Selma en Louise. Susan Coetzer

Selma en Louise - Susan Coetzer


Скачать книгу
luister hoe swaar voetstappe in die gang afgestap kom – al nader en nader aan die oop speelkamerdeur. ’n Skaduwee gly oor die plankvloer.

      “Louisie-peezie!” groet ’n manstem.

      “Hallo, Pappa,” sê Louise en swaai om. “Dis Selma, my nuwe beste maatjie.”

      “Wat het van Lana geword?”

      “Sy mag nie meer met my speel nie.”

      “Hoekom nie?”

      “Sy het nie gesê nie.” Louise trek haar skouers op. “Ek het vandag ses eiers uitgehaal. En Selma net drie.”

      “Dis grand,” sê haar pa en glimlag. Sy tande is lank en geel soos dié van ’n plaasperd.

      “Voel jy darem al tuis hier by ons?” vra hy.

      “Ja dankie, oom.”

      “Good!” sê hy vrolik. “Noem my gerus oom Tiny.”

      “Okay, oom Tiny.”

      Sy neus en wange is blinkrooi asof hy pas rooisel aangesmeer het. Hy’t dieselfde uitgekerfde blou strepie-oë soos Pieter, net vriendeliker.

      “Nou maar, Louisie-peezie en Selma-pelma, julle moet lekker slaap. Nite-nite, girls.” Hy trek die speelkamerdeur agter hom toe.

      “Jou pa lyk gelukkig,” sê Selma en gooi die dobbelsteentjie op die bord. “Ag nee, ek het op ’n slangetjie geland . . .” Sy skuif haar rooi knopie af in die slang se bek. “Maar jou ma lyk nie so gelukkig nie.”

      “Dis oor my pa ’n psigopaat is,” sê Louise.

      “Is dit soos ’n vegetariër?” vra Selma.

      “Ja, ek dink so iets,” sê Louise.

      Selma sit regop. Sy hoor gedempte stemme en kleinhondjiegeluide agter een van die deure in die lang gang.

      “Wat maak so?” vra Selma.

      “Seker maar Johanna se baby,” sê Louise en trek Selma aan die arm. “Kom ons klim deur die venster en gaan speel buite.”

      “Maar dis pikdonker,” sê Selma.

      “Maar ons is fairies, onthou. Ons het vlerke en ’n kroon en ’n tower­staf. Ons kan enige plek heen vlieg en magic doen.”

      Louise trek die luike weg en spring deur die venster. Haar grootmensskoene klikklak op die leiklip van die plaasstoep. Selma sukkel om by te hou.

      Louise hardloop vooruit oor die grasperk in die rigting van die vyeboom. In die maanlig verander sy in ’n regte feetjieprinses, haar bos lang koperrooi hare ’n vlieër wat agter haar aansweef. Twee van die plaashonde hardloop aan weerskante van haar. Hulle tonge lyk nes die pienk polonieskywe wat Selma se ma op haar skooltoebroodjies inpak.

      Louise trippel teen die handgemaakte houtleertjie op tot bo in die vyeboom. Sy gaan sit wydsbeen bo-op ’n houtplatform.

      “Dis die fairies se uitkykplek,” sê sy vir Selma. “Klim! Dan kyk ons na die maan deur die vyeblare.”

      Selma sukkel teen die leertjie op. Haar vlerke haak aan die takke vas. Sy het nog nooit iets so waaghalsig gedoen nie. By hulle huis op die dorp moet sy elke aand halfagt al in die bed wees.

      “Die maan is mooi, nè,” sê Louise en druk ’n paar takke uit die pad. “Dit lyk soos ’n bulb.”

      “Of ’n eier,” sê Selma.

      “Of ’n duimnael.”

      “Of ’n blink muntstuk . . . Ek wonder hoe lank vat dit om tot daar te kom – seker jou hele lewe.”

      “Ons kan gou soontoe vlieg,” sê Louise. “Jy moet net eers weer jou vlerke regbuig. Die een hang heeltemal skeef.”

      Sy help Selma om haar vlerke in die vliegposisie te kry. “Okay, vat nou jou towerstaf en maak toe jou oë en dan wens jy. Een . . . twee . . . drie!”

      “Een, twee, drie!” sê Selma met haar oë styf toegeknyp.

      “Sien jy die rye Krismisbome met liggies? En hoor jy die mooi musiek van die harpe en die viole? Daar is nog baie ander fairies op die maan! Hulle nooi ons om saam te dans.”

      “Ja, ek sien hulle,” sê Selma met haar oë steeds styf toegeknyp. Hulle sit ’n lang ruk so met hulle oë toe. In die verte roep ’n naguiltjie.

      “Eet jy vye?” vra Louise skielik. Sy leun vorentoe en pluk ’n paar vye af. “Hier is baie rypes aan die boom – ’n mens moet net weet waar om te kyk.” Sy gee vir Selma ’n vy aan.

      Selma trek die sagte skil terug en breek die vy oop. Sy kyk na die fyn patroontjie van die pers pitjies.

      “Ek het ’n lekker soete,” sê Louise met vol kieste. Sy gee vir Selma nog ’n vy aan. “Proe dié een. Ek dink dis ook ’n stroopsoete.”

      “Die pitjies lyk soos die sterre,” sê Selma. Sy kyk op na die sterrehemel voor sy ’n hap neem.

      “Weet jy hoeveel sterre is daar in die hemel?” vra Louise.

      Selma skud haar kop.

      “’n Honderd miljoen. Dit neem ’n hele week om te tel,” sê Louise kouend. Sy gooi die vyeskille vir die twee skaaphonde wat onder die boom lê en waghou. “Weet jy wat is masturbasie?” vra sy dan.

      Selma skud haar kop.

      “Dis wat seuns doen met hulle penisse.” Sy gee vir Selma nog ’n vy aan. “Dis die laaste een, okay. As jy te veel vye eet, kry jy spuitpoep.”

      Louise begin met die houttrappies afklim. “Kom ons gaan slaap,” sê sy. Sy trek haar hoëhakskoene uit en begin vooruit draf in die rigting van die speelkamer, die honde weer langs haar.

      Selma beur deur die oop venster. Die speelkamer is pikdonker en spokerig. Sy wonder wat van Louise geword het. Haar oë volg die spore van die vlerke, die kroon en die goue rok op die houtvloer. Dan sien sy Louise in haar frokkie en pantie in die hoek op die klavier­stoeltjie sit.

      “Saggies,” sê Louise. “Voor my pa wakker word.”

      Selma trek so geruisloos moontlik uit. Sy vou die roospienk rok netjies op en sit dit in die kis.

      “Kom,” fluister Louise en steek haar hand uit.

      Die gang is doodstil. Daar is geen kleinhondjiegeluide agter die toe deur nie. Hulle sluip op hul tone in hulle onderklere tot by Louise se slaapkamer aan die verste ent van die gang.

      “Nite, Selma,” sê Louise.

      “Nite, Louise,” sê Selma.

      18 JANUARIE 2016: SAXONWOLD

      Selma skandeer die rits laerskoolfoto’s van haar en Louise. Daar is so baie kleurvolle momente waarvan sy al vergeet het. Die onbevange kinderjare op Moorreesburg is helder krale in haar gedagtes. Sy wens dit was moontlik om jou kinderjare te preserveer soos die geelpers­kes en suurpruime op die plaas. Dan kon sy op ’n triestige dag ’n flessie jong-Selma-en-Louise oopmaak om haar op te beur.

      Elke naweek op die plaas was ’n adrenalienbelaaide aksiefliek waar­in sy en Louise die heldinne gespeel het. Die oorslaapkuiers by haar eie meer konserwatiewe huis met die vaste reëls en regulasies was ’n droë swart-en-wit fliek in vergelyking met die avonture op die plaas.

      Haar ouers was nie geesdriftig oor die hegte band tussen haar en Louise nie. Maar ten spyte van hul teenkanting het hul vriendskap al veertig somers oorleef.

      Haar oë kom tot rus op ’n foto van haar en Louise tydens ’n oor­slaapkuier by hulle huis op die dorp. Sy dink dit is iewers in hulle standerd 2-skooljaar geneem. Hulle poseer saam met haar ouers en ouma voor in die tuin by die stinkafrikanerbedding. Die ouer mense lyk somber. Sy en Louise glimlag van oor tot oor.

      FEBRUARIE 1976: MOORREESBURG

      “En


Скачать книгу