Koms van die motman. Chris Karsten

Koms van die motman - Chris Karsten


Скачать книгу
Nie bý hom nie, in sy huis. Die misverstandjie waarvoor haar ma die raad oor Lapland gegee het. Die Karibiese See het warmer en vroliker geklink as Lapland, maar sy het Lou steeds nie vertel van haar aansoek om op ’n Karibiese passasierskip te gaan werk nie, wag nog vir die geskikte oomblik.

      Op haar lessenaar wag ook twee rekenings en ’n koevert met die hand geadresseer aan bloot: Ella Neser, SAPS, High Street, Brixton. Melville se posstempel.

      Sy kyk op. Sy kan die koffietafel skuins uit haar afskorting sien en op ’n liasseerkabinet by die venster staan die vet pot met die drie onaansienlike doringrige stingels. Hoekom sy dit nie al weggesmyt het nie, weet sy self nie.

      Sy grawe in haar lessenaar se onderste laai vir haar private pos, hoofsaaklik rekenings wat betaal moet word – water en ligte, erfbelasting, MultiChoice, Vodacom, en die kaartjie wat saam met die potplant gekom het, wat sy óók nie weggesmyt kry nie, asof sy haarself met die plant en die kaartjie wil teister.

      Hoop ons sien mekaar weldra

      Kan nie wag nie!

      Van jou grootste bewonderaar

      Arthur Wilky

      Die potplant met die kaartjie is in Januarie hier by haar lessenaar kom aflewer, net dae nadat kolonel Sauls haar ingelig het dat Wilky uit die tronk is, op parool vrygelaat nadat hy tien jaar van sy vonnisse uitgedien het, glo ’n modelgevangene.

      Sy vergelyk die handskrif op die kaartjie met dié op die koevert met Melville se posstempel. Ongetwyfeld dieselfde. Sy huiwer, skeur dit dan oop en trek die simpatiekaartjie uit, bokant persblou irisse gedruk: Sorry for your loss! en onder weer die netjiese handskrif:

      Dink aan jou

      Arthur

      Sy smyt dit ook in die onderste laai, stamp dit toe en voel hoe die are in haar voorkop dreig om te bars. Sy het ’n tyd van besinning en afskeid nodig, sy wil nie deur Arthur Wilky verpes word nie. Maar sy kan nie help om oor hom te wonder nie. Sy sien steeds daardie gesig wat destyds in die hof na haar draai nadat hy op al vier aanklagte skuldig bevind is. Daardie vreemde trek op sy gesig wat sy nie kon plaas nie. Sy het intussen besluit dat dit arrogansie was. Wat het sy gedink – dat hy berou gaan toon, skuldig gaan lyk, sê hy’s jammer? Maar nee, dis nie wat gebeur het nie, hy het na haar omgekyk, asof met ’n gryns.

      Vier of vyf maande later is hy gevonnis, maar sy was nie weer hof toe nie. Sy was by ’n lesing op universiteit. Sy kon die klas gejippo het, maar sy wou hom nie weer sien nie. Sy het hom uit haar gedagtes verban, van hom vergeet, hy was, wat haar betref, dood. Vir tien jaar.

      Tot nou in Januarie.

      Het tien jaar in die tronk hom baie ouer gemaak? Sy weet nie eens hoe oud hy was met sy vonnis nie. Hy het middeljarig gelyk, miskien haar pa se ouderdom. Sy kan onthou hy het vir haar soos ou Snyders van fisika gelyk, met sy seningrige lyf en yl hare en ronde brilletjie.

      Sy sit agteroor en sluit haar oë. Sy wil nie met sersant Tjale se ondersoek inmeng nie. Maar niemand kan haar keer as sy besluit om ’n slag in daardie ou dossier te blaai nie.

      “Ja,” sê Silas Sauls en bestreel sy moestassie, “nes ek gedink het, hier begin jy nou.”

      “Ek begin met niks, kolonel, ek vra net jou gekrabbel op ’n rekwisisie.” Vir daardie ou dossier uit die argief. Waar dit eeue al afgehandel lê. Vergete.

      “Los dit liewer daar onder die stof.”

      “Gaan Polokwane dit nie kom soek nie?”

      “Ek is seker hulle sal uiteindelik daarvoor kom vra. Dis tog logies dat Wilky verdink sal word? Dis mos wat in jou kop ook broei, nè?”

      “Ek wil wéét wat destyds presies gebeur het, kolonel. Veral nou. En jy weier om daaroor te praat. Hoe anders sal ek weet as uit die rekord?”

      Sy hou hom dop. Metdat een hand die bril op sy papierchaos neersmyt om met die kneukels ’n oog te knie, bekruip die ander hand die Nicoretteboksie en prop ’n wit kougomblokkie in ’n kies. Dan staar hy ’n oomblik oor sy lessenaar na haar, kake kouend, tel die gehoorstuk van die landlyn op en pons ’n nommer.

      “Hallo, Doll –” Hy luister en sê: “Niks is fout nie, ek bel net om –” ’n Wenkbrou krul soos ’n onrustige ruspe. “Ja, ja, goed, ek sal dit kry. Luister, Doll, hoekom ek bel … Ella kom vanaand vir ete, ek het gedink –” Hy luister en sê: “Bobotie? Ja, dis wat ek ook gedink het. Dis al wanneer ek bobotie kry, as sy –” Hy vra vir Ella: “Mara wil weet of Lou saamkom.”

      “Kolonel, ek –”

      “Wil jy hoor oor jou pa, of nie?”

      “Ja, ek wil.”

      “Hy kom saam, Doll, maak ’n gróót bak.” Hy tel sy bril op en druk dit oor sy neus terug. “Mis jou ook,” sê hy, plak die foon neer en draai na sy rekenaar. Die gesprek is verby, ook met Ella.

      Die aand oor die bobotie vat Silas haar en Lou en Mara elf jaar terug na ’n spesifieke dag: Woensdag 11 Januarie 2006.

      ***

      Dis die eerste dag van die nuwe skooljaar. Ella soen haar ma en stap solank uit kar toe, in haar maag ’n ligte fladdering. Wie sal nié opgewonde wees oor jou eerste dag in matriek nie? Opgewonde, maar tog ook huiwerend. So op die grens tussen kind en grootmens.

      Dis lekker as haar pa haar by die skool kan gaan aflaai op pad kantoor toe, wanneer dit sy week is vir normale werksure en sy nie hoef bus te ry nie; sy geniet hulle kargeselsies. En saans kom hy tuis soos enige ander normale pa, trek sy werksklere uit, sny die gras en vroetel in sy werkskamer. Sý werk bring hy nooit huis toe nie, maar oor aandete wil hy weet wat hulle die hele dag gedoen het. Hy vra eers haar ma uit, dan vir haar. ’n Groot prater is hy nie, wel ’n groot uitvraer en groot luisteraar. Ja, dit doen hy goed.

      Vanoggend is hy in sy gewone goeie bui, luister geduldig na haar kletsery, en skud sy kop toe hy by die skool stilhou. “Ek verstaan dit nie.”

      “Wat verstaan Paps nie?”

      “Só ’n pragtige meisiekind – waar kom ek aan haar? En skielik so groot.”

      “Ag, Paps …” Sy lag, pik hom op die wang en klim uit.

      “Soet wees, sien jou vanaand,” sê hy voor sy haar deur toeklap. Sy’s die enigste kind in die huis, haar pa se kind, sy haelgeweer lankal gelaai en oorgehaal vir die beskerming van haar eer.

      In die kwetterende samedromming by die hek gaan sy staan, draai half om en sien hoe hy haar steeds daar uit die kar sit en agterna kyk. Sy wuif vir hom. Hy lig sy hand vir haar en die glimlag trek sy oë skrefies. Dan is die maats om haar, eis uitgelate haar aandag en sleur haar mee.

      ***

      Soet wees, sien jou vanaand. Haar pa se laaste woorde ooit aan haar, die oplig van sy hand en die glimlag van trots haar laaste beeld van hom as lewende wese, ingebrand op die retinas van haar oë.

      Oor die eettafel sê Silas: “Twee dinge het die noodlottige gebeure van daai Woensdagaand afgesit. Eers ’n rapport oor die kaping van ’n Merc S-klas in Westcliff, toe ’n kort oproep van ’n informant. Hy’t inligting gehad oor ’n sekere boewebaas wat dieselfde aand by ’n adres in Industria North sou wees. Nie sommer enige boef nie … die leier van ’n sindikaat, van ’n misdaadkartel.”

      “Kartel impliseer georganiseerde misdaad,” sê Ella. “En dit was tog die ou Skerpioene se jurisdiksie, nie moord-en-roof s’n nie.” Die Valke se voorganger, ’n spesiale eenheid gemik op landwye misdaad op georganiseerde vlak – dwelms, mensehandel, korrupsie, geldwassery.

      “Wag, ek kom daarby. Daai kartelbaas was ’n groot ding, in Gauteng se misdadige onderpens was hy ’n soort Scarlet Pimpernel. Dieselfde mitiese omvang. Ordog, al naam wat ons gehad het. Diabolies. Wreed. Slu. Noem maar op. Dís van die woorde wat op straat gebruik is om hom te beskryf. Ja, oorgenoeg epiese beskrywings van die vent vir nog ’n Paradise Lost, maar niks vir ’n facial composite nie – so obskuur dat niemand sy gelaatstrekke kon beskryf nie, word net gehoor,


Скачать книгу