Helene de Kock Keur 1. Helene de Kock
skielik:
“Liewe aarde, Dai, het jy die rolprent Chitty Chitty Bang Bang nou onlangs gesien? Jy weet, die een van die vlieënde motor!”
Dai kry ’n laggie en ry dadelik stadiger.
“Jy moet oppas, mevrou Deetlefs, ek laat nie met my fout vind nie!” sê hy dreigend. “Ek laai jou nou-nou af!”
“O, ék sal regkom!” lag sy kamma vermakerig.
Dai kyk vlietend na haar, glimlag net en dink: Dis nes sy verdeksels sê, sy sál regkom! Of ek nou daar is of nie, sý sal regkom! Die gedagte ontstem Dai meer as wat hy kon droom, trouens, dit maak hom kwaad. Ek moes haar netnou gesoen het, dink hy met spyt. Ek moes haar koele onthouding skoon weggesoen het. En dan moes ek aan haar erken het dat ek vermoed, nee, ek is feitlik seker dat ek geweldig verwikkeld gaan raak met haar . . . en dat hierdie huwelik wat ek as skans wou gebruik, besig is om my te stroop van heelparty vooropgestelde idees! Dai skrik hom skoon simpel vir wat sy brein nou net geformuleer het. Hy bestuur soos ’n outomaat, handhaaf ’n konstante spoed, reageer refleksief, en hulle is dwarsdeur Oxford voordat hy dit weet. Toe die ou universiteitstad wegraak agter hulle, strek hy homself en sê onnodig:
“Nou nog Evesham en dan Stratford . . .”
Sy glimlag net met hom, en in die halflig van die someraand is haar gesigsuitdrukking vir hom duister – hy sien net die blink-wit van haar lag; haar oë word verskuil deur ’n string blouswart hare wat losgewaai het. Die byna magiese effek daarvan laat Dai hom verbeel dat hy sy eie hart kan voel klop. Wanneer, wonder hy met groot verslaenheid, het ek só begin voel? Was dit vanmôre toe sy in die deur gestaan en haar hare soos ’n sluier gedra het? Hoe is dit dan dat sy hart begin dwaal het voordat hy nog ’n verbod daarop kon plaas? Digter Jacques Perk sê as liefde ’n dwaling is, kan ’n mens nie soeter dwaal nie, en Kahlil Gibran sê jy moet die liefde glo as hy jou aanspreek. O, maar ek glo wél, sug Dai innerlik; ek glo, maar ek begryp nie! Is ’n man dan so geheel en al uitgelewer aan die gang van die liefde? Toe ek nie liefgehad het nie, het ek dit geminag, dit moeiteloos van my af weggeweer . . . Maar noudat die liefde gekom en asem in my geblaas het, wil ek berge versit – maar ek mag nie! Nie solank Sylvia reken: “Ek sal regkom!” nie . . .
Sonder dat hy daarvan bewus is, bestuur Dai met laaiende drif en hulle ry die rivierdorp Stratford-on-Avon teen ’n stywe spoed binne, wat die goeie inwoners ’n wenkbrou laat lig oor die verpeste toeriste. Toe Dai voor hul Tudor-herberg parkeer, loop hy om en help Sylvia met pynlike hoflikheid uit.
Die gryse ou hospita bekyk hulle met ’n geoefende oog. Druk met haar krom vinger op die besprekingsboek.
“U het vir twéé kamers gevra?” verneem sy onseker.
“Dis reg,” antwoord Dai so koel dat sy niks verder vra nie en net ywerig voor hulle uit die smal trappies optrippel na hul kamers. Die bagasie sal sy laat haal, verduidelik sy toe sy oopsluit. En aandete sal oor ’n halfuur wees.
Die kamertjies is knus en klein, die plafon so laag dat Dai moeite het om sy asblonde kuif netjies te hou.
“Die offers wat ’n mens darem bring ter wille van ’n bietjie atmosfeer,” brom hy net en Sylvia lag geamuseerd. Hulle spreek af dat hy haar oor twintig minute sal kom haal vir ete en dan gaan hulle na ’n opvoering in die Shakespeare Memorial Theatre.
Hulle geniet dan ook die opvoering, wat Twelfth Night blyk te wees, baie. Gedurende pouse stap hulle elk met ’n yskoue koeldrankie uit op die terras, en kyk af op die donkerblink waters van die Avon, wat vlak by die teater verbyvloei. Dis ’n soel aand en drie wit swane kom lui aangeswem om te kyk of daar dan nie vir hulle ook iets is nie.
“Is hulle nie pragtig nie . . .” adem Sylvia verruk, en leun vooroor met ’n ruising van die turkoois chiffonrok. Haar hare hang soos ’n gordyn om haar gesig, maar dan skud sy dit terug en vra met blink oë:
“Ag, Dai, hulle is só mooi!” Sy hou haar hand uit, en die mak swaan pik-pik speels na die slanke vingers bokant sy kop. “Het jy nie iets . . . het ons niks vir hulle om te eet nie . . .?”
Sy is so pragtig dat hy wegkyk na waar haar weerskaatsing in kringe van haar af wegdein. Toe sê hy laf:
“Nee, my ding! Ek het vergeet om vanaand se toebroodjie in my sak te steek! Maar sal môre te laat wees? Ons kan mos môre weer kom!”
“Goed . . .” sug sy en kyk hoe die sierlike voëls teleurgesteld uit die ligkring swem.
Skielik kan Dai dit net nie hou nie. Hy sit sy koeldrank op die baksteenmuurtjie van die terras neer, sê met arms oor sy bors gevou en op Afrikaans:
“My liefste engel, jy is so mooi, ek sal met plesier vir jou ’n swaan gaan váng ook! Ons kan vir hom ’n dammetjie in die badkamer laat installeer ook, as dit jou sal lief maak vir my!”
Sy kom orent, vee haar hare verbaas weg van haar wange.
“Ekskuus . . .?”
En Dai hou aan, nes ’n stout skoolseun wat ’n snaaksigheid ontdek het:
“Jy sal Afrikaans moet leer, my poppie! Ons twee sal nie vir áltyd in hierdie nat, groen landjie bly nie! Maar los dit maar vir eers. Laat my maar eers my praatjies praat! Dit troos my ’n bietjie . . .”
Sylvia kry ’n stadige, versigtige glimlaggie, nie seker of hy met spot of erns besig is nie. Hy ontferm hom oor haar en slaan weer oor na Engels:
“Jy moet daaraan gewoond raak dat ek soms Afrikaans praat, my vrou. Dis my moedertaal, en dit is vir my mooi . . .”
“Ek gaan dit ook leer,” sê sy beslis. “Is dit moeilik?”
“Nee wat, nie vir een wat regtig wil nie!”
Sy byt haar onderlip nadenkend vas, loer op na hom.
“Ek wil regtig!”
“Gaaf,” glimlag Dai, en hou sy arms gekruis om sy hande tuis te hou . . .
In die nanag lê Dai in die noute van sy kamertjie en worstel met homself. Dit het ek nou daarvan, dink hy met wroeging. Ek het die liefde getart met hierdie huwelik. Selfvoldaan het ek ’n oplossing bedink vir ’n kwelpunt in my lewe: Sylvia moet my ma en Martine uitmekaar hou. Mý vrou sou ’n buffer wees teen alle ander vroue. So moet dit mos wees. Maar nou is dit suster Saunders met wie ek in so ’n noue verband sal moet leef, want Sylvia ontvlug my. Sý sal haar nooit laat bind op so ’n onheilige manier nie. Want, die vesting van die liefde laat hom nie deur spotters gebruik nie. En die huwelik, dink Dai met ootmoedige berou, is bo alles die vesting van die liefde . . .
Die volgende dag gaan hulle die swane kosgee, soos wat Dai beloof het. Hulle bring ’n besoek aan die Shakespearean Grammar School soos wafferse toeriste, en stap in Henleystraat af om by Shakespeare se geboortehuis met sy roesrooi teëltjies en donker vensters met die baie loodpaneeltjies, in te loer. Hulle verwonder hulle aan die wiegie en bed waarin die groot dramaturg sou geslaap het. Bly half ontroerd staan by sy ou skoolbank, die hout donker en vol groefies. Op die boonste verdieping is daar interessante dokumente en ’n meer informele portret van Shakespeare deur Humphrey. Sylvia is intens geïnteresseerd, en Dai verlustig hom daarin om haar tersluiks dop te hou. Sy het ’n goudgeel rokkie aan wat haar lang bene ten beste vertoon. Sy lýk sommer soos ’n stukkie polsende lewe tussen al die geskiedkundige goedjies, dink Dai, toe sy ’n slag op haar tone staan om ’n voorwerp agter glas te bekyk. Hy lag toe sy huiwerig Sylvia Deetlefs in die besoekersboek teken. Dan gaan hulle ’n paar draaie roei in een van die platboomskuite met die twee leunsitplekke na mekaar gekeer. Dis salig om sommer net die spane in te steek in die donkergroen van die Avonrivier, en stadig oor die spieëlvlak aan te luier. So al roeiende vertel Sylvia hom van haar jeug. Haar moeder is vroeg dood en haar vader was ’n plattelandse algemene praktisyn in die Cotswolds. Hy is ook oorlede toe sy begin verpleeg het. Hy kon pragtig klavier speel; sy het seker haar talent van hom geërf. Later was daar Henry Radcliffe, en toe . . . niemand.
Dai vra nie verder nie, en hulle roei verby twee groot wit swane en onder die ou trembrug deur. Toe gaan hulle terug na die herberg en pak hulle goed. Onwillig om die dag te laat eindig, besluit hulle