Selma en Louise. Susan Coetzer

Selma en Louise - Susan Coetzer


Скачать книгу
soos ’n konstante uber-rit – altyd ’n gevleg deur die verkeer. Maar sy kom nooit by haar bestemming uit nie, nooit by die plek van innerlike rus en vrede nie. Hoe lank nog? wonder sy. Hoe lank voordat sy tuis kom? Hoe lank voordat al die spoke van die verlede tot rus kom?

      Hoofstuk 4

      The life in front of you is far more important

      than the life behind you.

      – Joel Osteen

      18 JANUARIE 2016: SAXONWOLD, JOHANNESBURG

      Selma sit besluiteloos voor haar rekenaar. Die week lê soos ’n woes­tynlandskap voor haar uitgestrek. Daar is niks om na uit te sien nie, behalwe werk. Sy blaai lusteloos deur haar lêers met foto’s en notas van Zanzibar waar sy onlangs met ’n toergroep was. Die artikel lê soos Everest voor haar. Dalk moet sy dit maar vir eers uitstel tot sy meer geïnspireerd voel.

      Sy besluit om haar lessenaar reg te pak. Sy kan nie funksioneer met chaos om haar nie. Sy moet sommer ook van die onnodige besig­heidskaartjies in haar beursie ontslae raak – sy stel dit alewig uit. Mohamed Singh het haar aandag daarop gevestig. Way too many business cards in your purse.

      Hy het nogal ’n indruk op haar gemaak. Sy donker oë bly by haar spook. Sy wonder watter geheime hulle verberg. “Phone me when you are ready. As they say in India: When the student is ready, the guide will meet you.” Sy woorde eggo in haar kop terwyl sy sy nommer onder Toergidse in haar foon inpons. Wie weet, dalk kry sy eendag Louise se arm gedraai om saam met haar Indië toe te gaan. Selma kyk nog ’n oomblik na sy kaartjie voor sy dit in die snippermandjie gooi.

      Volgende op haar Maandag-doenlysie is Alice. Sy het Lana belowe om te RSVP. Sy ken Alice nie werklik goed nie en was half verbaas dat sy na haar vyftigste genooi is. Sy besluit om eerder te SMS as te bel. Skuus ek het nog nie geRSVP nie, Alice. Ek was in die Kaap. Ek sal graag jou partytjie volgende Saterdagaand bywoon, baie dankie. Groete, Selma.

      Lekke lekke, Sally, reply Alice sekondes later. Dit gaan een moerse jol wees.

      Haar foon flits weer. Dis ’n whatsapp van Lana. Ek is hier by Alice. Ons beplan ’n surprise packet vir jou. Jy gaan hom absolutely love.

      Selma is dadelik jammer dat sy die uitnodiging aanvaar het. Sy het glad nie krag vir ’n moerse jol nie, en nog minder vir ’n surprise packet. Dalk is Ronald Kortgat met die twee skape in sy pens ook op die gastelys.

      Sy stap rusteloos deur haar groot huis. Die honde drentel soos stert­jies agterna. Sy maak die soveelste koppie tee en skuif dan weer agter haar lessenaar in haar studeerkamer in. Sy weet sy moet werk. Die keerdatum vir die Zanzibar-reisbrosjure is oor ’n paar dae.

      Sy dubbelklik met die muis op die lêer gemerk Selma reisfoto’s. Sy het ’n magdom foto’s op haar rekenaar van al haar reise na eksotiese plekke. Dit neem haar soms ’n tydjie om die regte lêers te vind. Sy soek na foto’s om by haar Zanzibar-artikel te gebruik.

      Al die fotomomente van haar lewe die afgelope byna vyftig jaar is in drie kategorieë ingedeel: Verlede. Hede. Toekoms.

      Sy voel vandag weer soos ’n gekweste vy wat aan ’n draadjie aan ’n boom hang en enige oomblik gaan afval. Sy wens Louise het nie so ver gewoon nie – dan kon sy gou inval vir ’n koppie koffie en ’n gesels. Louise het die manier om haar uit haar triestige luim te lig.

      Haar vinger huiwer oor die Verlede-lêer. Elke kennismaking, elke keuse en elke afdraaipad het haar tot by hierdie oomblik gebring – en die reis is nog lank nie voltooi nie. Sy is klei wat oor jare heen vervorm is, oor en oor gebreek en gebrei en herbou is. Kan sy weer haar lewe tot iets moois transformeer? ’n Diep geestelike en emosio­nele moegheid bly haar soos ’n honger hond agtervolg.

      Sy dubbelklik op die lêer Laerskool Moorreesburg.

      JANUARIE 1976: MOORREESBURG

      Selma vergaap haar aan die groot wit plaashuis met die hoë strooidak toe haar pa met haar stilhou. Dis haar eerste besoek en oorslaap by Louise-hulle op die plaas. Hulle is aan die begin van die jaar langs mekaar in dieselfde standerd 2-klas by Laerskool Dirkie Uys op Moor­reesburg ingedeel.

      “Bel gerus as daar ’n probleem is,” sê haar pa en laai haar tas uit. Selma kan in sy oë sien hy is haastig. Hy het seker nog baie tande om te stop.

      Sy drentel in haar skoolrok op teen die stoeptrappies agter haar nuwe maatjie aan. By die voordeur draai sy om en kyk hoe haar pa in ’n stofwolk op die grondpad wegry. Sy voel skielik vreemd.

      “Kom!” sê Louise. “Die kos is seker al reg. Ek is vrek honger.”

      Selma stert agter Louise aan deur die donker huis en gaan staan dan botstil voor die eetkamer. Die vertrek is besonder ruim, met ’n hoë plafon. In die middel staan ’n lang, swaar donkerhouttafel met twaalf stoele met gebalde pote. Daar is twee geelhoutvertoonkaste – een met ’n koringblou eetservies en een met ornamente van ander lande. ’n Groot waaier is in die dak gemonteer en draai soos ’n reuse­mot om en om en probeer die somerdag afkoel.

      “Kom sit,” sê Louise en wys na die twee gedekte plekke. “Wat staan jy soos ’n agie?”

      Selma stap onseker nader en skuif op die swaar stoel langs Louise in. “Gaan jou ma nie saam eet nie?” vra sy.

      “Nee, my ma het elke middag ’n hoofpyn.”

      “My ma is vandag by die haarkapper. Dié dat my pa my gebring het.”

      “My ma doen haar eie hare,” sê Louise. “Johanna!”

      ’n Vrou kom binne en knik haar kop beleefd. Haar kopdoek en voor­skoot lyk asof dit van wit kladpapier gemaak is. Haar ronde voor­kop blink nes ’n handspieël, merk Selma.

      “Middag, Miss Louise.”

      “Hallo, Johanna.”

      “Melk, lemoensap, Fanta of Coke saam met die ete, Miss Louise?”

      “Is daar nie meer Cream Soda nie?” vra Louise nors.

      “Jammer, Miss Louise. Mister Pieter het die laaste een gevat.”

      “Dammit!” sê Louise. “My bleddie broer suip altyd al die Cream Soda uit. Dan maar ’n Coke.”

      “En vir u, jonge dame? Wat is u se name?”

      Selma kyk op in twee sagte bruin oë. Hulle lyk soos haar teddiebeer by die huis se oë.

      “Selma.”

      “Wat kan ek vir u te drinke bring, Miss Selma?”

      “Lemoensap, asseblief.”

      “Ek bring vir Miss Selma.”

      “Dankie, Johanna,” sê Selma.

      “Jy hoef nie vir haar asseblief of dankie te sê nie, hoor,” sê Louise en trek haar skoolbaadjie uit.

      “Hoekom nie?”

      “Sy’s ’n bediende.” Louise skulp haar hand. “Sy maak tot die kak­huis skoon,” fluister sy.

      Selma se mond val oop van skok. “Ek mag nooit die k-woord ge­bruik nie.”

      “Ek ken nog baie vloekwoorde,” sê Louise vol bravade. “Ek sal hulle vir jou leer.”

      “Eerder nie,” sê Selma. “Ek sal dit nêrens hardop mag sê nie.”

      “Jy kan dit hier sê – wanneer jy vir sleepovers kom. Dan is dit ons geheim.”

      Johanna verskyn met die koeldranke en ’n skinkbord met bobotie en piesangslaai.

      “Dankie,” sê Selma.

      Louise slurp die Coke deur haar strooitjie en lê dan weg aan haar bord kos. “Bid julle nie eers nie?” vra Selma. Sy sit steeds met haar mes en vurk in haar hande.

      “Nee, hier sê elkeen vir homself: Op jou merke, gereed, vreet!”

      Selma knyp haar oë


Скачать книгу