Koms van die motman. Chris Karsten
sit ek partykeer bedags ook daar by hom. Net vir so ’n uur of twee om haar kans te gee om bietjie uit te kom – winkels toe, tandarts toe, haar hare te laat doen, so aan, jy weet. Shame, arme ding.”
“En as jy daar by hom sit, wat doen jy?”
“Wat doen ek, jy bedoel bedags? Laat ek dink. Ek luister na RSG, ek lees my tydskrif, partykeer vat ek breiwerk … ek brei vir my dogter se kleintjies. Partykeer praat ek met hom. Ek vertel hom alles wat aangaan, jy weet. Dis wat Doreen ook doen. Is mos so, Ella? Doreen glo hy’t alles gehoor, daarom dat sy elke aand vir hom stories gelees het.”
“Maar ek praat spesifiek van Maandagaand. Wat het jy Maandagaand gedoen – gebrei, TV gekyk?”
“Ek … ek het ’n besoeker gehad.”
Ella kyk op, Maggie strengel en ontstrengel haar vingers. Ella ken sulke tekens, die liggaamstaal wat so baie verklap in ondervragings.
“’n Besoeker?” vra sersant Tjale. “Waar was die besoeker?”
“Daar in Doreen se huis.” En dan aan Ella asof sy skuldig voel. “Ek het vir jou ma gevra of hy daar saam met my kan kuier terwyl ek na jou pa kyk.”
Hy?
“Sy naam?” vra sersant Tjale, pen gereed.
“Paul,” sê Maggie en Ella merk die huiwering in die stem. “Paul Krige.”
“En was sy besoek vir besigheid, en watse besigheid?”
“Dit was persoonlik.”
Die ou weduwee het ’n vryer gekry!
“Het hy oorgeslaap?”
“Uh … hy’t my geselskap gehou. Ek het mac en cheese gemaak en ons het gesels.”
Ella kry al hoe meer respek vir die speursersant. Hy was besig om Maggie mooi in ’n lokval in te lei, gelukkig dat sy besluit het om eerlik te wees oor haar gas.
Sersant Tjale knik. “Ja, ons het borde en goed in die skottelgoedwasser gekry. Hoe laat is hy weg?”
Dit lyk of Maggie nou eers weer hard aan die dink is. “Ek’s regtig nie seker nie, kan so tienuur wees, miskien bietjie later. Jy weet hoe dit gaan as mens eers lekker aan’t gesels raak, jy kyk mos nie na die tyd nie.”
“’n Ou vriend, hier van Bela-Bela?”
“Nee, van Pretoria. En nie oud nie, ek ken hom so drie weke.”
Hoe langer in die tand, hoe langer die overture. Dus seker nog eerder vriend as vryer. Anders sou haar ma haar al vertel het van die nuwe man in Maggie se lewe.
“Julle eet en gesels en drink tee en tienuur is hy weg?” Tjale kyk van sy skrywery op en sê: “In die wasser was ook teekoppies, dis hoekom ek weet julle het tee gedrink. Hoe is hy by die hek uit?”
“Daar’s ’n paaltjie met ’n knop wat jy druk, die hek gaan oop, jy ry uit en dit gaan weer agter jou toe.”
“Het jy seker gemaak die voordeur is gesluit toe hy uit is?”
“Dit kan ek nie onthou nie.”
“Ek vra omdat Misdaadtoneelbestuur en Forensies geen teken van inbraak of gedwonge toegang kry nie. Die aanvaller moes by ’n oop deur ingekom het. Maar hoe sou hy die elektroniese hek oopkry sonder ’n kode of afstandbeheer? Het jy vir jou vriend Paul ’n afstandbeheerder gegee?”
“Nee,” sê Maggie.
“Ek soek sy nommer en adres. En wanneer het jy ontdek dat alles nie pluis was met die oorledene nie?”
“Vroeg Dinsdagoggend. Toe ek wakker word. Doreen … mevrou Neser het die spaarkamer se bed vir my reggemaak. Dis net oorkant die gang van Thys se kamer. En ek’s al veertig jaar ’n verpleegster, ek slaap lig, ek kan hoor as iemand onrustig is.”
“Maar jy’t nie Maandagnag lig geslaap nie, nè? Die aanvaller kom by die huis in, druk jou kamerdeur toe, gaan by die oorledene se kamer in, maak daai deur toe, doen sy ding, en verdwyn ewe stil soos ’n skim in die nag. Was jou deur toe, Dinsdagoggend vroeg toe jy wakker word?”
Sy knik. “Ek kon dit nie verstaan nie. Ook Thys se deur. Ek sou nie een van die deure toegemaak het nie.”
“Jy moes dieper as gewoonlik geslaap het. Gebruik jy iets … ek bedoel medisyne?”
“Net vir my cholesterol.”
“Nie iets om jou te help slaap nie?”
“Nee.”
“Sal jy omgee as Forensies bloed trek om te laat toets en ’n monster neem van jou DNS? Ook jou vingerafdrukke, sodat ons dit kan onderskei van ander afdrukke wat ons op die toneel gekry het?”
***
Ella en Lou trek dieselfde aand van die B&B af in by die einste spaarkamer met die driekwartbed. Die vorige keer toe Lou hier in haar ma se huis was, is vir hom op die bank in die sitkamer bed gemaak. Nie hierdie keer nie, só skynheilig kan sy nie langer wees nie. Met hom nog besig om die tasse in te dra, sê sy vir haar ma: “Ons sal saam in die spaarkamer slaap, Mams.” En wag op ’n teenwoord, of dalk net ’n trek van ’n lip of knip van ’n oog om die onbetaamlikheid van so ’n slaapreëling te kenne te gee.
Maar daar is niks, haar ma sê net: “Is die ou bedjie nie te klein nie, sal Lou nie sleg slaap nie?”
“Dan kan hy langsaan op die vloer slaap,” sê sy.
“Ella!”
“Wat gaan Mams met die huis doen? Dis bietjie groot, so alleen.”
“Nee wat, dis nie te groot nie, wat as daar eendag kleinkinders is?”
Nou is dit sý wat wil sê: Mams! Maar sy swyg, dis nie nou tyd vir sulke onderwerpe nie. Die eintlike rede hoekom haar ma aan die huis klou, is oor haar pa so deel daarvan was. Maar sy los eers die huiskwessie. Haar ma het tyd nodig en die huis is deel van die helingsproses. Oor ses maande sal sy wel anders voel en besef dat ’n kleiner plek goedkoper is en haar beter pas.
“Jy moet my kind mooi oppas,” sê haar ma vir Lou. “Sy’s nou al wat ek het.”
“Moenie jou oor haar bekommer nie, Doreen.” Lou grinnik. “Ek laat haar nie onder my oë uit nie.”
En sy merk haar ma se oë op hom, asof sy hom takseer, besluit of hy te vertrou is met haar dogter. Ongetwyfeld oorweeg sy ook die grys in sy hare. Aan die begin van die verhouding het sy ’n slag haar bedenkinge reguit en hardop geopper: “’n Man wat soveel ouer is as jy, my kind, en boonop geskei, is dit die regte ding? Hoekom nie liewer iemand van jou eie portuur nie?”
“Hy’s ’n goeie man, Mams, en ek’s lief vir hom.”
Maar net nou die dag, in die Kerstyd toe sy hier was en haar pa die laaste keer lewend gesien het, het sy en haar ma wéér ’n terloopse geselsie oor Lou gehad. En Ella vermoed dis teen die agtergrond van dáárdie geselsie dat haar ma hom nou vermaan om haar enigste kind goed op te pas.
Sy moes dit nooit aan haar ma genoem het nie. Maar dit was in ’n oomblik van emosionele swakte en groot werksdruk in ’n moordondersoek. Dis mos hoe sulke goed gebeur. Wanneer jy dit die minste verwag, of die minste in staat is om dit te hanteer, sak alles op jou toe. Of steek nare goed kop uit. Heeltemal onskuldige goed, het dit later geblyk. Maar hoe moes sy weet daardie sexy rooikop is sy gewese vrou, hoe moes sy weet dat daardie eksvrou se teenwoordigheid by sy huis bloot was om raad te kom vra oor haar nuwe huwelik wat by die some begin lostrek het? Hoe moes sy weet dat die eks tereg geredeneer het dat haar eerste man haar beter ken as ’n vreemde huweliksberader?
Dit was te midde van al daardie onsekerhede en agterdog en wantroue en … ja, sê dit maar reguit, jaloesie, dat sy vir ’n week oor die Kerstyd by haar ouers kom rus het. En haar en Lou se effense “misverstand” genoem het.
Waarop haar ma reguit wou weet: Is dit oor sy gewese vrou?
Sy