'n Luiperd in my bed. Annelize Slabbert
2 teelepels tiemie
¼ koppie fetakaas, gekrummel
voorafbereide broskorsdeeg
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Verpulp die beet, roomkaas, knoffel, lemoensap, sout en peper.
Vou die geklitste eier, kruie, feta, en lemoenskil daarby in.
Voer individuele tertbakkies met die broskorsdeeg uit en bak blind vir 10 tot 15 minute.
Laat die doppies effe afkoel.
Drup die roomkaasmengsel in die doppies en bak vir 30 tot 40 minute.
Skakel die oond af en los die warm pan met tertjies nog 10 minute in die oond om heeltemal te stol voor dit uitgehaal word om af te koel.
Hou in die yskas tot die tertjies voorgesit word.
2.
Die Droom van Lalapanzi
ONS uitvlug na hierdie wildplaas was lank nie ons eerste poging om ’n idealistiese droom van ’n landelike idille te bewaarheid nie.
Die eerste keer was in 1985, die jaar toe P.W. Botha die Rubicon nie wou oorsteek nie. Ek was ’n joernalis by Finansies & Tegniek, en die tydskrif se hoofkantoor was in Doornfontein, Johannesburg, neffens die destydse Ellispark. Gerard was ’n apteker in Randburg waar ons huis in ’n stukkie voorstedelike Bosveld teen Boskruinkoppie gebou was. ’n Baie gemaklike, esteties bevredigende plek om te woon en ons twee kinders groot te maak. Vanwaar dan die alewige begeerte na “iets beters” wat die mens na nuwe plekke laat hunker?
Die skuld vir die wilde perd wat ons sonder enige rasionaliteit in die winter van daardie woelige jaar opgesaal het, lê ek vierkantig voor die deur van ’n papaja en die voorblad van ’n Saterdagkoerant se eiendomsbylaag. Want as ek nie daardie middag vir ons ’n vrugteslaai aanmekaar wou slaan en die skille op die koerant bymekaargemaak het nie, sou ek nie die fraai A-raamhuisie met sy kliparms raakgesien het nie, omring deur ’n veld Namakwalandse madeliefies en Vlaamse papawers.
Lalapanzi was ’n kleinhoewe van sowat 15 hektaar op die noordelike oewer van die Hennopsrivier naby Erasmia. Op die rivieroewer was wilgerbome uit ’n kinderstorieboek, knoetsig karaktervol, met takke wat diep neerbuig oor die helder babbelende rivierwater. ’n Hansie en Grietjie-huisie vir gaste was minder as vyf meter van die water. Eenvoudig prentjiemooi met beloftes van gul kuiers rondom die Aga in die buitekombuis van klip, ’n huis vol rose gepluk in die tuin, en die moontlikheid van ’n welige groente-oes. Dié stukkie hemel was alles waarvan ’n mens droom wanneer alle gesonde verstand jou verlaat het. Rustig, landelik, eenvoudig … en baie, baie ver van Doornfontein en alles wat ’n goedaangepaste stedeling elke dag nodig kry.
Maar ons was verlief, verlief.
Op die skoonheid van die omgewing, ja, maar veral op Die Droom. Die Droom was so ver van ons onderskeie verledes en agtergrond verwyder soos ’n mishuis verwyder is van Buckingham Paleis. Die Droom was ryk aan emosie en arm aan praktyk. In Die Droom sou ons twee kinders die nuwe skoolkwartaal as leerlinge van Hennopsrivier Laerskool begin, Katinka in die destydse Standerd 4 en Jacobus in Graad 2. Vervoer met die 2 km-grondpad tussen Lalapanzi en die skool was ’n onbenullige lastigheid wat in Die Droom deur ’n kombinasie van my en Gerard, bure (5 km verder op die slegste, klipperigste pad denkbaar) en Albert, ons nuwe tuinier, hanteer sou word.
In Die Droom sou die plasie se heuwels in die lente groen bot met aangeplante weiding. Oor die sagte grassies sou vrolike Île-de-France-lammertjies dartel terwyl nog nuwe skaapmammas hulle gereed maak om geboorte aan die een groepie meerlinge ná die ander te gee.
In Die Droom is voorts ure lank gefantaseer oor kos à la die slow movement: Ons eie lêhoenders, slaghoenders, vars groente, vye van die boom af, heuning uit die nes. (Skaapvleis het geen verskyning op die droomtafel gemaak nie, om begryplike redes.)
Die woord “gejaagdheid”, die siekte “spanning”, die vonnis “bekommernis” sou in Die Droomlewe deur “rustigheid”, “vervulling” en “tevredenheid” vervang word. Daardie 60 km tussen Die Droom en Doornfontein sou vrugbaar gebruik word om die dag se stories te beplan of te dink aan die buitelyne van die Groot Roman wat vir seker in daardie kothuisie langs die water geskryf sou word. Naweke sou ons die veld invaar met reisdekens, ’n piekniekmandjie en Krummels, ons nuwe skaaphond en aangewese skaapherder, terwyl die skapies rustig teen die hange wei.
Ons kinders sou soos “plasies” kaalvoet skoolgaan, vergeet van cool en handelsmerke en strawwe mededinging. Voortaan sou hulle sorgeloos “kind” wees.
Die realiteit was, helaas, baie anders.
Neem die droom van ’n florerende skaaptelery op aangeplante weiding as voorbeeld. Intensiewe boerderye soos hierdie was in die jare tagtig ’n mode en daar was ’n boer buite Cullinan wat met die uitheemse Île-de-France-stoetery naam gemaak het. Gerard was nog nooit stadig om risiko’s te neem nie en die 15 hektaar-kleinhoewe was na sy oordeel perfek vir ’n lonende buitebelang.
Maar ons het, soos gebore stadsjapies, nie met natuurkragte rekening gehou nie. Kort ná ons intrek op Lalapanzi in die winter van daardie jaar maak ons kennis met die verwoesting van ons eerste veldbrand. Brande speel ’n reuserol in die lewe van enige landbouer en ons sou nog telkemale die uitwerking van ’n vuurhoutjie in ’n dor wintergrasveld eerstehands beleef. Die grassaad vir die weiding was reeds in die skuur, neffens rolle plastiekpype en -spuite wat in die lente die besproeiingstelsel sou word.
Die vuurtjie het vroegaand sy eerste vlammetjies laat flikker, waarskynlik om die een of ander verkluimde siel in sy gehuggie tussen een van die klipkoppies warm te hou. Teen middernag het verstikkende rookbolle ons wakker gemaak. Soos bure op plase maar doen, het ál wat ’n man, baas of werker was uit die rookwolke verskyn om vuur te slaan.
Met sonopkoms kon ons, droogogig van min slaap en die roet in die lug, ons stukkie grond, ongelowig van skok, ondersoek. Sover jy kon sien, was daar klippe. Pelindabaklip. Rotsbanke klip. Klipkoppies. Klipleegtes. Kliptuine. G’n wonder die brand kon nie juis hond haaraf maak nie – daar was te min “hare”, ofte wel gras, om standhoudend te kan brand.
“Dis ’n bietjie van ’n terugslag,” het Gerard filosofies opgemerk.
“Die gras sal mos weer groei, dan nie?” was my onnosel vraag.
“Ja, maar met al die klip sal daar weinig weigras groei.”
’n Begeesterde man laat hom egter nie sommer van stryk bring nie, veral waar dit oor onverstaanbare sake soos die landbou en plase gaan. Dus is Albert se span deur Titus en William aangevul en week-in en week-uit het hulle die rugbrekende saaiwerk in die slootjies grond tussen die klipbanke gedoen. Daar moes ook plek vir die besproeiingstelsel gemaak word, maar my man neem sulke ingewikkelde ingenieurswerke baie ligtelik op. Dus is die fyn uitgewerkte planne van die vervaardiger ter syde gelê en het ’n spiksplinternuwe, vars uitgedinkte stelsel sy pad in en oor die berge en dale klippe gevind.
Met lente in die lug en die vooruitsig van groen weivelde sover die oog kan sien om die draai, was dit tyd om die skapies te kies. Daarom bevind ons ons op ’n Saterdagoggend op ’n plaas buite Cullinan – ’n dorp wat ek net aan sy bekende diamant geken het – tussen ’n versameling mense wat jy nie gewoonlik in die sjiek koffieplek van Sandton waar ek kuier, sal vind nie. Daar is rye klein kampies, met Île-de-France-skapies van alle ouderdomme. Teen die kamphekkies is hul besonderhede aangebring, wat almal twee eienskappe gemeen het: onuitspreekbare stoetname en ellelange stoetgeskiedenisse.
Geen pryse …
“Hierdie lammertjies tel ’n mens vir so R200 tot R300 stuk op,” sê Gerard met die stem van ’n gesaghebbende op alle skaap- en stoeteryverwante sake. Met die omdraaislag in die rigting van die afslaerstent merk ek die kordate groen van ’n tjekboek in sy agtersak.
Twee uur later stap ons bedeesd ons A-raamhuisie binne.
“Tja,” sê Gerard terwyl hy die tjekboek