Helene de Kock Keur 1. Helene de Kock
biefstuk en bevrore groentes het sy ’n spogmaal berei. Daarna volg vanieljeroomys met neute en warm sjokoladesous.
Die geselskap het van ’n dooie stilte af begin prut totdat daar nou ’n redelike vloei van versigtig gekose woorde is. Dis asof almal om verskillende taktiese redes besluit het dat daar vanaand oor één onderwerp genoeg gesê is. Veral Sylvia gesels gaandeweg al hoe gemakliker – tot die ander twee vroue se innige ergernis en Dai se onsterflike dankbaarheid. Sy praat asof Anne en Martine twee minder bekende lede van ’n verlangse familietak is, wat op ’n strawwe toerprogram getrakteer moet word. Hulle móét net, sê sy, die Parlementshuis besoek, die Westminster-abdy, St Paul-katedraal, die National-galery, die Tate-galery, en o, hulle moenie droom om Londen te verlaat as hulle nie die seepkisredenaars van Hyde Park gehoor het nie, of by Dickens se Old Curiosity Shop was nie, en wat van Windsor-kasteel en Fulham-paleis en Hampton Court . . .! En weet hulle dat Mireille Mathieu nou in die Olympia optree . . .?
Martine luister met ’n belangstelling wat sy graag sou wou ontken.
“Jy het mos nog ’n paar dae grasie voordat jy by die ambassade moet begin, nie waar nie?” vra Sylvia aan haar, en skep Dai se derde bakkie nagereg in met ’n kyk van die pers oë, wat Dai stilweg laat sweer dat hy nog sestien sulke bakkies met lus sal verorber as hy net wéér so ’n kyk kan kry op die regte tyd en die regte plek.
Martine gee Sylvia net ’n vinnige knikkie van die kop en bepaal haar verder by haar roomys. Anne sit met ’n lepel en speel. Sylvia het geheel en al die leiding oorgeneem in die gesprek. Trouens, in die hele wisseling van woorde bepaal sý die gang met ’n subtiele doelgerigtheid wat hulle nie by haar sou verwag nie. Dai sou dit wel by die flegmatiese suster Deetlefs verwag het, maar hierdie sprankelende Sylvia stem hom tegelyk bly en onrustig.
Voordat een van hulle nog anders kan wik of weeg, besluit sy dat hulle een aand na die Albert Hall sal gaan vir ’n uitvoering van die Londense Simfonieorkes.
“Nie almal is gaande oor die Londense Simfonieorkes nie . . .!” protesteer Martine liefies.
“Ja-a . . .” aarsel Sylvia, “maar Herbert von Karajan is gasdirigent en byna álmal hou van hóm!” Iets in haar mooi gemoduleerde stem laat dit klink asof Martine bepaald berserk sal wees as sy nie een van die álmal is nie. Dai sien hoe die toorn in gloede uit Martine se nek klim, en moet sluk aan sy lag.
Verder stel Sylvia ’n besoek aan Kew se Koninklike Botaniese Tuine voor, waarop Anne onmiddellik antwoord:
“Ek was al daar. Ek en boetie sal maar iets anders doen . . .”
Sylvia draai haar kop grasieus na haar skoonma.
“Vreemd, ék word nooit moeg daarvoor nie – dit doen mos iets aan ’n mens. Dis sekere tye van die jaar só mooi dat al ’n mens se komplekse sommer vanself verdamp . . .”
“Komplekse . . .?” vra Anne sag en daar is ’n oasetjie van stilte.
Sylvia kry ’n klein laggie.
“Ons het mos maar almal komplekse, nie waar nie?” sê-vra sy met die koelheid van ’n suster Deetlefs, wat Dai laat glimlag.
“Ag wel, as ’n mens natuurlik sélf . . .” begin Anne.
Dai sit sy groot hand met ’n ligte slaggie op die wynrooi tafeldoek neer sodat die lepel in sy bakkie liggies rinkel.
“Ma, Sylvia werk heeldag met mense wat weens die een of ander rede nie heeltemal hulself is nie, en sy ken ’n kompleks as sy hom sien!” Daarmee buig hy sy hoof en dank. Die gebed is soos ’n reëntjie op die skielike smeuling wat sy woorde veroorsaak het, en toe hy weer sy oë oopmaak, is daar net ’n verergdheid op Anne se gesig te bespeur, maar sy sê niks. Hulle help almal opruim, en Sylvia pak die borde en glase in die skottelgoedwasser. Toe spoel sy haar hande in die wasbak af en druk hulle met ’n klein kombuishanddoekie droog, sorgvuldig, byna asof daar iets van die handeling afhang. Toe draai sy haar na die ander drie wat besluiteloos rondstaan.
“Net môre sal ek vir ons plek bespreek vir die Londense Simfonieorkes, en daar is soos gewoonlik ’n paar baie goeie opvoerings aan. Londen bied altyd iets, al woon jy jou lewe lank hier . . .” Sy slaan haar oë af, baie bewus daarvan dat sy maar die insinuasie kon gelos het. Sy sien dit ook in Anne se kyk . . .
Hardop sê Anne aan Dai, haar handjie in ’n veelseggende gebaar op haar voorkop:
“Ek het ’n geweldige hoofpyn . . .”
Haar stemtoon plaas blaam op almal sodat Sylvia skuldig voel. Selfs Martine lyk omgekrap, en Dai trap kriewelrig rond.
“Nou maar dan moet Ma maar gaan slaap!” sê hy kortweg.
“Ja, doen dit,” val Sylvia gemoedelik in. “Ek dink ons is almal ’n bietjie oorvermoeid. Ek gaan ook nou inkruip.” En aan Martine wat half onder Dai se arm staan. “Ek het netnou die divan in die studeerkamer oorgetrek. Jou klere sal jy maar môre in die gastekamer moet hang. Is daar nog iets wat jy nodig het?”
Martine kyk vlugtig na Dai se hand, wat bo haar kop teen die kosyn gestut is, en huiwer.
“Nóg iets . . .?” vra sy met ’n glimlaggie, en met haar kop skeef naby Dai se skouer. “Nee wat, ek het voorlopig nie iets nodig nie, dankie!”
“Nou maar, goeienag dan,” sê Sylvia, en dis ook vir Dai bedoel. Sy wag skaars vir Martine en Dai se groet, en draf ligvoets die trappe op. Bo in haar kamer hoor sy hoe Anne se fyn stappie besadig boontoe kom. Sy gaan staan met haar rug teen die toe deur en luister hoe haar skoonmoeder verbyloop na die gastekamer. En sy voel hoe haar gedrae kalmte, wat haar deur hierdie aand gehelp het, meteens losskiet. Sy wil onbeheers skree, só sterk wek Anne se voetstappe by haar die gevoel dat sy bekruip word. Sy druk haar hand in ’n klapgebaartjie oor haar mond, en haal dit eers weg toe sy die deur langsaan hoor toeknip.
Hoe het die ou tantetjie in die hospitaal nou weer gesê? Pas hom op, ou kindjie! Hy’s veels te mooi! Sy wens sy kon nóú met die vriendelike Vrystaatse tannie gesels. Sy sal sê: Hy’s nie net mooi nie, tannie, hy is lief en dierbaar, vriendelik en baie, baie hoflik. Hy is verterend lojaal, sal selfs ’n ander man beledig as dit om sy Deetlefs-vrou gaan. Maar daar, my liewe tannie, hou dit op. Hy wil nie betrokke wees nie. Maar moenie sleg voel nie, want hy hóú van my! Ek is die geskikte vrou vir hom, sien. Vannag gaan hy selfs my kamer deel, want die omstandighede vereis dit . . .
En toe weerklink Martine se woorde toe hulle alleen in die kombuis was voor aandete, in haar ore:
“Jy moet jouself nie bluf nie . . . e . . . Sylvia . . .”
“Waarom sê jy dit?”
“Dai is nie ’n man wat gebind kan word nie. Dis ’n kwessie van tyd voordat bande hom begin wurg. Vra mý . . .”
Maar sy het nie uitgevra nie, sy het net doodstil aangegaan om die tafel te dek . . .
Dié herinnering maak haar so kwaad dat sy haar verkreukelde uniform afstroop, byna ’n halwe bottel Balmain-badolie in die vuurwarm badwater gooi, en toe net ’n paar minute daarin rondplas. Die geur stoom die hele vertrek vol toe sy klaar is en uiteindelik, gespanne soos ’n snaar, reg in die middel van die groot tweepersoonsbed gaan lê. Daar is net een kussing onder haar kop, die ander een het sy saam met twee donskomberse in die hoek van die kamer neergesit.
Toe sy uiteindelik Dai se swaar manstred op die trappe hoor, maak sy haar oë so styf toe dat daar trane in haar ooghoeke vorm, en sy vee dit vererg met haar voorarm weg. Toe draai sy op haar maag en druk haar gesig half in die kussing . . .
Dai staan ’n oomblik lank op ’n trapportaal en oordink sy onderonsie met Martine. Hy het haar na die studeerkamer vergesel om ’n lampie vir haar by die divan in te prop, want sy wil lees. Hy het die lamp op ’n tafeltjie langs die divan neergesit. Sy het om hom bly draai.
“Kom ons luister eers na die Negende Simfonie, Dai. Almal slaap nou . . . en ek het nog nooit weer daarna geluister sedert . . . sedert jy so skielik weg is nie . . .!”
Hy het hom tot sy volle lengte uitgestrek.
“Martine,