Koms van die motman. Chris Karsten

Koms van die motman - Chris Karsten


Скачать книгу
voeding. Op die bed die slapende figuur met die pype en buise.

      Hy maak seker dat die swaar gordyne dig toegetrek is. Die gloeilamp versprei ’n sagte lig, te flou om al die skaduwees uit al die hoeke te verdryf.

      Hy gaan staan by die voetenent, voete effe uitgesprei, hande agter sy rug gevou, en staar na die uitgeteerde man op die wit beddegoed. Sy vel is bleek en verrimpel, en los soos ’n kledingstuk van ’n paar nommers te groot.

      Deur die trageabuis in sy keel dein die maer bors met elke sagte sug van die ventilator. Die IV-drup se naald is onder die sleutelbeen in ’n aar ingedruk. Nog ’n drup in die vou van ’n arm.

      Regs van die bed is ’n bedkas met staanlamp en ’n glas water, pilhouers (seker hare, hy sal tog nie pille kan drink nie), boks Kleenex, Bybel. Op twee boeke lê ’n brilhuisie. Langsaan is ’n gemaklike stoel met ’n uitgesitte kussing. Handdoeke en ’n waslap is oor ’n handdoekstaander van chroom gedrapeer, van die soort wat in die winter verhit kan word. Asof hierdie pasiënt ’n warm handdoek op ’n koue nag sal agterkom en waardeer.

      Hy gaan sit op die stoel by die bedkas. Dis lekker sag en gemaklik. Hy leun agteroor, selfs ’n kussinkie vir die lae rug, reg vir ’n lang sit.

      Hy beskou die gesig langs hom, bleek rimpels soos die geskifte vel op warm melk, die ingevalle wange, die geslote ooglede dun en byna deurskynend, die hare kort geknip, lippe kleurloos. Die reuk van seep bereik sy neus.

      Sy oë kom tot rus op die merk in die vel bokant die wenkbrou van die regteroog. Hy sug sag, trek sy linkerhand uit die handskoen, leun oor en streel met ’n vinger oor die letsel van die ou skietwond.

      Hy sit terug en wikkel weer sy vingers en hand in die handskoen in. Hy lig die brilhuisie van die boeke weg en vat een op sy skoot. Sy lippe beweeg terwyl hy die titel lees. Hy sit dit terug, vat die tweede een, lees vlugtig ook dié titel en sit dit ook terug op sy plek, met die bril weer bo-op.

      Hy oorweeg weer die slapende gesig, korrigeer dan sy eie gedagtes: comatose, nie slapend nie. En leun met sy fris bolyf bed toe en fluister: “Thys Neser …” Hy wou die naam sê. Asof iets innerliks hom gepor het.

      Hy strek sy hand uit en laat rus sy palm op die pasiënt se maer hand, voel net bene soos die hand van ’n skelet. Hy fluister weer: “So, Thys Neser, jy sal nie weet nie, maar so baie het die afgelope tien jaar gebeur, so baie water in die see … of is dit water onder die brug? Maak nie saak nie, ten minste kan ek nog wonder oor ou gesegdes, jy nie.”

      Hy los die hand en tik-tik met ’n voorvinger teen die pasiënt se voorkop, op die letsel bokant die oog: “Of is jy nie weg nie, leef jy nou net binnetoe, hè, Thys Neser? Hoor jy my stem, verstaan jy wat ek sê? Ek hoop regtig so, ek wil nie my asem hier sit en mors nie.”

      Hy tik harder, sy vinger ’n hamer wat die woorde deur die vel en voorhoofsbeen in die brein moet inklink: “As jy my hoor, hier’s die rede vir my besoek vanaand: Ek kom die skuld invorder van jou uitstaande IOU.”

      Hy wag dat dit insink.

      Dan tel hy die Bybel op en begin blaai. “O, ek verstaan hoe die twee kampe voel, sekere mense wat dink jy’t die loon gekry wat jy verdien, met hierdie toestand waarin jy jouself bevind. Ander wat meen jy’s ’n onskuldige slagoffer. Ekself? Wel, jy kan dink aan wie se kant ék is. Dis mos hoekom ek hier is, is dit nie?”

      Hy laat sak die Bybel op sy skoot en sit sy palm op die oop bladsye. “Ek’s nog bietjie outyds, ek sien dinge nog deur ’n Ou-Testamentiese bril, jy weet.”

      Hy begin lees: “Jy mag so ’n persoon nie genade betoon nie: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet.”

      Hy sit die oop Bybel eenkant op die bed en staan met ’n sagte sug op: “Maar ek’s bevrees ek kan nie langer hier by jou sit en ginnegaap nie, dit word laat, dis ’n lang pad terug.” Hy stap geselsend om die bed: “Ek het net die afbetaling van die skuld kom haal en kom kyk hoe dit met jou gaan. Jy lyk nie meer heeltemal soos op die foto daar binne nie.”

      Aan die ander kant van die bed by die masjiene en staanders hurk hy en voel na die kragdraad in die skemering onder die bed. Hy kry die een wat hy soek. Hy gee dit ’n harde pluk uit die muurprop uit. Die ventilator skakel onmiddellik met ’n sagte piep oor na sy interne kragbron.

      Hy kom orent. “Ek hoop jy begryp daar’s g’n kwade gevoelens nie. Dis net ’n vereffening.”

      Hy bestudeer die aanwysings op die wyserplaat van die ventilator, kyk na die flikkerings van liggies en golwings op die skerm, na die nommers vir drukking en persentasies van toevoer. En merk die noodbattery, ’n Duracell 600 HD Power Pack.

      Een ná die ander draai hy al die skakelaars af, en kyk hoe die skerm swart word en die masjien stil. “So, ja,” sê hy.

      Hy draai terug na die pasiënt en leun oor hom. Hy trek die lugbuis uit die tragea en die kanule uit die bors en die drup uit die arm en hoor die sagte geruis uit die gat in die keel. Die deining van die bors bedaar, maar onegalig, hortend selfs.

      Hy lig die pasiënt se bolyf op en verskuif die kussings hoër agter teen sy rug op, help hom in ’n byna sittende posisie, asof die komateuse man daar vir vertroosting gesit en lees het voor die slaap hom betrek en sy nek slap geword en sy ooglede toegeval het.

      Hy stap terug na die stoelkant, haal ’n handdoek en waslap van die verchroomde staander af, vou die handdoek dubbel en druk dit oor die pasiënt se mond en neus en bedek die trageagat met die waslap.

      Hy staan vir vyf minute so geboë oor die pasiënt, die ligte stuiptrekkings skaars voelbaar, eintlik net vibrasies diep in die murg van die pasiënt se beendere, of van die swak smagtende longe en hart wat hulle lang, futiele stryd uiteindelik finaal verloor.

      Hy hang die waslap en handdoek op hulle plek terug, trek albei handskoene uit, lê dit op die bed neer en diep ’n juweleboksie uit ’n sak. Hy lig die deksel op. Op ’n bed van watte lê ’n mot, dormant weens die koue van ’n plastieksakkie met smeltende ysblokkies onder die watte.

      Met sy voorvinger en duim lig hy die mot delikaat uit die boksie en lê dit op die wenkbrou onder die letsel, tussen die hare sodat dit nie afgly wanneer dit begin ontwaak nie.

      Hy staan terug, beskou die mot, vryf sy hande, trek weer sy handskoene aan, druk die boksie in sy sak terug.

      Hy stap met sy sak en pet laag oor sy oë in die soel Bosveldaand uit en die briesie, skaars meer as ’n welriekende asem, bring ’n volheid van blomgeure na sy neus uit die tuine en beddings om die donker oumenshuise. Hy teug diep en onderskei die boeket van frangipani, klematis, dallelie, en van laventel, kanferfoelie en katjiepiering.

      22:06

      Hy los die gesteelde Jetta met sleutel en vals nommerplate langs die R101 oorkant die Bela-Bela Mall, en stap oor die pad na die winkelsentrum se parkeerterrein, kouend aan die stuk karringmelkbeskuit.

      Hy klim in ’n nuwerige 4x4, ry met die R516 uit die dorp en draai regs op die N1 in die rigting van Pretoria en Johannesburg.

      22:16

      In die donker en warm kamer in Bela-Bela begin die mot lui uit sy slaap ontwaak. Hy sprei sy vlerke ’n slag trillend, en sy lang slurpie soek in die lug rond.

      Hy kry die reuk en sukkel uit die hare van die wenkbrou en kruip af tot op die ingesonke oogkas en kry weer knus sy lê, nou op die dun ooglid oor die nog warm bal van die oog.

      Sy proboskis begin weer rondtas en met delikate wikkelbewegings van sy lyf woel hy die slurpie tussen die wimpers onder die ooglid in.

      Hy begin gulsig slurp aan die trane op die oogbal.

      INTERLUDE: Die Nineviete herrys

      Die Nineviete buit goud en hulle buit silwer en hulle hou nie op roof nie. In hulle lêplek is geen einde aan al die mooi goed nie en bul-mans van klip bewaak die poorte van hulle stad van skatte en bedrog, die strate vol skedels, die keie besmeer van die bloed van dié wat saamsweer om


Скачать книгу