Koms van die motman. Chris Karsten
taai van bloed, syne en sy partner s’n. Maar sy opleiding skop in. Vergeet van ’n vloekskoot onder die Kevlar in, beveilig eers die toneel, maak seker Wilky en Manzini is ontwapen, is onskadelik, kry mediese hulp vir Thys.
Voor hom lig Wilky sy gesig na hom: “Moenie skiet nie, moenie skiet nie. Ek’s gewond, ek het nie ’n wapen nie.”
“Lê stil!”
“Ek bloei, kry hulp.”
Silas tree verby die bank na Manzini, dié se oë is oop, starend na niks. Silas por hom met die punt van sy stewel, hurk en voel ook aan sy nek, maar weet klaar, hoef nie eens te voel nie.
Hy merk die wapen. Dit moet uit Manzini se hand weggespat het toe hy die vloer tref. Hy bekyk dit sonder om daaraan te raak.
Hy gaan staan by Wilky. “Staan op.”
“Ek kan nie, ek’s gewond, ek soek hulp.” Hy kreun en probeer orent kom, die hemp aan sy regterskouer deurweek van bloed.
Silas help hom op die bank terug, boei sy hande en staan tru, beskou weer die vloer waar Manzini lê en waar Wilky voor die sofa platgeval het. En vra: “Waar’s jou wapen?”
“Watse wapen? Ek sê mos ek het nie ’n wapen nie.”
“Die een waarmee jy my partner geskiet het.”
“Ek het niemand geskiet nie.”
“Die rewolwer daar, die ou Smith & Wesson, is dit nie joune nie?”
“Rewolwer? Nee, waarvan praat jy?”
Selfs ’n klein polisiebreintjie kan die komplot ontsyfer wat hier beplan en uitgevoer is: Manzini skiet Silas Sauls, Wilky skiet Thys Neser.
“Ek het niks met –”
“Shaddup! En uiteindelik hét ek jou, en nie net vir gesteelde karre nie – vir die doodskiet van ’n polisieman gooi hulle die fokken sleutel weg, meneer Ordog!”
***
Op pad huis toe sê Lou: “Dit moes pynlik vir jou gewees het.”
Sy knik. Dit was. Maar is dit nie wat sy wou weet nie? Nou weet sy. En sy kry die beeld van haar pa nie uit haar kop nie. Afgesak in sy leunstoel. Kop skuins teen die rugkussing. Al die bloed. So baie bloed. Haar pa s’n.
“Is jy oukei, Ella?”
Sy voel sy hand en leun in na sy palm, sag en warm teen haar wang. Net vir ’n oomblik, dan is sy hand terug op die stuurwiel, en die gekleurde liggies van die paneelbord speel lig en donker oor die kontoere van sy gesig.
“Ek probeer net alles absorbeer.”
“Nou verstaan jy hoekom Silas nie daaroor wou praat nie. Ek sou ook nie.”
“Maar verstaan jy hoe ék voel, Lou?”
“Natuurlik verstaan ek. Dis die ambivalensie waardeur Silas moes worstel. Hy verstaan ook dat jy wil weet wat daar gebeur het. Veral nou ná jou pa se dood. Maar hy weet van die pyn wat dit gaan bring wanneer hy al daai ou wonde oopkrap, die pyn vir jou én vir hom. Want so iets laat niemand onaangeraak nie. Ek is seker hy moes homself ook honderd keer afgevra het: Wat bereik ons eintlik regtig deur daai gebeure van elf jaar terug weer in die oopte te bring? Gaan dit vir Ella ’n soort afsluiting bring? Indien wel, goed, kom ek vertel, kom ons kyk wat gebeur. Indien nie, wat is die sin van só ’n oopkrappery dan? Geld dieselfde redes van destyds dan nie steeds vandag nie?”
“Jy bedoel die redes hoekom ek nie die verhoor wou bywoon nie?”
“Ja, jy wou nie al daai gebeure in koue, onpersoonlike detail herleef nie. Hoekom nou?”
“Om daar in die hof te sit en al die getuienis aan te hoor, hoe seer dit hulle ook al maak, bied vir baie naasbestaandes ’n mate van genesing. Dit help hulle helingsproses, om balans te herwin sodat hulle kan aangaan. Ek het anders gevoel; mý hart het genees deur goeie herinneringe, my gemoed was gereserveer vir net my pa, daar was nie plek vir die man wat dit aan hom gedoen het nie. Daardie geweldenaar het ek nie plek in my huis of in my gees gegun nie. Dit was genoeg om te gaan kyk hoe hy skuldig bevind word, die vonnis was net ’n afsluiting.”
“Closure.”
“Nee, nie só ’n soort finale afsluiting nie. Die vonnis het bloot die regsproses afgesluit, nie my gevoelens nie. Wat beteken closure? Dit beteken niks, dis net ’n woord, ’n buzz word, iets wat gesê word om jou beter te laat voel. Hoe kry jy ooit afsluiting van die dood van ’n kind, van ’n eggenoot, van ’n pa? Ek het elf jaar berus, maar nou, met my pa se dood, is alles skielik oopgekrap. Die man wat dit gedoen het, mag nie wegkom nie en Silas se vertelling is deel van die nuwe ondersoek. Dit help met die nuwe soektog na ’n verdagte en sy motiewe.”
“En ek sal jou help,” sê Lou. “Moenie my afsny nie.”
“Ek sal nie,” sê sy.
Maar is sy nie klaar besig om dit te doen nie?
INTERLUDE: Ek pis op jou
Die jaar is 1886 en die Boere noem hierdie boomlose stuk Transvaalse plato van grasveld, kalkkliprante en sterk spruite al jare “die rif van wit waters”. Hier op die plaas Langlaagte ontdek ’n uitlandse prospekteerder in Julie die dagsoom van die fabelagtige goudkonglomeraat. En aangelok soos deur ’n teef op hitte kom hulle aangestorm uit alle hoeke van die wêreld om elkeen ’n ons en meer te kom eis van die geel rykdom in en onder hierdie troostelose klippe.
Mzuzephi, negentien jaar oud en nou ’n trekarbeider uit Zoeloeland, werk ver hiervandaan as tuinier en staljong by baas Tom op Harrismith.
Maar:
Voor die eerste maand van hierdie werk raak een van baas Tom se perde weg. Ek dog ek doen goed en gaan vertel hom van die dier wat aan’t rondloop is. Maar hy wyt my dat ek nie agter die perd gekyk het nie en sê ek dra die las van sy merrie wat weg is.
Ek sê vir hom: Hoe dan só, baas? Ek het mos daar in die tuin geskoffel waar jy my aangesit het. Hoe kan ek gelaak word vir wat gebeur het? Al die perde was alleen uit om te gaan wei en net die een is weg. Moes ek skoffel of moes ek agter die perde gaan kyk?
Ai, die baas Tom, hy ken nie rede nie en hy raas en hy sê hy gaan my in die tronk laat smyt as ek nie sonder verlet die vermiste perd gaan soek nie. Ek gaan soek en soek en soek, maar kry nie die bliksemse merrie nie en vat te syner tyd die tyding vir baas Tom.
Hy ruk hom op en ja my weg: Skoert, jou nikswerd! Maak dat jy wegkom, trap terug na jou kraal daar op baas Porter se plaas in Zoeloeland. Gaan werk daar by hom, en vir die prys van my perd wat weg is, sal baas Porter jou loon agterhou en vir my gee.
Ek wil weet: En wat, baas Tom, is dan die prys van die merrie wat jy soek?
Hy sê: Die prys wat ek soek, staan gelyk aan twee jaar se loon by baas Porter.
Terug by die kraal vra ek my oudste broer of hy dink dis regskape in die oog van God en wet dat ek moet werk en afsien van my loon vir ’n perd wat ek nie verloor het nie.
Hy sê: Die wette van God en witman kan ek nie uitlê nie. Al advies wat ek vir jou het: Werk, my broer! Anders smyt hulle jou in die tronk en in die tronk wil ek jou nie sien nie.
Ek sê vir hom: Nee! Ek kan nie werk vir dit wat ek nie verloor het nie.
Mzuzephi is kwaad. Hy word ontneem van die kans en die geld om lobola vir ’n vrou te begin versamel, soos wat al die ander hubare jong manne van sy kraal en van die hele Mgodanyuka-hartland al doen.
Hy is bitter en gegrief. Hy kom uit ’n gelowige huis, hy ken die Bybel en bewandel die smal weg wat sy ouers hom geleer het, maar nogtans dreig ’n wit baas hom met die tronk. Dis ’n onreg dat hy moet betaal vir iets wat nie sy skuld is nie, ’n verloopte perd. Hy is veral ontnugter deur die valsheid van die baas se blaam en sy eie onmag daarteen.
Maar hoe kom hy uit hierdie greep wat hom so magteloos wurg?
Later die jaar, toe 1886 end toe staan, stuur baas