Kraak. Rouxnette Meiring
regte besluit om lyding te probeer uitwis – wat is jou probleem daarmee?”
“Hulle het dit oorweeg om die mens se empatie-gene te onderdruk om ’n funksionele stad te behou. Hulle kan so iets weer oorweeg as ons optrede hulle bekommer.”
Ons praat nou almal gelyk.
Mohlomi begin aggressief heen en weer loop. “Jy probeer ons opsteek teen die stadsraad wat nog altyd vir ons gesorg het. Hier was geen oorloë of hongersnood of arm mense in ||Hui !Gaeb vir so lank as die meeste mense kan onthou nie. Maar jy wil ons oortuig hulle gaan ons in monsters verander!”
Sophia glimlag. “Dis moeilik om tot enige insigte te kom met gedagtes wat rondspring soos jong apies. Dis belangrik dat julle stilte leer ken, Mohlomi – stilte maak ’n mens sterk. Kom sit.”
Hy brom iets onhoorbaars, maar gaan sit darem.
“Ek het julle hierheen laat kom omdat ek nodig het om met julle te praat sonder dat daar dalk iemand is wat ons kan hoor. Wat ek wil sê, is belangriker as wat julle op hierdie oomblik sal verstaan. Dit gaan oor meer as die voortbestaan van ||Hui !Gaeb en die koepel. Dit gaan oor die voortbestaan van die mens soos wat hy bedoel was om voort te bestaan binne sy optimale potensiaal. Vir die diere en die plante en die klippe van die aarde het ons nou gedoen wat ons kon. Julle is die werklike graalsoekers, die ontdekkingsreisigers, nie grootmense soos Lohengrin met sy verstokte idees en miskonsepsie dat hy die lig vir die mensdom gaan bring nie.”
“Seker. Jy’t die regte ouens beet – die graalsoekers of watookal. Ons sal jou help, ons met ons apie-breine,” mompel Mohlomi.
“Natuurlik is daar ’n goeie rede waarom ons juis vir julle uit die kinderhuis gekies het. Geneties en andersins het julle al die potensiaal. Ons het natuurlik ons navorsing gedoen en met baie van julle ouers het ek ’n persoonlike band gehad.”
“Wie is ‘ons’ wat gekies het? Jy en Blessie en Haarie?” vra Kaleb en loer na Hari en Bhadanta.
Mohlomi glimlag – hulle kan darem mekaar se humorsin waardeer.
“Dit maak nie nou saak nie. ||Hui !Gaeb gaan haarself vernietig, dalk gouer as wat ek dink. Julle moet gereed wees daarvoor. Julle moet soveel moontlik van die kinderhuiskinders saam met julle neem en na die noorde trek.”
“Noord trek met ’n klomp kleintjies, is jy laf?” Mohlomi spring op. “Wat van die atmosfeer? Ons weet nie eers of ons kan asemhaal buite die koepel nie. Wat van die temperatuur, wat as alles giftig is?” Sy oë soek weer na die uitgang.
“Dalk so ver noord as Egipte.”
Nou staar hy net na haar. Ons het grootgeword met die idee dat die koepel die enigste veilige vesting op aarde is. As jy hier uit beweeg, is niks gewaarborg nie – nie eers suurstof nie.
Vir die eerste keer voel ek nes Mohlomi. “Sophia, dit klink absurd. Verduidelik asseblief vir ons waarvan jy praat. En hoekom ons?”
“Julle het ’n ekstra dimensie, persoonlikhede met ietsie van ’n los atoom. Dit is moeilik om te verduidelik …”
Dit lyk of sy besef sy is nou besig om met haarself te praat, en ek is seker nie een van ons verstaan heeltemal wat sy sê nie.
“Ons is sestien jaar oud, Sophia!” Ek voel soos wanneer ’n som te moeilik is, maar ek weet ek moet dit probeer doen. Weet sy hoe bang is ek vir donker plekke? Weet sy hoe min is Amber se voete op die aarde?
“Maar julle sal jul vrese moet oorkom. Elkeen se vrees is anders. Wees eerlik met jouself. En onthou, dis nog moeiliker as om eerlik te wees met ander mense.”
“Jy sê ons moet die kinderhuiskinders saam met ons vat,” kom dit van Mohlomi. “Noord beteken woestyn-in – net om seker te maak ons is op dieselfde, e … golflengte.”
Sophia se blik verskuif. “Amber sal weet. Volg haar.”
Kaleb sê niks langs my nie, maar ek weet wat hy dink: dat Amber nie eers weet wat om haar aangaan nie.
“Waar gaan jy wees as ||Hui !Gaeb haarself vernietig?” praat Amber vir die eerste keer.
Ek verbeel my ek sien hartseer, of dalk spyt, deur Sophia beweeg. Sy lyk weerloos en ek wonder of sy ’n man of ’n kind het – ek moet tog onthou om Amber te vra.
Maar dalk hét ek my verbeel, want die volgende oomblik is sy weer prakties en in beheer.
“Ek is nie seker of ek deel is van die toekoms nie. My rol sal moontlik uitgedien wees wanneer die groot ontwaking plaasvind.”
Ontwaking?
“Dit lyk asof die gedagtewêreld ons fisieke wêreld begin oorneem. Bedoelings, idees en gedagtes raak belangriker as dade. Hulle word stadigaan onlosmaaklik verbind. Dit kom basies daarop neer dat die mens al hoe minder kan wegsteek. Wat jy dink, begin manifesteer.”
Energie volg aandag. Meneer Zeelie het dit in die kwantumfisikaklas gesê.
Ek het soveel vrae dat ek nie weet waar om te begin nie. Die ander voel seker dieselfde, want hulle staar Sophia aan.
Ek maak my keel skoon. “Jy praat van ontwaking. Bedoel jy ons ouers gaan wakker word?”
“Dis nie noodwendig wat ek bedoel nie, Kara, nee.”
Die verwagting wat jy omtrent met ’n mes kon sny, syfer amper sigbaar uit ons uit. Almal kyk weg, of af. Die stilte raak ongemaklik. Nie een van ons is opgewonde oor haar planne nie. Selfs nie Amber nie.
“Wat van die luglande? Is hulle nie aan die voorpunt van evolusie nie?” Ek onthou die perfekte lywe wat ek by die verbode mark gesien het.
“Die mense in Lug-Eurasië het hulself al so geneties gemanipuleer, dit is moeilik om te weet wat nog ‘menslik’ is. En die lugland-koloniste wat daar aangekom het, is nie mense nie. Hulle is ander wesens as ons. Onthou dit. Maar ons tyd raak min.”
“So wanneer is mense ‘mense’?” vra Mohlomi en ek vermoed hy wil weer nie regtig weet nie; hy is net sarkasties.
“Dis die antwoord wat jy hopelik gedurende jou reis sal kry.”
“As ||Hui !Gaeb haarself gaan vernietig, soos jy sê, beteken dit ons ouers se liggame sterf saam met die stad.” Ek hoor my stem bewe. “Ek weet nie of ek dan verder wil lewe nie, wat nog te sê noord trek deur ’n woestyn …”
“Ek verstaan hoe jy voel, Kara. Maar behalwe dat ons simpatie het met julle, het ons ’n praktiese rede om julle ouers lewendig te hou. Dis absoluut noodsaaklik vir ons spirituele navorsing. Daar is reeds planne in plek vir julle ouers, maar dis beter om dit nie met julle te deel nie – die stadsraad mag snuf in die neus kry en julle dwing om te praat. Ons wil julle ouers se liggame na veiligheid neem. Ongelukkig kan ons plan nie julle en die ander kinders insluit nie, dis hoekom julle vir julself moet sorg.”
Almal is ’n ruk lank doodstil. Ek vermoed wat my vriende dink: Ons moet haar maar glo oor ons ouers en hoop dis die waarheid – wat anders kan ons doen?
“Gaan jy vir ons sê waar ons ouers se liggame veilig gehou gaan word?” vra ek.
“Ongelukkig nie. Iemand mag die inligting uit julle kry. Al wat ek kan sê, is dat dit ver noord gaan wees – in die rigting waarin julle moet loop.
“So kry ons geen aanwysers of raad of iets nie – wat van ’n polsskyfie?” vra Kaleb.
“Handleidings word dikwels verkeerd verstaan. Mense lees verskillende goed in dieselfde woorde. En handleidings raak te rigied wanneer tye en situasies verander. Op die ou end is dit die ontberings op jou reis wat die insig bring.”
“So ons moet bietjie pyn en lyding gaan ervaar en jy stuur ons daarheen met wat – niks?” hou Kaleb aan.
“Nie met niks nie, maar met iets wat julle reeds het. Julle hoor almal ’n stem binne julle. ’n Stem wat jou roep of jou waarsku.” Sy kyk na ons, een vir een, asof sy ons wil uitdaag om van haar