Kraak. Rouxnette Meiring
gedink ek kan ’n sterk opinie van my eie hê nie.
“Dis nie net die verlede waarmee die stadsraad ons bang maak nie, dis die toekoms ook, Shaka! Die mense wat so aan die slaap raak – en jy weet my ma is een van hulle – maak die stadsraad op hulle beurt baie bang, want hulle verstaan dit nie en kan dit nie beheer nie!” Haar wange is rooi, ek dink sy’s kwaad oor wat ek van die slapende mense gesê het, ek’s regtig ’n kik.
Ek sal iets moet sê wat my minder na een laat klink. “Dis seker swaar om jou ouers te verloor. Ek was te klein, kan hulle nie eers onthou nie, en hulle het mos … fisiek verdwyn.”
Sy sê niks, kyk net na haar vingernaels.
“Is dit waar dat jy toegang het tot die aardnet?” Nou dís ’n goeie vraag, Kaleb. Een van die min sedert julle hier aangekom het.
“Ek het toegang, maar hoe ek dit doen, kan ek julle nie sê nie.”
“Ons hoef nie te weet nie, sê ons net dít: Wat gaan ons nodig hê om buite die koepel te oorleef? Ons sal dalk ook moet reis. Ver reis.”
“Hoekom ver?”
Die twee kyk na mekaar. Nou moet hulle seker besluit of hulle hul geheimpies met my ook kan deel en of dit net ’n eenrigting-gunsie gaan wees dié.
“Iemand met baie wysheid – spirituele wysheid, nie slimheid nie – dink ons gaan antwoorde op die pad tot in Egipte kry. Antwoorde oor wat ons moet doen om ons ouers wakker te kry. En onsself, as dit met ons begin gebeur. Insig deur die ontberings van die reis of so iets.” Kara kyk nog na haar vingernaels terwyl sy praat. Ek beter iets sê om haar op te beur.
“Goed, ek sal ’n bietjie dink en soek en jou laat weet. Maar ons kan nie pols nie, dis gevaarlik. Ons sal mekaar weer fisiek moet sien.” Ek kyk reguit na haar, hoop sy verstaan ek verkies dat dit net ek en sy is.
Maar dis Kaleb wat antwoord. “Dankie, ons sal weer hier kom inloer oor ’n dag of wat.” Hy stuur Kara aan haar skouers deur toe. Sy lyk of sy wil huil. Dis hoekom ek liewer telepaties moet gesels. My mond sê altyd die verkeerde goed.
10
In die grag weerkaats die kleurvolle baniere en plakkate van die Vryheidsfees, vroliker en meer uitspattig as verlede jaar, maar die koepellug lyk dynserig en onheilspellend. My hand maak waterpaadjies in die Buitengrag terwyl ek skuins in die gondel oorleun. Shaka lyk oulik met sy gondelierspet. Hoe het hy dit reggekry om oom Diekie te oortuig dat hy sy werk vir die oggend kan oorneem? Kaleb lê agteroor met sy mooi oë toe …
Ons vaar langs die feesorkes verby. Amber sit regs voor met haar tjello in ’n klankwêreld van haar eie. Die dirigent swaai verniet sy stokkie in haar rigting. Dit moet hom irriteer dat sy nie na hom kyk nie, maar Amber het my al vertel sy voel sy bewegings aan en hoef nie te kyk nie. Dit bly ’n teer sakie tussen hulle. Hulle speel ’n mengsel van baie ou musiek en ||Hui !Gaeb se nuwe komposisies. Dit laat my nostalgies voel – ek verlang na dinge wat ek nie eers ken nie.
Iets torring aan die uithoeke van my bewussyn. Simpatiek, intelligent, iets naby my, wat kommunikeer …
Ek kyk op en sien Shaka hou my dop, geamuseerd. Hy knik met sy kop in Kaleb se rigting. Ek sien nou Kaleb maak of hy slaap maar sy oë beweeg onder sy toe ooglede. Hy lê en luister waaroor ons praat.
Dis skielik vir my ook snaaks en ek sê, “Sj …”
“Kom nou, Kara. Ek is seker Kaleb slaap, ons kan maar gewoonweg praat asof dit een van ons nagtelike ontmoetings is,” sê Shaka.
Ek frons – het darem nie bedoel hy moet van goed soos nagtelike ontmoetings praat nie.
Kaleb se ooglede fladder nog meer. Ek byt op my onderlip om nie te lag nie.
Shaka hou aan: “Ek het ’n maklike manier om uit te vind of mense slaap. Dis ’n capp wat ek ontwerp het. As iemand slaap, doen dit niks, maar as hy maak of hy slaap, is dit uiters pynlik …”
Kaleb wip regop in die gondel. Ek en Shaka lag hardop.
“Welkom terug, broer. Ek’t gedink ons moet dalk begin praat, dan kan ek jou aflaai sodat ek en Kara privaat oor ons seereis kan gesels.”
Kaleb kyk van hom na my, nie seker of Shaka dalk tog ernstig was nie.
“Hy speel net, Kaleb. Maar dis waar, ons moet praat, daar is nie baie tyd nie,” sê ek.
Hy ontspan en maak ’n vingerbeweging wat sy polser aktiveer. “Goed, Shaka, wat sou jy sê het ons nodig as hierdie koepel ingee?”
Shaka hou op roei en kyk eers om hom. Die geraas van die fees maak dit moeilik om selfs mekaar te hoor. In Weeslaan kom die stadsraad op hul oop sweefkar af en wuif vir almal.
Shaka lig sy pet en maak ’n sit-buiginkie. Hulle sal dink dis uit respek, maar ek en Kaleb weet van beter. Hy is vir my verskriklik snaaks en ek kan nie glo hy is ’n paar jaar jonger as ek nie.
“Daar is nou ’n ding wat julle goed sou kon gebruik, afhangende van hoeveel kinders julle moet saamsleep. Maar sover ek weet, is dit die enigste sweefkar in ||Hui !Gaeb. Die stadsraad voel dis ’n onnodige luukse vir sy burgers.”
“Hoe sou ons in elk geval daai ding gelaai hou?” vra Kaleb.
“Ag, die laaiers en omskakeling werk so goed, jy sal geen probleem hê in die son buite die koepel nie.”
“Mdisi, maar dit sou ’n lekker ding wees om te gebruik – die owerste van alle swewers!” Kaleb se oë blink by die gedagte. “Ons kan dalk hulle s’n leen, dis tog vir ’n goeie doel.”
Ek en Shaka lag vir hom.
“’n Ander ding wat julle goed kan gebruik, is een van die Stadsraad se drone – om plekke vooruit te gaan verken, veral gevaarlike plekke,” sterk Shaka Kaleb in sy kwaad.
“Vergeet dit. Ek weier dat ons goed vat wat nie lewensnoodsaaklik is nie,” keer ek voor hulle te opgewonde raak oor al die speelgoed.
“Maar ’n droon kan lewensnoodsaaklik …” begin Kaleb.
“Kaleb!” Ek weet ek klink soos matrone by die kinderhuis, maar dit werk. Hy los dit.
Toe ons onder die volgende brug deurgly, staan oom Diekie op die wal en waai aggressief met sy sakdoek vir ons. Hy skree iets, maar ons kan hom nie hoor nie. Ek besef Shaka het wraggies nie eers sy toestemming gehad nie!
“O dias, hy is al terug!” Shaka beduie vir die oom dat hy net daar voor op die hoek van Wees- en Langgrag sal omdraai. “Kayo. Hier’s wat julle nodig het, en ek moet gou praat of oom Diekie pols my oupa.”
Hy begin ’n lys items opnoem. Gelukkig registreer Kaleb dit dadelik op sy polser, want hy praat te vinnig vir my om alles in te neem. Waar kry ’n mens daardie goed? Ons sal die stadsraad se stoorkelders moet besteel en daarvoor sien ek nie kans nie! Maar Kaleb lyk opgewonde oor alles wat hy moet bymekaarmaak. Vir my voel dit nog onwerklik – die idee dat ons hierdie veilige stad moet verlaat, ’n stad waar absoluut niks fout is nie. Wel, niks behalwe vryheid en die helfte van ons ouers aan die slaap nie. Verder het ons alles.
Toe die gondel voor oom Diekie vasmeer, spring Shaka nonchalant op die wal en begin die oom paai met allerhande praatjies. Kaleb help my uit en ons probeer so gou moontlik wegkom – bewoners van die kinderhuis beland baie makliker in die moeilikheid as jongmense wat by hulle ouers bly.
Ek hoor hoe Shaka my roep, maar Kaleb neem my arm en stuur my vorentoe. Ek kyk om. Hy staan nog langs die gondel met sy hande in die lug asof hy vra: Wat dan van ons twee en die bootreis?
Dit laat my meteens vreeslik hartseer voel.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст