Selma en Louise. Susan Coetzer
kyk.
“Sorry. Middag, Ma.” Sy gee haar ma ’n vlugtige drukkie. “Ek is net so vrek honger. En dis warm.”
“Ek was bietjie besig vanoggend – moes iets doen vir tannie Selma; nie by kos uitgekom nie. Ek gaan sommer vir ons twee ’n takeaway kry op pad huis toe.”
“Jippieee!” sê Lilly, haar gemmerbier oë skielik vol sprankel. “Kan ons ’n pizza optel? Kaas, ham en tamatie?”
“Why not?”
“Dankie, Mamma!” Sy gee haar ma ’n stywe druk. “Skuus dat ek so lelik was. Ek’t weer so gesukkel met die wiskundetoets. Dit maak net nie sense vir my nie. Is ek dom of wat?”
“Nope. Jy aard maar net na my. Moenie stres nie. Ons talente lê in ander areas. Tannie Selma moes my altyd help met die somme . . .”
21 JANUARIE 2016: JOHANNESBURG
Selma klik op die Zanzibar-galery. Sy moet nog ’n paar foto’s van die plaaslike kos selekteer om saam met haar artikel deur te stuur. Dis moeilik om te kies tussen die lieflike goudbruin barrakuda, die gekerriede krap in kokosmelk met rissie en basilie, die gebraaide spesery-seekat met vars mango, en die vars kabeljou met suurlemoenbotter, growwe peper en danjablare. Sy wonder watter gereg die meeste fynproewers sal aanspoor om die eiland oorkant Tanzanië te besoek.
Sy wip soos sy skrik toe haar selfoon lui. Dis Louise.
“Ek het hom toe gaan sien,” sê sy sonder om hallo te sê. Selma kan hoor sy eet iets.
“Wie’t jy gaan sien?” Sy wonder wat Louise kou. Klink soos iets wat kraak. Dalk ’n wortel of ’n komkommer. Louise dieet graag. Nie dat ’n mens ooit die resultaat daarvan sien nie.
“Jou sielkundige.”
Selma dubbelklik op die muis. “Mý sielkundige?” ’n Foto van haar saam met Louise en Louise se broer, Pieter, en hulle neef Herklaas verskyn onverwags op haar rekenaar. Sy ril en maak die lêer haastig toe.
“Die ou in Mugg & Bean, dammit! Ek het mos vandag die afspraak met hom gehad.”
“O . . . Skuus . . . Ek moet sê, ek het al van hom vergeet.”
“Hy is toe heel nice in real life. Bietjie werk nodig, maar daar’s baie potensiaal, sê ek jou.”
“Stel nie belang nie,” sê Selma. Sy dubbelklik op die galery van foto’s wat op Prison Island geneem is. Daar is ’n foto waar sy saam met twee bergskilpaaie poseer. Dalk kan sy dit ook ingooi by die artikel, met ’n pittige onderskrif.
“Theo is baie enigmaties.”
“Theo?”
“Doktor Theodor Swanepoel. Hy’t gesê ek moet hom sommer Theo noem.”
“Julle is omtrent hand op die blaas ná net een afspraak.”
“Hy is nie sommer ’n gewone shrink nie. Hy is ’n doktor in sielkunde. Spesialiseer in opvoedkunde. Baie gewild in die Kaap – veral onder die girls.”
“Stel nie belang nie,” sê Selma. Sy sit die muis neer en probeer die vlugtige ontmoeting herroep. “Ek het wel op die terugvlug ’n ander baie interessante man ontmoet.”
“Wie? Jy’t my niks hiervan gesê nie.” Louise knars verwytend in haar ore.
“Jy’t my nie kans gegee nie. Mohamed Singh. Toergids. Groot, sielvolle Hush Puppies-oë. Ek het sy nommer op my foon gebêre, vir toekomstige verwysing . . .”
“Die naam klink soos ’n Indiër – bly weg, Selma!”
“Die man is ’n gerekende gids, Louise, ek het hom gegoogle. Die comments is fenomenaal. Hy neem mense van regoor die wêreld om die ware hart van Indië te leer ken. Sê dit verander jou hele lewensuitkyk. Genees mense . . . Dalk moet ek en jy dit oorweeg om ’n reis saam met hom aan te pak?”
“Nee, nee, nee! Ek gaan eerder Noordpool toe. Kyk jy nie die nuus nie, Selma? Bly weg! Daai facebook van Mister Tour Guide kan ’n fake profile wees met fake comments van ’n klomp fake mense wat hy bribe.”
“Hoe kan jy so veralgemeen?”
“Maybe. But rather safe than sorry. Kry Indië net uit jou kop en sê my eerder wanneer kom jy weer Kaap toe?”
“Ek was dan nou net in die Kaap,” sê Selma.
“Ek wil jou en Theo saam oornooi vir ete. Dit voel vir my na ’n opdrag van die Here . . .”
“Hoeveel keer was ons al hier, Louise? Jy kry kort-kort kastig ’n opdrag van die Here om mense aan mekaar voor te stel. En dis elke keer ’n ramp.”
“Hy is ’n skrywer en ’n motiveringspreker ook.”
“Wie?”
“Theodor! Magtag, jy luister ook nooit wanneer ek iets belangriks met jou probeer deel nie!”
“Wel, jy ook nie. Jy piepie op my Indië-fantasie.”
“Sorry, maar your hinterland lies here right under your nose – not in India.” Selma hoor hoe sy ’n vars hap vat.
“Ek haat dit as jy so bevooroordeeld is. Dit is so uit die mode in die nuwe Suid-Afrika. En wat is dit wat jy so in my ore kou?”
“Sorry, dis ’n wortel. Sy spreekkamer is nie ver van my af nie. As jy weer Kaap toe kom, moet ons by hom inpop.”
“Luister, Louise, ek is op deadline met die Zanzibar-storie – ek is besig om foto’s uit te kies. Dis nie nou ’n goeie tyd nie.”
“Hy’t my uitgevra oor jou . . .”
Selma klik op die muis en maak die fotogalery toe. “O, onthou hy my sowaar?” Sy is teen haar sin beïndruk.
“Jip. Vreeslik uitgevra oor jou en wat jy als doen,” lieg Louise. Sy het al geleer as jy mense by mekaar wil uitbring, moet jy partymaal ’n paar wit leuentjies inwerk om albei se ego’s tot gewilligheid te streel.
“En wat sê jy toe?”
“Die pap dik aangemaak. Lekker gebrag oor jou. Gesê jy toer die wêreld vol en skryf reisboeke en motiveer mense om weer op te staan ná teleurstellings. Hy was baie impressed.”
“Regtig?” Sy vergroot die een foto en staar met heimwee na die historiese geboue van Stone Town. Sy ruik weer die soet, eksotiese Oos-Afrika-, Arabiese en Indonesiese geure wat haar om elke hoekie ingewag het. Die stad het ’n sensuele indruk op haar hart agtergelaat, soos ’n minnaar.
“So, moet ek sy selnommer vir jou probeer uitsnuffel by sy sekkie? Dan kan julle solank met mekaar begin whatsapp, terwyl ek die troue en die strooimeisies reël.” Louise lag ingenome in haar oor. “Dink net: ek stel jou dalk aan jou toekomstige man voor.”
Selma voel hoe sy haar bloediglik vererg. Louise verbeel haar sy is steeds die fairy queen met die vlerke en die towerstaf hoog bo in die vyeboom. Is sy naïef of net plein dikvellig? Sy wens sy wil haar neus uit ander se sake hou en ophou om alewig Kupido te speel.
“Hoeveel keer moet ek jou nog sê ek wil nóóit weer trou nie?! Ek is amper vyftig, finansieel onafhanklik en suksesvol. Waarom sal ek weer wil trou?”
“Moenie jou gat so wip nie, Selma. Ek trek net jou been. Wat is die big deal om net met die man te chat op whatsapp of facebook? Dis hoe mense deesdae ontmoet: op kuber. En daarna wanneer jy afkom Kaap toe, is die ys al gebreek.”
“Néé, Louise. Dis vir my common om met ’n vreemde man te begin whatsapp. As ek ’n boyfriend soek, is hier genoeg belangstelling in die Noorde. Ek word gereeld uitgenooi.”
“Jy kan so ’n yskaskoek wees,” kou Louise in haar ore.
“En jy so ’n orige tert. Dat jy jou wragtig voordoen as ’n pasiënt!”
“Net oor ek vir jou omgee. Ek weet dis vir jou swaar