Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
“Raak jy nie soms moeg om uit ’n tas te leef nie?” vra Berna onverwags.
Arabel is lank stil, terwyl haar oë peinsend na die oorkantste muur van die restaurant staar. “Miskien geepad ek op ’n dag sommer skielik by Jakaranda. Wie weet – miskien sommer binnekort.”
Iets in haar stem laat Berna skerp opkyk. “Hoekom? Genoeg van die wêreld gesien? Lus om liewer weer te gaan skoolhou?”
“Nee. Die ruk wat ek probeer het, het my genees. Ek is ’n vrot onnie, te ongeduldig en opvlieënd.”
“Hoekom dan al die moeite gedoen om ná die egskeiding jou diploma klaar te maak?”
Arabel gooi tamatiesous oor haar tjips, dan sout en asyn – ’n gewoonte met hartseer assosiasies, wat sy probeer afleer. “Vier redes. Om swaer Dave gelukkig te maak. Om Henning te wys ek is nie so ’n mislukking soos hy dink nie. Om my selfbeeld op te bou. En om ’n trapklip te hê wat vir my deure oopmaak. Lugdiens sou my nie aanvaar het sonder naskoolse kwalifikasies nie.”
Berna weet watter rede nommer een was, en dit stem haar onrustig. As die kind tog net weer iemand sal ontmoet … Wat skort met Jakaranda se manne dat daar nie een is wat haar hart vir ’n ses slaan soos Henning Reynecke toentertyd nie?
“Weet hy?” vra sy. “Het jy ooit vir Henning gesê jy het jou diploma gekry?”
Die hortjies wat Berna so goed ken, sak oor haar suster se goudbruin oë. “Jy weet hy het alle kontak verbreek.”
“Is hy nog in Perth?”
“Ek weet nie en ek wil ook nie weet nie. Hy kan in Siberië klippe kap vir al wat ek omgee. Ek moes na julle geluister het en nie met hom getrou het nie – net ’n lekker affair gehad het, sonder om werklik betrokke te raak. Dan het ek nou minder seer en meer selfvertroue gehad.”
“Is jy steeds kwaad vir hom?”
Arabel se oë is troebel. “Asseblief, kom ons praat oor iets interessanter. Hoe smaak jou steak? Nie te rou nie?”
Berna se stem versag. “Daar is iets soos vergewe en vergeet, sussie.”
“En jou tjips? Nie te olierig nie?”
Berna sug en praat oor Swanemeer en Odette en die prins, en die seuns se rugby-oefening wat vir hulle belangriker as die naderende eksamen is. Op ’n manier sal dit goed wees as Bellie bedank sodat sy ’n oog oor haar kleinsus kan hou. Sy is te maer en is die afgelope tyd lusteloos. Sou daar iets by Jakaranda gebeur het om haar te ontstel, of het sy uiteindelik van die wanderlust in haar gestel ontslae geraak?
2
Arabel teken aan vir vlug JA 636 na Mauritius en Hongkong. Sy kry die weerverslag en passasiersinligting: 270, wat insluit ’n Chinese attaché in eersteklas, ’n hartlyer wat ekstra suurstof aangevra het, en ’n bofbalspan in toeristeklas. Nie te erg nie.
Ná sy haar noodhulptas aangevul het, sluit sy haar posbus oop om te kyk vir boodskappe. Daar is ’n brief of iets – ’n toegeplakte koevert met buite-op haar naam in ’n handskrif wat vaagweg bekend lyk. Peet Saaiman? Weer pizza of pasta? Sy druk die koevert in haar handsak en gaan soek koffie in die kafeteria, soos hulle gewoonte is met die aanvang van ’n lang vlug.
Tess is reeds daar en Martie Duvenhage, met wie Arabel goed klaarkom. Ook drie van die kelners en die eerste-offisier – ’n frisgeboude ou saam met wie sy al gevlieg het, maar sy kan nie sy van onthou nie. Jaco iemand … Aangenaam, maar bietjie voorbarig.
“Het jy tasse vol geld gebring?” vra Tess.
“Om te wat?”
“Te koop. Ek wil in Hongkong vir my ’n Chinese Cheongsam-rok laat maak van handgeweefde sy. Dis so sensueel teen ’n mens se kaal vel …”
“Bêre jou geld vir die kos,” sê die eerste-offisier. “Ek dooi oor haaivinne.”
“Haaivinne?” ril Tess. “Ek sal ook dooi, maar van gril!”
“Gee liewer jou geld vir die voëls,” sê Arabel. Nie een van die ander was al in Hongkong nie, en sy verduidelik: “Nie ver van ons hotel af nie is ’n steeg genaamd Bird Street, met rye en rye voëlhokkies – letterlik duisende – wat ’n Babelse gekwetter afgee en jou ore laat tuit. Jy betaal die eienaar van die hokkie ’n paar Hongkong-dollars, maak die deurtjie oop en laat die voëltjie vry. Dis pragtig as sy blink ogies so dankbaar vir jou kyk, hy sy vlerke klap en die lug in klief. Ek blaas altyd al my geld op die voëls en gaan honger slaap.”
“Beter as om jiggie haaivinne te koop,” stem Tess saam.
Die kelners bied aan om koffie te gaan kry. Toe Arabel haar suikerpilletjies uit haar handsak haal, sien sy weer die koevert. Dis nie te sê dit kom wel van Peet af nie, dis dalk iets belangriks, dink sy terwyl sy die flap oopskeur. Binne-in is ’n alfabetiese lys van Jakaranda se buitelandse vlieëniers. Arabel se keel is droog en sy neem ’n sluk koffie, ontsteld om te merk dat haar hand bewe.
“’n Brief van een van jou bewonderaars?” terg Martie.
Arabel hoor haar nie. Sien ook nie Peet se nota onderaan nie: Onthou die anderdag-afspraak vir die pastaplek. Haar oë soek teen die lys af. P … Q … R … En skok dan tot stilstand, terwyl haar hart met hamerslae teen haar ribbes klop.
Tot op die laaste het sy nog bly hoop, gedink sy is neuroties en soek spoke agter die bult. Maar daar staan dit, in groot vet letters: Reynecke, H.J.J. (kapt.)
Arabel se hand ruk – só erg dat die koppie val en warm koffie oor haar pers uniformromp stroom, oor die tafel en oor Jaco se broek en skoene. Tess pluk ’n verfrommelde snesie uit en Jaco sy sakdoek. Die skok oor Henning word genadiglik op die agtergrond geskuif terwyl Arabel draf om ’n lap by die toonbank te kry.
“Ek is vreeslik jammer!” maak sy verskoning. “Ek weet nie wat gebeur het nie.” Sy hurk en druk die lap teen Jaco se skoene. Sy vryf oor sy broek tot omtrent by sy kuite, maar toe dit lyk of daar hoër op – bokant sy knie – nog ’n nat kol is, gee sy die lap vir hom. Sy probeer ’n grap daarvan maak om haar ongemak te verbloem. “Ek dink ek het alreeds genoeg drooggemaak …”
Haar wange is pienk en almal lag, maar Jaco geniet dit. Hy wys na ’n kol teen sy bobeen. “Vryf nog bietjie daarso …”
Arabel skud haar kop.
“Hoekom nie? Die koffie gaan ’n vlek maak.”
“Ek … e … ken jou nie goed genoeg nie,” hakkel sy verleë.
“Wat wil jy nog weet? Ek is nege-en-twintig en ongetroud, ek het ’n kar, ’n duvet en ’n braaier, ek hou van rugby en ek slaap sonder pajamas.”
Arabel laat haar nie uitlok nie en verander die onderwerp. “Het die koffie jou nie gebrand nie?”
“Gelukkig nie op plekke waar dit saak maak nie,” skerts hy en knipoog. “Mooi meisies soos jy hoort nie op die vloer by ’n man se voete nie. Kom, laat ek jou ophelp.”
Hy sit sy een hand onder haar elmboog en die ander een op haar heup en trek haar orent. Dis ’n gedoente met die nat vloer, los handbagasie wat rondstaan en ’n stoel wat in die pad is. Arabel se voet haak agter die poot en sy struikel vorentoe, onder groot gelag in Jaco se arms in.
“Tjips!” waarsku Martie. “Sjuut, ouens!”
Arabel ontstrengel haar uit Jaco se greep en staan ’n entjie weg om tot verhaal te kom en haar skewe pet op haar kop vas te druk.
“Goeienaand,” groet ’n stem skuins agter haar. Effens dieper, verder nog presies dieselfde as wat sy dit in haar gedagtes aanhou hoor … Arabel voel asof ’n vuis haar in die maag tref. Haar hart spring só woes in haar keel dat sy skaars kan asem kry. Sy wil omdraai, maar haar bene voel soos rubber en sy moet aan die stoel vashou om nie om te val nie.
“Steur ek?”
Almal