Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
dis daar op die buffet by die espresso-masjien.”
Rafaella kry koffie en kom sit aan tafel. “Ek wil vandag alles hier bekyk,” sê sy.
“Luigi sou jou kon rondwys, maar hy slaap nou nog. Julle moet maar self die plek besigtig. Ek is ongelukkig altyd besig in my kantoor. Hierdie landgoed se bestuur verg nogal baie werk. As julle enigiets wil eet of drink, lui net die klokkie. Daar is klokkies in die portaal en hier in die eetkamer. Middagete is altyd so teen eenuur, wanneer Luigi te voorskyn gekom het.”
“Hy bly laat op,” sê Jacopo. “Gisternag het hy ons wakker gesing. Dit was soos ’n engel wat neergedaal het op die aarde.”
Louisa lyk verbaas. “Wat? Het hy daardie tyd gesing? Dis vreemd. My suite is ver van julle s’n af, so ek het niks gehoor nie.” Sy kyk met ’n skalkse glimlag na Rafaella, wat nie weet hoe om te reageer nie. Sou Luigi se ma vermoed dit was ’n serenade?
“Terloops, Maria Vallerta kom môre hier aan,” sê Louisa. “Sy het vanoggend laat weet dat haar agent, Riccardo, haar gaan bring. Sy bring altyd haar sekretaresse, Mimi, saam. Hulle kom met baie bagasie. Ek vermoed sy gaan nog van La Renza haar persoonlike rusoord maak. Daar is ander mense uit die musiekwêreld, sangers ook, wat belangstel om tussen swaar programme hier te kom ontspan.”
“Ons is eintlik hier om Mamma se onthalwe en ons bly hier in jul eie huis soos gaste,” sê Rafaella skuldig.
Louisa lag. “Kyk nou hoe verleë lyk jy. Nee, cara, julle ís ons gaste. Ek het julle mos genooi.”
“Dan kan ons nie langer bly as wat ons welkom is nie,” sê Jacopo.
Louisa glimlag. “ ’n Mens kan sien julle is onafhanklike mense wat gewoond is aan werk en roetine. Ek respekteer dit, maar hier by La Renza is ek al gewoond aan ’n toeloop van besoekers wat soms nogal lank vertoef. Rachel moet rus, jy kan jou navorsing gaan doen, Rafaella kan doen net wat sy wil. Miskien wil sy Giulio bietjie gaan help, net om te sien hoe dinge hier werk, soos hy daar in Suid-Afrika gemaak het. Bekommer julle oor niks. Geniet die Toskaanse herfs, ry rond as julle wil. Gaan besoek Cortona en die omliggende dorpe. Gaan Florence toe, as julle kans sien daarvoor.”
“Dít sal ons nog alles doen, sodra Rachel daarna voel,” sê Jacopo. “Dankie vir jou wonderlike gasvryheid.”
Louisa gee ’n ondeunde laggie. “Julle kan weerligafleiers wees as die temperamentele Maria Vallerta hier aankom. Sy put my uit – en ek put nie maklik uit nie. Giulio vermy haar sover hy kan. Sy is so dolverlief op Luigi dat dit lastig raak. Sy is jaloers ook. Hulle stry gedurig, want hy word kwaad as sy haar kloue so in hom probeer slaan. Hy sê die tyd gaan aanbreek dat hy weier dat sy hierheen kom. Die probleem is net, hulle sing al weer in die volgende operaseisoen saam. Hy moet vriende met haar bly, anders sal dit groot probleme afgee.”
Jacopo glimlag egter ingenome. “Ons sal dié beroemde vrou darem graag ontmoet. Ek hoop sy sing ook vir ons.”
“Wel … ons, oftewel Luigi, kan seker haar arm draai. Sy is baie snoep met haar stem. Ek dink haar weergawe van ‘O mio babbino caro’ is die beste wat ek nog gehoor het. Dit laat mense in trane uitbars.”
“Ons móét haar oortuig om dit vir ons te sing,” sê Rachel. “Ek wil graag sien hoe bars my man in trane uit.”
Almal lag.
Rafaella drink haar koffie klaar. “Sal julle my verskoon as ek op my eie rondloop? Dié plek lyk na die paradys.”
“Gaan gerus,” sê Louisa. “Die tuine is groot en jy moet die nuwe gebou ook sien. Jy is welkom om die hele huis te besigtig.”
“Ons twee sal dit ook op ons eie tyd doen,” sê Jacopo. “Rustig, sodat Rachel haarself nie ooreis nie.”
7
Met groot waardering loop Rafaella in die pragtige huis rond. Dit is tipies die soort ou Toskaanse villa wat sy in flieks soos My House in Umbria en Under the Tuscan Sun gesien het, net veel minder bouvallig. Eintlik is dit besonder goed in stand gehou. Sy loop deur die tuine op terrasse en gewaar tuiniers aan die werk. Die groot bome verkleur en die wingerde aan die ver hange ook. Oral sien sy mense in boorde werk. ’n Rooi trekker met ’n sleepwa dreun sag op ’n afstand. Laastens loop sy na die nuwe gebou en sien dat daar heelwat werkers besig is. Dit is nie so groot soos die hoofhuis nie, maar Giulio het gesê hy wil nie meer as agt mense op ’n slag huisves nie. Die werkers groet haar en sy stap in, kyk hoe hulle vloerteëls lê en kaste inbou. Alles is wit en skoon.
In ’n vierkant sien sy ’n binnenshuise swembad. Dit is nie baie groot nie en mans is besig om teëls om die kante te lê. Sy wens sy kon elke oggend hier kom swem.
Sy stap deur vertrekke wat reeds voltooi is en waar daar niemand anders is nie. Agter haar hoor sy voetstappe. Sy draai om en versteen. Dit is sowaar Luigi, wat vars en uitgerus lyk en stylvol aangetrek is in ’n beige linnebroek en -hemp. Hy vorm ’n volslae kontras met die werkers in hul vuil klere.
“Buongiorno, Rafaella,” groet hy met ’n wolfagtige grinnik. “Ek het verneem jy kom kyk na ons nuwe gebou, toe kom soek ek jou.”
“Is jy nie vroeër as gewoonlik uit die bed nie?” spot sy. “Ek het gehoor jy slaap gewoonlik die oggend om.”
“Nie vandag nie. Nie terwyl jy hier kuier nie. Jy lyk pragtig vanoggend. Ek dink altyd ’n mens moet ’n vrou in die helder daglig sien waar sy nie haar gebreke en vlekke onder grimering en sagte ligte kan wegsteek nie. Dan sien jy hoe sy werklik lyk. Ek gee jou hoë punte.”
“Vleier. Ek is darem nog jonk. Die plooie het nog nie vatplek gekry nie. Nie dat ek dink dit ontsier ’n vrou nie. Dit gee eerder karakter aan haar gesig.”
Hy grinnik weer soos ’n roofdier. “Jou vel is vlekloos, jou hare blink en jou oë skitter hemelblou. Jy is ’n baie mooi meisie.”
Ongemaklik en verleë oor die stroperige vleitaal wat so uit sy mond stroom, begin Rafaella deur toe stap. Hy haal haar in en vat haar regterarm vas.
“Het jy my gisteraand gehoor? Ek het vir jou kom sing.”
Ag, genade tog, dink Rafaella verskrik. Hier kom dit nou. Hy dink hy verower haar. Sy trek haar arm ferm los.
“Het jy tog nie vir mý gesing nie? Wat het ék gedoen om te verdien dat die wêreldberoemde tenoor my kom serenade?” Sy hou haar stem lig, spottend.
“ ’n Vrou soos jy sal ’n lied uit enige man tower.”
Luigi is ongemaklik naby. So naby dat sy ’n vlekkie in die blou van sy linker-iris sien en sy soeterige naskeermiddel ruik. Hy probeer weer aan haar vat. Sy tree terug, buite sy bereik.
“Ek skat jy moet maar van my vergeet, Luigi. Ek is nie beskikbaar nie. Buitendien kom Maria Vallerta môre aan en ek wil nie hê sy moet my oë uitkrap nie.”
Luigi kry ’n ergerlike en byna sluwe uitdrukking op sy gesig. Natuurlik is hy nie gewoond daaraan om summier afgewys te word nie.
“Maria het geen houvas op my nie,” sê hy. “Vir haar hoef jy nie bang te wees nie. Ek sal jou nog verower. Jy sal sien. Ek hou van ’n uitdaging.”
Ergerlik en baie ongemaklik kyk Rafaella uit die hoogte na hom. “Ek is nie ’n Vanessa nie, Luigi …”
“Vanessa? Wat weet jy van Vanessa af?”
“Giulio het my van haar vertel.”
“Waarom tog? Ek kon nie help dat sy op my verlief raak nie. Sy het agter my aangeloop soos ’n skoothondjie. Maar jy …”
“Ek probeer nie vir jou ’n uitdaging wees nie, Luigi. Ek waarsku jou om nie valse indrukke te kry nie. Ek is nie beskikbaar op die manier wat jy soek nie. Ons kan vriende wees, niks meer nie.”
Hy gee ’n blaflaggie, asof hy dink sy speel net hard to get, en loop by haar verby. Op daardie oomblik, terwyl sy weer ’n vlaag naskeermiddel ruik, hoor sy ’n kreet, iemand in pyn. Sy haas by hom verby, by die deur uit, om te sien wat