Koms van die motman. Chris Karsten
die Moot. Gezina, dink ek, kan nie onthou nie.”
Dit sal buitendien ’n denkbeeldige adres wees, dit weet Ella klaar. “Sy werkadres?”
“Public Works,” sê sy.
“Ja, maar waar spesifiek?”
“By ’n seksie wat hy noem Special Projects. Dis hoe ek hom ontmoet het. Hy’t gesê hy doen ’n oudit van ou hospitaalgeboue wat dringende onderhoud nodig het.”
“Hoe presies het julle mekaar ontmoet dat jy onthou van die hospitaalprojek?”
“Toevallig in ons hospitaal se kafeteria. Ek het een middag ná my skof gou iets te ete gaan soek. Soos die Voorsienigheid dit wil hê, want ek eet nie gewoonlik daar nie, vat altyd ietsie saam. Toe begin ons gesels, en een ding lei tot ’n ander, jy weet.”
“En dit was wanneer?”
“Daar aan die einde van laas maand rond, ek kan nie presies onthou nie. Hy’t nog gesê hulle druk hom, hy’t net drie maande, hulle wil sy verslag einde April hê sodat besluite geneem kan word en die tenders kan uitgaan. Toe lag hy en sê: Tipies staatsdiens, nè, hulle druk jou blou in die gesig, dan bly lê die dringende verslag iewers in ’n in-mandjie stof en gaar.”
“En het julle mekaar dikwels gesien, ná daardie eerste toevallige ontmoeting?”
“Nie dikwels nie. Hy’t my ’n slag vir ete uitgevat. Een of twee keer by my huis kom tee drink.”
“Dis nie dat ek my neus in jou private sake insteek nie, tant Maggie, ek probeer net help, ek probeer jou bietjie voorberei op wat kom. Sulke moordspeurders kan mens nogal onkant vang met al hulle vrae. En jy sal sien, hy gaan bly karring en karring tot jy nie meer weet wat om te sê nie.”
“Ek wens jy kan by wees.”
“Het Paul darem oor ander goeters as net sy werk gepraat? Oor sy persoonlike lewe?”
“Nie eintlik nie. Baie inkennig. Maar darem vertel dat hy ook sy wederhelfte verloor het, een of ander terminal illness. Ek wou nie te veel daaroor uitvra nie, te aardig gevoel. Sy kinders is al uit die huis uit. Seun en ’n dogter. Ek’t hom jammer gekry. So ’n alleenmens.”
“En sy kar?”
“Sy kar?”
“Watse kar het hy?”
“Ek weet nie, ek ken nie eintlik karre nie – ’n Volkswagen, dink ek. ’n Jetta, ja. Of Passat.”
As sy nie eens die model herken nie, hoe sal sy die nommerplaat onthou? “As hy vir dae daar is, slaap hy oor?”
“Ek het hom gevra. Hy ry heen en weer, dis net ’n uur. Hy sê Public Works is baie suinig, hulle laat hom nie in ’n hotel of selfs ’n B&B oorbly nie.”
“Het jy hom Maandagaand genooi om oor te slaap – as hy tot tienuur gekuier het?”
Nou is daar eers stilte. “Ek … ek het.”
Haar hart klop vinniger. “En het hy oorgeslaap?” Op ’n forensiese patoloog se tyd van dood kan jy jou huis verwed, haar pa s’n tussen tien en twaalf. Die som is dus maklik: as Paul Krige voor tien die aand weg is, moet na ’n nuwe person of interest gesoek word.
“Ek … ek …”
“Tant Maggie, dis mos nie so moeilik nie: Het hy oorgeslaap?”
“Ek weet nie!” bars sy ineens uit. “Ek breek my kop, Ella, maar ek weet nie. Ek glo nie. Ek sou mos vir hom ’n kussing en kombers uitgehaal het vir die bank. Toe ek vyfuur wakker word, was daar niks nie. Ook nie hy nie. Hoekom kan ek niks onthou nie?”
So, Maggie het gedink sy ken haar nuwe vriend. Sy dink as ’n man treurige stories vertel van ’n oorlede vrou se ongenoemde ongeneeslike siekte, en van sy seun en dogter wat al uit die huis is, dan beteken dit sy ken hom. Want dit is tog erg intieme inligting. Of is dit, in Paul se geval? Laat val ’n persoonlike brokkie hier, nog een daar, pik ’n denkbeeldige traan weg, speel die emosionele kaarte, bespeel die hartsnare. Brokkies wat nie uitgetjek kan word nie. Watter nuwe vriendin sal sê: Wys my ’n foto van jou dooie vrou, gaan wys haar graf vir my? Miskien later sal sy sê: Ek sal graag jou seun en dogter wil ontmoet, ek sal graag wil sien waar jy bly.
Maar só voor op die wa sal Maggie nie te gou wees nie, sy sal die verhouding eers tyd gee om sy natuurlike loop te neem, bedag daarop om nie die nuwe vriend af te skrik deur te voorbarig en veeleisend voor te kom nie.
Ella bel die departement van openbare werke in Madibastraat, Pretoria, en vra vir die afdeling Spesiale Projekte.
’n Nors stem gee ’n ander nommer. “Call this number, Special Projects is located in Proes Street.”
Sy bel Proes se nommer, vra weer vir Spesiale Projekte.
’n Hulpvaardige vrou sê, ook in die voertaal van die staat: “Kan jy meer spesifiek wees? Wil jy byvoorbeeld met iemand praat oor Suid-Afrika se infrastruktuurprojekte in die buiteland? En in watter land spesifiek?”
“Nee, oor ’n hospitaalprojek in Bela-Bela.”
“Die tak Spesiale Projekte werk net met die Republiek se diplomatieke eiendomme oorsee, en die plaaslike infrastruktuur by oorland-grensposte, seehawens en lughawens uitgesluit, dit val onder ’n ander tak. O, en hulle hanteer ook spesifieke presidensiële projekte. Doen jy navraag oor so ’n spesiale presidensiële hospitaalprojek op Bela-Bela?”
“Nee, maar miskien kan meneer Krige my help. Paul Krige.”
“Hou aan, asseblief.”
A, so daar’s tóg so iemand. Maar dan sê dieselfde vriendelike stem: “Bedoel jy meneer Kriel – J.P. Kriel? Op my telefoonlys is nie ’n Krige nie. Miskien werk hy in Madibastraat. Het jy hulle nommer?”
“Ek het al soontoe gebel, hulle het gesê vir Spesiale Projekte moet ek hierdie nommer bel.”
“Bel hulle terug, sê jy soek Projekte en Professionele Dienste, dis die regte naam van die tak daar by hulle.”
Ella bel die nors vrou terug en vra vir Projekte en Professionele Dienste. Daar probeer iemand help, maar die naaste aan Krige is Kroeze.
Sy sit die foon neer en staar na die plafon, reik dan na die boonste van haar stapel dossiere. Dis nie asof sy met haar tone kan sit en speel nie. Ná ’n week van die kantoor af is sy toegegooi en alles eis haar onmiddellike aandag. Soos Big Mac, een van haar konfidensiële informante wat ’n verdagte messteker uitgeken het op greinerige foto’s wat van CCTV-beelde afgetrek is. Soos Reefer, ’n ander KI wat reken hy weet watter bende agter ’n vlaag diefstalle by selfoonkiosks sit. Soos aanklaer Fransien Korkie wat haar wil sien oor Olivia Ross se borgaansoek.
Tussen haar eie sake maak sy tyd vir dankiesê-briefies ná al die oproepe, sms’e, e-posse, selfs ’n paar slakkepos-simpatiekaartjies van enkele familielede wat sy ongereeld sien. In so ’n krisistyd kom jy gou agter dat jy nie heeltemal so vergete is as wat jy gedink het nie.
Een van die e-posse is van Blue Caribbean International:
Dear Ella Neser
Re: Your application as “Hospitality Professional”
Sorry to hear about your family crisis and that you won’t be able to attend the scheduled interview. However, due to the overwhelming interest in our cruise ship career vacancies, we will be conducting another round of South African interviews in the near future and I hope to fit you in again at the later date. Thanks again for your interest in Blue Caribbean International and I’ll keep you posted.
Regards
Tilly Sallis (Mrs.)
HR Dept., Blue Caribbean International, Miami, Florida, USA
Die “family crisis” was al in Januarie en het niks met haar pa te doen nie. Dit was eintlik ’n “personal crisis” (oor Lou en sy eks), maar so wou sy dit nie stel nie, want dit kan die persepsie laat