'n Luiperd in my bed. Annelize Slabbert

'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert


Скачать книгу
man haal ’n paar botteljies uit en daarmee saam twee glase.

      “Nee-nee,” keer Gerard. “Ek wil die koeldrank saam­neem.”

      “Jammer, kan nie gebeur nie. Teen die wet. Julle moet dit hier drink.” Die kroegman laat hom nie rondorder nie.

      “Die koeldrank is nie vir my nie. Dis vir my skaap.”

      Die kroegman en sy kliënte kyk mekaar meewarig aan. Hulle het al baie stories gehoor. Maar hierdie een?

      “Jou skaap?”

      “Ja, my skaap. Kan jy my help, asseblief?”

      “Waar is jou skaap? In jou bakkie?”

      Nou proes die ander kroeggangers in hul bier. Die gedagte aan ’n skaap op die voorste sitplek van ’n bakkie wat deur ’n kroegman limonade bedien word, is net té vermaaklik.

      “Nee, oom.” Nou is Jacobus baie beslis. Die oom is bietjie stadig en die tyd vir die skapie raak min. “My ooi is siek. My pa sê sy het ’n plastieksak geëet. Sy moet limonade drink sodat die sak kan uitkom, oom.”

      “Tag, dis vir jou ’n ander gemors,” sê die kroegman. “Ek sal julle dan help. Maar die botteltjies moet ek oopmaak, net ingeval die inspekteur julle dalk buite raakloop. Ek wil nie my lisensie verloor nie.”

      So gebeur dit dat ons ooi, nadat sy gered is van ’n gewisse en treurige einde in ’n skut vir skape, deur haar nuwe eienaar voorsien is van limonade uit die kroeg van ’n hogere Sandton-­hotel, asof sy met vakansie is by ’n oord aan die Hennopsrivier.

      Mag die liefde en sorg wat sy daardie aand gekry het, tog vergoed het vir die swaarkry van haar moeë vorige lewe. Of dit ooit ’n plastieksak was en of die limonade-boereraat som­mer onsin was, weet ons nie. Maar die stomme ooi het dit nie gemaak nie. Die volgende oggend is almal met rooi oë skool en werk toe en moes tuinier Albert êrens tussen die klipbanke ’n plekkie vind om die ooi te begrawe.

      Vertel ek later daardie treurige uiteinde van ons eerste klompie skape aan Moos van Rensburg, advertensiebestuur­der en ook ’n passievolle naweekboer, skud hy net sy kop.

      “Daar is vir ’n skaap net twee toestande,” sê hy. “’n Gesonde skaap en ’n dooie skaap.”

      Dié wysheid sou ons mettertyd self ondervind. Dit sou baie rande se uitsoekkos, medisyne-navorsing, ywerige studie en vele ure se arbeid kos voor ons besef het die navorsingstasie van ’n bekende vervaardiger van veeartsenykundige middels was nie om toevallige redes net 1 km van ons plaas af nie. Nee, die navorsing word juis daar gedoen omdat elke denkbare pes en plaag in daardie omgewing voorkom. As ’n boer graag proefnemings sou wou doen om te bepaal watter diere teen absoluut elke siekte ter wêreld bestand is, dan sou Lala­panzi voor in die ry as geskikte proefplaas staan.

      Intussen was daar nog ’n paar ander ervarings wat die vier stadskinders aan die werklikheid van die lewe op ’n plaas moes bekend stel. Ons leerskool het maar pas begin.

      ❧

      Bier-en-uie-brood

      VINNIG en maklik en heerlik saam met braaivleis of sop.

      Bestanddele

      (Genoeg vir 4 tot 6 mense)

      3 koppies meelblom

      2 biere

      1 ui, gesoteer

      1 takkie roosmaryn

      1 teelepel bakpoeier

      40 ml olie

      sout en peper

      1 teelepel suiker

      Metode

      Voorverhit oond tot 180 °C.

      Meng al die bestanddele, skep in ’n broodpannetjie en bak vir 45 minute.

      4.

      Wind van voor

      VRYDAGMIDDAE was ons gunstelingtyd. Ná die week se rondjaag tussen Lalapanzi, ons onderskeie werksplekke, die kinders se tandartsafsprake en naskoolse bedrywighede, het die naweek met lekker plaasdinge voorgelê.

      Een somermiddag ry ek met my Italiaanse sportmotor uit Doornfontein weg. Dis natuurlik net onervare amateur-­boere wat sal droom om met ’n motor wat vir Europese snelweë ontwerp is die hobbelrige klippaaie tussen die klein­­hoewes en skooltjie by Hennopsrivier te navigeer. Maar ons is nog nuut en vol drome, en vasberade om die uitda­gings van die plaaslewe die hoof te bied met ’n jappie-­gesindheid van “stylvol ten alle koste” en “die indruk wat jy skep, tel”.

      Na die noorde was daardie dag ’n dik bank loodswaar wolke. Net duskant Lonehill het die wind opgestoot terwyl nog donker wolke voor die son inskuif en die eerste plomp druppels op die voorruit neerval. ’n Hoëveldse storm was met mening op pad. By Fourways het swaar reën reeds begin val. Hoe nader ek deur die digte reënvlae aan die plaas kom, hoe erger het die wind gewaai. Ligte haelkorrels het die bakwerk van die Lancia begin tref. Met die afdraai van die teerpad, op die laaste been tot by Lalapanzi, was dit gou vir my duidelik die grondpaadjie het in ’n rivier verander. Die roete na die plaas het die kontoere van die rivier gevolg en natuurlik het die walle water ’n reguit pad na die rivier gevind, bo-oor die skraal paadjie wat my moes huis toe neem.

      My grootste bekommernis was dat die rivier sou afkom en die brug na ons huis oorspoel. Met die laaste draai voor die brug het die dapper Italiaanse karretjie, wat diep deur die kolkende modderwater moes beur, haar stert angswekkend na links geswaai. Ek was oortuig die motor gaan in die rivier beland, met my binne-in. Maar met groot moeite kon ek die neus van my motor weer teen die aankomende stroom water instuur. Net om te sien dat die laagwaterbrug onbegaanbaar was.

      Drastiese uitdagings verg drastiese stappe en ek was reg vir die toets van alle tye. Teen ’n klipperige opdraande uit het ek die Lancia gemaneuvreer om op ’n gelykte buite bereik van die stromende rivierwater te kom. My Italiaanse skoene het ek netjies op die sitplek langs my gesit, ingeval die water onder die deur insypel en die vorm van die skoene onnodig verander. Gelukkig was dit my dag vir ’n kort rompie, welis­waar ietwat aan die nou kant, maar ver beter as ’n langbroek.

      Oor die brug, deur die dik laag rooi modder, met die rivier wat om my bobene raas, het ek gebeur, my hare ’n nat mop om my gesig en my tas ’n baie swak sambreel om darem genoeg reën uit my oë te hou om die oorkantse oewer te sien.

      Eers in die huis, was my verligting groot toe ek al die koppe tel: die honde, katte, kinders en man was almal veilig, die skape in die kraal. Almal was natuurlik wagtend op die Ma van die Huis vir diverse vreugdes soos pannekoek en Vet’s Choice.

      Regdeur die Vrydagnag het die reën op die teëldak geklater tot ek teen vieruur uiteindelik ingedommel het. Sonskyn en vrolike voëlliedjies toe ek wakker word. Gerard was op die trap, op pad na ons kamer, en ek kon koppies en teelepels hoor klingel.

      “Vrou.”

      My oë was nog wasig van die slaap en my ore nog ingestem op reën.

      “Vrou.”

      Was ek nog net deur die blare, of was daar ’n noot van effense histerie in Gerard se stem?

      “Vrou. Drink jou koffie. Moenie opstaan nie. Moet veral nie ondertoe gaan nie. DRINK EERS KOFFIE!!!”

      Wat my ná twee sterk koppies koffie sou begroet, was die gevolg van die ligging van ons popspeel- A-raamhuisie ten op­sigte van die skaapkraal. Laasgenoemde was naamlik 50 meter van die huis teen ’n steilte gebou en dus sowat vyf meter hoër as die werf. En die huis.

      In die Nag van Reënvloede het die vloerbedekking van die skaapkraal – met ander woorde, mis, mis en nog mis – afgespoel na ons huis. Só sterk was die strome water wat binne ’n uur teen die afdraand afgevloei het dat mis, gras, takke en blare die dreineringstelsel rondom die huis verstop het. Daar­na het die geurige mengsel in verstommende hoeveelhede onder die deure ingesypel. Die sit- en eetkamer, matte en al, was ’n pappery


Скачать книгу