Koms van die motman. Chris Karsten
dit uit. Of is dit uit? Want sy voel nie die kar se vloer onder haar voet nie. Sy strek teen die veiligheidsgordel om af te kyk in die skemer voetspasie in. Ja, tog, die voet is op die vloer. Dis ’n vreemde sensasie om so na jou voet te kyk en te wonder of dit wel jou eie voet is. Mens is tog veronderstel om jou eie voet te voel, nes enige deel van die lyf.
“Hoe voel jou kop, beter?”
“My kop is oukei, dis oor my voet dat ek bekommerd is.” Sy probeer haar tone wikkel. Steeds geen gevoel nie. “Ek kan nie my tone roer nie, Lou.”
“En nou sit jy op die ander een. As dit so aangaan, sal ek jou moet uitdra.”
Sy leun na hom oor en krap met haar vingers deur sy hare. Ligte hare soos hawermout, gespikkel met grys. Dit tref haar opnuut, hierdie liefde vir ’n ouer man wat begin grys word. Sy betrag die plooitjies in die hoek van die oog agter die sonbril, en op sy wang, langs sy oor en mondhoek en aan sy ken en nek. En sy voel gerus, hy is onwankelbaar, by hom is sy veilig. En hy is besorg oor haar hoofpyn en haar dooie voet en probeer ook haar geestelike las deel, maar sy sny hom af, en dis nie reg nie. Sy laat rus haar hand op sy bobeen. “Hoe het jý gevoel?”
Hy loer vlugtig na haar, dan terug pad toe. “Oor wat?”
“Hier begin die spelde nou in my voet. Oor jou ma, toe sy dood is?”
“Ek was tien jaar oud, ek kan haar skaars onthou.”
“Tien is ’n ontvanklike ouderdom, dit moes jou hard getref het.”
“Ek dink nie dit het nie, anders sou ek dit onthou het. Ons was nie juis ’n hegte gesin nie.”
“Nogtans, dis jou ma, dis die persoon wat jou in die wêreld gebring het, jy’t jou lewe aan haar te danke, daar’s altyd ’n spesiale en intieme band.”
“Tussen haar en my broer, ja, nie tussen ons nie. Kleintyd het ek dikwels gedroom ek is aangeneem, dat my ma my iewers langs ’n pad sien loop en vir my pa gesê het: ‘Shame, kyk daai arme kind, hou stil, kom ons vat hom huis toe.’ Soos ’n optelhondjie. En toe die hondjie groter word, is hy nie meer so cute nie. Dis hoe hulle was. Ontferm hulle oor ander goed, omhels eerder bome as hulle eie kinders, vergeet gou al hulle beloftes. Aan ’n kind maak jy nie beloftes wat jy nie kan nakom nie. Met hulle kort geheues en nog korter aandagspan sou hulle mooi ingepas het in hierdie Twitter-tyd.”
“Waar was dit?”
“Jy bedoel haar dood? By De Vlugt in die Keurboomsriviervallei. Sy’s dood in ’n ou Volkswagen Kombi, met die hand geverf in psigedeliese patrone en kleure.”
“Was julle by, jy en jou broer?”
“Nee, net sy en my pa en hulle nomadiese hippiekommune. Ons was op skool, ons ouma het vir ons gesorg, dis sy wat die nuus oorgedra het: ‘Kom sit hier, julle twee … daar’s slegte nuus, julle ma is dood.’”
“Net so?”
“Net so. Eers later gehoor sy’t ge-OD. Oordosis van iets. Dit kon ’n ongeluk gewees het, of nie, wie sal weet?”
“Siestog, Lou … En toe raak jou pa ook weg. Jy en jou arme broer.”
“Hy’t nie weggeraak nie, hy’t weggeloop. Daar’s ’n moerse verskil. Maar dis genoeg van my distopiese familie.”
Die “siestog” bedoel sy opreg, twee sulke onskuldige boeties skielik sonder ouers; onskuldige bloedjies, wil sy amper eers dink, maar dit klink darem té neerbuigend. En die ouers wil sy ook nie veroordeel nie. Van hippies het sy natuurlik gelees en gehoor, daardie blommekinders in die Age of Aquarius, die rondtrekkende vrydenkers, of vrydenkende rondtrekkers, met hulle acid trips en losse seks in die langdurige somer van liefde. Dat Lou die produk is van twee sulkes, is tog nie sy skuld nie.
Die ouerhuis waarin sý grootgeword het, is meer square, en gebou op ’n fondasie, nie ’n chassis met wiele nie. Al voel dit of daardie fondasie ’n groot kraak opgedoen het.
Sy gee sy been ’n drukkie en streel oor die hare op sy voorarm wat ook al wil grys word, voor sy weer haar hande op haar skoot vou. “Ek’s jammer, Lou.”
“Waarvoor?”
“Dat ek jou sadness van destyds insleep om myne te probeer verlig. Daar’s die afdraai.”
Hy sit sy flikkerlig aan. “Wat’s daai B&B se adres? Jy sal pad moet beduie.”
“Ek wil eers my ma sien, ons kan later gaan inboek.”
Solank Forensies by die meenthuis besig is, bly haar ma by Maggie, darem in dieselfde kompleks. Ella haal die ander voet onder haar uit (dié een nog nie dood nie), vee met die verfrommelde snesie oor haar neus en soek in haar sak vir ’n vars een. Sy gaan meer as een nodig hê. Haar ma is ’n sterk vrou, en sy ook, sy het sterk gene geërf. Maar die trane gaan vloei, dit voel sy aan haar keel wat klaar begin toetrek, asof dik aan’t swelle.
Nou is dit net hulle twee, ná nege-en-twintig jaar is hulle driemanskap gesplits. Vir haar ma is dit baie erger. Hoe lank was hulle getroud – twee-en-dertig jaar, drie-en-dertig? Dit kan nie maklik wees om ’n maat, ’n geliefde, ná só baie intieme jare te verloor nie. Sy en Bam was maar ’n paar jaar bymekaar – aan en af – toe sy hóm verloor het. En dit het gevoel of haar wêreld vergaan. Miskien omdat dit haar eerste groot liefde was, en jong liefdes is áltyd groots en intens en broos, nog nie versterk en verskans deur ’n soutsak of twee nie. Boonop is die slag van Bam se dood verswaar deur haar eie skuldgevoelens, en dis ’n kombinasie wat jou gees kan verniel as jy nie hulp kry nie.
Nou is sy gelukkiger – ás mens van geluk kan praat in só ’n situasie. Haar pa se dood is ook skielik, ja. Maar hy was eintlik al lank aan’t sterwe en anders as ander rouendes kon sy háár verdriet oor langer as ’n dekade versprei pleks van om alles plotseling en oorstelpend in een moment te ervaar. Dit maak die skok nie ligter nie, net bietjie draagliker.
Sy het haar pa oor die Kerstyd laas gesien, net agt weke terug, maar dit voel soos ’n eeu. Die Kerskuiertjie van net ’n naweek het darem tot agt dae gerek. Dis ’n skrale troos, want agterna is daar altyd die selfverwyt van ek moes meer gaan kuier het. Maar wie sou só iets verwag? Wie sal ’n komateuse man met geen hoop op herstel nie wil vermoor? Wie’s so siek?
Al die selfverwyt, al die verskonings wat as troos moet dien: min tyd vir haarself, sit met ’n berg dossiere. Sy het darem weer ’n naweekkuiertjie vir later dié maand beplan, of vroeg in Maart, op ’n af naweek wanneer sy ook nie op bystand is nie. Haar ma verstaan die drukte van haar soort werk, sy was tog self met ’n speurder getroud. En haar ma verstaan dat sy ook ’n persoonlike lewe het, dat baie ander dinge geregtig is om aanspraak te maak op haar bietjie vrye tyd. Want daar het weer ’n man in haar lewe verskyn, weliswaar sonder ’n geskal van trompette en gekletter van eierstokke. Amper asof terloops, soos ’n dwaalgees – sy sien hom, maar sy sien hom ook nie eintlik nie. Tot op ’n dag toe sy haar oë uitvee, en daar staan hy in volle fokus, en haar hart is skielik jellie.
Sy beduie die pad met handgebare en kriptiese sinne. Af in Flamboyant. Draai daar. Verby daardie huis. By die stopstraat links. Soetdoring. Ry aan. Nog ’n ent. Katdoring. Dis wat ons soek, jy onthou mos, jy was mos al ’n slag hier. Die groep meenthuise met die rooi teëldakke daar agter die heining en veiligheidshek.
Hoekom sal iemand só iets doen?
Om haar pa se lewegewende masjiene af te skakel was tog húlle besluit, sy en haar ma s’n, niemand anders s’n nie. En hoe lank al wroeg hulle nie oor so ’n finale besluit nie? Hoe verskriklik is dit nie om willens te besluit dat dit tyd is vir iemand om te sterf nie, iemand so hulpeloos, skaars net ’n dop van ’n mens, maar tog steeds ’n lewende wese. En dan, meteens uit die niet, verskyn iemand sonder gewete en greintjie menslikheid en ontneem haar en haar ma van daardie byna heilige reg om langs haar pa te sit en sy hande vas te hou wanneer hulle uiteindelik die besluit geneem het om hom te laat gaan.
Buitendien, hoe de hel het daardie barbaar in die nag by hierdie elektroniese hek ingekom?
Maar wag, al die vrae oor die wie, wat, wanneer en hoekom, dis