Selma en Louise. Susan Coetzer

Selma en Louise - Susan Coetzer


Скачать книгу
staan het.

      Is dit omdat sy oor haar skouer bly kyk dat sy soos Lot se vrou versteen het? Sy wens sy kon Shell toe ry en die joggie vra om haar tenk vol te maak met 93 unleaded, en sommer haar water, bande en olie ook na te gaan, sodat haar lewe weer op koers kan kom.

      Sy was die afgelope vyf jaar by verskeie dokters en talle terapeute. Die chaotiese tuimeldroërgevoel binne haar is egter nie weg nie. Daar is steeds dag en nag duisende nuwe vlermuise wat haar gedagtes binnedring en haar denke vaskoek. Sy sukkel om saans tot rus te kom. En om soggens op te staan. Sy bly moeg, asof sy baie ver gehardloop het sonder om te stop vir ’n lemoenkwart of ’n slukkie water.

      Is sy oorwerk? Uitgebrand? Of steeds depressief? Moet sy net meer spinasie versap en meer magnesium inneem om die huppel weer terug te sit in haar stap?

      Of ly sy (steeds) vyf jaar later aan posttraumatiese stressindroom? Hoe lank kan een vrou se lewe in die lug hang oor iets wat so lank terug gebeur het? Hoe lank duur die impak van ’n onverwagse kis­hou in jou wind? Is dit soos die Hiroshima-bom – die omvang van die skade begin eintlik eers later inskop en hou dekades daarna steeds aan om jou te misvorm?

      Sy moet eenvoudig, soos haar vriende aanbeveel, ’n wilsbesluit neem om te herstel. Sy moet weer terugklim in die saal. Dit wat verby is, agter haar plaas en haar balans herwin. Sy was nog nooit ’n smart­vraat nie, sy was van kleins af ’n superballetjie wat onmiddellik terug­bons ná ’n nederlaag. Maar ná Zander se verlies voel sy on­her­roep­lik beskadig – ’n opblaasbal met ’n reuse-skeur in.

      Sy kyk weer na die beige pannekoekdeeg in die spieël. Vir die res van die samelewing gaan die lewe aan teen sy gewone pas. Sy sal moet opstaan uit die as, of sy gaan vir altyd agterbly.

      Haar eerste instink toe sy wakker word, was om alle afsprake te kanselleer en terug te klim in die bed saam met Boelie en Bella. Sy sal haarself egter uitsleep en wel opdaag vir die blind date wat Lana met soveel moeite vir haar gereël het, besluit sy.

      Selma verf sagte roosblos op haar wangbene en wend dan ’n effens dieper wynpienk lipstiffie aan – die tipe wat tien uur lank aanbly volgens die lugwaardin-model op die TV-advertensie. Nie dat sy die onbekende Ronald met wie sy ’n koffie-afspraak het, wil beïndruk nie. Sy het bloot ingestem omdat Lana haar dag en nag verpes.

      Sy kyk weer in die spieël. Haar oë kort gelukkig nie veel nie – die vals wimpers waarvoor Lana die vorige week ten duurste betaal het, skep die indruk van glans. Selfs die illusie van lewenslus.

      Sy swiep haar kastaiingbruin hare met moeë arms op. Die haar­styl herinner haar aan ’n skewe doughnut in ’n bakkery. Sy probeer dit platter druk en beter posisioneer.

      Die enkele strepie om elke oog is meer as genoeg grimering vir ’n man wat sy nog nie ontmoet het nie, besluit sy. Dit aksentueer die amandelvorm van haar grys oë. Hy verdien nie meer as ’n strepie nie. Dis nie asof sy beplan om in sy oë te staar nie. Sy het beter dinge om te doen, al weet sy nie presies wát nie.

      Selma staan terug en bestudeer haar ontwerpersjeans en wit linne­bloes. Sy’t op ’n subtiele uitrusting besluit – een wat nie pleit om aandag nie, maar wat haar ook nie onmiddellik as ’n non klassifiseer nie. Sy wonder of dit haar ma se goedkeuring sou weggedra het as sy nog geleef het. Seker nie.

      Haar ma het haar opvoeding op ’n verskeidenheid etiketboeke vir dames en die Bybel geskoei. Sy is van kleins af afgerig om ordent­lik te wees: om met skuins, toe beentjies te sit, haar eetgerei van buite na binne te gebruik, klein, vroulike happies te neem, toemond te kou en so min moontlik vrae te vra of uitbundig in geselskap te lag.

      Selma se ma is al geruime tyd oorlede, maar haar stem leef voort in haar kop. “’n Man hou van ’n goed versorgde, kuis vrou wat kan huishou. Sorg dat jy altyd mooi netjies lyk, Selma-Suzette. Wees bedees en onderdanig. Dis die pad na ’n man se hart.”

      “Die resep het nie gewerk nie, Ma,” sê Selma vir die spieël. “Ek het dit op Zander probeer, maar dit het geflop.”

      Louise, haar beste vriendin sedert hulle laerskooljare op Moorrees­burg, het haar arm in ’n ander rigting probeer druk. Tydens oor­slaapkuiers op Louise-hulle se plaas het sy dit haar missie gemaak om Selma te leer stroomop swem. Om kaalvoet te loop, wydsbeen te sit, oopmond te kou, te fantaseer, verbode woorde te gebruik en uitheemse klere te dra.

      “Jy moet leer om jý te wees, nie ’n mini-weergawe van jou ma of Betsie Verwoerd nie. Kom ek leer jou nog ’n paar nuwe vloekwoorde. Al gebruik jy dit nie, is dit goed om ’n paar te ken. Dis soos ’n geheime woordeboek agter jou rug.”

      Selma wonder of haar less-is-more-uitrusting Louise se stempel van goedkeuring sou kry. Seker ook nie. Sy verlang na haar boheemse vriendin wat altyd haar gemoed kan lig. Sy wens Louise het nog steeds in die Noorde gewoon. Sy sien haar darem nog gereeld wanneer sy vir werk afvlieg Kaap toe.

      Haar gelaat lyk beter vandat sy dit ’n bietjie ingekleur het, besluit Selma ’n tikkie meer opgewek. Sy wonder wat sy nodig het om weer passie vir die lewe te ontwikkel. Dalk moet sy tog meer gereeld begin uitgaan, of aansluit by ’n boekklub of iets wat haar meer in aan­ra­king bring met nuwe mense.

      * * *

      Buzz 9 in Melville wemel soos gewoonlik van ’n bonte mengelmoes mense van verskillende kulture en tale. Selma se oë beweeg oor die oes van mans in die gewilde koffiekroeg. Sy het geen idee hoe haar date lyk nie, behalwe dat hy ’n kunstenaar is. Lana wou niks verklap nie, en Selma ken al die geslote uitdrukking in die gebotoxde oë – dit was ’n doodloopstraat.

      “Ek wil hê hy moet ’n surprise wees,” was haar laaste woorde oor ’n lang G&T. “Gaan met ’n oop gemoed en ’n oop rokkie en geniet die man soos ’n lucky dip.”

      Sy het teen ’n kaal rokkie besluit. Vir wat moet sy haarself soos ’n takeaway op ’n skinkbord aanbied? Seks is die afgelope vyf jaar die laaste ding op haar inkopielys.

      Eintlik behoort sy saam met priesters en monnike met lang wit baarde en rokke in ’n tempel tee te drink, eerder as om in koffie­kroeë met oor-die-wal- geskeide mans uit te hang.

      Sy loer weer in Buzz 9 rond op soek na haar date. Haar mond val ’n paar sentimeter oop van skok. ’n Man wat haar aan ’n rugbybal herinner, wink haar nader. Hy is nie veel langer as ’n graad 1-seun nie. Hy wapper sy handjies soos atletiekvlaggies om haar aandag te trek.

      Sy stap stadig nader. ’n Wit woede oorval haar nog voor sy die man amptelik ontmoet. Hoekom het die bleddie Lana nie gesê sy wil haar afsmeer aan ’n halfjackbottel met twee skape in sy pens nie?

      “Hallo, jy moet Selma wees,” sê die koddige man vol bravade. “Lana het gesê jy is lank en slank.”

      “Wel, sy het nie gesê jy is so . . .”

      “. . . so ’n shorty nie?” Hy gooi sy kop agtertoe en lag hartlik vir sy eie grap.

      “Nee, sy het nie. Ek sou nie my hoë wighakke aangetrek het as ek geweet het jy’s korter as ek nie.” Eintlik sou sy glad nie opgedaag het nie, dink sy. “So, jy is dan seker Ronald?” vra sy suur.

      “Ja, maar darem nie Ronald Reagan nie.”

      Selma troon soos ’n wolkekrabber bo hom uit. Sy ruik die goedkoop naskeermiddel en wonder skielik of dit nodig is om tyd te mors op ’n koffie saam met die man.

      “Relax. Hoogte intimideer my glad nie. Ek het ’n baie goeie selfbeeld.”

      “Ek sien so,” sê Selma.

      “Kom sit nou, Selmatjie,” sê hy en trek galant die stoel vir haar uit. Sy gaan sit stram asof haar lyf in gips is.

      “Ek glo all good things come in small packages. Dink maar aan Sophia Loren met die kort Ponti aan haar sy.”

      Selma bestudeer hom onderlangs. Sy neus regeer as meerderheids­party. Die res van sy gelaatstrekke is terloopse garnering wat nie die aandag wil aftrek van die hoofgereg nie.

      “Nou nie dat ek sê ALS aan my is klein nie.” Hy lag en knipoog vir haar asof hulle ’n intieme geheim


Скачать книгу