Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
nie. Hy is vroeg. Ek het hom eers veel later verwag.”
Rafaella se hart begin sommer vinniger klop. Sy hou die aankoms van die sjiek motor dop, om die draaie en deur die bome, totdat dit voor die huis stilhou. Giulio klim uit, haal ’n dokterstassie uit en kom aangestap. Rafaella se dag helder sommer heeltemal op.
“Hallo, is daar vir hierdie moeë man ook iets te drinke?” roep hy glimlaggend.
“Hier is nog limoncello oor, maar eintlik is jy net betyds vir skemerdrankies,” roep Luigi terug.
Giulio lyk nie so moeg soos die vorige dag nie. Hy groet almal en soen sy ma. Luigi skink vir hom limoncello. Hy drink dit vinnig, dorstig, en sit die glas weer terug op die skinkbord.
“Lyk my jy het bietjie jou beroep beoefen,” terg hy vir Rafaella. “Die beseerde ou, Franco, is vreeslik beïndruk met die mooi dokter wat sy lewe gered het.”
Sy lag. “Ag, ek sou dit nou nie as lewensredding bestempel nie. Gelukkig was ek toevallig daar om die nuwe gebou te inspekteer.”
“Dra dit jou professionele goedkeuring weg?”
“Absoluut. Ons hoor dit word na jou pa genoem.”
“Ja. Ek is bly jy hou daarvan.”
“Dis ook maar goed ek was ook by toe daardie ou sy vinger amper afsaag,” sê Luigi. “Toe kon ek darem die medisynetas laat kom.”
Giulio kyk van hom na Rafaella en sê niks. Hy dink ek verwyl my tyd in Luigi se geselskap, dink Rafaella wanhopig, baie vies vir Luigi. As Giulio moet glo sy was heeldag by Luigi! Sy hou niks van die behoedsaamheid wat skielik op Giulio se gesig verskyn nie. So asof hy dink sy broer kry al weer maklik die meisie. Hoe gaan sy dié wanindruk nek omdraai sonder om te deursigtig te wees?
“Luigi het net betyds daar opgedaag om die ongeluk te sien,” spot sy. Dis al wat sy kan doen om te kenne te gee dat hy nie heeltyd by haar was nie.
“Verskoon my eers,” sê Giulio. “Ek sien julle later.” Hy verdwyn by die deur in.
Louisa bibber teatraal. “Kom ons gaan ook in. Sodra die son sak, word dit koud buite dié tyd van die jaar. Ek gaan verklee en sien julle om seweuur in die sitkamer vir drankies.”
Almal volg haar in en Rafaella gaan na haar kamer om te stort en skoon klere te kry. Sy het ver gestap en voel vuil. Terwyl sy onder die stort staan en voel hoe die warm water deur haar hare en oor haar lyf spoel, dink sy, soos gedurig, aan Giulio. Sy is só bang sy broer sit hom van haar af. Luigi! Hoe kon enigiemand hóm kies? Hy is sekerlik losbandig, ’n vrouejagter. Vroue wat op hom verlief raak, sal so nooit as te nimmer op hom kan peil trek nie. Hy sal van die een na die ander vlieg, soos ’n by van die een soet blom na die ander. Hy sal hulle afwissel soos die vroue saam met wie hy in operas sing. En Giulio sal nie ’n meisie wil hê wat sy broer ingepalm en dan weggegooi het nie. Sy wil nie ’n Vanessa wees nie. Nie dat sy haar enigsins gaan laat vang nie.
Weer doen Rafaella moeite met haar voorkoms en trek ’n donkerblou gebreide rok aan. Dis vleiend, sy weet. Sy borsel haar hare uit sodat dit in ’n blonde vag tot by haar skouers hang.
Toe sy by die sitkamer aankom, is Louisa en Luigi daar, maar nie Giulio nie. Haar ouers daag ook op, maar hy bly steeds weg. Wil hy haar nou sommer vanaand glád nie sien nie? Het Luigi se lawwigheid hom laat besluit sy is ’n flerrie? Rafaella se gedagtes het angels. Uiteindelik daag Giulio tog op, net voordat hulle wil ingaan vir ete.
“Ekskuus, ek is op die telefoon besig gehou,” sê hy afgetrokke.
Deur wie nogal? Sê nou dis ’n vrou? Een wat vir hom belangrik is en met wie hy graag so lank gesels? Hy verduidelik niks verder nie. Nou gaan Rafaella haar heelaand met dié vermoede folter.
Aan tafel hou sy hom stip dop. Hy kyk skaars na haar. Hy ignoreer haar! Luigi gesels land en sand opera met haar pa, min gepla. Sý oë draai weer heeltyd na haar, goedkeurend, asof sy haar vir hóm mooigemaak het en hy dit raaksien. Die nare man!
Net ná ete verskoon Giulio hom wéér en verdwyn die huis in. Almal gaan vroeg na hul kamers en Rafaella maak asof sy ook baie moeg is sodat sy tog net nie in Luigi se geselskap moet agterbly nie.
Dis ’n moedelose Rafaella wat daardie aand probeer lees en op geen woord kan konsentreer nie. Paragraaf ná paragraaf moet sy oor en oor lees. Naderhand sit sy met ’n sug die boek neer en skakel maar die lig af.
En as die vervlakste Luigi vanaand weer onder haar balkon kom plaasneem? Sy wil tog nooit hê Giulio moet weet sy broer pleeg snags Rafaella-serenades nie!
8
Rafaella staan die volgende oggend vroeg op en gaan loop buite rond om die jong dag met sy plantgeure, varsheid en voëlgesang te begroet. Sy gaan soek die buitelugswembad naby die nuwe gebou. Dit lyk halfvoltooi en die tuin daaromheen is snuifgetrap deur die bouers. Van daar af loop sy na ’n deel van die huis en tuin waar sy nog nie was nie. Daar hoor sy stemme. Dit klink na Giulio en sy ma. Haar kalmte is dadelik daarmee heen. Sy stap nader en sien dit is ’n kantoor waaruit die stemme kom. Deur die venster sien sy Louisa voor ’n rekenaar sit en Giulio kyk oor haar skouer, omring deur nog rekenaars, lêers, liasseerkabinette. Hulle bestuur die hele La Renza vanuit hierdie hart, sien Rafaella.
Giulio kyk op en sien haar by die venster huiwer. Hy kom orent en loop na die deur, waar hy glimlaggend uitkyk.
“Môre, waarom slaap jy nie nog nie? Dis baie vroeg.”
Sy verwens haar gloeiende wange. “Ek is nie gewoond aan laat slaap nie. Is julle besig met jul werk? Ek wil nie steur nie.”
“Jy steur nie. Kyk net hoe vars lyk jy. Soos ’n blom wat in die oggendson oopgaan.”
Rafaella is nooit seker of iemand ’n kompliment werklik bedoel en of hulle net probeer vlei nie, maar dis tog lekker as dit van Giulio af kom!
“Kom in, dan wys ek jou wat ons hier doen,” nooi hy.
“Dit is die plek waarheen ek verdwyn as julle my nie sien nie,” glimlag Louisa. “Hier bestuur ek en Giulio alles. Dis nogal ’n beslommernis.”
“Dit lyk asof julle ’n groot besigheid bedryf.”
“Ja, die landgoed se sake ís nogal uitgebreid,” sê Giulio. “Dis nie net ons boerdery nie. Nou is dit ook die rusoord. Oor ’n tydjie moet mense begin kom vir onderhoude en ons kyk nou deur die lys aansoekers. Ons het veels te veel aansoeke.”
Dit klink nie vir Rafaella asof Luigi enigsins help nie. Asof hy haar gedagtes lees, sê Giulio: “Luigi het niks te doen met die daaglikse bestuur van La Renza nie. Hy is te besig met sy sangloopbaan, al die repetisies en optredes. Tans is hy vir ’n kort rukkie ledig, maar hy gaan binnekort weer dolbesig raak. Sy bestuurder-cum-agent is in Milaan, besig om dinge vir die nuwe seisoen reg te kry.”
Hy soen sy ma op die wang. “Ek moet praktyk toe gaan, dus groet ek maar. Stap saam met my, Rafaella.”
Sy loop aan sy sy om die huis, op ’n paadjie wat sy nie ken nie, waar daar ’n weelderige stuk tuin is.
“My ma staal haar vir Maria Vallerta se besoek.” Hy grinnik. “So ’n kleurryke vrou. Almal moet na haar pype dans. Sy is ’n regte primadonna. ’n Aandagvraat. Net so temperamenteel soos Maria Callas en ewe veglustig. As daar nie iets is om oor te stry nie, vind sy iets, anders is die lewe vir haar te saai.”
Luigi wil ook die middelpunt van aandag wees, dink Rafaella. Hoe op aarde deel dié twee sangers die kollig?
“Ek hoop die hele drama wat op ons gaan toesak, put jou ma nie te veel uit nie,” sê hy simpatiek. “Ek hou haar dop. Sy lyk dapper, maar dis nog nie lank na so ’n groot operasie nie. Jy moet my dadelik laat weet as sy die geringste probleem ontwikkel.”
“Jy is baie bedagsaam, dankie, Giulio. Mamma is sterk en ek hou ook ’n ogie oor haar. Ek het my skootrekenaar saamgebring en e-pos Aldo elke dag, en ek sal ook met haar dokter in Pretoria praat. Op die oomblik wil sy alles net geniet en vergeet van die nare ondervinding, lyk