Ena Murray Keur 16. Ena Murray
teenoor sy dogter. “Lyk nes haar ouma!”
“Moenie skoor soek nie, Jan van Tonder!” betig sy vrou en moet dan maar saamlag.
Dan versober Marlene se gesig. “Daar is weer iets wat ek wil vra. Ek voel al so skaam.”
“My kind, jy weet tog …”
“Ek weet, Mamma, maar … ek bly net vra. Ek kom blykbaar nooit in die posisie om ook ’n slag te gee nie. Dis verkeerd. My lewe is verskriklik selfsugtig.”
Jan van Tonder glimlag net, sy oë teer. Hoe pragtig is hierdie dogter vandag vir hom. As jong meisie was sy bekoorlik en verfrissend, maar noudat sy vrou en ook moeder is, is daar iets onbeskryflik moois in haar.
“As ons kan help, my kind. Wat is dit?”
“Ek … ek wil vra of julle nie my kind sal … vat nie.”
“Jou kind … vát?”
“Net tydelik, tot ek my opleiding voltooi het, asseblief.”
Daar is verwarring op die ouergesigte.
“Wil jy die een of ander kursus volg? Maar dis ’n puik plan, my kind. En natuurlik sal ons na die kleinding kyk. Julle bly mos by ons in die huis.”
“Nee, Pappa verstaan nie. Ek sal nie by julle in die huis wees nie. Ek sal in die tehuis moet bly. Mamma sal voltyds na die kleintjie moet kyk, as sy kans sien. Ek weet dis ’n geweldige guns wat ek vra. As dit te veel sal verg, sê so, asseblief. Ek het alreeds só baie van julle gevra …”
Haar pa se oë vernou, kyk stip. “Verstaan ek jou reg, my kind? Wil jy verpleegster word?”
Haar oë is helder, byna uitdagend. “Ja, Pappa.”
Hettie frons. “Dis ’n baie harde kursus, Marlene,” probeer sy wal gooi. “Dis tog nie nodig dat jy moet werk nie. Ons kan mos vir jou en die kleintjie sorg.”
“Ek weet, Mamma, maar ek wil graag.” Sy sien die begrip in haar pa se oë, besef dat hy dieper kyk as haar ma en hierdie onverwagse begeerte van haar beter verstaan.
“Is dit vir jou werklik belangrik, Marlene?”
Haar oë blink meteens, maar sy hou haar kop dapper omhoog. “Ek wil, Pappa. Baie graag. Daar is niks wat ek liewer wil doen nie as om Ben se wêreld te leer ken.”
“Ben!” Haar ma se lippe bewe. “Marlene, jy …”
“Ek weet wat Mamma wil sê, maar … moenie my hoop en geloof probeer demp nie. Dit was Ben se laaste woorde aan my: Ek moet oorstap na sý wêreld. Dis die enigste manier. Toe kon ek nie, maar nou kan ek … as Ma my sal help, asseblief. Dit sal net vir vier jaar wees. Ek weet dis ’n veeleisende kursus. Maar ek sal deurbyt. Ek moet. Want ek moet Ben se wêreld leer ken, en ek moet volgende keer verstaan. As daar ’n volgende keer gaan wees.”
“Dan … glo jy nog dat jy en Ben …?”
“Ek hoop, Mamma. Dis al waarop ek die afgelope maande gelewe het. Op hoop,” erken sy. “En netnou, met Ben se kind in my arms, het ek besef ek het ’n plig teenoor sy kind. Maar ek moet myself eers bewys voordat ek vir Ben kan sê: Hier is jou kind. Ek moet eers ’n waardige vrou word, ’n vrou wat by Ben pas, wat dieselfde taal as hy praat, wat in dieselfde wêreld as hy lewe. Ek en Ben het altyd in twee aparte wêrelde gelewe. Ons liefde was ons enigste kontakpunt en die lewe het my geleer dat liefde alleen nie genoeg is om ’n huwelik te bind nie.” Sy glimlag na haar pa op. “Pappa is reg. Die lewe het my baie lessies geleer.”
Jan van Tonder sluk aan die knop in sy keel. Marlene weet nog nie hoe ver sy reeds in Ben Roux se soort lewe ingestap het nie. Sy het nou dáár gekom waar sy nie meer huiwer om van haar kant ook te gee nie; van haar kant haar offers te bring nie. Dit gaan van haar baie verg om van haar kind afstand te doen – die enigste pand wat sy van Ben Roux oorgehou het – en die moeilike kursus van verpleging te volg.
Of sy sal kan vasbyt, is ’n ander vraag, maar op die oomblik is dit nie so belangrik nie. In hom swel sy hart van trots, en sy kommer hou hy vir homself.
Vier jaar is kort, maar in sekere opsigte ook lank … lank vir ’n man in die veeleisende beroep van geneesheer, lank vir ’n man om alleen te bly, om saans tuis te kom sonder dat daar ’n vrou is wat hom verwelkom, wat vir hom ’n bord kos kan voorsit en die eise van die dag in haar arms kan laat versmelt. En Ben Roux is per slot van sake ’n man.
Maar hierdie gedagtes hou Jan van Tonder vir homself. As Marlene al so ver gedink het, laat sy niks glip nie, en hy gaan sy dogter se geesdrif en hoop nie demp nie. Weer val hy maar terug op die ou beproefde middel – tyd. Tyd, soos in die verlede, sal maar moet leer. Intussen is dit vir hom genoeg om te weet dat sy dogter eindelik rigting in die lewe gekry het, dat sy, as dit so beskore is, nog ’n volwaardige vrou vir Ben Roux sal kan word. En as die lewe anders besluit, dan gaan hy soos in die verlede in die geloof voort. Een ding weet hy: As daar teleurstelling vir sy dogter wag, sal sy nie ondergaan nie. Smart het haar volwasse gemaak. Marlene is eindelik die vrou wat Ben Roux begeer het. So jammer dat hy nog vier jaar sal moet wag voordat hy dit sal ontdek … as dit nie dan al te laat sal wees nie.
3
In die maande wat op hierdie dag volg, is dit dikwels net haar pa se aanmoediging en die feit dat sy weet hy hou dop of sy dit werklik in haar het om iets aan te pak en dit deur te voer, wat Marlene laat vasbyt.
Vir haar, meer as vir enige ander junior, is die aanpassing geweldig. Hoewel sy in die verpleegsterstehuis tuisgaan, bly sy effens eenkant, juis omdat sy soveel ouer, ook ouer as haar jare, voel.
Baie dikwels rus haar oë vol weemoed op haar maats as sy na hul geskerts en vrolike gelag luister; hul praatjies oor kêrels en grappies aanhoor. Sy was ook eenmaal sewentien, agtien. Toe het haar lewe ook net gedraai om partytjies, kêrels, uiteet en gaan fliek. Nou is sy ’n vrou met die stempel geskei op haar afgedruk, ’n moeder met ’n kind. Daardie onbelemmerde jeug is verby. Dit het baie skielik verbygegaan. Tog, moet sy in alle eerlikheid erken, verlang sy nie terug na daardie jare nie. Sy kan na die jong verpleegsters luister sonder afguns, met ’n wyse glimlaggie en met die gedagte dat hulle hierdie tydjie van hul lewe maar moet geniet. Nie meer lank nie, en die lewe sal in alle erns begin – vol teleurstellings, eise en verantwoordelikheid. En dis gouer op jou as wat jy dit verwag.
Maar vir Marlene is die aanpassing ook erger as gevolg van die gemaksugtige lewe wat sy tot hiertoe gelei het. Baie dae moet sy eers stilstaan en wonder of dit regtig sý is wat panne ronddra en beddens opmaak; wat haar stilswyend moet skik na die grille en giere van dokters, seniors en pasiënte. Want dis een ding wat sy al gou moes leer: die dogter van Jan van Tonder het geen aansien in hierdie groot stadshospitaal nie.
Hier is sy verpleegster Roux, kort en klaar. Sy is net ’n paar hande wat moet werk, ’n paar bene wat moet hardloop. Hier is sy bloot ’n naam, ’n naam wat dikwels ongeduldig geroep word om die een of ander taak, heel dikwels nie so aangenaam nie, te kom verrig. Wie sy buite die wit mure van die hospitaal is, stel niemand in belang nie.
En hier leer sy ook om in stilte baie te verduur. Die suster en die pasiënt is altyd reg. Sy, as junior, het geen sê nie. Hier is sy bloot ’n klein ratjie in ’n goed geoliede masjien, en die oomblik as sy nie saambeweeg nie, word sy nie gespaar nie. Die feit dat sy die gewilde dokter Roux se vrou was, maak geen verskil aan die enkeles wat bewus is van die feit nie. Sy wás Ben Roux se vrou. Sy ís nou verpleegster Roux.
Maar nie een keer hoor haar ouers van die trane wat in die dienskamer gestort word nie, van die gepynigde voete nie. As hulle soms die moegheid in haar sien wanneer sy van diens kom, ’n opmerking daaroor maak, is haar antwoord altyd baie ongeërg. Dat sy hulle nie heeltyd ’n rat voor die oë kan draai nie, toon hulle nie. Marlene is nie meer die ligsinnige meisie wat die maklike weg soek nie.
Hoewel haar ouers dit vermoed, weet sy en sy alleen watter verskriklike opoffering dit van haar verg om haar kind by hulle agter te laat wanneer sy ’n paar kort uurtjies vry was en weer na die hospitaal moet terugkeer. Dis of iets elke keer in haar wil breek as sy die warm bondeltjie