'n Luiperd in my bed. Annelize Slabbert

'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert


Скачать книгу
sagte deinings sand waarop akasiabome en matjarras soos houtskooltekeninge op blou velle papier groei. In die somermaande ’n verrassende gul gasheer vir honderde voëls in die blink waterpanne terwyl brulpaddas en eende in die reënpoele rondplas.

      Die Groot Droom het gewag …

      ❧

      Brokkoli-en-kekerertjie-slaai

      DIS ’n ongewone slaai met verrassende smaak.

      Bestanddele

      (Genoeg vir 2 tot 4 mense)

      1 brokkoli, opgebreek

      1 jong prei, in dun skyfies gesny

      1 soetrissie, in blokkies gesny

      sout en peper

      3 eetlepels olyfolie

      1 koppie koeskoes

      1½ koppie hoenderaftreksel

      1 blik (400 g) kekerertjies (“chickpeas”)

      1 eetlepel kappertjiesaad (“capers”)

      3 eetlepels droë-appelstukkies, klein gesny

      ¼ koppie fetakaas, in klein blokkies gesny

      1 koppie basilieblare, gekap

      ½ koppie gemengde kruisement en pietersielie, gekap

      2 suurlemoene se sap en skil

      ¼ teelepel grondboontjiebotter

      1 eetlepel knoffel

      Metode

      Voorverhit oond tot 180 °C.

      Rooster die brokkoli, prei en soetrissie met sout en peper en 1 eetlepel olyfolie in die oond teen 180 °C vir 10 minute.

      Gooi die koeskoes in ’n geskikte houer en bedek met die kokende hoenderaftreksel. Bedek die bak met kleefplastiek en laat staan vir 5 tot 7 minute voor jy dit met ’n vurk deurroer sodat die korrels mooi los van mekaar is.

      Meng die koeskoes met die kekerertjies, gaar groente, kappertjiesaad, appelstukkies en helfte van die feta.

      SLAAISOUS

      Meng die basilie, kruisement, pietersielie, suurlemoen, oor­blywende feta, die res van die olyfolie, grondboontjiebotter en knoffel in ’n voedselverwerker tot alles goed deurgekap en gemeng is. Gooi by die brokkoli-en-koeskoes-mengsel.

      6.

      Woes en leeg

      “DIE mens wie se siel siek is as gevolg van begeertes en afhanklikheid en wat steeds die afsondering en stilte van die woestyn wil opsoek, is soos iemand wat van ’n skip in die onstuimige see spring en hoop hy gaan die land veilig met ’n stuk flenterhout bereik.”

      Die wysheid van Sint Johannes Klematikus, een van die woestynvaders uit die vroëe Christelike kerk, lees ek in Ronell Bezuidenhout se lieflike boek, Woestynwysheid. Ongelukkig kom die goeie raad net mooi sewentien jaar te laat en is dit in elk geval twyfelagtig of Gerard op die wysheid sou ag slaan. Soos hy reeds soveel kere bewys het, word my man nie deur ’n uitdaging om nuwe horisonne te verken, afgeskrik nie. Inteendeel, hy is verslaaf daaraan.

      Sy begeerte na ’n stuk grond ver weg van alle stadsgewoel het presies dit beteken: VER weg. Ver van paaie waarop gewone motors kan ry, met motorhawens en Magnum-roomyse. Selfs ver van dorpe met koöperasies en skole en baksteenhuise waar mense met minder verbeelding as Gerard woon. Theuns Eloff, emeritus van die Universiteit van Noordwes, se dogter en skoonseun, Susanne en Braam, was nie met die lewe in Suid-Afrika tevrede nie. Hul groot begeerte was om ’n wildplaas met ’n lodge in Botswana te bestuur.

      Op die toneel kom Gerard, tjekboek in die hand.

      Braam het reeds vyf duisend hektaar op die noordelike grens van die Sentraal-Kalahari Park besit. Hy het Gerard daarheen genooi om die moontlikheid van sy droom vir ’n lodge aan hom te probeer verkoop. Die pad van Vaalwater, waar Theuns ’n plaas gehad het, tot in Botswana was reeds genoeg om enige stadsjapie met ’n splinternuwe viertrekvoer­tuig die rillings te gee, maar Gerard was vasberade om die plaas te sien. Van Stokpoort se grenspos tot by Malapye, oor Palapye en Serowe, het die klipperige grondpad gestrek. In die omgewing van Orapa was daar geteerde oppervlakke, maar tussen Mopipi en die afdraaipad na die Sentraal kon ’n mens net lángs die teerpad ry, want op die geteerde dele was dongas groot genoeg om ’n motor in te sluk.

      Brandstof was ’n probleem, want soms het die Suid-Afrikaanse verskaffers se vragmotors gebreek. Dan is brandstof weke lank nie afgelewer nie. Die meeste pompe het met die hand gewerk en daar was toue motors by elke pomp terwyl die plaaslike inwoners rustig hul tenks volmaak en terselfdertyd kuier.

      Net buite Rakops het die pad na die Sentraal-Kalahari Park links uitgedraai. Al met die tweespoor-sandpad langs moes ’n mens tot by die Kuki-hek vorder. Net sowat 50 km, maar dit het minstens ’n uur se versigtige bestuur geverg. Van die hek het die roete ál met die kaplyn langs die draad van die park nog vir meer as 30 km oor die duine gestrek. Nêrens was daar enige teken van bewoners nie, net hier en daar groe­pies nguni-beeste en brandsiek donkies.

      Plek-plek het ’n stukkende motorband in ’n boom gehang, of is ’n stuk sinkplaat staangemaak langs die stofpad. Dit was die aanduiding dat daar ’n nedersetting aan die einde van die dowwe sandspore was.

      In die nedersettings op die gemeenskaplike grond tussen Rakops en die Sentraal woon Batswana-families met hul vee. Hier loop nguni’s en donkies vry oor paaie en plase. Net die boerbokke bly in ’n takkraal, die enigste manier om hulle teen roofdiere soos leeus, luiperds en jakkalse te beskerm.

      Vir besoekers uit Suid-Afrika, gewoond aan huisdiere wat danksy hul lekker lewe op dieet moet gaan, was die gesig van die brandsiek donkies en brandmaer honde baie ontstel­lend. Maar nie ontstellend genoeg om Gerard van sy voornemens te red nie.

      Uiteindelik, ná ure op die stowwerige pad, het die spoor na Braam se stuk grond na regs uitgedraai. Daar was niks. Net die veld, die lug en ’n voël in eensame vlug, soos Jan Celliers gesê het. ’n Sonverskroeide ruimte, ’n stuk aarde so woes en leeg dat enige verstandige man sou omdraai na lugversorging en ’n lessenaar.

      Nog 8 km se stamp-stamp op ’n tweespoorpad en daar was Braam en Susanne se blyplek: ’n hartbeeshuisie met ’n hout­raamwerk en mure gepleister met ’n mengsel van modder en mis. In daardie huisie sou ons ’n paar jaar en baie ervarings later intrek.

      Weggevoer deur die bekoring van woes en leeg het Gerard sonder rasionele besinning die plan van ’n lodge in die Kalahari aan sy mede-aandeelhouers in Johannesburg verkoop. Die feit dat daar in daardie stadium geen ander lodge in die afgeleë gebied was nie en dat Botswana eintlik vir die Okavango-delta bekend was, het geeneen ontmoedig nie. Buitendien het almal onthou van die bekende boek van Delia en Mark Owen, Cry of the Kalahari. Dié klassieke verhaal van die Ameri­kaanse navorsers wat drie jaar lank in Deception Valley gewoon het om die bruin hiëna en Kalahari-leeus te bestudeer, beskryf die gebied met sy uitdagings so bekoorlik dat reisigers van oral in Engelssprekende lande en ook in Europa van Deception Valley en Deception Pan gehoor het. Vir hulle sou dit lekker wees om die gebied te besoek, het ons gehoop.

      Die lodge se Sandton-argitek was so in vervoering oor die gedagte aan ’n lewe van eenvoud en afsondering dat hy sy vrou en jong kinders oortuig het om die wildernis in te vaar sodat hy die lodge kon bou terwyl hulle die kinders tuis veld­skoolonderrig gee. Voorlopig het die gesin in die modder-­en-­mis-huisie gewoon, terwyl hy en helpers uit Rakops hout­opslaanhuise vir die familie en personeel oprig.

      Toe Gerard drie maande later besoek aflê, was Braam en Susanne effe ergerlik. Die argitek se opslaanhuis was feitlik voltooi, maar niks meer nie.

      ’n Verduideliking van die daaglikse doen en late het die stadige pas verklaar: Die oggende het vroeg met Bybelstudie begin. Die argitek was ’n oortuigde gelowige wat sy taak om “heidene” te kersten ernstig opgeneem het. Ná ’n uur van werk, was dit tyd vir ontbyt. Nog ’n uur se werk is deur teetyd gevolg. ’n Verdere uur van inspanning en dit was tyd


Скачать книгу