Kraak. Rouxnette Meiring
Ek hoop sy is vir hom net ’n verantwoordelikheid en niks meer nie.
Amber en Mohlomi gesels diep. Ek kan agterkom Kaleb hou nie daarvan dat hulle saam stap nie.
“Los hulle, sy kom met almal reg,” keer ek voor hy dalk iets kwytraak en Mohlomi weer verkeerd opvryf.
“Dis juis wat my pla,” brom hy en pluk ’n suring. Sy oë volg ’n berglyster wat ’n entjie verder op ’n rots gaan sit.
“Het jy geweet Sophia en Amber se ouers was kollegas?” vra ek.
“Nee. Ek weet niks van Sophia nie.”
Die leeu van Leeukop troon bo ons uit.
Kaleb wys oor die stad na die rug tussen Duiwelspiek en Tafelberg: “Iewers daar is die oorspronklike Nefertiti-klip. Onthou jy wat hulle ons vertel het van die gesigte van die Egiptiese godinne en die son …”
Mens kan dit nie sien van so ver af nie. Hulle sê ’n argeo-astronoom het lank gelede baie spesifieke merke op klipgesigte in die berg en op Leeukop gekry, en hy kon dit dateer uit die tydperke van die Egiptiese piramides en Stonehenge. En met die wintersonstilstand skyn die son glo op ’n sekere tyd van die dag mooi netjies in die regteroog van ’n Nefertiti-gesig wat uit die klip gekap is.
Nou sien ek skielik hoekom Kaleb van die Nefertiti-klip praat. Voor ons langs ’n rots staan ’n houtafbeelding van die gesig.
Mdisi! Sy’s pragtig, fyn … Egipties.
“Ons is hier,” sê Amber.
Amber, Mohlomi en Shivani is nou langs ons. Dalk verbeel ek my, maar ek kan sweer Mohlomi se gesigsuitdrukking verander, versag effens, die oomblik toe hy die Nefertiti-beeld sien. Ek kyk te laat weg en toe hy sien ek kyk na hom, lyk hy verleë.
“Wat nou? Hier beter darem iets gebeur in ruil vir die moeilikheid wat ons gaan kry as ons uitgevang word,” sê hy skielik aggressief.
“Is jy bang vir moeilikheid?” vra Kaleb skoorsoekend.
Voor Mohlomi daarop kan reageer, is daar ’n skraapgeluid en ’n beweging agter die Nefertiti-beeld. Dis Sophia. Sy dra vandag ’n fynbosgroen grasrok en lyk bekommerd.
“Kom gou, julle word agtervolg.”
Ons kyk geskok om, maar daar’s niemand.
Amber loop na die opening agter die beeld. ’n Natuurlike naat in die rots verdoesel die perfek uitgesnyde klipdeur wat na regs oopskuif. Dis die tweede keer in ’n kort rukkie dat ek my fobie vir donker, ondergrondse plekke sal moet oorkom. Ek wag tot almal in is.
“Kom jy?” vra Sophia. Haar stem is ongeduldig, maar haar blou oë simpatiek. Net voordat ek my moet oorgee aan die donkerte, kyk ek vir oulaas om na die lig. Ek hoor hoe die klipdeur begin toeskuif. Op ’n rots ’n ent onder ons kan ek Vega se profiel uitmaak.
Sophia trek my binnetoe voordat ek deur die klipdeur vergruis kan word. My keel trek toe in die oorweldigende koue, stikdonker klamheid.
Dan is daar lig. Talle fakkels brand teen die wande van die rotssaal, wat lyk of dit oneindig ver strek. My oë soek na uitgange.
Mohlomi, wat meestal verveeld rondhang, lyk half uit die veld geslaan. Kaleb kyk na my en lig sy wenkbroue. Shivani frons. Sy hou nie daarvan om onder iemand anders se beheer te wees nie. Dan gee sy my ’n beskuldigende kyk. Dink sy wraggies dis my skuld dat ons hier is?
Net Amber lyk kalm, asof niks gebeur het wat sy nie verwag het nie.
“Ek is jammer as ek julle laat skrik het,” weerklink Sophia se stem in die grotsaal. “Dit was nie die bedoeling nie, dis net dat dinge … ons tot ’n mate vooruitgeloop het. Darem nie heeltemal onverwags nie.”
“Ek het niemand gesien wat ons volg nie,” sê Mohlomi agterdogtig. Sy oë soek die ingang waardeur ons gekom het, maar dis onmoontlik om die deur in die rotswand te sien.
“Ek het.” Ek voel verplig om Sophia te verdedig. “Dit was daardie nuwe meisie – Vega.”
“Dis onbelangrik wie dit is,” sê Sophia. “Wat belangrik is, is dat julle hier is.”
“Waarom kan Vega nie ook inkom nie? Ek hou van haar.” Shivani lig haar ken uitdagend. “Ons is vriende.”
So gou? Ek onderdruk die onredelike gevoel dat Shivani my bitter vinnig vir ’n nuwe vriendin ingeruil het.
“Dit mag wees,” antwoord die vrou rustig. “En jy kan vriende wees met wie jy wil. Maar dit neem langer om te weet of jy iemand regtig kan vertrou, veral as jou intuïsie nog nie sterk genoeg ontwikkel is nie.”
Dit kan jy weer sê. Sophia moet besef ons ken haar ook sleg, so ons het net so min rede om haar te vertrou.
Shivani kyk nukkerig weg.
“Wie’s hulle?” vra Kaleb en wys met sy vinger na twee figure teen ’n fakkellose wand.
Ek is seker hulle was nie netnou al hier nie, ek het dan die hele grot deurgekyk om te probeer uitmaak hoe groot my ondergrondse nagmerrie regtig is.
Twee mans sit met gekruisde bene buite die ligkol van die verste fakkel, en dit lyk of hulle besig is om te mediteer. Die een is klein en baie skraal en sy kop is kaalgeskeer. Hy dra ’n grondkleurige kleed wat op sy een skouer geknoop is. Van hier af kan ek nie agterkom of sy oë oop of toe is nie. Die ander man is heelwat ronder en sy donker hare hang tot op sy skouers. Iets blink voor hulle en dan besef ek dis ’n ondergrondse poel water. Maar die water is nie stil nie. Dit trek my op ’n manier nader en ek loop soontoe.
Op twee plekke is daar ’n versteuring in die water wat klein golfies veroorsaak. Ek kyk op – daar is twee druipstene van waar water drup. Ek staar byna gehipnotiseer na hoe die golfies uitkring, op mekaar reageer en nuwe patrone maak.
“Dit is Hari en Bhadanta. Moenie hulle steur nie. Hulle is al vir drie dae in diep meditasie. As hulle tot enige relevante insigte kom wat julle raak, sal ek daarvan weet,” vertel Sophia ons.
“Bedoel jy hulle droom?” vra Kaleb.
“Nee, hulle mediteer. Jy weet mos daar is ’n groot verskil. Kry asseblief ’n kussing teen die muur en sit solank.”
Die vrou wys na die rotswand waar ’n klompie kussings aan hake hang. Watse plek is hierdie? Ek besef sy praat met my ook. Behalwe vir ons eie voetval, en water wat drup, is dit doodstil in die grot. Geen geluide van buite bereik ons nie. Ons het nie polsers saamgebring nie, sodat die stadsraad ons nie kan volg nie, en niemand daar buite sal ons ooit hoor roep nie.
“Solank ons nie ook kruisbeen hoef te sit en op ’n golflengte in te zoem nie,” brom Mohlomi.
“Dis jammer dat hulle opgehou het om julle op skool in meditasie te onderrig – selfs julle joga is net fisies. Dis een ding om formele soorte godsdiens te verbied, maar iets anders om vir jongmense spirituele dissipline aan te leer. Veral vir iemand met soveel potensiaal soos jy, Mohlomi.”
Die kyk wat hy haar gee, sou die meeste mense onveilig laat voel het. “Ja, so wat is die verskil, hoekom moes hulle nie jou dissipline ook verbied het nie?” vra Mohlomi.
Hy wil nie regtig weet nie, hy soek net skoor, ek kan dit sien.
“Godsdiens bring verdeeldheid, veroordeling en oorlog. Spirituele dissipline is persoonlik en aanvaar almal – die gees is in jou, nie in ’n boek of ’n gebou nie.”
“Ook nie hier in jou spirituele spelonk nie?”
Sophia ignoreer hom en draai na die res van ons. “Weet julle dat ||Hui !Gaeb amper voortgegaan het met die genetiese manipulasie van die empatie-gene?”
“Ek dog genetiese manipulasie is teen die wet, behalwe om lewens te red?” vra Shivani.
“In die proses van geestelike evolusie het mense in ||Hui!Gaeb soveel empatie met ander begin ervaar dat hulle in depressie verval het. Die stad moes kies –