Selma en Louise. Susan Coetzer
die volgende uur gesels Louise in kleurvolle detail oor haar moeilike man en probleemkinders, terwyl sy hom deurgaans van onder haar pienk pildooshoedjie bestudeer.
Sy grys hare laat hom gedistingeerd lyk. Die charismatiese oë is meestal nie op haar gefokus nie, maar op die silwer Sheaffer-pen wat hy voor hom soos ’n anker in sy hand vashou. Nou en dan kyk hy wel op met ’n toeboekgesig en maak ’n aanbeveling.
Louise bespied ongemerk die vertrek terwyl sy nuwe probleme probeer uitdink. “My gesin is so damn demanding – neem absoluut al my tyd op,” kla sy. “Ek het geen vrye tyd nie – geen me time nie.”
“Dan moet jy verantwoordelikheid neem. Sterker grense afdwing.” Sy geslote uitdrukking verklap geen persoonlike meelewing nie.
“Seker maar,” sê sy en loer weer rond.
Die spreekkamer is net so neutraal ingerig soos die wagkamer. Die boekrak is opgestapel met akademiese handboeke uit die tagtigerjare. Daar is geen Frans Groenewald of Hannetjie de Clercq om bietjie kleur te verskaf nie; ook geen plantjie nie. Daar is wel ’n paar geraamde grade teen die muur, ’n Amerikaanse vlag en ’n paar foto’s van hom saam met bekendes wat haar aandag trek. Sy merk geen geraamde portret van ’n vrou en kinders op sy lessenaar nie. Daarvoor score hy baie punte.
Doktor Swanepoel draai sy nek ongemerk in die rigting van sy pols en loer onderlangs op sy horlosie.
“Is my tyd op? Ek sien jy loer op jou horlosie.”
“Ongelukkig, ja.” Hy sit sy pen neer soos ’n punt agter ’n sin. “Ek stel voor dat jy nog ’n afspraak maak vir oor so twee weke?”
Louise staan op en stryk die plooie uit haar verskillende lae klere. “Ek sal so maak. Baie dankie vir jou tyd, dok,” sê sy gemaak dankbaar.
“Noem my gerus Theodor of Theo – nes jy verkies,” sê hy terwyl hy iets op haar lêer krabbel. “En sê groete aan jou Mugg & Bean-vriendin van Johannesburg wanneer jy haar weer sien.”
“Onthou jy ons . . .?” Louise druk-druk aan die pienk hoedjie op haar kop.
“Natuurlik. Die psycho spotters.” Sy oë is ysblou toe hy opkyk.
“Ons het net gejoke, hoor.”
“Ek besef dit.”
“Ek wens Selma kon jou kom sien. Ek cope eintlik fine, maar Selma gaan deur ’n baie moeilike hoofstuk. Fyn, delikate gees. Sy probeer haar trauma wegwerk. Reis gedurig en skryf oor haar avonture. Sy probeer mense aanmoedig om op te staan ná verlies . . .”
“Soos ek ook maar.”
“Reis jy ook?” vra Louise.
“Nee, maar ek skryf wel en tree as motiveringspreker op by funksies.”
“Klink asof julle baie in gemeen het.”
“Dis moontlik,” sê hy en tel haar lêer op. Sy merk dat sy naels besonder kort is. Kou hy dalk sy naels?
Theodor maak die deur oop en glimlag vir die eerste keer. “Betaal sommer voor by Christa. Sy sal vir jou ’n kwitansie gee en jou volgende afspraak skeduleer. Christa is my regter- én linkerhand.” Hy kyk met waardering na sy sekretaresse.
Christa se gesig helder merkbaar op toe sy vir Theo sien. ’n Blos kruip oor haar gelaat. “Ek maak so, Doktor.” Sy druk ’n sliert gepermde hare agter haar een oor in.
“So wanneer praat hy weer by ’n funksie hier naby?” vra Louise terwyl sy wag vir die kwitansie. “Ek sal dit baie like om hom te hoor.”
Christa blaai deur sy dagboek. “Oor twee weke. By ’n Valentyns-damestee by ons plaaslike laerskool. Jy moet regtig probeer om te gaan luister. Hy praat oor die sewe belangrikste dinge in die lewe.”
“Ek dog daar is net een,” grinnik Louise. “Seks.”
Christa lig haar wenkbroue.
“Ek joke net. Ek gaan beslis ’n plan maak om te gaan luister.”
“Hy is werklik ’n fantastiese spreker,” sê Christa asof sy oor ’n internasionale held praat. “Hy is ’n groot inspirasie vir soveel vroue.”
“Goed om te weet,” sê Louise en glimlag voor sy uitstap. “Ek sal jou bel oor die praatjie.”
Haar selfoon lui net toe sy in die motor klim. “Yes, Karel Kat?” sê sy en kyk hoe die wit hek oopskuif. “Ek sien jy’s op my spoor.”
“Waar loop jy rond?” vra hy. “Ek het ’n vergadering naby die huis gehad en wou jou vir koffie stick.”
“Net koffie?” vra sy en sit haar flikkerlig aan.
“Okay, koffie en ’n stuk wortelkoek.”
“Ag shit, dis nou jammer. Dis nie aldag wat jy my op ’n date nooi nie.”
“Ons kan steeds gaan. Ek het nog so ’n goeie halfuur tyd. Ek is nog in Tygervallei. Waar is jy nou?”
“Bellville,” sê Louise en draai op die snelweg na Durbanville.
“Wat de hel maak jy in Bellville?”
“Recce gedoen vir Selma. ’n Vrou het haar geheime.”
“Recce? Watse recce?” vra hy nuuskierig.
“Ek het ’n interessante sielkundige kom sien, wat ek vermoed Selma dalk uit haar swart mood kan lig,” sê Louise tevrede.
“Is dit nie beter dat sy maar eerder haar eie shrink in Johannesburg sien nie?” vra hy versigtig.
“Nie vir terapie nie, Karel Kat. Kom by! Ek het ’n undercover-afspraak gemaak om hom deur te kyk as potensiële date-materiaal vir haar.”
“Ek glo dit nie! En ék betaal daarvoor?”
“Sien dit as jou tiende vir die kerk. Selma moet weer verlief raak, Karel.” Sy draai voor ’n sportmotor in. Daar is ’n getoet agter haar. “Dit voel soos ’n persoonlike missie. Kan jy dink hoe goed dit haar sal doen?”
“Mmm. Daar is net so baie con men daar buite.” Louise kan hoor hoe hy dink. “Wat van Bernardus? Het jy al aan hom gedink? Dis nou ’n bleddie nice ou in my opinie. Agtermekaar, straightforward sakeman.”
“Ek hét aan hom gedink, maar hy is dalk net te nice en stable vir haar. Selma hou meer van ’n uitdaging. ’n Bietjie van ’n big dipper ride.”
“Ai, wat is dit tog met julle vroumense?”
“Nie ek nie. Ek het ’n baie goeie keuse gemaak met jou.” Sy chuckle in sy oor.
“Lekker vlei jy my nou. Ek weet dis net oor ek vir Selma se recce betaal het. Nou maar sorry ons date het nie uitgewerk nie, my ding. Ek gaan dan maar eers terug kantoor toe.”
“En ek moet vir Lilly gaan optel. Die skool kom byna uit.”
“Wat eet ons vanaand?”
“Weet nie. Ek sal iets uitdink.”
“Seker Nando’s wat ek moet gaan oplaai.”
“Klink na ’n goeie idee – siende dat jy my ’n stuk wortelkoek skuld.”
“En jy skuld my nog meer vir daai recce,” sê hy suggestief. “Jy sal vanaand moet uithaal en wys, ou vrou.”
Sy het ’n goeie man gekry, dink Louise toe sy by Langenhovenstraat indraai. Sy parkeer voor Hoërskool Durbanville. ’n Goeie man en twee goeie kinders en ’n lieflike huis met baie voorregte. Hoekom kry sy dan nog steeds elke nou en dan ants in haar pants?
Sy kyk hoe haar vyftienjarige dogter, Lilly, stadig oor die pad aangeslenter kom. Haar hare – ’n ligter rooi as haar ma s’n, meer haar pa se gemmerkleur – is in ’n bokstert teruggebind. Sy kyk hoe Lilly haar skouers terugtrek toe sy verby ’n groepie seuns loop. Haar borsies beur soos jong turksvytjies teen haar