Christine le Roux Keur 2. Christine le Roux
haar dat alles doodnormaal is en dat die dokter baie tevrede is. En dit bring haar dadelik terug by haar oorspronklike onderwerp. “Sê nou jy wil kinders hê?” vra sy vir Victoria.
Haar suster kry ’n kleurtjie en hou haar besig met die koppies. “Nee wat, dis nie nou … e … ter sake nie.”
“En oor ’n jaar? Of twee jaar? Jy’t jou in so ’n onnatuurlike situasie ingedompel, en wat gaan jy doen as jy eendag van plan verander, of iets meer normaals wil hê?”
“Roland sal my nooit dwing om by hom te bly nie.”
“O nee? Solank jy net vir hom ’n ander huishoudster kry?”
Victoria kyk haar kwaai aan. “Moenie jou oor ons kwel nie, sus. Ek weet wat ek doen en ek is nie sy huishoudster nie. Gaan gesels liewer met Roland en leer hom ken.”
Maar haar hart voel swaar toe sy met die skinkbord sitkamer toe stap. Sy moes nooit vir Marlise vertel het nie, dan was sy nie nou so vyandig nie.
Hulp kom egter uit ’n onverwagse oord. Sy het skaars die skinkbord neergesit toe die deurklokkie lui en die volgende oomblik kom Karien, hul jongste suster, letterlik ingewarrel.
“Ek het geweet julle is almal vanaand hier,” jubel sy op haar gewone uitbundige, impulsiewe manier. “En ek besluit toe net om oor te ry.” Sy soen haar susters en swaer, knip haar mooi blou oë en staar bewonderend na Roland. “Vicky,” sê sy. “Maar hy’s pragtig! Hoekom het jy my nie gesê nie?”
Marlise spreek haar streng aan en Victoria glimlag net verleë, maar Roland bars uit van die lag en soen Karien op haar wang.
“Wat ’n verrassing,” sê hy. “In een aand ontmoet ek al Victoria se susters. Nou ken ek die hele familie.”
Marlise kyk vraend na Victoria. “Roland het vir Pa in die Kaap gaan opsoek,” verduidelik sy vinnig, en Marlise lyk vir die eerste keer minder krities.
Victoria gaan kombuis toe om nog ’n koppie te kry en toe sy terugkom, is daar nog ’n nuwe gas. Peter, onbewus daarvan dat dit ’n familiebyeenkoms is, het net ’n belangrike dokument vir Roland gebring.
In haar hart sê Victoria ’n dankgebedjie op. Wat eers ’n stywe geleentheid was, is nou skielik ’n baie vrolike aand. Karien kan nie stram wees nie, al betaal jy haar, en sy terg en lag en vertel universiteitstories, flankeer openlik met haar goedige swaer Eric en meer subtiel met Roland, en skiet belangstellende blikke in Peter se rigting. Hy was eers nie van plan om te sit nie, maar na vyf minute in Karien se geselskap aanvaar hy Victoria se uitnodiging vir koffie en maak hom tuis. Marlise lyk vir hom heeltemal anders as Victoria, maar Karien lyk na ’n jonger weergawe van haar. Sy het dieselfde steil donker hare, maar haar oë is blou.
Roland gaan help vir Victoria om nog koffie te maak en hy kan nie help om te sien hoe verlig en ontspanne sy skielik lyk nie.
“Jy moet jou nie kwel nie,” sê hy half ongemaklik. “As mense … as familie mekaar vir die eerste keer ontmoet …”
Sy swaai om en kyk na hom met haar groot grys oë. “Ek wil hê hulle moet van jou hou.”
“Ag,” sê hy. “Dis nie belangrik nie.”
“Ja, dit is. Ek hou nie daarvan dat Marlise na jou kyk asof jy my ontvoer het of teen my sin gevange hou of … so iets nie.”
“Karien hou darem van my,” sê hy tergend.
“Sy hou van mooi mans,” antwoord sy nugter.
Hy voel buite verhouding gevlei. “Mooi? Jy dink tog nie ek is mooi nie?”
“Nee, dis nie die woord wat ek sou gebruik nie,” sê sy. “Maar jy’s nie lelik nie. Ek kan sien Karien kyk met nuwe oë na my – ek is nie meer haar outydse suster nie.”
Hy lag. “Ek hou van outydse susters.”
Sy word bloedrooi en draai gou om na die koffiemasjien. “Ek sal e … die koffie bring.”
Maar hy loop nie. Hy vou sy arms en leun teen die kombuiskas. “Sy en Peter kom nogal goed oor die weg. Hoe oud is Karien?”
Sy lag. “Sy’s twee-en-twintig en in haar finale jaar, maar sy het nog nooit vir langer as ses maande van een man gehou nie. Peter sal uitsonderlik moet wees as hy haar aandag vir langer as ’n paar weke kan hou.”
Sy oë vernou effens. “Dink jy nie hy is uitsonderlik nie?”
Sy hou haar rug na hom gekeer. “Ek dink hy is baie gaaf. Ek sal liewer nie uitspraak lewer oor sy vermoë om ’n meisie se aandag te hou nie.”
“En wat hou jou aandag?” vra hy.
Sy mors ’n bietjie koffie op die toonbank en soek na ’n lap om dit op te vee. “Ek weet nie wat jy bedoel nie.”
“Presies wat ek vra. Waarna soek jy in ’n man?”
Sy lag senuagtig. “Dis ’n vreemde vraag – jy’s dan met my getroud! Maar as jy regtig wil weet: ek hou nie van wreedheid en ongevoeligheid nie. Ek hou nie daarvan dat iemand vir my jok nie. Ek wil nie seergemaak word nie.”
Hy staan effens nader asof hy aan haar sou wou raak. “Hoe kan iemand jou seermaak, Victoria?”
Sy kyk vlugtig na hom, ontmoet sy blik ’n oomblik lank voordat sy die koffiepot optel en deur toe begin loop. “Jy sal jou verbaas hoe maklik dit is.”
Hoofstuk 8
Ten spyte van Marlise se vyandige houding teenoor Roland, bel sy dadelik vir Victoria toe hulle weer terug is by die huis, om in die eerste plek dankie te sê vir die gasvryheid en in die tweede plek te sê dat hulle albei van Roland hou.
“Jy speel,” sê Victoria ongelowig. “Ek kon sien hy en Eric vind mekaar, maar jý?”
“Ek moes hom eers deurkyk,” verweer Marlise. “Aarde, hy het uit die bloute met my suster getrou, ek het seker die reg om skepties te wees?”
“Nie eintlik nie,” sê Victoria vriendelik. “Dis ék wat met hom getrou het en as ek daarvoor kans sien, verstaan ek nie waarom jý so vyandig was nie.”
“Ek is jammer,” sê Marlise. “Dit was seker verkeerd van my. Voel hy sleg daaroor?”
“Nee wat. Karien se entoesiasme het opgemaak daarvoor.”
Marlise moet lag. “Sy’t nog altyd ’n swak vir ’n mooi man gehad.”
“Dis wat sy my ook vroeër oor die telefoon vertel het,” beaam Victoria.
“Julle moet by ons op die plaas kom kuier,” sê Marlise in ’n verdere poging om te vergoed vir haar gedrag. “Roland het vir Eric gesê hy sal dit geniet.”
“Het hy?” vra Victoria verbaas. Sy kan haar Roland nie eintlik tussen Eric se beeste voorstel nie.
“Sus,” sê Marlise net voor sy aflui, “ek dink jy’t vir jou ’n bed opgemaak waarop jy nie lekker gelê gaan kry nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Net wat ek sê. Groetnis vir Roland.”
Victoria dink in die daaropvolgende dae dikwels aan hierdie woorde en diep in haar binneste weet sy Marlise is reg. Sy het haar in iets begewe wat sy nie regtig deurdink het nie, maar sy skuif gou hierdie krapperige gedagtes eenkant toe. Dit word buitendien nou koud en sy hou van die winter. Sy gaan koop ’n wavrag groente en kook allerhande wonderlike soppe vir die vrieskas. Sy help in die tuin om die laaste uitgeblomde plante uit te trek en plant pronkertjies vir die lente. En sy raas met Roland toe hy een aand na werk eers gaan swem. “Dis hopeloos te koud,” sê sy vir hom waar sy met ’n warm trui aan op die stoep staan. “Jy gaan siek word.”
“Ek was lus om te swem,” sê hy toe hy bibberend uitklim. “En ek het jou al gesê, ek word nooit siek nie.”
Maar ’n paar dae later kan sy een oggend duidelik sien iets is verkeerd.