Selma en Louise. Susan Coetzer
skud haar kop. “Ek is nie lus vir sukkel nie.”
“Nou maar wat dan van iets jongers? Jy lyk nog heeltemal skaflik vir jou ouderdom. Niemand sal raai jy vier in September die gevreesde big five nie.”
“Dankie, hoor!” Sy kyk hoe Louise ’n paar neute met toewyding bymekaar hark en met haar duim op haar vurk stoot. “Nee, ’n jonger man sal nie goed wees vir my selfbeeld nie – ek wil nie heeltyd worry oor die beligting nie.”
“Wortelkoek maak nie vet nie. Dis baie gesond,” sê Louise verskonend. Sy vergruis die neute met haar twee gekroonde voortande. “Jy weet, jy kan doen met ’n bietjie vetjies op sekere plekke, ou girl. Die vreeslike drawn, all-bone-and-no-meat look is lankal uit die mode.”
“Ek neem kennis.”
“Kyk, ek sê deesdae sommer reguit vir Karel hy moet my vat soos ek is. Love me, love my vetrolletjies. As hy vir Twiggy wil hê, kan hy maar slaghuis toe gaan en ’n pak sopbene gaan koop.”
Louise gooi haar kop agteroor en skud in haar stoel soos sy lag. Sy was nog al die jare die grootste aanhanger van haar eie spitsvondigheid. Selma staar na haar vriendin asof sy ’n ooggetuie by ’n grusame ongelukstoneel is.
“Skuus vir die tand wat missing is hier aan die linkerkant, Sel,” proes Louise. “Ek weet hoe voel jy oor missing tande oor jou pa ’n tandarts was. Ek laat dit môre opfix by dokter Malan. Ek het darem nie oornag common geword nie, hoor.”
“Wat het met jou tand gebeur?” vra Selma met ’n getraumatiseerde noot in haar stem. “Jy lyk regtig soos ’n arm weergawe van jouself sonder die kiestand.”
“Gisteraand van skrik afgebyt op ’n skaaptjop toe ek en Karel na ware case studies op kanaal 171 gekyk het. Vier uit ’n honderd deursneemense in leiersposisies is glo psigopate. Hier is dalk een in Mugg & Bean vir al wat ons weet. Dit was flippen scary.”
Louise kyk soos ’n FBI-spioen om haar rond en som die mense by die omliggende tafels een vir een op. “Dalk die een reg agter jou,” beduie sy met haar kop. “Oë sit net te na aan mekaar. Maar moenie nou omkyk nie . . .”
Selma kug en loer dan stadig om asof sy kastig op soek is na die kleedkamer. Twee yskoue blou oë ontmoet hare. Die man aan wie die oë behoort, knik beleefd met die kop.
“Ek dink darem nie ek is ’n psigopaat nie,” sê hy sonder ’n sweempie van ’n glimlag.
“Skuus,” mompel Selma en voel hoe haar wange begin brand. “My vriendin is ’n handvol. Baie ryk verbeelding. Mens kan haar nêrens heen neem nie.”
“Ek het haar so opgesom,” sê hy met dieselfde humorlose uitdrukking om sy mond. Hy tel die TygerBurger op en lees verder.
Louise gee ’n sagte snork en toe ’n gilletjie. Haar gesig vertrek tot ’n opgefrommelde kardoessak waaruit die lug gepers word. Trane rol oor haar wange terwyl die Mugg & Bean-stoel skud soos sy lag.
Die blonde kelner staan onthuts nader. “Everything all right, madam?” Hy lig sy ken paraat.
“Yes, everything is fine – I just need to wipe my face . . . Can you bring me something, please?”
“A Wet One, a serviette or a tissue?”
“Whatever – I want to wipe off my tears, not my arse!” proes Louise. Sy gee haar oor aan ’n nuwe histeriese lagbui.
“Just bring her a Wet One, thank you,” sê Selma met ’n beleefde kitsglimlag.
“Sure thing, ma’am. One Wet One coming up.” Hy marsjeer weg agter sy ken aan.
“Seker jy wil nie eens ’n ou klein happie proe nie?” snik Louise. “Mugg & Bean maak regtig die beste wortelkoek.”
“Nee dankie.”
“Wortels is gesond.”
“Ek weet. Jy’t netnou reeds so gesê. En net vir die rekord: ek drink elke oggend wortelsap – wat ek self versap saam met seldery, gemmer en rooipeper.” Selma roer haar koffie asof sy ’n demonstrasie in dieetkunde aanbied.
Die kelner plaas die Wet One versigtig op die tafel asof dit iets onwelriekends is. “Thanks, sweety,” sê Louise en vee haar oë af. “Ek weet nie hoekom jy altyd jou laaste bietjie koffie so moet roer as jy nie eers suiker of melk neem nie!” sê sy dan geïrriteerd vir Selma.
“Mag van die gewoonte,” sê Selma.
“Nervous habit as jy my vra.”
“Hoor hier, jou maskara het geloop. Jy lyk nou regtig of jy in ’n kroeggeveg was – met die uit tand en die swart oë. Jy moet dalk net gou kleedkamer toe gaan . . .”
Selma kyk hoe Louise kopknikkend tussen die tafels met stywe tantes deurbeweeg. Sy laat ’n mens dink aan ’n kinderpartytjie met kolwyntjies en kleurvolle ballonne. Sy ken regtig nie nog iemand soos Louise nie. Dit lyk of die Skepper elke moontlike tekenkryt gebruik het die dag toe sy ontwerp is.
Selma speel met die sout- en peperpotte en kyk dan op haar horlosie. Dis 13:45. Haar vlug vertrek om 16:45. Sy sal haar riete moet roer – sy moet nog die gehuurde Polo ook terugbesorg. Sy skrik toe ’n hand liggies aan haar skouer raak.
Sy kyk op, vas in dieselfde ysblou oë van netnou. ’n Fyn glimlag speel om sy lippe.
“Net om enige onsekerheid wat jou vriendin dalk in jou gemoed gesaai het, op te klaar: Ek is ’n geregistreerde sielkundige met my eie praktyk in die noordelike voorstede. Ek is nie op kanaal 171 nie. My taak is om getraumatiseerde vroue en kinders te help – nie om hulle emosioneel verder te ontwrig nie.”
“Ek vra weer om verskoning, . . . e . . .”
“Theodor Swanepoel.”
“Selma-Suzette Barnard.”
Hy steek sy hand uit. Sy vel voel koel teen hare toe sy sy hand skud.
“Wel, Selma-Suzette, dit was my voorreg om jou vlugtig te ontmoet. Dalk loop ons mekaar weer raak in Tygervallei?”
“Ek twyfel. Ek woon eintlik in Johannesburg. Ek was net hier vir ’n vinnige sakebesoek.”
“Sterkte. En veilige reis terug Gauteng toe,” sê hy. Sy kyk hoe hy een van die jong kelnerinne beleefd groet voor hy in die winkelsentrum verdwyn.
“En as jy soos ’n verslane vrou sit?” vra Louise. Haar oë lyk aansienlik skoner ná die kleedkamerbesoek.
“Hy is ’n sielkundige,” sê Selma.
“Wie?”
“Jou psigopaat. Hy’t sy eie praktyk in Bellville.”
“En het ons ’n naampie om mee te werk?”
“Theodor Swanepoel.”
“Ek sal hom gaan uitcheck op facebook en jou invul met al die juicy details to connect the dots.”
* * *
Die terugvlug vanaf Kaapstad is met twee uur vertraag weens ongunstige weersomstandighede. Buite die lughawegebou loei ’n woedende Dracula-wind om die hoeke. Die lug het eensklaps van grys en kil na ’n onheilspellende donkerpers wolktapyt verander. Selma ril en vryf oor haar arms. Kaap van storms en angs en drang.
Dit gooi nou weer al my beplanning uit, dink sy geïrriteerd. Sy whatsapp haar seun. Jacques, ek gaan eers nader aan 21:00 aankom op OT – vlug vertraag.
Shucks, dan gaan ek Ma nie kan kom optel nie. Sokker game aan. Begin 21:00.
Als reg. Ek sal uber.
Wat van Tania – kan sy nie?
Nee. Sy het ’n toneelstuk gaan kyk saam met vriende. Moenie worry nie. Ek sal uber.
Laat weet as Ma veilig in Saxonwold aangekom het.