Louisa du Toit Omnibus 12. Louisa du Toit
As ’n los mat se punt omgeslaan was, kan jy weet Babs het daar geloop. Dit slaan vonk uit die verlede, maak herinneringe los. Altyd was Babs maar daar, ouer, wêreldwyser, iemand om te probeer nadoen, iemand wat met ’n ou mag gaan fliek, wat mag grimeer, hoewel net liggies. Hulle ma glo aan gedempte grimering, behalwe miskien ’n helder lipstif. Magreeth Rabie is trouens ’n gedempte vrou, wat in die niet kan staar sodat Brenda wonder of sy aan haar seuntjie wat toe nooit gebore is, dink.
Net vir kleur in haar klerekas is sy baie lief – veral die warm tinte: “Always bold, never mellow.” Sy weet veral hoe om kleure te meng, met klem op die vyf en twintig persent “surprise”. Nartjie oorkrabbers by ’n kobalt bloes is nie vreemd nie.
Tiny sal soms tergend sê: “Gaan vra vir die kleurwiel hoe laat ons eet.”
“Die lewe is vaal genoeg,” verdedig Magreeth dan.
Nie dat haar lewe of huwelik vaal is nie. Daar kom altyd ’n lig in haar oë as sy vir Tiny sien of hoor inkom. Gaan hom buite inwag sodat hulle gearm vanaf die garage inkom, hy met verweerde leertas in sy los hand. Gesels land en sand, oor die grootste kleinighede. Niks het bestaansreg voordat sy hom dit meegedeel het nie. Toe Tiny op die randjie van ’n hartaanval was, het sy hom terug na gesondheid getroetel. Hulle is nog ’n romantiese paar, insover ’n mens se eie ouers vir jou romanties kan lyk. Moet Tiny op die pad gaan en hy kom nie op die afgesproke tyd tuis nie, raak sy vrou paniekbevange en wil na hospitale en polisiestasies begin rondbel – net om daarna sy motorligte te sien indraai.
Maar dit daar gelaat. Terwyl sy Babs dus as ouer suster bewonder, het Brenda dikwels storietjies aangedra. Sy was ’n stertjie en stoornis in Babs se lewe. Tog was Babs die een wat haar met die matriekafskeid voorgelig, help aantrek en grimeer en soos ’n regte jong lady laat voel het. Magreeth moes maar terugstaan, toekyk en hier en daar intree oor veral “die tikkie kleur”.
Brenda staal haar. Sy weet nie wat om te verwag nie. Na die egskeiding was Babs nog glad nie weer op Dennedal nie, tot almal se kommer. Net enkele briewe en foongesprekke, wat eensydig oorkom.
Toe sy ook voorverlede week tydens die Paasnaweek wegbly, het die Rabie-ouers vermoed dat sy totaal alleen in haar nuwe “verblyfie”, soos hulle die onbekende nuwe tuiste noem, sit en krepeer. Sy kon ook kastig nie die langnaweek haar familie ontvang nie, indien hulle vir haar sou wou gaan kuier. Hulle moet verstaan, het sy gesê, dat sy ’n nuwe werk het en alles moet insit. Die paar los dae wil sy gebruik vir beplanning, die uitwerk van projekte, en om haar nuwe tuiste verder in orde te bring.
Dis veral gebruiklik dat hulle as gesin die gemeentelike Paasete op Vrydagaand bywoon, en verlede jaar was Babs en Tom nog albei teenwoordig. Dis hoofsaaklik oor hierdie breuk in samesyn dat Tiny Rabie die kwessie ’n week lank oorweeg het, om eergister, Sondagaand, te verklaar: “Sussa, jy pak jou tas en gaan na Babs toe. Sy moenie in hierdie tyd van haar lewe alleen wees nie.”
“Maar, Pa, die werk is nog agter na laas naweek,” het sy flouweg teengestribbel. “En dis môre Maandag. Pa weet die admin lê die fondament van die hele week.”
“Jy ry dan Dinsdag. Onyra Doorn kan môre inkom en jy wys haar alles. Sy het tog al voorheen kom help, veral aan die einde van die boekjaar. Sy is nie jy nie, maar sy is flink van begrip. Sy en Neels sal ook klaarkom. Die Doorns en die Mosterts was ou vriende.”
Dis waar, Lina Mostert en Onyra Doorn het dikwels gesamentlik een of ander dorpsprojek aangepak. Hulle het mekaar glo vanaf hulle studiejare geken. Nou werk mevrou Doorn in die kantoor van haar man se motorhawe en dit frustreer haar waarskynik. Haar dan maar die meevaller gun van uitdagender werk en beter vergoeding, al is dit net ’n tydjie lank? Sy was voorheen gretig en dankbaar. Leef en laat leef.
“So, ek moet dan my suster se babawagter gaan wees?”
“Jy kry betaalde verlof en ’n bonus. Maar jy gaan, Sussa. Dit maak nie saak hoe lank nie. Jy kyk dat Babs haar voete vind en haarself versorg en dat sy nie terneergedruk raak nie. Jy weet, ondervinding toon ’n egskeiding is ’n eie soort sterfgeval. Die dood van ’n vaste verbintenis.”
Sy het probeer om niks te wys toe Neels ter sprake kom nie, al het haar hart ’n ruk gegee. Of so het dit gevoel. Natuurlik gee ’n gesonde hart nie rukke en plukke nie. Sy moet nugter te werk gaan met hierdie verterende gevoel in haar. Maar sy kon as ’t ware Neels se nabyheid voel en sien. Die lang gestalte, effens slap sonder om lamsakkig voor te kom. Die vosserige voorkoms wat meer na ligbruin as donkerblond neig. Sy wimpers is donkerder as sy hare, en die digtheid daarvan wat die gevoelens in sy geelgroen oë beskut, is dalk sy boeiendste eienskap.
Sy kon sy warmte voel en sy skoon mannegeur kry as hy vooroor buig om iets op haar lessenaar te bespreek. Hy het nooit te naby gekom nie. Die terughoudende streep in sy geaardheid het nooit verhinder dat hy met alle soorte mense kan kommunikeer nie. Net met haar gesels hy nooit spesiaal en vryuit nie. Hy weet van afstand hou van sy senior se dogter.
“En wat dink Pa tog sal ek vir haar kan doen?” wou Brenda verder weet. “Pa sê altyd mens kan nie die see met osse ploeg nie.”
“Dis nie ek wat so sê nie, dis die profeet Amos.”
“Nogtans. Dis verspilde kragte. Dieselfde geld dan seker vir wolke. Babs se onweerswolke. Sy moet self oor haar terugslag kom.”
“Persoonlike bystand kan jy haar tog gee. Julle is susters, en bloed roep bloed.”
“As Pa so sterk daaroor voel, het ek seker nie ’n keuse nie,” het sy bes gegee. “Ons moet seker bly wees daar is nie kinders nie.” Sy werk lank genoeg in ’n prokureurskantoor om te weet van al die gedinge en komplikasies rondom kinders.
“Ja, hulle is glad nie die reddertjies waarop soms gehoop word nie. Maar ek en jou ma het wel begeer …”
“Ek ook,” moes Brenda erken. Sy was skoon dol oor die gedagte dat daar so ’n troeteldingetjie kon kom. Maar die tyd het verbygegaan sonder dat Babs ooit die saak wou bespreek. Sy het hulle met opset in die duister gehou oor die oënskynlike kinderloosheid, sodat niemand werklik die waarheid kon raai nie. Wou hulle nie, kon hulle nie, of wou hulle bloot uitstel? “Maar ek verstaan nou, ’n kind sou net onder die onenigheid ly.”
“Voor my en jou ma het hulle altyd die skyn van vrede bewaar. Maar ’n mens kan mos aanvoel.”
“As ek alleen daar kuier, het hulle geen skyn bewaar nie. Hoe later, hoe minder. Hulle het trouens verwag ek moet skeidsregter speel.”
“Dis seker maar beter jy het nie tuis kom vertel nie.” Tiny Rabie se voorkop onder die nog digte grysswart hare het rimpels gekry. Hy is op vyf en vyftig steeds ’n treffende man.
“Dit het soms nogal erg gegaan. Babs kan so woedend word. Sy het Tom een aand geklap. Ek weet nie waaroor die rusie was nie.”
“Het hy ooit aan haar geslaan?” Daar het ’n duiwel in Tiny se oë gekom.
“Ek glo nie hy sou dit waag nie. Ons ken mos vir Babs. Sy sou hom met haar tong opkerwe.”
“Ek weet nie meer wat om te glo nie.” Hy, die ervare prokureur wat noodwendig ’n sekere ongevoeligheid moes leer voorhou ten einde emosioneel te oorleef, was gebroke. “Ek het nog altyd so sterk geglo dat alles vir ’n mens bestem, bepaal word. Maar hierdie breekspul kan sekerlik nie bestem wees nie.”
“Agterna sal ons dit dalk beter verstaan,” het Brenda probeer troos. Sy het ook aan haar en Neels gedink. Sy wat hom graag wil hê, kan hom nie kry nie, behalwe dalk as sy haar goedkoop maak en voor hom neersmyt. Terwyl haar suster die man wat sy wou hê gekry en weggesmyt het.
“Ja, Sussa, ek weet tyd bring begrip. Maar die pyn is nou.”
Die kort, skreiende antwoord het haar in die hart gegryp.
Haar pa moes skynbaar knaend oor die gesprek nagedink het. Net na middagete gister – met eethappies wat deur Magreeth vir hulle ingepak is – het hy dit weer opgehaal: “Ek vestig my hoop daarop dat Babsie se egskeiding jóú sal leer om oopoog te kies.” Dit was asof hy meer, veel meer, wou sê, maar daarteen besluit het.
“Wie praat van