.
kan in sy hande gelaat word.
Sy mik met haar afstandbeheerder na die kompleks se hek, lig die sonbril op en dep oor haar oë en neus en bolip, en kam die kuif met vingers van haar voorkop weg. Die belangrikste is nou om sterk te wees, en om vir ’n rukkie alleen te wees met haar ma sodat hulle bietjie op mekaar se skouers kan huil en oor haar pa kan gesels, nie oor sy dood nie, maar oor mooi herinneringe van hulle lewe en liefde as driemanskap.
Lou skakel die kar af en vat haar hand. “Is jy oukei?”
Sy knik, te bang om te praat, die dêm keel het nou heeltemal toegetrek.
Hy knip sy veiligheidsgordel los, leun na haar en soen haar teen die voorkop. “Moenie probeer inhou nie.” Sy voel sy asem in haar hare en skuif haar sonbril op om weer oor haar oë te vee. Sy druk haar kop teen sy sterk bors vas en ruik die reuk van sy hemp en sy warm vel en kan die snikke nie verhelp nie.
Hulle sit ’n ruk so in stilte met sy sterk arm om haar en haar gesig teen sy bors. Dan voel sy beter, sy snuit haar neus, skuif die sonbril oor haar oë af, en sê: “Dankie, ek’s nou oukei.” Sy vee oor die nattigheid aan sy hemp.
“Is dit tranerigheid of snotterigheid?” vra hy.
“Lou!” Sy tik hom met ’n vuis teen die bors en kry ’n gebrekkige glimlag gevorm, ten minste dis soos dit voel, die trekking van haar tranerige nat lippe wat hy nou vlugtig soen voor hulle uitklim.
***
Woensdagoggend dring haar ma aan om saam met Ella en Lou te gaan vir die amptelike uitkenning. “Ek wil hom sien,” sê sy verbete. “Vir oulaas.”
En hy lyk nes Ella hom Kerstyd laas gesien het, niks het verander nie. Dit lyk of hy steeds net slaap. Netso bleek, netso uitgeteer, selfs sy haartjies geborsel wat in elf jaar van ligvaal tot grys verkleur het. Al verskil is die pype is weg. Die wit laken is tot onder sy ken opgetrek om ook die gat in sy keel te verbloem. En geen ventilator wat sy bors laat dein nie.
Hulle staan stilswyend daar na hom en afkyk. Sy voel hoe haar ma haar hand soek, en sy voel die bewing in haar, soos ’n elektriese stroom wat van een hand na die ander herlei word.
As daar ’n troos is, is dit dat haar pa geen skokkende en sigbaar liggaamlike verandering ondergaan het in sy transformasie van lewende tot dooie nie. Hierdie slapende gesig is die beeld wat in al die jare ná die skietery in haar gemoed geëts is; die gesig het nooit verander nie, dis so konstant soos ’n doodsmasker. Van hom as die pratende, laggende pa wat sy as kind geken het, duik soms nog vae beelde op, maar daarvoor moet sy hard gaan soek in daardie skemer hoeke van haar geheue. Tog is dit juis hulle, die nagedagtenis van die amper vergete lewende pa en eggenoot, wat sy en haar ma nou in hierdie dae oproep en vertroetel – in gesteelde stil oomblikke te midde van ’n aanloop van simpatiseerders.
Oor middagete in Maggie se meenthuis lui haar ma se sel. Ná die oproep sê sy: “Dis die ondersoekbeampte, hy wil met my gesels en vra of ek polisiestasie toe kan kom.”
“Ek sal Ma vat,” sê Ella.
Hulle word na ’n leë kantoor gewys. En sit skaars toe hy inkom. Hy is kort en lyk boekerig met sy swartraambril en wakker ogies en stel homself in Engels voor as sersant Caiphus Tjale van Polokwane se Serious and Violent Crime Unit. Sy stel haarself voor as warrant Ella Neser van Brixton se Serious and Violent Crime Unit. En hy bekyk haar vir ’n oomblik asof hy probeer peil of sy hom vir die gek hou.
“Die slagoffer is my pa,” help sy. “Gee jy om as ek bysit? My ma is nie gewoond aan polisieonderhoude nie.”
Hy ontdooi. “Innige meegevoel. Dis eintlik net ’n geselsie, nie ’n onderhoud nie. Jy weet mos, net om die basiese feite te bevestig.” Hy draai na haar ma. “Mevrou, jy was nie Maandagnag tuis met die voorval nie, ek verstaan jy was in die hospitaal.”
“Vir ’n niersteen. Hulle het eers ESWL probeer, gedog hulle sal dit sommer met klankgolwe opbreek.”
“Toe sny hulle?” vra hy, skielik so meelewend dat Ella wonder of hy nie self ook met nierstene sit nie. “Percutaneous nephrolithotomy, is dit nie?”
‘Ja, het jy ook al –”
“Net ’n klein snytjie hier laag in die rug vir die nefroskoop, nè, skaars ’n sentimeter. Praat ons van dieselfde prosedure?”
“Ja, en hulle het dit Maandagmiddag onder algemene narkose gedoen.”
“En dis hoekom hulle jou oornag in die hospitaal gehou het,” sê hy en skryf tydsaam in sy groot notaboek – A4, nie die kleineres wat sy gebruik en sommer in haar skouersak kan inprop nie. Hy kyk op. “En hoe voel jy nou? Ek bedoel oor die prosedure?”
“Goed, glad nie seer nie, dankie.”
“En dis hoekom mevrou Strydom die nag in jou huis kom oorslaap het, om na jou man te kyk terwyl jy in die hospitaal is? Doen sy dit dikwels?”
“Die oorslapery?”
“Ja, dit ook, maar ek bedoel eintlik om by jou man te gaan waak terwyl jy uithuisig is.”
“O, dit was net die tweede of derde keer dat sy moes oorslaap, in al die jare wat ek al hier bly. En hoe lank is dit, Ella? Ses, sewe jaar?”
“En wie het jou in die hospitaal laat weet?”
“Dominee Visser. Hy en Maggie het hospitaal toe gekom … hy en mevrou Strydom. Sy’s ’n traumaverpleegster, dis hoekom ek haar so vertrou.”
“En hoe lank gaan dit al so aan? Ek bedoel hoe lank was die slagoffer … was u man in sy komateuse toestand?”
“In Januarie al elf jaar.”
“En hy was heeltemal hulpeloos, u moes hom met alles help? Elf jaar lank?”
“Ja, maar hy’s my man, ek gee nie om nie, ek doen dit uit liefde.”
“Maar dit kon nie maklik gewees het nie. Uitputtend, die elf jaar, en nie net vir die liggaam nie, veral vir die gees, om jou geliefde so hulpeloos te sien, soos ’n baba amper. En hy moet gereeld omgedraai word, die bedsere is mos die ergste.”
Wat weet hy van bedsere? “Dit was ’n liefdestaak, sersant,” tjip Ella nou die eerste keer in. “In die eerste paar jaar het ek my ma gehelp, ek weet presies wat dit behels. Ons het nie omgegee om dit te doen nie.”
Hy kyk terug na haar ma, en sy kan die implikasie sien: hy praat met haar ma, hy wil hê haar ma moet antwoord. En hy’s reg, dis hoe sy dit ook in háár ondersoeke doen, sy duld ook nie ’n intjippery deur derde partye nie.
“Maar hoekom dan hierheen?” vra hy.
“Ek wou wegkom uit die stad uit. Veral toe Maggie ’n verplasing Bela-Bela toe kry. Sy’s my beste vriendin en as iets gebeur, is dit makliker met haar en die hospitaal hier. En Ella was aan die gang met haar eie dinge … universiteit, polisiekollege, haar eie lewe het begin en dit was nie regverdig teenoor haar nie. Wanneer kan ek my huis terugkry?”
Hy skryf in sy groot boek en sê sonder opkyk: “Vanaand. Hulle het gesê hulle sal so sesuur klaar wees met die prosessering van die toneel. En, mevrou, sal jy dan so gou as moontlik kyk of jy enigiets vermis?”
“Dink jy dis ’n inbreker?” vra Ella.
“In hierdie vroeë stadium ondersoek ons alle moontlikhede. En ’n gunsie, asseblief, warrant, sal jy omgee om mevrou Strydom ook vir my te bring? En jy kan weer bysit, dit pla my nie – vier ore is altyd beter as twee.”
Vier ore?
***
Hy skryf Maggie se volle name en adres en werkplek sorgvuldig in sy boek en sit dan agteroor, skuif die bril op sy gladde neus terug en sê: “Mevrou Strydom, hoeveel keer moes jy al oorslaap om na die oorledene te kyk wanneer mevrou Neser uithuisig was?”
Ella sien hoe Maggie haar voorkop plooi.
“O, ek weet nie, nie baie nie, drie of vier keer.”
Hy skryf.