Selma en Louise. Susan Coetzer
“En jy kon nie agterkom hy skiet tekort nie? Letterlik en figuurlik? Die man is nie veel langer as Nakkie die Nar nie. En sy maag is die grootte van Leeukop.”
“Dis ’n pity,” sê Lana en tel haar Siamese kat op haar skoot. Sy liefkoos die pels met egalige handbewegings en vroetel dan aan sy verminkte oor. “Maar looks is nie als nie, hè Samuel?” purr sy. “Ons is maar almal ná vyftig tweedehandse motors vol stampe en stote. Ons markwaarde daal elke jaar.”
“Lyk nie of jóú markwaarde daal in jou man se opinie nie. Dis mos nuwe oorbelle daai, of hoe?” vra Selma. “En sekerlik egte diamante?”
“Natuurlik is dit eg.” Lana vat aan haar oorlob. “Martin koop vir my net die beste. Maar ek sien hom nooit. Hy’s die grootste deel van die jaar oorsee. My kat hou my geselskap. En my kubervriende. En natuurlik my G&T en uppers.” Lana neem ’n teug van haar drankie. “Jy en Louise is lucky om kids te hê . . .”
“Ons het elkeen ’n kruis om te dra,” sê Selma.
“True.” Lana haal twee antidepressante uit ’n pilhouertjie en sluk dit af met haar gin. “Wil jy een hê om jou te lig? Dis ’n upper.”
“Nee dankie. Ek is al ’n paar maande af van alle antidepressante. Ek wil weer self leer cope.”
“Nie ek nie.” Lana staar afgetrokke na die gemanikuurde tuin vol blomme. “So hoe is Ronald se persoonlikheid? Die vrouens op sy facebook vrek oor hom.” Sy druk haar wang teen die kat se pels asof dit Ronald is.
“Kortmansindroom. Hengse ego. Moet my asseblief NOOIT weer op ’n date stuur met een van jou facebookvriende nie.”
“Skuus. Ek wou net help . . . Hoekom kom jy nie Saterdagaand na die braai by Belinda-hulle nie? Daar gaan ’n baie nice geskeide man wees, hoor ek. En by the way, daai vals lashes pas jou regtig goed. Gee jou oë ’n sparkle.”
“Dankie,” sê Selma. “Maar nee dankie vir die braai. Ek gaan ongelukkig nie my lashes kom wys nie.”
“Dis nie ’n facebook-ou nie,” sê Lana, meer vir die kat as vir Selma. “Belinda sê dis ’n teddie van ’n man. Sy vrou was glo die bitch in die verhaal.”
“Ek het daai een al tevore gehoor,” sê Selma sinies. “Nee dankie. Voer hom maar vir een van jou ander single pelle. Ek vlieg oormôre Kaap toe vir werk.”
“Gaan jy vir Louise sien?” vra Lana met ’n geligte wenkbrou.
“Jip.”
“Sê groete vir haar,” sê sy sonder die nodige geesdrif.
“Ek maak so,” sê Selma.
Hoofstuk 3
Your relationship with yourself
sets the tone for every other relationship you have.
– Robert Holden
16 JANUARIE 2016
Selma bind haar lang donker hare vas en stap oor die teerpad na Bloubergstrand. Sy het vir haar ’n seefrontkamer by die Blue Peter Hotel bespreek en selfs ’n baaibroek ingepak vir haar twee dae lange werksbesoek aan die Kaap.
Die weer is egter grys en kil. Die suidoos waai stormsterkte en klap haar kort-kort deur die gesig met ’n hand vol seesand of sproeireën. Sy druk haar Armani-sonbril dieper op haar neus en kry ’n sitplekkie op ’n rotslys.
Die seemeeue beweeg soos skydivers op en af oor die triestige see. Aan die ander kant van die oseaan skuil Tafelberg agter ’n dik wit polonektrui. Sy’t so gehoop die berg sal haar met ’n oop gesig verwelkom.
Sy dink onwillekeurig aan Zander. Stormwind, reën, wolke en dan die son wat deurbreek en jou laat vergeet van die ontberinge. Hoeveel keer het hulle nie hand aan hand langs Blouberg gestap nie.
Selma soek weer na ’n glimp van Tafelberg, maar die berg kruip steeds weg in sy woltrui, asof hy doelbewus sy geheime van haar wil weerhou.
Dis 11:15 op haar Gucci-horlosie. Sy’s bly sy het haarself tog maar die luukse gegun toe sy ’n klompie jare gelede in Zürich was. Die horlosie herinner haar altyd aan die gelukkige tyd wat sy en Zander in Switserland gehad het . . .
Sy sien skielik uit daarna om weer terug te vlieg na haar voorspelbare roetine in Johannesburg. Terug na die donderstorms, die petroldampe, die toetende taxi’s en die vinnige polsslag. Die Noorde het haar nuwe hawe geword. Daar kan sy verdwyn in haar eie veilige woljas.
Sy stap haastig terug oor die teerstraat na die hotel. Haar afspraak met Louise is vir 12:15 gereël by Mugg & Bean in Tygervallei. Sy haat dit om laat te wees vir afsprake en het min respek vir mense wat dit in die reël doen. Daarmee sê jy eintlik jou tyd is kosbaarder as dié van die ander persoon wat op jou moet wag asof jy die Queen is.
“Thank you,” sê Selma vir die donkerkop-ontvangsklerk agter die toonbank en neem die kwitansie. “Can someone help me carry my luggage to the car, please? It’s all ready and packed in my room.”
“Of course, ma’am,” sê die man, maar wend geen poging aan om iemand te roep nie.
Selma verskuif haar hoë hakke en kyk op haar horlosie. 11:30. “I am in a bit of a hurry. I have a meeting.”
“No problem,” sê die man in ’n vakansiestemming. “We’re just a bit short of staff today. Only one porter.”
“How long will it take?”
“Not too long. About five, ten minutes at most.” Hy gee haar ’n stresvrye glimlag.
“Okay,” sê sy met ’n klein fronsie. “I’ll wait in the parking lot. It’s the white Polo.”
Selma sug en tik met haar naels op die stuurwiel van die gehuurde motor. Die verkeer voor haar beweeg teen ’n slakkepas. Dis byna 12:15. Als in die Moederstad gebeur net soveel stadiger as in Johannesburg, dink sy gefrustreerd. Die manier waarop die Kapenaars deur die lewe cruise, laat haar wonder of hulle dalk soggens zol saam met hulle Weet-Bix eet.
Dit maak haar angstig om te dink sy gaan minstens vyftien minute laat wees vir haar afspraak met Louise. Sy stuur ’n vinnige whatsapp om verskoning te maak.
Skuus ek gaan laat wees. Vergeet altyd hoe bleddie stadig die Kapenaars bestuur. Sy tik ’n
Louise antwoord dadelik. No problem. Relax.
* * *
Selma merk onmiddellik Louise se vlamrooi hare in die stampvol koffiekroeg op. Sy staan uit soos ’n kleurvolle Dolly Parton tussen die klomp beige tantes. Soos altyd is als omtrent Louise oordadig, van die baie lae klere tot die stringe krale tot die uitspattige turkoois lampskermhoedjie op haar kop.
Louise se man, Karel, sit langs haar. Hy dra ’n deftige houtskoolgrys strepieshemp met ’n rooi das en staan dadelik op toe hy Selma sien. Sy gemmer hare is grys gebleik deur die tyd, net soos sy oë agter die dik bril.
“Karel!” sê Selma verras en soen hom op albei wange. “Nie geweet jy drink saam met ons koffie nie?”
“Nee, ek is al weer op pad. Ek het heel toevallig ’n afspraak hier in die sentrum met die grootkop van Absa. Maar ek wou darem net vir jou hallo sê.”
“So jy kan nie eers bly vir ’n vinnige espresso nie?”
“Ongelukkig nie. Party van ons moet werk.” Hy gee Louise ’n vlugtige kyk met die kenmerkende bekommerde-Karel-trek om sy mond.
“Ag, dis nou jammer,” sê Selma.
“Volgende keer moet jy langer bly en kom oorslaap. Weet