Helene de Kock Keur 1. Helene de Kock

Helene de Kock Keur 1 - Helene de Kock


Скачать книгу

      “Daar is geen maars nie. Sylvia is my vrou . . .” antwoord hy luiters.

      “Ek gaan kos maak!” sê Sylvia en spring op. Anne kyk haar met misnoeë agterna. Hulle hoor haar vinnige voetstappe in die gang en die klik van die kombuisdeur toe sy dit agter haar toemaak. Dai wens met alles wat in hom is dat hy by háár kan wees. Ná ete, wanneer die ander twee na hul verblyfplek vertrek het en hulle alleen is, sal hy hierdie . . . hierdie afstand tussen hom en sy vrou uitwis . . .

      Hy druk sy ma ’n oomblik lank teen hom vas, soen haar lig op die mond.

      “Dag, my ma. Sit nou dat ons kan klaar praat . . .”

      Sy druk met haar klein handjies teen sy bors, lig ’n verontregte gesig na hom.

      “Ag, boetie, waarom het jy dan nie maar dié Sylvia huis toe gebring nie? Waar kom sy in elk geval vandaan? Jy kon darem eers gewag het! Miskien anders besluit het . . .”

      “Néé, Ma,” antwoord hy haar warboel verwyte kortom. Martine sit ken-in-die-hand en luister asof sy nog nooit iets met Daïrus Deetlefs te doene gehad het nie. Dai frons.

      “Ek wil dit nie nou bespreek nie!” sê hy bot. “Trouens, daar is niks meer te sê nie!”

      “Ag!” sê sy ma op ’n klein ontploffinkie van haar asem, en gooi haar handjies in die lug. “Die hele affêre is so . . . so bourgeois!”

      En dit is vir haar sinoniem met ’n lelike woord, besef Dai. Hy druk sy hande diep in sy sakke. Daar is ’n krieweling langs sy ruggraat af wat hom sy woorde laat afmeet.

      “As dit so is, is dit net Ma wat so dink . . .!”

      Sy vlieg om en Martine staan op om by die deur uit te glip.

      “Dis net waar jy die fout maak!” sê Anne bitsig. “Almal . . .”

      “Ek gee werklik nie om wie ‘almal’ is en wat hulle dink nie . . .!”

      “Boetie . . .!” Sy kom klem in die ou bekende gebaartjie aan sy boarm. “Ag boetie, moenie dat ons lelik baklei nie! Kom ons . . .”

      “Aanvaar dat ek getroud is met die vrou van my keuse . . .”

      Hy kyk so ongenaakbaar op haar af dat haar gesig, omraam met die lilagrys haartjies, stil word, en hy sien behoorlik hoe sy haar terugtrek. Sy draai weg van hom, stap na ’n mooi ornamentele vaas op ’n Sheraton-tafeltjie. Sy ruk haar hand weg voordat sy daaraan kan raak, en druk dit voor teen haar bors vas.

      “Vergewe my dat ek bedenkinge durf opper!” Haar stem is klein en seergemaak.

      Dai druk sy lippe opmekaar en blaas sy asem hard deur sy neus.

      “My liewe ma, gee my krediet dat ek darem sóms ’n gelukkige besluit kan neem!”

      Daar val ’n klein stiltetjie en Dai neem sy kans waar om ’n bietjie salf te smeer:

      “Ag Mams, sy pás by my!” Hy wys met ’n swaai van sy arm na die swart vleuelklavier. “Sy speel pragtig . . . Begelei my soms . . . Ons . . . is nog net nie heeltemal . . . ingeoefen nie!”

      Geen reaksie. Soos altyd wanneer hý die een is wat smeek, neem sy die houding aan van iemand wat glad nie weet waarom hy nóú so ’n bohaai maak nie. Laat dit nou die laaste keer wees dat jy dink dat jy só iets sal bereik! dink hy wrewelig en nie sonder hartseer nie.

      “Waar is Ma-hulle tuis?” vra hy byna ongeërg.

      Daar is ’n speling van emosie op sy ma se gesig toe sy half onsamehangend antwoord:

      “Ons het nie eintlik bespreek nie . . . Sy . . . het my die huis gewys!”

      Dai voel hoe dit stokstyf word in sy borskas. Dis kompleet asof daar iets oor sy hart span. Hy wens vaagweg sy ma wil ophou om na Sylvia te verwys as “sý”.

      “Ja . . .?” kry hy uit. “En hoe hou Ma . . . van ons huis?”

      “Ek . . . kan sien dat dit nie jóú smaak is nie, boetie . . . Maar dis nie wat ek nou wou sê nie. Sy het gesê ons kan in die gastekamer slaap. En ék het gevra of Martine in jou studeerkamer kan slaap . . .”

      “In my studeerkamer . . .?” herhaal Dai skoon dom. Sy brein voel dik, onmagtig om enige gedagte te formuleer. In sy studeerkamer . . .

      Anne kom staan weer digby haar seun, haar gesig kinderlik, vertroulik na hom opgelig.

      “Ja . . .” Sy klink half verskonend. “Jy weet mos ek kan nie saam met iemand in ’n kamer slaap nie. Dit pla my . . .”

      “Ja . . .” sê hy ook, omdat hy nie in die minste weet wat om anders te sê nie. Sy gedagtes spat rond soos vet op ’n bakplaat. Wát op die aarde nóú? Hy onthou dat sy ouers nie in dieselfde kamer slaap nie. Sy pa slaap in die aantrekkamer, aangrensend aan die hoofslaapkamer. En die turkoois kamer waarin Sylvia slaap, het geen aantrekkamer nie, dink hy onoorspronklik. Hy wonder verward of hy nie maar snags in die spreekkamer sal verdwyn nie, en of hy maar sal ronddwaal tot dit lig word. Toe hy effe tot sy sinne kom, weet hy net een ding en dit is dat enige toenadering nou van die baan af is. Hy sal in die turkoois kamer móét slaap. Voor die deur of in die kas of langs die venster. Of iewers. Want hierdie situasie is in wese nie sý keuse nie, en Sylvia weet dit. Sy sal noodwendig dink dat hy bloot probeer om die skyn te behou deur ook in die kamer te slaap. Het hy dan nie sélf, in domastrante voortvarendheid dit duidelik aan haar gestel dat die buitewêreld moet dink dis ’n konvensionele huwelik nie? En nou weet hy nie hoe om aan haar te bewys dat hy nie ’n trippens omgee wie die wêreld is en wat hulle sê nie . . .

      “Waarom het Ma vir Martine saamgebring?” vra hy uiteindelik met meer aggressiwiteit in sy stem as wat hy beplan het.

      “Hoe kan jy nou só vra!” verdedig sy kwaad. “Jy weet mos sy sal nie alleen kan bly nie! Sy is van ons afhanklik! Van jou . . .”

      “Martine was in haar lewe nog nooit afhanklik nie! Ons sal vir haar ander verblyf moet kry!”

      Anne maak asof sy die eerste deel van sy sin nie gehoor het nie en antwoord net op die laaste:

      “Nie nóú nie! Miskien so oor ’n paar weke. Gee haar net kans om haar voete te vind . . .”

      Met dié kom Sylvia en Martine die sitkamer binne. Dai se oë vlieg na sy vrou se gesig. Daar is hoë kleur op haar wange en haar pers oë is byna swart. Martine kyk van Dai na Sylvia en kry ’n fyn-fyn laggie, eintlik net ’n trek van die mond wat Dai yskoud laat word. Hy ken Martine. Dis haar wil-en-sal teken. Sy het gewerk aan wat sy ook al kom doen het, dié is seker. Daarvan getuig Sylvia se donker oë, wat sy sorgvuldig van Dai wegkeer.

      “Julle kan maar kom eet . . .” Haar stem is sag en baie beheers. Hulle stap almal uit, swygend uitgespeel soos ’n klomp akteurs van ’n verhoog af.

      Verduiwels! dink Dai, toe hy agter die vrouens aanloop. Wat de . . . het Martine nou kom doen! En hulle gaan onder my dak wees vir . . . vir wie weet hoeveel weke! En elke dag gaan Martine en my ma die ragfyne kommunikasie tussen my en Sylvia omkrap. Byna soos steursenders. Sodra ek probeer om op dieselfde golflengte te kom as my splinternuwe vrou, sal die atmosferiese steurnisse in werking tree! Dai is nie onderhewig aan hoogte-en-diepte-buie nie, maar toe hy agter Sylvia se reguit ruggie aanstap eetkamer toe, sak daar ’n swart bedruktheid op hom toe.

      Dis ’n stil maaltyd. Dis asof almal die stof ’n bietjie wil laat sak. Dinge moet ’n bietjie uitgesorteer word . . .

      Anne sit soos ’n skaakspeler wat nie die vaagste benul het watter skuif om nou te maak nie. Die opponent is so heel anders as wat sy haar voorgestel het. Sy het haar voorberei op ’n blitstriomf, nie ’n onsekere stryd nie . . .

      Martine eet met lus. Sorgvuldig kerf sy die sappige biefstuk in haar bord, haar oë beskeie neergeslaan. En daar is ’n selfvoldaanheid om haar mond wat Dai laat hoendervel word. Hy kan sy kop op ’n blok sit dat Sylvia vannag gaan wakker lê. En hy skrik vir die gedagte. Moenie aannames maak nie! maan hy homself. As sy in die minste ’n gevoel vir jou het, sal sy wakker lê – anders gaan suster Deetlefs slaap


Скачать книгу