'n Luiperd in my bed. Annelize Slabbert
die uur dat ons stom na die afslaer geluister en die aanbiedings gehoor het, het nie een skaap, lam of ooi minder as R1 500 gehaal nie. ’n Honderdstuk van die pieperige, ingevoerde stoetskape rustig aan die wei op grasgroen velde onder skaduryke akasias sou vir eers ’n droom moes bly.
❧
Bier-en-roosmaryn-wildpotjie
POTJIEKOS beteken vir verskillende kokke verskillende dinge. Hierdie een kan in ’n ysterpot op die vuur berei word of in jou stadskombuis. Dis een van daardie geregte waaroor die manne kwyl. Suid-Afrikaners vra dan ook dikwels die resep om dit met hul vriende om die kampvuur te geniet of ná ’n belangrike rugbywedstryd wanneer Bok-ondersteuners vertroosting soek. Wildsvleis word hier gebruik, maar stowebees is ook doodreg, veral die taaier snitte.
Bestanddele
(Genoeg vir 4 tot 6 mense)
800 g wildsvleis, soos koedoeskenkel
meelblom en sout om vleis in te rol
1 selderystokkie, gekap
1 wortel, gerasper
2 preie, gekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
3 eetlepels roosmaryn, fyngekap
2 repe spek
1 gekapte soetrissie
1 teelepel tamatiepasta
½ blikkie (205 g) tamaties in tamatiesap
2 koppies beesaftreksel
1 bier, jou gunsteling-handelsmerk
Metode
Rol die vleis in gegeurde meelblom en seël in olyfolie in ’n swaarboomkastrol of ysterpot tot goudbruin. Haal die vleis uit en hou eenkant.
Soteer die seldery, wortels, preie, knoffel en roosmaryn saam met die gekapte spek, soetrissie en tamatiepasta vir sowat 5 minute in dieselfde kastrol. Verwyder die kastrol van die hitte.
Voeg die vleis by die selderymengsel saam met die geblikte tamatie, beesaftreksel en bier. Verhit tot kookpunt. Sodra kookpunt bereik is, bedek met ’n deksel of foelie en plaas in die oond teen 180 °C vir 5 uur, of sit die driepootpot oor ’n lae vuurtjie om heelmiddag te prut.
Wanneer die vleis sag genoeg is om van die been af te val, verwyder van die hitte en laat afkoel. Trek die afgekoelde vleis in repe en hou eenkant terwyl die vloeistof in die kastrol vinnig kook om die sous te verdik.
Meng die vleis en sous wanneer laasgenoemde die verlangde dikte bereik het. ’n Eetlepel botter verleen glans en dikte aan die sous.
3.
Skaapstories
’n SKEMER Vrydag in September.
Terwyl ek in die kombuis aandete prakseer ná ’n lang dag met baie spertye om te haal, hoor ek die gerammel van ’n trok wat traag teen die bult agter die huis uitbeur. Krummels en Lady nael by my verby en bars deur die agterdeur met Jacobus nuuskierig agterna.
“Vrou!” hoor ek Gerard roep. “Kom kyk!”
Die kinders en ek kom omtrent dieselfde tyd by die trok aan. Gerard staan by die bak wat oopmaak met ’n afrit. Op die bak is ’n twintigstuks van die mees bedremmelde skape wat ek nog ooit gesien het.
“Bêêê,” groet een huiwerig. Sy toon geen ooreenkoms met die oulike, wollerige wit lammertjies van Cullinan nie. In die eerste plek is sy ’n skaap, nie ’n lam nie. Ten tweede is haar kop swart en haar gesigsuitdrukking soos dié van Juffrou Wolmarans in Standerd 3 (toe sy ’n dooie padda in haar laai ontdek het). En ten derde is sy brandmaer en effe motgevreet. Só ook die ander stomme diere op die trok.
Maar Gerard staan trots terug.
“Dis my skapies!”
“Mag ek vra wat hul herkoms is?” Ver is dit van my om my as ’n kenner van skaapstambome voor te doen, maar selfs my baie ongeoefende oog kan sien die groepie lyk nes die arme haweloses vir wie ons gewoonlik Kersfees kos neem.
“Ek het hulle by die skut gekoop. Hulle is almal dragtig.” Gerard se ingenomenheid ken geen perke nie. “Oor so twee maande loop hier lammers net waar jy kyk.”
“Lammers met swart koppe?” vra Katinka versigtig. Ek is nogal verlig dat sy gevra het, want sy het darem op skool van Ayreshire- en Herefordbeeste geleer in een van daardie verpligte vakke wat elke jaar ’n nuwe naam kry. Dus is sy die naaste aan ’n landboukundige in ons familie.
“Katinka. Dis dorperskape.” Gerard se meerderwaardige kennis laat ons stom nader staan. En toe bars die stomme groep by ons verby en storm soos die Bybelse wilde donkies weg op pad na … nee, niemand kon ooit raai waarheen nie. Hulle het in hul (betreklike kort) lewens op Lalapanzi net gehol en gestamp en gebê sonder taal of taktiek. Oor die klipbanke, deur die toe hek van die nuutgeboude klipkraal beur hulle en pyl af op die spesiale vitamienverrykte skaapkrummels (krummels vir skape om te eet, nie krummels wat van skape gemaak is nie).
En hulle begin vreet.
Daardie aand gaan ons slaap met die klank van skape wat blêr in die nag.
Ná twee weke van vrede in die veld, en aangehelp deur die vitamienverrykte krummels, begin die jonger ooie hul energie herwin en die eerste tekens van hul dragtige staat toon. Ons kom saans tuis en dis nog betreklik lig, sodat ons en die kinders op die grasperk ’n bal rondskop of ringtennis speel. Die geel-en-pienk rankrosies teen ons huis se klipmuur, is in volle blom en die perskebome in die boord staan soos bruide in die skemer, oortrek met bloeisels. Naweke kom maats kuier. Ure lank ry die kinders op en af in die rivier op opblaasmatrasse. Teen die vaalblou lentelug bot die wilgerbome ’n Ierse groen. Ons eet buite onder die reusewitstinkhout en maak met steenkool vuur in die buitekombuis se stoof.
Die idille is inderdaaad naby genoeg om daaraan te begin glo.
So drie weke ná die dorpers se aankoms storm Gerard kort voor aandete die kombuis binne.
“Daai ou ooi het plastiek gevreet en sy verstik. Ek moet haar limonade gee.” Nou, Gerard is ’n apteker en hy weet baie van regte medisynes, maar limonade was nog nooit in sy medisynekassie se arsenaal nie. Dis ook nie die sort koeldrank wat ek, as gesondheidsbewuste, neurotiese ma in my huis het nie. Maar my man is beslis oor sy diagnose en sy behandeling. Nou waar is daar ’n afsetpunt vir limonade halfsewe op ’n Donderdagaand in die Hennopsriviervallei? Met die naaste winkeltjie, net die snoepie van die piekniekplek, 3 km verder op die hoofpad.
In die lendelam bakkie spring hy en Jacobus op hul Missie Limonade met die doelwit: Red die Dorper.
Hulle bly weg. Sonsondergang kom en gaan en in die vroeë skemer is daar nog geen teken van die reddingsending se suksesvolle terugkeer nie. Katinka en ek eet maar solank. Eers met die eerste aankondiging van die nuus om agt deur Riaan Cruywagen trek die bakkie die erf binne. In hul hande hou die twee reddingswerkers elkeen vier klein botteltjies limonade vas, al agt reeds oopgemaak.
Hul verslag oor die verloop van die sending moet eers wag. Met die hulp van die gasborrels in die limonade gaan die ooi ’n windjie of twee opbreek en, só verseker Gerard my, daarmee saam die ellendige plastieksak. Waarom dit nou juis limonade en geen ander gaskoeldrank moet wees nie, is onduidelik. En hoe weet hy dis ’n plastieksak wat die obstruksie veroorsaak?
Maar ek vra nie. Wat hy beplan om te doen as die wonderkoeldrank nie die gewenste uitwerking het nie, wil ek nie weet nie.
Die twee stowwerige en moeë manne wat uiteindelik kos voor hulle het, vertel om die beurt die verhaal van die Limonadesending:
Natuurlik was die buurtwinkeltjie lank reeds gesluit toe hulle daar aankom. Die enigste uitweg was om die grootpad te vat Randburg toe. By geen vulstasie op pad is ’n winkeltjie wat kan help nie. Die uiteindelike redding kom in die vorm van die kroeg van die Indaba Hotel buite Fourways, Sandton.
Wat was die kroegvlieë se verbasing