'n Luiperd in my bed. Annelize Slabbert
Annelize Slabbert
’N LUIPERD
IN MY BED
[no image in epub file]
Tafelberg
Jirre, dasie ’n lantie so ver of woes geleë,
sos dié sandland wat U nou vi my kom gee,
want selfs in hierie dro annerlikheid
groei die gemsbokkomkommer van u heerlikheid
-Die Griekwapsalms deur Hans du Plessis
1.
Nog ’n plaas in Afrika
ONS woon op ’n plaas in Afrika.
Nou nie op ’n koffieplantasie à la Karen Blixen in Kenia nie, maar ’n wildplaas in die Witsand-Kalahari van Botswana. Op winter-Sondae sweef die hartseer note van Mozart se klarinetkonsert oor die vaal stoppels en houtskool-swarthaak terwyl gemsbokke by die pan water drink en ’n korhaan sy Afrika-roep laat opklink oor die veld. Someraande drink ons sjampanje by Totti Totti terwyl flaminke pienk oor die gladde pan huiwer. Snags tjank die jakkalse en brul die Kalahari-leeumannetjie terwyl hy die bome langs sy watergate merk. Ystervarke kom eet saam met ons aan óns pietersielie en basilie. Nonnetjiesuile woon in die balke van ons huis se dak.
Op ons plaas – net bekend as “die plaas” – is geen drade vir telefone of kragvoorsiening nie. Geen teerpaaie nie. Geen verkeersligte en spoedlokvalle nie. Net afsondering. En ruimte! En wildernis.
Sou jy vroegoggend in die vaal sandpad tot verby die twee groot matjarras ry, sal jy ons op die stoep van ons groen sinkdakhuis kry. Gerard en ek, elkeen op ’n rottangstoel, beker koffie in die hand, met Rebecca die Duitse herdershond tussen ons. Bismark, die ander herdershond, verkies ’n uitsig op die fisante se pik-pik rondom die watergat – om hulle beter dop te hou. Jasmyn, die gemmerkat, oefen haar jagtersluip tussen die termiethoop en motopibossies. Na die ooste se kant kom lê die eerste rooi strale van die winterson oor die termiethoop en val deur die digte matjarrablare tot op die stoep.
Nog ’n warm, droë middag lê voor.
Met die middagson kom die lugspieëlings wat aan die vallei sy naam gegee het: Deception Valley. Dan skuil alles wat asemhaal in die koelte van ’n matjarra, rug na die wind gedraai. In die lang geelwit gras lê die leeus uitgestrek en slaap. Net die vlakvarke draf stertorent nader vir ’n modderbad.
Met ’n oop boek vergete op die skoot, oë halftoe teen die bewende lig, sitlê ons dan op die verslete bank op ons wye stoep. Of ons gaan die stildonker voorhuis in, skuifvensters dig toe teen die warm lug daarbuite. Die enigste geselskap ’n irriterende vlieg wat uit die tonge van die gekko’s teen die mure gebly het.
Skemer vind jy ons weer buite, tevrede met koue wyn in die een hand, gieter in die ander, besig om die sestal potte op die stoep met brak Kalahari-water te pamperlang – met die (misplaaste) hoop dat blou plumbago (syselbos) en pienk malvas enigsins ’n verskil sal maak aan die vaal sandvlakte. Winters word die koeler lug beurtelings al die kleure van die bougainvillea soos die son agter die grasduine wegsink.
Êrens tussen sewe- en agtuur elke môre trek ons die deure van ons huis toe, versigtig om seker te maak Rebecca en Bismark is veilig in die huis of omheinde agterplaas. Al met die sandpad langs stap ons.
Net minder as 1 km verder is die plek waar ons werk, die rede waarom ons hier kan bly, en die bron van ons inkomste, waarvan ons lewe. Op die plaas bedryf ons ’n lodge. Agt sandkleurige huisies, versteek tussen akasias en matjarras, kan sestien gaste van regoor die wêreld huisves. Elke huisie het sy eie stoep van waar gaste kan uitkyk op ’n groot watergat, in veral die wintermaande die saamkomplek van troppe wildebeeste, koedoes, gemsbokke en hartebeeste, met vlakvarke en kameelperde gereelde besoekers. Hierdie watergat is ook die drinkplek van die oostelike leeutrop wat tussen ons plaas en die buurplaas beweeg.
Teen die tyd dat ek en Gerard soggens by die lodge se kombuis nog koffie gaan soek, het die dag se bedrywighede lank reeds begin. Die eerste koffiewater begin al vyfuur soggens op die gasstoof kook. Dis wanneer ons seun, Jacobus, en Nishka, sy verloofde, regmaak om die gaste vir ’n ligte ontbyt te ontvang voor hulle op ’n vroegoggend-wildrit vertrek. Terwyl die gaste graankos eet, fynkam een van die Boesmanspoorsnyers solank die sandterrein rondom die lodge vir die spore van enige nagtelike besoekers sodat die spoor gevat kan word.
Met die gaste weg op hul safari, is die groot dek voor die hoofgebou die plek waar ons die dag se werk bespreek. Nishka ryg die lys herstelwerk af wat Gerard en Braam, die Motswana- mede-aandeelhouer in die plaas, moet doen. Waterwerke is elke oggend voorop. Waar het die wild gister weer die pyplyn beskadig in hul dorse soeke na lafenis? Waar het ’n kraan of toilet die stryd teen die kalk en sout in ons brakwater gewonne gegee? Waar het ’n gas onnoemlikes in toilette afgespoel wat ’n ongeurige gegrawery gaan afgee?
Nishka, die sjef en bestuurder van kos en drank, moet plan maak met voorraad. Maun, ons naaste verskaffer van niebederfbare en vars voedsel, is 180 km ver op ’n slegte sandpad – ’n inkopietog duur ses uur heen en weer, uitgesonder die eindelose ure van sukkel om al die bestellings bymekaar te kry en die administratiewe rompslomp wat ’n eertydse Britse protektoraat en liefbebber van amptenary en vorms vereis.
Sover moontlik word vars kos dus saam met gaste op klein vliegtuigies ingebring. In ’n wêreld waar die oorsprong van voedsel al hoe belangriker is, kan ’n dis op Nishka se tafel beter stories as die Verhale uit 1 001 nagte vertel: aarbeie uit Brittanje, groenbone uit Zambië, salm uit Skotland en wildsvleis uit Botswana saam met marog uit die Kalahari.
’n Reis na Afrika is vir soveel mense wat hierheen kom nie net nog ’n vakansie nie. Dis die vervulling van ’n droom. Tussen hul eerste, tentatiewe soektog op webwerwe of in reisbrosjures tot hul eerste treë op die vliegveld se Kalahari-sand verloop soms jare. Die sprong van ’n woonstel in koue grys Zürich na die helder sonlig en onbegrensde ruimte van die Kalahari verg waagmoed en baie verbeelding. En die verantwoordelikheid om die droom sover moontlik waar te maak, om selfs nuwe horisonne vir besoekers oop te maak, lê vierkantig op die skouers van ons wat hier woon en werk.
Ná ’n dag van safari’s in die son, stap saam met die Boesmans, interaksie met leeus en die harde landskap, kos en wyn om die vuur, is die laaste indruk van Afrika voor slapenstyd die wye oop naglug en sterrehemel. Geen mensgemaakte geluid om die stilte te versteur nie. Rakops, die naaste dorpie, is 80 km hiervandaan. Tussen die plaas en Rakops se yl liggies is dit net die maan en sterre wat die veld verlig.
Ja, ons woon op ’n plaas in Afrika. Met leeus op ons voorstoep, luiperds in die bed (soms!). Duisende kilometers ver reis ons gaste hierheen om ons leefwêreld te ervaar. Óns leef hul droom.
Kan iemand dan vir my sê waarom hierdie droom soms net nie genoeg is nie?
❧
Beet-en-kaas-koek
BEET is een van die groente wat in Botswana gekweek kan word, al proe dit soms erg sout weens die brakwater. Beet het nuwe aansien as ’n “ontwerpersgroente” gekry, veral danksy die gewilde rooi fluweelkoek wat deur soveel sjiek koffiewinkels voorgesit word. Hierdie is ’n sout-weergawe en verskyn as voorgereg op ons spyskaart.
Bestanddele
(Genoeg vir 4 tot 6 mense)
1 koppie beet, liggies gestoom en gerasper
2 houers (230 g elk) roomkaas
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 lemoen se sap en skil, gerasper
sout en gemaalde swartpeper na smaak
2