Selma en Louise. Susan Coetzer

Selma en Louise - Susan Coetzer


Скачать книгу
sien als in kleurvolle prentjies terwyl Louise praat. Sy sien die plaashonde met die polonietonge en die perde met die lang blonde maanhare. Sy sien hoe hulle skemeroggend kaalvoet in hulle somerpajamas help skape tel. Sy sien die speelkamer met die houtkis vol fantasieklere heel onder in die lang gang, in die skadu van die bloekomlaning wat oor die stoep val.

      Sy besluit om eerder nie aan Pieter se uitgekerfde oë te dink nie. Ook nie aan tannie Elsa wat slaapwandel deur die huis nie. En ook nie aan die oorvriendelike, rooigesig-oom Tiny wat elke aand gholf speel tot die maan opkom nie.

      18 JANUARIE 2016: SAXONWOLD

      Sy het toe die tien kilometer plaas toe gestap daardie Vrydagmiddag ná skool, onthou Selma. Louise het getrou bo in die vyeboom gewag, nes sy belowe het. Lojale, unieke, kleurvolle Louise.

      Sy was doodmoeg en haar voete seer, ten spyte van die tekkies en dik sokkies. Haar rugsak het twee rooi strepe in haar skouers ge­vreet asof sy met ’n sweep bygekom is. Maar vir Louise sou sy gewilliglik die ekstra kilometer of tien stap.

      Selma plaas twee foto’s van haar beste vriendin langs mekaar: een laerskoolfoto en een van haar op haar vyftigste verjaarsdag op 20 Desember 2015. Louise het min verander. Haar oë is nog dieselfde groen kuile vol fantasieë. Die neus is effens groter, maar het dieselfde astrante wip. Die neusgate wys steeds opwaarts, asof sy aspris ’n standpunt teen die meerderheid inneem. Haar twee voortande was as kind al groot en vierkantig en kon nog nooit met gemak in haar toe mond inpas nie.

      Eintlik lyk Louise nog presies dieselfde as op laerskool, behalwe dat sy nou veel groter panties dra. Was ons maar weer kinders wat in feetjies kon glo, dink Selma.

      Haar selfoon lui. Dis Louise.

      “Dis nou telepatie,” sê Selma. “Ek kyk nou net na ons laerskool­foto’s en sit en terugverlang na die goeie ou dae. Jy lyk sowaar nog presies dieselfde. Net ’n paar nommers groter.”

      “Ek het ’n afspraak met hom gemaak,” sê Louise sonder om hallo te sê.

      “Met wie?”

      “Die sielkundige.”

      “Watter een? Jy sien so baie van hulle, ek kan nie byhou nie.”

      “Jóú een.”

      “Mý een? Ek sien ’n vroueterapeut hier bo.”

      “Die Mugg & Bean-een. Onthou jy die psycho spotting? Nudge-nudge, wink-wink? Is jy nou met my?”

      “O hý?” Sy voel hoe sy effens bloos.

      “Ja hý. Ek het hom bietjie gegoogle en die nommer van sy praktyk opgespoor. Afspraak by sy sekkie gemaak. Ek sien hom Donderdag­oggend 11:00. Okay, baai.”

      “Wag!” skree Selma.

      “Wat?”

      “Moet assebliéf nie iets oor my sê nie. Ek vra jou regtig baie mooi.”

      “Not a word. Cross my heart. Ek gaan net ’n recce doen. Bietjie die water toets. Keep you posted. Ciao for now.”

      Hoofstuk 5

      A good friend knows all your best stories.

      A best friend has lived them with you.

      – Anoniem

      21 JANUARIE 2016: KAAPSTAD

      Louise hou met haar 1990-Toyota stil by die adres in Bellville wat die sekretaresse vir haar oor die foon gegee het.

      Sy rek haar nek en loer deur die wit palissadeheining. Daar staan ’n duur silwer Mercedes en twee kleiner, goedkoper motors in die oprit geparkeer. Sy druk die interkom en wag dat die hek oopskuif.

      Waar moet sy aanmeld? wonder sy terwyl sy haar pildooshoedjie en krale herrangskik. Sy kies ’n rigting en loop haar vas in ’n wilder­nis rankplante.

      “Die ontvangs is diékant!” roep ’n vrou deur die oop venster. Louise beweeg in die rigting van die stem.

      Die wagkamer is teleurstellend neutraal ingerig. Louise soek ver­geefs na ’n Salvador Dali-afdruk teen een van die mure.

      “Doktor is ongelukkig ’n bietjie agter skedule,” sê die vrou agter die ontvangstoonbank.

      “Dokter?” vra Louise verras.

      “Nee, doktor in die sielkunde.” Die vrou het ’n betroubare maar gehawende gesig. “Skuus, ek is Christa – sy sekretaresse.”

      Sy lyk soos ’n hawelose SPCA-hond, besluit Louise. Sy wens sy kon haar by ’n doggy parlour inboek om die Afghan-hare in ’n styl te laat knip en sommer die grys wortels ook in te kleur.

      “Aangename kennis,” sê Louise en steek haar hand uit. “Ek is Louise van der Spuy met wie jy oor die foon gepraat het.”

      “Sit gerus, Louise.” Christa stryk oor haar hare asof sy Louise se doggy parlour-gedagtes gelees het. Sy oorhandig ’n vorm en ’n pen. “Kan jy dit asseblief voltooi, sodat ek vir jou ’n lêer kan oopmaak?”

      “Sekerlik.” Louise glimlag om te wys sy kom in vrede. Sy kyk rond en wonder waar om te sit.

      Daar is twee blou stoele met vierkantige, ingeboksde hout-armleunings en ’n sitkamerbank van dieselfde hout en stoffasie.

      “Kan ek solank vir jou ’n koppie koffie kry?” vra Christa. Haar gesig is sonder grimering – ’n kunswerk wat nog nie behoorlik afgewerk is nie.

      “Dankie,” sê Louise en wurm haar boude op een van die geboksde stoele in.

      Die middeljarige sekretaresse verskyn met ’n skinkbord koffie, sui­ker en melk. “Geniet dit,” sê sy. Sy dra ’n los geblomde hemp oor haar jeans. Die jeans is ’n nommer of twee te knap en beklemtoon haar swaargeboude onderlyf.

      Louise neem die koffie en oorhandig die voltooide vorm.

      “Dankie,” sê Christa en glimlag. “Roep maar as jy nog iets nodig het.”

      “Cool bananas,” sê Louise en soek dan rond tussen die tydskrifte om die tyd te verwyl. Die meeste van die leesstof is óf opvoedkundig óf Christelik van aard en sy is nie vanoggend in die luim vir skool of kerk nie.

      “Sal jy omgee as ek ’n oomblikkie buite rondkyk?” vra sy toe haar beker leeg is.

      “Sekerlik. Ek glo nie Doktor sal meer te lank wees nie.”

      Louise stap om die huis. Sy wil ’n bietjie navorsing doen; die kat uit die boom kyk. ’n Mens kan baie agterkom omtrent ’n persoon deur sy omgewing te bestudeer. Die tuin is effens oorgroei. Soos die wagkamer, skep dit ’n dienlike, maar effens saai indruk. Hier kort dui­delik die hand van ’n vrou – ’n vrou soos Selma, wat kleur en orde in sy lewe kan bring.

      Sy hoor ’n deur wat toeklap en dan die geklik van hoëhakskoene wat oor die plaveisel wegstap. Louise is net betyds om te sien hoe ’n vrou in ’n rooi meermin-kleefrok om die hoek verdwyn.

      “Jy kan maar deurkom, Louise! Doktor sal jou nou sien,” roep Christa.

      Doktor Theodor Swanepoel se gesig is ’n onleesbare bladsy. Hy dra ’n blou-en-wit strepieshemp wat losserig oor sy maag hang. Louise merk dat sy bruin skoene se neuse lanklaas ’n bietjie politoer gesien het. Hy steek sy hand na haar uit. “Theodor Swanepoel,” sê hy.

      “Louise van der Spuy,” sê sy met ’n breë glimlag. Hy ignoreer die glimlag en stap voor haar uit na sy spreekkamer.

      Hy het ’n effens ongemaklike manier van stap, asof hy nie honderd persent tuis voel in sy eie lyf nie. Louise drentel agter hom aan. Doktor Swanepoel skuif agter sy lessenaar in en kyk dan beswaard op. Sy wonder vir ’n oomblik of hy dalk ’n nood het wat hy onderdruk.

      “So waaraan het ek die besoek te danke . . . e . . .” Hy kyk af na sy lêer. “Louise van der Spuy, is dit . . .?”

      “Dit is inderdaad.”

      Sy skat hom


Скачать книгу