Vlug na Santorini. Malene Breytenbach
is ’n vrou wat soos haar ma lyk. Dit is die skoonheid met die goue hare en oë so blou soos die Egeïese See, wat haar sak laat val het en amper haar paspoort verloor het. Hy draai om en kyk deur die agtervenster hoe sy al kleiner word.
Is sy ’n toeris? Miskien die kind van ’n inwoner van Santorini wat van oorsee af terugkeer?
Hy moet haar weer sien. Hy sal haar laat soek, al is sy soos ’n naald in ’n hooimied. Hy het lanklaas so ’n onmiddellike reaksie op ’n vrou gevoel. Eintlik nog nooit. Hy het haar maar net daar tussen die vliegtuie gesien, hulle het ’n paar skertsende woorde gewissel, en toe was sy weg.
Hy kan haar nie deur sy vingers laat glip nie, nie so ’n betowerende vrou nie. As sy so pragtig is as sy vlugvoos moet wees, hoe sal sy lyk in ’n aandrok en juwele? Of in ’n bikini op die dek van sy boot? Sy lyf begin sommer hittig reageer wanneer hy daaraan dink.
Dan sug hy. Wat sal sy pa sê as hy in ’n vreemde blondine belangstel? Hy is veronderstel om met Cristina Vassiliou te trou. Beeldskoon, uit ’n ander ryk familie met ’n skeepsredery wat met Atlantis kompeteer. Sy sal die twis uit die weg kan ruim en versoening bring. Hy is nie lief vir haar nie, al is sy so gesog, maar die Grieke reël nog soms huwelike en dit werk gewoonlik goed uit.
Sy pa sal tien teen een aanbeveel dat hy die blondine bed toe vat en haar so uit sy sisteem kry, en dan die regte ding doen en met Cristina trou.
Hy is meteens vasberade om nie nou al te trou nie. Sy familie sal maar net geduldig moet wees.
Die bestuurder trek in by Paul se private parkering by sy kantoor in Fira. Die saketransaksie in Athene het goed afgeloop en nou moet hy net sorg dat dit finaal beklink word. Hy draf met die trappe op na die groot deure met Atlantis (Pty) Ltd daarop en stoot dit oop. Groet sy personeel in die oopplankantoor. Sy private assistent wat in die kantoor voor syne sit, se gesig helder op toe hy instap.
“U is terug, meneer Michelakis. Hoe was die tyd in Athene?”
Hy glimlag vir haar. ’n Mens sou sweer hy was maande lank weg. Nana Antoniadis is ’n mooi vrou en uiters bekwaam. Hy vermoed sy is verlief op hom, maar dit het nog nie haar werk beïnvloed nie. Sy sal agteroorbuig om enigiets onder die son vir hom te doen. Hy sal haar lojaliteit egter nooit misbruik nie.
“Dit was vrugbaar, dankie, Nana.” Eintlik het hy ’n slag geslaan deur ’n klein redery se besigheid vir ’n appel en ’n ei te koop omdat die eienaar desperaat was om te verkoop. Sy pa is ingenome.
“Koffie en iets te ete, meneer Michelakis?” vra Nana.
“Koffie en ’n toebroodjie, dankie.”
Hy stap sy groot kantoor binne en loop oor die marmervloer na die enorme lessenaar met ’n rekenaar op, kyk vlugtig na die uitsig op Fira se wit geboue. Hy het baie om te doen, maar hy kan die blonde meisie wat soos ’n godin gelyk het, nie uit sy kop kry nie. Hy word sommer vies vir homself. Hy het nog nooit toegelaat dat vroumense hom steur nie. Hy is skoon van balans af. Wat gaan met hom aan?
Hy skakel sy rekenaar aan en begin ’n e-pos tik wat hy direk aan sy pa stuur. Hy weet sy pa sal dit lees en dadelik uitvee. Hoewel hulle Nana en sy pa se assistent in Athene ten volle vertrou, is daar dinge wat hy en sy pa kommunikeer wat ander oë nie hoef te sien nie, al is hulle hoe lojaal en betroubaar.
“Ons is nie skelm of oneerlik nie,” sê sy pa altyd. “Maar tussen my en jou is daar vertroulike sake waarvan ander mense niks moet weet nie.”
Daar is al op hulle gespioeneer en sy broer het geheime uitgelap wat transaksies laat skeefloop het. Nou is hulle dubbel versigtig om hulle sakebelange geheim te hou. Hulle het soveel sukses behaal dat jaloerse en afgunstige oë hulle heeltyd dophou.
Nana kom in met sy koffie en ’n klompie toebroodjies op ’n bord. Dit is eintlik te veel.
“Dankie. Is jy klaar met die Stefanos-verslag?”
Dit lyk asof sy skrik, maar haar oë word altyd groot as hy iets vra.
“Ek is nog besig daarmee, meneer. Ek behoort binne ’n uur klaar te wees.”
“Goed so.”
Hy eet die helfte van die toebroodjies en drink die koffie terwyl hy nikssiende by die venster uitstaar. Toe bel hy vir Manos. “Kom asseblief na my kantoor.”
Van al die baie werknemers van Atlantis, is Manos seker die een wat hy die meeste vertrou. Sy regterhand. Nie slegs ’n lyfwag nie, maar een wat vir hom allerhande vertroulike goed doen en nooit sal uitpraat nie. Hulle is eerder vriende as werkgewer en werknemer. Manos is ook sy enigste werknemer wat hom op sy voornaam noem.
Manos kom in, ’n grinnik op sy gesig. Hy lyk altyd soos ’n goedige gorilla, met daardie gespierde harige lyf en groot kop met woeste krulhare. “Kan ek vir jou iets doen, Paul?”
“Sit, my vriend. Ek het ’n opdrag. O, eet gerus daardie toebroodjies. Jy is mos altyd honger.”
Manos se groot lyf sak neer op ’n stoel oorkant Paul se lessenaar en sit dit vol. Hy steek sy groot hand met swart hare op die rugkant na die toebroodjies uit, neem een en hap die helfte weg. Kou en kyk ondersoekend met sy gitswart oë na Paul.
“Daardie meisie by die lughawe wie se paspoort jy opgetel het …”
Manos sluk vinnig. “Jy soek haar.”
“Ja. Sy moet hier iewers tuisgaan. Gebruik al jou kontakte en kyk of jy haar kan opspoor.”
Manos kyk sedig na hom. “Goed, ek sal dit sommer dadelik doen.”
“Het jy gesien watse soort paspoort dit was?”
“Dit was ’n Suid-Afrikaanse paspoort.”
Paul staar verbaas na hom. “Suid-Afrikaans? Sy kom van doer ver in Afrika?”
“Lyk my so. Pragtige meisie …”
“Ja,” sê Paul kortaf, maar toe glimlag hy vir Manos. “Vind net uit wie en waar sy is, dan kom vertel jy my. Dankie, my vriend.”
Manos knik, verslind nog ’n toebroodjie, vee sy mond met die agterkant van sy hand af en staan op. Grinnik weer, en loop uit.
Paul kyk hom agterna. Wel, hier is die bal nou aan die rol. As iemand kan uitvind wie en waar daardie godin is, is dit Manos. Hy kan die onmoontlike regkry.
5
Erika neem haar rugsakkie en gaan dwaal in die besige straatjies van Oia rond. Sy loop met die baie trappe op en af, verlustig haar in al die winkeltjies en stalletjies met poskaarte, skilderye van die eiland, krale en juwele, erdewerk en klere. Al geniet sy dit om na die kleurryke verskeidenheid van die soewenierwinkels te kyk, verbaas sy haar vir die hoë pryse. Sy koop vir haar ’n paar handgemaakte leersandale by ’n klein boetiek en probeer vergeet van haar onlangse aaklige ondervindings. Elke keer as sy aan Cas dink en hoe hy haar rondgepluk het, gaan sy aan die bewe. Nou stoot sy dit weg; bêre dit diep in haar agterkop en haal dit nie uit nie.
Môre gaan Spiro vir haar die boekwinkel wys. Daarna wil sy Fira gaan verken. Sy sal al met die klipstraatjie Nikalaou Namikaou daarheen stap. Dis ’n hele entjie – maklik tien kilometer. Sy sal in Fira ronddwaal en die winkels soek wat sy onthou. Daar was wonderlike juweliers. By een het haar pa vir haar ’n goue kruisie met ’n robyn aan ’n fyn goue kettinkie gekoop.
Terwyl sy loop, dwaal haar gedagtes onwillekeurig terug na die mooi man in die ligte linnepak. Waar sou hy nou wees? Wat doen hy? Naderhand sal sy seker van hom vergeet …
Sy kom by die Grieks-Ortodokse kerkie van Panagia met sy blou koepels. Onthou dat sy en haar pa hier was. “Panagia” beteken Maria. Hulle het gekom om kerse vir haar ma te brand. Sy kry ’n knop in haar keel en besluit om in te gaan, weer na die fresko’s, die goue kandelare en ikone te kyk, en aan haar ma en pa te dink. Dit is koel binne en daar is ander toeriste. Sy probeer om haar nie aan hulle te steur nie.
Erika kyk op haar horlosie. Sy het lank rondgedwaal en dit is seker tyd om terug te gaan na tannie Helena toe. Van hier af is daar die