Kraak. Rouxnette Meiring

Kraak - Rouxnette Meiring


Скачать книгу
sy park vlieg, doen dit om die tuin te bewonder, nie om op ||Hui !Gaeb te spioeneer nie – volgens hom is dit die enigste kleurvolle park wat in Chinafrika oor is. Droogte kleur die vasteland in skakerings van dorheid.

      “Zăo shang hăo!” roep ’n stem agter ’n bos proteas uit.

      “Shaka!” skrik ek.

      Meneer Mkhatywa se seun lê op sy rug tussen die blomme.

      “Moet jy nie in die studiesentrum wees nie?” vra ek soos ’n kluit.

      “Wie – ek of jy? Seker jy, want ek studeer op my eie. Ek bestudeer byvoorbeeld nou hierdie protea.” Shaka trek sy gesig op ’n ernstige plooi.

      “Ja, reg. Lekker lewe wat jy het. Maar verskoon my, ek is op pad na my ma in die droomhospitaal.” Ek klink seker soos ’n karakter uit ’n sprokie.

      “Vra haar om groete te sê vir my ouers. Hulle droom ook.” Hy sê dit so saggies, ek hoor skaars.

      “Wat sê jy? Ek dog meneer Mkhatywa is …” Ek het begin wegstap, maar draai om.

      “My oupa. En my ouers se liggame het uit die droomhospitaal verdwyn. Nou weet jy meer van my as die res van ||Hui !Gaeb.”

      “Hoekom vertel jy dit vir my?”

      “Want jy lyk soos my gunsteling-meermin.” Hy lê met sy arms agter sy kop gevou en hou my met skrefiesoë dop.

      My mond gaan oop en toe soos ’n vis … of ’n meermin s’n.

      “Hier’s nog ’n stukkie inligting. Die koepel is besig om te kraak,” sê hy op sy droë manier.

      “Shaka, ek’t nie tyd hiervoor nie.” Die kind speel met my. Hoe oud is hy – veertien? Sy kop is so kaal geskeer soos Mohlomi s’n en ek moet erken hy is baie aantreklik en goed gebou, al is hy nog so jonk – op ’n ander manier as Kaleb, maar steeds … Hy weet dit seker, dié dat hy so kordaat is met ’n ouer meisie wat hy nie ken nie.

      “Ek en my rekenaargids weet meer as die Geo-ingenieurs van hierdie stad. Of ek is eerliker daaroor. En my eksperimente is nie net via rekenaars nie.” Hy haal ’n meetinstrument om sy nek af en laat dit soos ’n pendule voor hom swaai. “Ek was daar op die berg naby die kraak. Eerstehandse ervaring.”

      “En jy vertel my dit alles omdat …?”

      “… Jy soos my gunsteling-meermin lyk, en omdat ek wil hê jy moet saam met my kom. Ons is geneties gesproke gemaak vir mekaar.” Hy knipoog.

      Mdisi! Ek weet ek moet eintlik net padgee, maar ek vra: “Saam waarheen?” Sy oë is intelligent soos sy oupa s’n.

      Hy hang die instrument terug om sy nek. “Ek’s besig om ’n seeboot gereed te maak. Ek gaan deur die koepel se gragpoort vaar … met jou aan my sy. Toe, dit sal !kaba wees.”

      “Lekker dag, Shaka.” Ek stap vinnig weg.

      Die hospitaal staan wit en koepelvormig aan die ander kant van die Kinderhuispark. Dit sou aanvanklik op die kinderhuisgronde gebou word, maar die hoof het gevoel dit sal die kleiner kinders in die versoeking bring om snags uit die bed te klim en na hul ouers te gaan.

      Ek kyk op na die derde verdieping, waar Mamma in die kamer lê wat uitkyk op Seinheuwel en Kinderhuispark … ’n hospitaal waar sy dikwels vir ander mense gaan kuier het voor …

      Wie de mdisi? Daar is ’n figuur by haar venster. Iemand met wit klere aan, wat normaal is vir die dokters en susters. Maar hy of sy beweeg op ’n vreemde manier – arms met die kenmerkende stadige aksie wat bedoel is om energievelde te skuif. Dis hoogs onwaarskynlik dat dit iemand op die personeel kan wees.

      Ek draf by die hospitaal se ronde voordeur in. Binne is dit lekker warm en sagte, strelende musiek speel in die wit voorportaal. Suster Tsonga kom dadelik uit haar kantoor en haar simpatieke, warm oë laat my soos gewoonlik kalmer voel.

      “Hallo, Kara. Af-periode?”

      “Soort van. Geneties begin oor ’n uur, so ek het nie baie tyd nie. Is daar op die oomblik iemand by my ma?”

      “Nee, niemand nie. Jy’s welkom om op te gaan. Sy’s baie rustig vandag, geen onstuimige drome nie. Goeie eetlus.”

      Die hysbak se deure skuif oop op die derde verdieping. Iemand in wit doktersklere kom by my ma se kamer uit, draai in die ander rigting en verdwyn om die hoek.

      “Verskoon tog!” Ek hardloop agterna, maar die hyser ’n paar chi verder het reeds toegegaan. Die liggies wys na vier verskillende vloere gelyk. Wie dit ook al was, wou nie met my kontak hê nie … Ek moet dit dalk aanmeld, maar wat kan ek nou eintlik sê? Niks wat sin maak nie. En ek het so min tyd voor my volgende klas.

      Dan’s ek langs Mamma se bed. Haar hand is warm.

      “Mamma.”

      Geen binne-aarse voedingspypies, geen drup, net die breingolfmonitor wat bevestig dat sy rustig slaap. Wanneer iemand haar regop laat sit en kos voor haar hou, sal sy eet, net soos sy sal lyfgerief toe gaan wanneer nodig.

      Ek vee ’n donker haarsliert van haar voorkop af.

      “Kom terug, Mamma. Kom tog net terug.”

      Ek mis dit so om in haar oë te kyk wanneer ek met haar praat, te sien hoe sy verstaan. Te voel hoeveel sy omgee, hoe lief sy my het. Is dit hoe dit voel om groot te word? Om hierdie soort behoeftes te moet laat gaan, dit nie meer nodig te hê nie?

      Die heldergeel budjies in die groot hok langs haar bed begin tjirp.

      “Hei, Sonskyn en Sonskyn.” Ek het lank gesmeek voor hulle my toegelaat het om die hok hier in te bring. Troetelvoëltjies word net onder lisensie toegelaat en daar is baie streng inspeksies in ||Hui !Gaeb, ook wat die grootte van die hok betref. Die voëltjies se vrolikheid het Mamma altyd gefassineer. Dalk help hulle haar om wakker te word.

      Ek maak die hok skoon. Ek’t altyd geglo dat dit nie reg is om lewende wesens in hokke aan te hou as hulle bloot vir jou vermaak daar is nie. Maar hulle is so in hokke gebore en dis al manier hoe hulle nog sal oorleef – as hulle per ongeluk by die koepel uitkom, sal hulle ’n aaklige dood sterf. Die aarde het ’n gevaarlike plek geword vir die meeste soort voëls.

      “Is dit wat met jou gebeur het, Mamma? Het jy verdwaal toe jy uit jou lyf probeer kom het, soos uit ’n hok? Wie was nou net hier by jou? Iemand wat jy ken?”

      Maar daar is geen reaksie nie. My ma slaap.

      Moet ek vir suster Tsonga iets sê oor die besoeker?

      In die verte lui die studiesentrumklok vir die volgende periode.

      7

      Mohlomi en Kaleb is in ’n dodelike stryd gewikkel. Ek ontspan my vuiste toe ek besef my naels sny in my hand in. Die ding is twee keer so groot soos Kaleb en storm met ’n gebulk op hom af. Sy kakebeen beweeg asof hy herkou.

      Agter Kaleb staan Mohlomi met ’n grynslag. Hy’t dit reggekry om die ding op sy teenstander af te stuur. Kaleb se fopswaard flits in die vreemde lig van die multidimensionele spel. Die ovaalvormige gedierte hap na hom en sy agt harige pote trap ontstig rond. Kaleb skerm en val aan. Hy probeer met sy skermswaard teen die dopagtige lyf druk, maar dit is so vol haarstekels, dis moeilik om naby genoeg te kom.

      “Watse soort ding is dit?” vra iemand langs my. Dis ’n onplaasbare aksent.

      Dan sien ek dis die lang, donker meisie wat van vanoggend af in ons skool is. Haar oë het ’n eienaardige trek, sy lyk beslis nie ||Hui !Gaebs nie en sy vra dom goed.

      Haar oë is vasgenael op die toeskouerglas wat ons van die speelarea skei en daar is ’n frons tussen haar strepiedun wenkbroue.

      “Dis stofmyte. Hulle is normaalweg so klein dat tien


Скачать книгу