Selma en Louise. Susan Coetzer
vinnig op haar lampskerm, tel sy aktetas en baadjie op en stap met doelgerigte treë by Mugg & Bean uit.
“Skuus ek is laat,” sê Selma. Sy gee Louise ’n lang drukkie en plak haar Diesel-handsak neer voor sy gaan sit.
“No sweat,” sê Louise. “Hier in die Kaap is ons rustig.”
“Dit kan jy weer sê,” sê Selma en probeer ’n kelner se aandag trek.
“Ek het maar solank vir my ’n cappuccino en ’n stuk wortelkoek bestel.” Louise neem ’n hap wortelkoek en sluk dit af met ’n mond vol koffie. Die skuim maak ’n wit snorretjie op haar bolip. “En hoe was jou meeting toe met World Tours?”
“Goed gegaan. Lyk my hulle wil my dié keer Griekeland toe stuur met ’n toergroep.”
“Dit kan net sports wees. Ek beny jou jou werk. Toer die wêreld vol en als word vir jou betaal.”
“Dis lekker, maar onthou, daar is altyd ná die toer groot druk om ’n reisbrosjure te skryf as deel van die ooreenkoms. Jou lewe lyk vir my minder stresvol. Jy gee musiekklasse by die huis – en net as jy lus is. Jy hóéf nie te werk nie . . .”
“Elke huis het maar sy kruis,” sê Louise en probeer die snorretjie van haar bolip aflek. “Maar jip, ek het met my gat in die botter ingetrou.”
Sy skuif terug in haar stoel en betrag Selma soos ’n gunstelingstokperdjie. “Maar jy lyk mos fab, girl! Die rooi pas by jou donker hare.”
“Dankie.”
“Is daar dalk ’n nuwe man op die horison waarvan ek nie weet nie?”
“Nee, nog steeds net die meterman,” sê Selma droog. Sy wink weer vir die kelner. “Jy sal die eerste een wees om te hoor as daar wel die dag gerugte van reën is.”
“So hoe lank is jy nou op jou eie, Selma? Vier of vyf jaar al? Iemand vra my nou die dag.”
“Wat maak dit saak?”
“Gaan jy darem partykeer uit op dates daar bo in die Noorde?” vra Louise oor ’n vurk wortelkoek. “Dit voel vir my jy werk net.” Sy stapel die volgende vrag op terwyl sy kouend opkyk, haar katgroen oë soos geweerlope op Selma gerig.
Selma trek haar skouers nonchalant op en bestel ’n espresso by die kelner wat aangemeld het vir diens. “And can you bring me a glass of water too, please?”
“Tap or mineral?” vra die jong blonde man in ’n nasale stem. Hy staan kiertsregop soos ’n soldaat voor ’n vuurpeloton.
“Mineral, please.”
“Still or sparkling?” vra hy paraat.
“Hmmm . . . still.”
“Ice? And lemon?”
“Eh . . . yes, please.”
“Both?”
“Both what?”
“Ice and lemon? Or only ice or only lemon?” dring hy aan.
“Yes, please.”
“Is it an ‘and’ or an ‘or’?” Die kelner lig sy ken gesteurd en bly vasberade langs Selma staan.
“Both ice AND lemon!” sê Selma ietwat skerper as wat sy bedoel het.
Hy laat sak sy ken asof hy sy wapens neerlê.
“Anything else, ma’am?”
“No thank you, sir.”
Hy knik en wys ’n stel vierkantige Amerikaanse tande. “Coming right up!” sê hy en stap ingenome weg.
Selma skud haar kop. “Sjoe, dit was amper soos om by SARS se kantore in te gaan en al hul vrae te beantwoord. Die diens is wel aansienlik beter by Mugg & Bean as by SARS.”
“So, wanneer laas was jy uit op ’n date?” herhaal Louise haar vraag van vroeër.
“Ek gaan gereeld uit.”
“Nie met ’n koekerige kerkvriendin of met Tania of Jacques, of jou beagles nie. Wanneer laas was jy uit op ’n régte date? ’n Hot date met ’n man?”
Louise se stem weergalm deur die stampvol Mugg & Bean. ’n Paar nekke draai belangstellend om in hulle rigting.
“Sjuuut, Louise – ek wil nie my privaat lewe hier uitbasuin nie.”
“Sê dan net wanneer laas?”
“Ek weet nie. Okay, ’n paar dae gelede, vir die eerste keer sedert . . . jy weet . . .” Selma voel ’n sweetstraaltjie soos ’n ysblokkie agter teen haar bra afglip.
“En hoe was hy?”
“Horrible. Hy vat my omtrent by my knieë. En daardie tipiese kortmansindroom. Net ego. En minstens twee onverteerde skape in die maag.”
“En waar kom jy aan dié monster?”
“Lana het die blind date gereël.”
“Lana is die laaste een om vir jou ’n blind date te reël. Sy is totally uit touch met reality. Sy leef in haar kop – sy’t nie eers kinders om haar te ground nie. Lê net dag en nag op facebook en fantaseer met ’n gin en tonic in die hand terwyl haar man oorsee is.”
Die kelner sit die espresso neer saam met ’n glas ys en suurlemoen en ’n botteltjie Valpré-mineraalwater. Hy maak ’n beleefde Japannese buiging voor hy weer ken omhoog vertrek.
Selma neem ’n vinnige slukkie van haar espresso en probeer haar asemhaling reguleer.
“Sy’t seker maar probeer help. Seker gedink ek is eensaam en geïsoleerd na die . . . Dit gaan eintlik besonder goed met my. Regtig.”
Louise kyk haar kouend aan. “Regtig?”
“Ja, regtig. Ek weet nie hoekom almal so bekommerd is oor my nie.”
“Ek dink maar net jy kan nog happier wees. Dink net: ’n ou lekker teddiebeer van ’n man in jou bed.”
“Mans is harde werk,” sê Selma met haar blik op haar koppie koffie.
“Kom jou kids darem nog gereeld kuier noudat hulle op Tuks is?”
“Hulle is maar baie besig met hulle studies . . .”
“Ons was ook baie besig destyds op Tuks, onthou jy? Nudge-nudge, wink-wink! Hoe ek my BMus-graad gekry het met al daai shooters in my bloed, weet ek nie . . . En jy het wragtag nog honneurs in kommunikasiekunde gedoen – en cum laude deurgekom.”
“Ja, ek weet self nie hoe nie. Ek was so totaal en al behep met . . . Zander . . .”
“Is jy dalk nog steeds?”
Selma antwoord nie. ’n Stilte hang tussen hulle.
“Ek worry oor jou, Sel. So op jou eie in daai groot huis. It cannot be good for you.”
“Daar is baie voordele daaraan om alleen te woon.”
“Soos wat?”
“Ek kan saans sommer net jogurt eet. Of ’n pakkie chips of Smarties. Ek hoef nie spogmenu’s uit te dink, skottelgoed te was . . . of handdoeke op te tel nie. Ek kan lock-up-and-go nes ek wil.”
“Maar dit sal darem maar lekkerder wees om weer langs ’n warm manslyf wakker te word – know what I mean? Mis jy dit nie?” Louise knipoog stout.
“Ek gaan vir ’n massering as my vel honger raak.”
“Not the same thing, suster,” sê Louise kouend. “Not the same thing.”
“Ek dink nie ek mis veel nie,” sê Selma en skud haar donker hare terug. Sy leun nader aan Louise en sê vertroulik: “Ek hoor by Lana