Ena Murray Keur 15. Ena Murray
nie.”
Tant Miemie en De Waal se oë ontmoet waar hy stil in die deur staan. Dan knik hy gerusstellend en draai sag om. Tant Miemie kyk hartseer op haar dogter af, soek na ’n skynseltjie herkenning in die blinde oë. En sy weet dat, hoe sterk Karina ook al oor hierdie saak voel, sy self nie sonder De Waal se hulp deur hierdie trauma sal kom nie. Sy sal De Waal se helpende hand moet neem, want die kruis gaan te swaar wees vir haar om alleen te dra. Net – Karina mag dit nooit weet nie.
3
De Waal help tant Miemie in die motor. Hulle swaai die stadsverkeer in op pad na Karina se woonstel toe.
Dis tant Miemie wat eerste die somber stilte verbreek. “Ek is jammer, De Waal.”
“Waaroor?”
“Oor Karina se houding. Sy wou jou nie eens groet nie. My kind is so verbitter, De Waal! Sy is in opstand. Sy wil nie meer lewe nie!”
“Toe nou maar, tante. Mettertyd sal die skok afneem en sal sy verander en leer om te aanvaar.” Hy weet hy praat sommer. Hy twyfel of Karina ooit haar omstandighede sal aanvaar. Hoe kan ’n mens dit ook verwag? Sy was so ’n sprankelende mens; so ’n besonder talentvolle en mooi mens. En nou is sy gebreek. Hoe kan ’n mens dit van haar verwag om sommer te aanvaar dat sy eensklaps blind én lam is, veral nadat sy so in die volle gloed van die lewe gestaan het? Hoe kan ’n mens dit ooit werklik aanvaar en, veral, daarin berus? Dis te veel gevra, te veel verwag.
“Haar houding teenoor my is te verstane. Ek verstaan ook dat sy weier om haar vriende te ontvang. Ek verstaan dit. Ek herinner haar aan die goeie ou dae toe sy jonk en ongeskonde was en die lewe en haar ideale nog voor haar gelê het. Haar vriende herinner haar aan dié tyd van haar lewe toe sy daardie ideale verwesenlik het, toe sy as ’n beroemde model in die kalklig gestaan het. Maar dis nou alles verby, en sy wil nie daaraan herinner word nie. Dit sal regkom, tante. Maar dit sal lank duur. Dit moet ons aanvaar. Ek wens ek kon tante meer help, maar my hande is op die oomblik afgekap. Die bietjie wat ek wel kan doen, doen ek met graagte. Daarom wil ek tante asseblief vra om tante nie oor die finansiële sy te bekommer nie. Ek sal daarna omsien. Geld is nie nou belangrik nie.”
Tant Miemie knik net dankbaar en hou maar haar gedagtes vir haarself. Geld ís belangrik, veral as dit ’n ander mens se geld is waarop jy moet teer. Dit voel vir haar verkeerd om soveel van De Waal te ontvang, maar sonder sy hulp weet sy nie hoe sy die mas gaan opkom nie. Soos haar kind, sal sy ook moet leer om dinge nou te aanvaar en daarin te berus.
Hulle staan stil om hulle en rondkyk toe hulle Karina se woonstel binnestap. Dis pragtig gemeubileer, met fyn smaak en warme huislikheid. Dis met liefde en oorgawe gedoen. Sy wou dit altyd gehad het en sy het dit gekry. Maar vir so ’n kort rukkie …
“Dis … dis te luuks vir my, De Waal. Die huur van hierdie plek moet ’n fortuin kos. Dis nie nodig dat ek hier bly nie. Ek kan in ’n goedkoper plek tuisgaan. Dit kan nog maande duur …”
“Nee, tante, tante bly net hier. Ons gaan nie nou al haar goed wegmaak nie. Sy het hard daarvoor gewerk. Wat tante kan doen, is om van haar klere en so meer te begin sorteer en wat sy nie weer hier sal nodig kry nie, in te pak. Dan sal ek, elke keer as ek kom, dit stuk-stuk aanry huis toe. Dan is daar minder goed om te vervoer wanneer sy die dag ontslaan word.”
Tant Miemie swyg maar weer en voer De Waal se bevele uit terwyl hy die woonstelopsigter gaan spreek. Hy betaal die woonstelhuur vir twee maande vooruit, en sonder dat Karina dit weet, neem hy al haar sake in sy hande. Hy betaal die balans wat nog op die motor en die meubels verskuldig is, en dra sorg dat tant Miemie niks hiervan agterkom nie. Gelukkig is sy nog van die ou soort wat nie daaraan sal dink om iets op skuld te koop nie, en De Waal is dankbaar dat dit nie eens by haar opkom dat daar nog geld op al hierdie weelde verskuldig kan wees nie.
Terwyl hy besig is om te reël dat tant Miemie vervoer na en van die hospitaal het, maak sy Karina se kaste leeg. Die trane staan in haar oë toe sy die een pragtige aandrok ná die ander opvou en in koffers begin pak. Sy kan haar so goed voorstel hoe pragtig Karina daarin moes gelyk het, maar nou sal sy dit nie meer gebruik nie. Wat hulle met al hierdie duur klere gaan maak, weet tant Miemie nie. Maar soos De Waal gesê het, hulle kan nie nou al haar goed wegmaak nie. Sy sal dit maar gaan wegpak by die huis, maar waar sy plek gaan kry vir alles, weet sy nie. Tog … miskien … ag, miskien sal sy dit weer eendag kan dra?
Dit lyk asof ’n orkaan Karina se netjiese woonstel getref het toe De Waal terugkeer, en tant Miemie is byna weer in trane.
“Ek weet nie waar om met al die goed heen te gaan nie, De Waal!” sê sy moedeloos. “Ek kan nie begryp hoe die kind gedink het wanneer sy al hierdie klere wil dra nie! Sy kan ’n honderd jaar oud word dan sal sy hulle nog nie almal aangehad het nie.”
De Waal glimlag en skud sy kop toe sy blik oor die hope klere en skoene dwaal. Karina het dit darem beslis oordoen!
“Ek het kartondose gaan soek vir die skoene. En dit lyk my ek sal nog ’n paar koffers ook moet kry.”
“Maar waar gaan ek met die spul goed heen by die huis? Ek sal nie ’n agste hiervan daar inkry nie,” sê tant Miemie raadop.
“Ek sal ’n plan maak, tante. Ons gaan niks van haar goedjies wegmaak nie. Alles moet saamgaan huis toe,” kom dit beslis van De Waal.
Tant Miemie gee maar boedel oor. De Waal sal ’n plan maak …
In die weke wat volg, leer tant Miemie om op De Waal te steun. Wat De Waal sê, is wet. Selfs as hy haar beveel om leuens te vertel, doen die goeie tant Miemie dit sonder om te blik of te bloos.
“Waar is Mamma tuis?” wil Karina weet.
“O, sommer hier by ’n hotel nie ver hiervandaan nie, my kind.”
Daar is ’n kort stilte, en dan laat Karina bekommerd hoor: “Dit gaan baie geld kos, Mamma. Dit sal wonderlik wees om Ma altyd hier by my te hê, maar ek besef ons kan dit nie bekostig nie. Ek verwag nie …”
“Die tarief is nogal redelik, my kind, en ek het mos darem ’n paar randjies van Pappa se polis wat uitbetaal is.”
“Polis? Ek het nooit geweet daar was ’n polis nie.”
“Ek het seker maar vergeet om jou te vertel. Daar is nie geldelike probleme nie, Karina. Moenie jou oor my bekommer nie.”
Tant Miemie voel heimlik verbaas dat sy dit so maklik vind om leuens te vertel. Dit laat haar half onrustig voel. Dit wys jou maar net, dink sy. ’n Mens is nooit so goed as wat jy dink jy is nie. Maar sy moet darem erken, sy lieg nou uit De Waal se mond. Dis hý wat aan die polisstorie gedink het.
“Hoe kom Mamma by die hospitaal?”
“Ek loop sommer die entjie, my kind. Dis net hier om die draai.”
Karina frons. “Ek weet nie van ’n hotel so naby aan die hospitaal nie.”
“Ag, natuurlik, my kind. Jy het dit maar nog net nie raakgesien nie,” verweer tant Miemie vinnig.
Daardie aand bespreek sy die saak met De Waal.
“As sy weet, sal dit haar hewig ontstel, tante, en tante weet self haar dokter het gesê dat sy onder geen omstandighede ontstel moet word nie, veral nie terwyl sy so morbied is nie.”
“Maar dis darem vreeslik om haar so te sit en belieg, De Waal!”
“Dis vir haar eie beswil, en dit maak tog nie saak nie. Wat maak dit werklik saak waar tante bly en hoe tante by die hospitaal kom en so meer? Dis mos nie nou van belang nie.”
“Almiskie,” sê sy, maar laat die saak maar daar.
De Waal bly die aand en sien toe dat tant Miemie alles wat sy nodig het in die woonstel kry. Hy gaan koop selfs kruideniersware en maak seker dat sy geen gebrek sal ly wanneer sy alleen is nie.
“Aardetjie, De Waal, jy is nou so erg soos Karina met die klere. Wie moet al hierdie kos opeet, dink jy?”
“Tante.” Hy glimlag. “En ek, wanneer ek kom kuier, natuurlik!