los dit, Tess. Geraamtes in kaste is nie mooi goed nie.”
“Dit help as hulle lug kry, as die muf en vismotte saam met hulle uit die kas kruip.”
Nie dié geraamte nie, dink Arabel. Want hy is nie in die kas nie. Hy loop saam met haar, kyk vir haar in die spieël, lê langs haar as sy slaap en wag vir haar as sy wakker word. Nou nog soms, as die foon onverwags lui of ’n vreemde koevert in haar posbus lê, spring haar hart in haar keel. Want dálk, wie weet, net dalk …
Maar hy het nooit weer gebel, geskryf of van hom laat hoor nie. Nie eens met haar verjaarsdag nie. Die elf maande saam met haar was blykbaar só onaangenaam dat Henning nie daaraan herinner wou word nie. Hy het haar vergeet. Sy moet ook ophou onthou. Hy gaan nie terugkom nie.
Sy staan vinnig op. “Is jy nie haastig om by die huis te kom nie? Lig jou. Sit jou pet en jou glimlag op, en gaan groet jou passasiers.”
Tess klik haar tong terwyl sy haar lipstiffie en hoëhakskoene soek. Wat help dit mens is vriende as jy nie mekaar se laste kan help dra nie? Arabel moes ’n messelaar geword het, want sy is goed met mure bou – om haarself en tussen haar en ander mense. Mure sonder deure. Niemand kan naby haar kom nie. Sy is al jare so, sedert hulle saam op kursus was, saam hul eerste vlug gedoen het en vriende geword het.
Haar ouma Annie sê altyd ’n meisie is eers regtig mooi as sy nie weet sy is mooi nie. En dis Arabel uit en uit, dink Tess. As sy haar vriendin se bates gehad het, het sy met haar talente gewoeker en die wêreld verower. Maar die swartkop met haar soepel kurwes, satyngladde vel en heuningkleurige oë woon onder haar maatemmer agter haar muur, onbewus van die impak wat sy op mense het.
As hulle tydens vlugte op plekke oorbly, doen Arabel haar eie ding – lees, besoek museums of gaan loop langs die see. Altyd alleen. Tess weet dis seerkry wat haar in haar dop laat kruip het – dis daardie dom-onnosele drip se skuld. Netnou se uitvra was ’n begin. As daar ’n kans kom, sal sy weer probeer. Dis nie goed om seer op te krop nie.
As senior waardin is Arabel verantwoordelik vir die kroegvoorrade. Sy wag tot al tweehonderd en sestig passasiers afgeklim het en die grondpersoneel aan boord kom, dan oorhandig sy haar finansiële state. Daar was twee onvergeselde minderjariges in haar sorg. Sy vee die twee seuntjies se kuiwe plat, gee elkeen ’n soentjie, ’n sjokolade en ’n poskaart van die Boeing 747-makrostraler voor sy hulle aan die grondwaardin oorhandig, saam met ’n koevert wat hul persoonlike dokumente bevat.
“Williams, Peter en Andy. Ouers geskei. Ma in Frankfurt, pa in Sandton – hulle kom kuier vir hom vir die skoolvakansie. Geen allergieë, kwale of medikasies nie. Twee soet kinders. Ons het ludo en domino gespeel en ek het lief geword vir hulle. Wens hulle was myne …”
Arabel lag om die skielike heimwee in haar stem te verbloem. Dekselse Qantas en Tess wat gaan staan en spoke opjaag het. Spoke wat sy geglo het lankal besweer en begrawe is … Sy swaai haar handsak oor haar skouer, neem haar noodhulptas en klim die trap af.
Die eerste-offisier wag vir haar op die laaiblad. “Dêm noodlot! Net toe ek jou wou nooi om met die volgende vlug my tas te help uitpak, hoor ek dis te laat, ons roetes skei. Die skeepskatte gaan Hongkong toe en die drywers Maleisië toe.”
Peet Saaiman huiwer. Dis ’n ou grap, dié van help tas uitpak. Soos die uitsig vanuit jou kamer wat jy vir ’n meisie wil gaan wys. Hy het dit al voorheen probeer en elke keer met Arabel ’n bloutjie geloop. Maar daar bly iets omtrent haar wat hom fassineer; hom boei en bekoor. Dis nie net haar voorkoms nie, want as jy vir ’n lugredery werk, raak jy gewoond aan mooi meisies. Daar is van die lugwaardinne wat selfs mooier as Arabel Coetzee is. Dis iets anders, meer as net ’n lyf en ’n gesig wat hom aantrek. Dalk omdat sy so ’n duidelike boodskap uitstraal: Gaan weg. Los my uit. Ek is nie beskikbaar nie. Dit prikkel ’n man om uit te vind hoekom.
“Wat doen jy vanaand?” vra hy.
“Pak my eie tas uit en gaan vroeg slaap.” Arabel stap vinniger, maar hy rek sy treë en hou by.
“En môreaand, wanneer jy klaar uitgepak het?”
Arabel skud haar kop. “Jammer, Peet, ek is besig. Het ’n honderd en een dinge om in te haal.”
“Wil jy nie asseblief saam met my gaan eet nie? Niks spesiaals nie, sommer net ’n oulike pastaplekkie wat ek ontdek het.”
“Dankie,” glimlag sy vlugtig. “Dis gaaf en dierbaar, maar nee dankie. Kry vir jou ’n meisie wat jou kan waardeer. Trou met haar, hê haar lief, moenie dat die wiele afval of die battery pap word nie. Dis ’n goeie resep.”
“Resep waarvoor?”
“Jy sal weet as jy die regte meisie ontmoet.”
“Dalk het ek reeds,” skimp hy.
“Nee, jy het nie. Gaan soek verder.”
Arabel gee hom ’n glimlag wat sy knieë lam maak, maar voor hy ’n nuwe benadering kan bedink, glip sy weg na die aankomsaal.
Terwyl sy by die vervoerband vir haar tas staan en wag, is Arabel kwaad vir haarself. Hoekom nou weer die “bus” oprakel? Peet sal nie eens weet wat sy bedoel nie. Sy het hard gewerk en baie trane gehuil om te kom waar sy is. Sy kan nie toelaat dat ’n onbekende Australiër haar swaarverdiende gemoedsrus vernietig nie. Tess het haar onnodig op hol gejaag. Dis nie te sê die nuwe ou is definitief ’n Aussie nie; hy is dalk ’n Nieu-Seelander. Dit sal te toevallig wees dat dit ná al die jare juis Henning Reynecke is wat vir Jakaranda-lugdiens kom vlieg.
By doeane help Peet met Arabel se bagasie. “As jy dalk nie van pasta hou nie, wat dan van pizza?”
Sê ja, por ’n stem in haar binneste. Gaan eet saam met hom. Hy is ’n oulike ou en hy steek al so lank voelers uit. Dis tyd dat sy die stukke aanmekaar plak en aangaan met haar lewe. Henning het dit seker lankal gedoen: weer iemand ontmoet, getrou en kinders gekry. Hy wou altyd ’n hele span hê – ’n halfdosyn seuns wat ’n bal rondskop, vir wie hy ’n boomhuis en vlieërs kan bou. ’n Hond vir elke seun en ’n dogtertjie vir háár, met linte en strikke en sjerrie-oë, soos nat rivierklippies. Soos haar ma. Sag en warm …
Moenie, keer Arabel haarself. Moenie onthou nie. Sy sien Peet na haar kyk en onthou hy het iets oor pizza gevra. “Ek is jammer,” antwoord sy. “Miskien anderdag – ’n ander aand?”
Peet skep moed. “Natuurlik! Enige tyd.”
Hy sleep ’n trollie nader en stoot hulle tasse deur die parkade tot by Arabel se motor – ’n Noagse rooi sportmotor wat Henning destyds by ’n platsak vriend gekoop en gerestoureer het.
“Wat ’n pragtige wa!” Peet fluit waarderend en beduie na sy nuwe Toyota aan die punt van die ry wat vir lugdienspersoneel gereserveer is. “Ek ruil jou enige tyd. Hoe lyk dit? Ek sal selfs my nuwe stel gholfstokke by die transaksie ingooi.”
Henning sal haar vermoor, en sy vriend Attie Strydom ook. Arabel skud haar kop, terwyl sy met haar sakdoek ’n vingermerk op die chroom afvryf. “Hy’s soos ’n familielid, soos ’n boetie – nie te koop of te ruil nie.”
“Hierdie MG is in ’n puik toestand. Wie het hom so pragtig gerestoureer?”
“My man …” Sy bly stil en korrigeer dan vinnig: “’n Man wat ek geken het.”
Toe sy by Jakaranda aansoek gedoen het, het sy op haar vorm gemeld dat sy geskei is. Maar toe sy aanvaar word en vir opleiding gekeur is, het sy nie die nodigheid gesien om haar privaat sake aan die groot klok te hang nie. ’n Huwelik wat minder as ’n jaar gehou het, is nie iets om op trots te wees nie.
Arabel besluit om die bul by die horings te pak voor haar moed haar begewe. Om te weet