Christine le Roux Keur 2. Christine le Roux
patroon gekry.” Sy vat-vat aan die halslyn. “Ek was bang dis miskien ’n bietjie gewaagd, maar ek sal net mooi regop sit.” Sy leun vorentoe om te demonstreer wat sy bedoel en Roland laat byna sy glas val.
“Ja,” sê hy hees. “Sit maar liewer regop.”
“Dis buitendien beter,” sê sy nugter. “As mens met sulke krom skouers sit, kry jy rugpyn.” Roland gaap haar aan. As hy weer Japan toe gaan, moet hy vir haar pêrels koop, dink hy half verdwaas. Daardie lieflike nek moet pêrels kry. Hy is bewus daarvan dat Peter hom geamuseer aankyk, maar hy gee nie om nie. Dis nie sy skuld dat hy eers na ’n maand se getroude lewe vir die eerste keer sien hoe sy vrou eintlik lyk nie.
Sy vat aan haar ore. “Ek het dié pêrels by my ma geërf. Ek het nie eintlik ander juwele nie.”
“Jy het nie juwele nodig nie, Victoria,” sê Peter.
Sy lag. “Jy is baie galant, Peter.”
“Nee, hy’s reg,” sê Roland.
Gelukkig lui die telefoon op daardie oomblik en is dit hulle gasheer wat sê hy wag onder in die portaal vir hulle. Victoria gaan haal haar jas en Roland is bly toe sy weer tot onder haar ken toegewikkel is.
Hy verkyk hom die hele aand aan haar. Hulle sit oorkant mekaar aan tafel en sy gesels vrolik en entoesiasties met die twee mans weerskante van haar. Hy moet homself dwing om aandag te gee aan die mense aan sy kant van die tafel. Dis ’n kontrak wat hulle gesluit het, spreek hy homself aan. Sy is ’n vaardige huisvrou en ’n ongekompliseerde mens. Dis wat hy wou gehad het, en dis al wat sý wil hê.
Hy voel eers weer gerus toe sy die volgende oggend in haar warm langbroek, dik trui en jas verskyn, haar hare vasgebind en ’n wolmus in haar hand.
“Ek het dit gister gekoop,” vertel sy vir hom. “My ore vries af daar langs die rivier.”
Hy kyk haar lank aan, tel dan die telefoon op en bel na Peter se kamer. “Ek vat die oggend af,” sê hy vir sy vriend. “Kan jy sake vanoggend oorneem? Ek sal teen middagete terug wees by die hotel.”
“Hoekom neem jy die oggend af?” vra Victoria toe hy die telefoon neersit.
“Omdat ek saam met jou wil rondloop.”
“Maar jy hoef nie. Ek is nou al gesout. Ek het gister op die trem gery en alles.”
“Maar ek wil,” sê hy ferm. “Jy blameer my dan altyd dat ek niks sien van die stede waarin ek bly nie.”
Haar oë skitter. “Oukei, maar dan moet jy gemaklike skoene aantrek. Dis ’n stywe stap teen die heuwel uit na die kasteel toe.”
“Ek hét gemaklike skoene aan.”
Sy stap deur toe en trek die wolmus oor haar kop sodat omtrent net haar groot oë uitsteek.
Roland het impulsief besluit om die oggend saam met haar deur te bring, maar hy geniet dit geweldig. Sy stryk aan deur die strate en stegies asof sy haar hele lewe lank daar gewoon het. Sy wys hom waar die lekkerste koffieplekke is, sleep hom deur katedrale en museums, en wys vir hom al die stalletjies op die ou Karolusbrug. Hy koop vir haar ’n paar lang, bengelende silweroorbelle wat sy dadelik aansit en wat die res van die oggend in haar serp se voue vashaak, en ’n waterverfskilderytjie van Praag. In die koffieplek groet die kelner haar soos ’n ou bekende en sy oefen haar drie Tsjeggiese woorde op hom – tot sy groot plesier.
“Ken jy al die taal ook?” vra Roland verbaas.
“Net ’n paar woorde. Hy het dit vir my neergeskryf.” Sy kyk hom ernstig aan. “Ek dink dis net hoflik, dink jy nie so nie? Ons kuier in hulle land, ons kan netsowel probeer om hallo en dankie te sê in hulle taal.”
“Ek veronderstel so,” sê hy beïndruk en dink daaraan dat hy altyd in internasionale hotelle bly waar almal Engels praat.
Toe hulle etenstyd terugkom by die hotel is hy moeg, maar spyt dat hy nie die res van die dag ook saam met haar kan rondloop nie. Hy is skielik nie lus vir die afsprake van die middag of die droë transaksies wat sy aandag gaan verg nie. Hy voel vreemd verlate toe Victoria met ’n wuif van haar hand verdwyn om die stad verder op haar eie te gaan verken.
Hoofstuk 7
Na die week in Praag vlieg hulle Londen toe en dit geniet Victoria net soveel. Daar is nie weer etes waar sy moet by wees nie en in Londen sien Roland haar feitlik net soggens vroeg wanneer hulle ontbyt eet. Hy dring daarop aan dat sy hier vir haar klere koop, en vermoedelik doen sy dit, alhoewel hy nooit sien wat sy gekoop het nie. Terug in Suid-Afrika is sy daaglikse roetine van so ’n aard dat hy haar ook nie veel sien nie.
Die somer is aan die verbygaan en dit word koeler. In die huis sien Roland klein dingetjies wat verander. ’n Nuwe groepering van meubels in die sitkamer, ’n mooi lamp wat ’n oue vervang, nuwe gordyne op die sonstoep, nuwe kussings op die banke. Dis nie dramatiese veranderinge nie, maar dit laat die huis mooier lyk. Wanneer hy dit vir Victoria noem, lyk sy ingenome en verseker hom dat dit nie baie kos nie.
“Ek gee nie om wat dit kos nie,” sê hy vir haar. “As jy iets wil koop, moet jy dit doen. Jy maak my lewe soveel makliker.”
“Ja, maar wat help dit?” vra sy.
“Wat bedoel jy? Natuurlik help dit! Ek hoef nooit meer aan die huis of tuin of kos of enigiets te dink nie.”
“Ja, maar dis nie asof jy tyd gewen het nie,” verduidelik sy. “Dis nie asof jy nou langer by die huis kan ontspan of swem of gaan fliek nie, jy werk net meer.”
“Maar dis wat ek wil doen!”
Sy haal haar skouers op. “Dis wat ek bedoel.”
Hiermee moet hy tevrede wees, want sy wei nie verder uit nie.
’n Week of twee later word hy tot sy sinne geruk toe Peter besorg vra hoe dit nou met Victoria gaan.
Roland kyk op van sy rekenaarskerm. “Hoekom vra jy?”
“Toe ek gister daar was met haar nuwe identiteitsdokument was sy regtig koorsig.”
“Koorsig?” vra Roland verbaas. “Jy bedoel siek?”
Peter kyk hom kwaai aan. “Regtig, Roland, ek weet jy’s besig en sien haar maar min, maar jy behoort darem te weet wanneer sy siek is.”
Daardie middag trek Roland vir die eerste keer in ’n lang ruk vyfuur sy kantoordeur agter hom toe. Toe hy Victoria nie in die kombuis kry nie, gaan soek hy haar in haar kamer. Sy lê opgekrul in haar bed, skynbaar aan die slaap, maar toe hy nader kom en oor haar buk, vlieg haar oë oop.
“Is dit al so laat?” vra sy verward. “Ek moes langer geslaap het as wat ek … Ek sal nou begin met aandete.”
“Victoria,” sê hy moedeloos en skuldig. “Hoekom het jy nie vir my gesê jy is siek nie? Los die kos, moet jou nie bekommer oor aandete nie.”
“Ek’s nie siek nie,” sê sy en sukkel regop. Haar wange gloei en haar oë het ’n onnatuurlike glans. “Dis net ’n verkoue. Die skielike koue van nou die dag – ek was in die tuin en het bietjie nat geword van die tuinslang en …”
“Was jy al by ’n dokter?”
“Nee, nee,” protesteer sy. “Dis niks nie.”
“Ons sal hoor wat die dokter sê.” Hy draai om.
“Roland,” protesteer sy. “Nee. Dokters doen nie meer huisbesoeke nie en ek …”
“Myne sal,” sê hy kortaf en loop in die gang uit.
Hy is reg, sien sy ’n halfuur later toe hy inkom, vergesel van ’n vriendelike, middeljarige man met ’n tassie in sy hand. Die dokter ondersoek haar, bevestig dat dit inderdaad net ’n slegte griep is en gee vir haar medisyne wat die simptome sal verlig.
“Sien jy,” sê sy verwytend toe Roland later weer alleen terugkom. “Dit was net ’n mors van geld.”
“Victoria,”