Vlug na Santorini. Malene Breytenbach
naweek by Connie. Hulle gaan fliek, eet uit en kuier by vriende. Teen Sondagmiddag wil Erika egter huis toe gaan. In haar agterkop broei die onrus.
“Kom kuier vanaand by my, dan drink ons sundowners op die stoep,” sê sy vir Connie. “Bring net iets warms saam, want die windjie raak geniepsig saans.”
Hulle parkeer weer agtermekaar in Victoriastraat en stap met die trappies af, al met die kronkelpaadjie langs tot by Erika se huis. Hulle is nog ’n entjie van die deur af toe sy die groot, swart letters op die deur sien. Sy snak na asem.
“Wat staan daar op die deur?”
Connie draf vooruit en steek vas met een hand oor haar mond. Erika draf ook nader. Sy raak yskoud.
Bitch, lees sy.
“Daardie man is van sy kop af!” raas Connie. “Watter ordentlike mens sal so iets doen?”
“Ek sal dit moet afwas of afkrap.”
Erika sluit die deur oop, sit haar naweektassie neer en gaan kombuis toe om ’n skuurder en sterk skoonmaakmiddel te kry. Sy skrop die deur asof haar lewe daarvan afhang, terwyl Connie hande op die heupe toekyk.
“Ek hoop hy kom nie weer hierheen nie. Jy kan hom van kwaadwillige saakbeskadiging aankla.”
Erika sug en gaan bêre die skoonmaakmiddels. Sy was haar hande driftig. Sy is regtig bang Cas kom terug en doen nog iets skadeliks, maar sy haal haar skouers op.
“Kom ons gaan drink daai wyn op die stoep, dan voel ons beter.”
Sy haal ’n bottel sauvignon blanc uit die yskas, kry twee langsteelglase en ’n bak neute, en hulle gaan sit by die tafel op die stoep.
“Die sonsondergang is so mooi hier,” sê sy. “Mamma het dit altyd geniet, maar sy het gesê daar is geen sonsondergang mooier as dié op Santorini nie. Ek dink sy het baie terugverlang. Ons het darem dikwels daar gaan kuier, maar na haar dood het ons net weer een keer gegaan om vir Pappa se suster te gaan kuier.”
“Dis tog snaaks dat jou pa ’n Griekse vrou hierheen gebring het, terwyl sy suster met ’n Griekse man getrou het en daar gaan woon het.”
“Ja, dis waar. Ongelukkig is tannie Helena, of Eléni, soos die Grieke haar noem, se man vroeg dood. Sy wou nie terugkom nie en het besluit om hulle gastehuis in Oia te behou. Dit is op die sogenaamde wenkbrou van die caldera, die baai waar die skepe invaar. Jy moet net sien hoe pragtig dit is, met ’n wonderlike uitsig.”
“Ek en jy moet daar by jou tannie Helena gaan kuier,” sê Connie. “Ek smag lankal daarna om Santorini te sien. Wie weet, dalk loop ek en jy ook vir ons twee stunning Grieke met swart oë, gitswart hare en ’n ewige tan daar raak.”
Erika vat ’n sluk van haar wyn en glimlag. “Ek is half-Grieks, al lyk dit nie so nie. Ek kan nogal die taal praat. Nie meer te vlot nie, maar Mamma het my geleer. Sy het aangedring dat ek haar taal moes kon praat. Na haar dood het ek dit verwaarloos en net gebruik toe ons vir die familie op Santorini gaan kuier het. Mens raak verroes.”
Connie sit ’n kasjoeneut in haar mond en kou krakerig. “Vertel my weer van daai neef en niggie van jou.”
“Sophia en Yannis. Hulle was in Athene op universiteit en het albei argeologie geswot. Yannis is al ’n paar jaar lank besig met opgrawings by ’n nuwe terrein naby Akrotiri, waar hulle ’n hele Minoïese stad uit antieke tye opgegrawe het. Die vulkaan het mos uitgebars en die hele eiland verwoes. Jacques Cousteau het die ou stad Atlantis binne-in die baai kom soek. Baie mense dink dat Santorini eintlik die mitologiese Atlantis is. Daardie vulkaan is glo nie regtig dood nie. Diep onder in die caldera borrel die magma onder die kors wat die laaste uitbarsting neergelê het.”
Connie se oë is groot. “Jis, sê nou net die hele besigheid ontplof weer een van die dae?”
Erika haal haar skouers op. “Die mense daar lewe blykbaar met dié gedagte saam. My tannie het laas vir ons gesê: ‘Kom ons om, so kom ons om.’ ”
“Hectic! Maar Santorini is wonderskoon. Daar is seker ’n prys om te betaal om op so ’n plek te kan bly. Ek het al soveel foto’s daarvan gesien en dit gegoogle. Wit geboue, kronkelstraatjies met keistene en baie trappe, kerkies met blou koepels, windmeulens. Die dorpies lyk van ver af soos versiersuiker op ’n koek.”
“Ek het altyd gedink dis een van die mooiste plekke wat ek nog ooit gesien het. Miskien moet ons binnekort gaan kuier. Ek sal graag weer my familie wil sien.”
Connie se oë blink. “Ja, sommer gou. My paspoort is nog vir twee jaar geldig.”
“Ons gaan bly in my tannie se gastehuis bokant die caldera. Oia is vir my die mooiste deel van die eiland, en dis naby aan die hoofdorp, Fira. Blykbaar is dit nie so vreeslik vol toeriste soos Fira nie. Teen dié tyd loop al die dorpies aanmekaar. Dis ’n baie gewilde vakansiebestemming.”
“Hmm,” sê Connie dromerig. “Ek kan nie wag nie!”
2
Erika ry in Victoriastraat af. Voordat sy by die draai kom waar die parkeerterrein is, sien sy ’n ou geel Toyota langs die straat geparkeer staan.
Liewe hemel, is Cas al weer terug?
Sy ry verby en kyk of daar iemand in die motor is, maar sien nie ’n kop nie. Sy sien ’n oop plek tussen twee groot viertrekke en glip daar in. Dan haal sy haar selfoon uit en bel vir Connie.
“Cas is hier iewers. Ek sien sy motor in die straat. Dalk wag hy vir my by die huis.”
“Ag jirretog, ek bel my broer en ons kom oor. Moenie alleen ingaan nie.”
“Goed, ek wag vir julle. Ek staan in die klein parkeerterrein aan die huis se kant, tussen twee groot viertrekke.”
Sy lui af met wange wat brand van verontwaardiging. Hoe durf Cas haar bekruip? Dis nie slegs ’n verleentheid nie, dit maak haar bang. Sê nou net hy rand haar aan? Hy is dikwels onder die invloed van iets. Sy kan nie glo sy het hom so lank verduur nie.
Stokstyf van spanning wag sy vir Connie en Barry. Connie woon in Oranjezicht en haar broer in Higgovale; een van hulle sal seker die ander gaan oplaai, en dan moet hulle deur die swaar verkeer Clifton toe sukkel. Dit gaan ’n rukkie duur. Erika kou nie normaalweg haar naels nie, maar nou voel dit asof sy dit kan doen. Sy sak laag af in haar sitplek en bespied die omgewing.
Omtrent twintig minute later herken sy Connie se motor wat parkering soek. Daar is twee koppe. Vinnig klim sy uit haar motor en wuif vir hulle. Connie draai in by die parkeerterrein aan die berg se kant. Erika wag gespanne.
“Dankie dat julle gekom het,” roep sy toe hulle die straat oorsteek. “Ek is vreeslik jammer dat ek julle moes pla.”
Sy kyk skuldig na Barry, maar hy gee haar ’n drukkie. Hy is ’n groot beer van ’n man. Connie spot altyd dat hulle Marees nie in klein formaat uitkom nie.
“Het julle die geel motor daar anderkant gesien?” vra Erika.
“Ja, met niemand in nie, so die creep sluip hier iewers rond,” sê Connie. “Hy wil seker vir jou ’n lokval stel. Uit die bosse spring of iets.”
Barry loop voor met die paadjie langs en by die trappe af, met Erika en Connie kort op sy hakke. Erika se hart dawer in haar bors, maar sy wil nie wys hoe senuagtig sy is nie.
Toe hulle om die laaste draai gaan, sien Erika vir Cas voor haar deur sit. Plat op die grond met sy rug teen die deur. Bo sy kop brand die stoep se buitelig, wat outomaties aangaan as iemand naby die deur kom.
“Wat doen jy hier?” vra Barry bruusk.
Cas spring op. Erika is bly om te sien dat hy hom asvaal skrik.
“Ek het my laaste goed kom haal,” sê hy. “Erika het nie alles uitgegooi nie.”
Sy gaan staan by die onderste stoeptrappie. “Jy jok. Ek het alles wat moontlik aan jou kon behoort het, in die sakke en tas gepak. Connie is my getuie. Sy het my gehelp.”
Hy