Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo

Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo


Скачать книгу
niks waarvoor ek skrik nie, sing sy in haar gedagtes toe sy uitklim en die kardeur hard agter haar toeslaan.

      Haar pa kom van die melkery se kant af met sy hans-springbok Seuntjie kort op sy hakke. Die twee boerboele Broer en Suster draf vooruit, skuur hulle teen Irma en Marissa en gaan besnuffel die kar. Haar pa soengroet. “Hoe lyk dit op Poupan? Wat sê Jan? Hoeveel het dit by hulle gereën?”

      Marissa wonder nie of hy met opset die eintlike doel van hul besoek ignoreer nie. Tog, hier in dié wêreld is reën belangrik, belangriker as die troue van die jaar.

      “Jan kla nie,” sê haar ma. “Die veld lyk ook goed. Die gronddam op Ysterplaat is driekwart vol.”

      Dis ’n goeie jaar, baie goed. Haar pa slaan sy arms om hulle en begin aanstap huis se kant toe. Hy ruik na veld en kruiebos. “Lanklaas so ’n goeie jaar gehad, alles goed,” sê hy. “Behalwe … Ja, die Here is ook al een wat getrou is.”

      Marissa reageer nie, Irma sê ook niks. Hulle het mekaar belowe om nie die bobbejaan agter die bult te gaan haal nie. Pa Flip is ongelukkig, maar wat help dit om hom met die intrapslag verder om te krap?

      In stilte stap hulle saam huis toe, die mak plaasdiere stertswaaiend agterna. Hulle gaan by die agterdeur in terwyl die honde op die stoep agterbly en Seuntjie tussen die werfhoenders deur koers kies stalle toe waar Abram hom vir die nag toemaak. Voëls, wat die hoenders se kos kom steel het, vlieg op en by hom verby.

      Die kragopwekker dreun gesellig, maar dis skemer in die kombuis. Irma skakel die ligte aan. “Het jy geëet?” vra sy vir Flip.

      “Die middagkos was genoeg. Mieta het vleis in die yskas gelos. Het julle geëet?”

      “Hoe ken jy jou suster?”

      Flip maak die yskas oop. Hy haal ’n bottel bier uit. “Waar is daai kouevleis?”

      “Ek gaan maak gou ’n draai in die badkamer, dan kom help ek jou.”

      Irma glip by die kombuisdeur uit. Marissa bly staan. Sy kyk hoe haar pa sy bier op die tafel neersit en die glas van die glaserak afhaal. Hy maak die bottel oop en gooi die inhoud in die glas. ’n Dun straaltjie skuim loop langs die glas af.

      Sy kyk, en sien nie meer haar pa nie, maar Dawie wat vir hulle elkeen ’n koue bier skink. Dis laatmiddag nadat hulle moeg en dors van heeldag se rondloop in die veld terugkom huis toe, nog klam van swem in een van die sinkdamme. Druppels water hang aan die punte van haar vlegsels en maak poeletjies op Mieta se blinkgevryfde vloer. Sy raas en belowe hulle om nooit eendag vir hulle te werk nie. Mieta het ook aangeneem dat hulle twee eendag sou huis opsit.

      Flip vat ’n sluk van sy bier, sit dit hard op die tafel neer. “Ja, en toe?”

      “Toe niks.”

      “Hoe lyk Pa se kind dan so ongelukkig?”

      “Ag, sommer. Pappa se bier lyk lekker koel.”

      “Kan ek vir jou ook ene slag?”

      “Seblief, as Pappa nie omgee nie.”

      Hy maak die yskas oop; sy haal nog ’n lang glas uit die glaserak.

      “Sal dit help?” vra hy toe hy die bottel oop het en die inhoud stadig vir haar oorgooi.

      Sy gaan sit, draai die glas in die rondte. “Weet nie.”

      “Ek wens die vervloekte troue is agter die rug.”

      Hy is kwaad, dink Marissa. Hy praat soos gewoonlik nie veel nie, maar hy is nie gelukkig nie. “Is Pappa kwaad vir hom? Vir Dawie?”

      “Ek is. Kyk hoe het hy jou in die steek gelaat.”

      “Pappa, hy het my nie in die steek gelaat nie. Ék het die verlowing verbreek.”

      “Julle was uitgeknip vir mekaar. Hy en Mart … Sy is nou wel familie, maar hoe?”

      “Dis hulle saak. Ek gaan my nie daaroor verknies nie.”

      Flip neem ’n paar slukke van sy bier, veeg die skuim van sy bolip met die hand af. “Sal darem graag wil weet wat nou eintlik verkeerd geloop het.”

      Marissa wil hom nie seermaak nie, maar hy het sy eie agenda en hy moet dit ’n slag hardop sê. “Is dit oor die grond, Pappa?” vra sy reguit.

      “Watter grond nou?

      “Dawie se grond. Bitterputs.”

      “Wie sê so?”

      “Ek. Ek wil weet.”

      “Grond is belangrik. Nie so belangrik dat ek met my enigste kind daarvoor sal betaal nie.”

      “Pappa is nog steeds teleurgesteld.”

      “Ek is nie teleurgesteld nie, ek is kwaad omdat Dawie Nel jou weggegooi het.”

      “Hy het nie. Dis ek, ek wil nog studeer en navorsing doen. Ek gaan Pretoria toe vir minstens twee jaar.”

      Haar pa se glas is leeg, hy kyk spytig na die skuim wat agtergebly het. “Marissa, jy kan gaan, maar jy moenie die plaas vergeet nie. Onthou, jy het nie ’n broer nie.”

      “Ek weet. Ek verstaan en ek belowe vir Pappa, ek kom terug.”

      “So ja!” Irma fladder die kombuis binne, die geur van lentebloeisels om haar. “En toe, wat gesels julle?”

      “Oor die plaas en oor Pretoria,” sê Marissa.

      “Sy het my belowe om terug te kom en te boer. Twee jaar, ek gee haar net twee jaar.”

      “Wees maar bietjie meer toegeeflik, Flip.”

      Marissa staan van die tafel af op. Sy het net die helfte van haar bier gedrink. “Ek gaan kamer toe. Sal Mamma vir Pappa vertel?”

      3

      Die nag martel sy haarself met verwyte en trane. Sy slaap nie. Toe sy eindelik teen die oggendure wil insluimer, kraai die werfhaan haar wakker en lê en wag sy op die eerste lig. Sy voel onrustig en wonder of sy die regte ding doen om haar aan die troue te onttrek. Is dit nie lafhartig nie? Wys sy nie daardeur dat sy jaloers is en Mart nie gelukkig wil sien nie? Maar sy weet: Mart sal nooit gelukkig wees nie. Want Dawie is nie van plan om haar gelukkig te maak nie.

      Moet sy nie liewer eerlik met Mart gaan praat en haar waarsku nie? Sy sal nie die eerste bruid wees wat ’n week voor haar troue koue voete kry nie. Aan die ander kant – Mart sal dink sy wil Dawie terugneem en sy sal nie. Al wil sy, sy sal nie! Nog iets … Wat van die kind? Hy of sy het nie gevra om verwek te word nie, arme onskuldige wesentjie.

      Voor Marissa haar kom kry, stroom die trane en moet sy haar gesig met haar laken afvee omdat die snesies opgebruik is. Goeiste, sy sal soos Alice in Wonderland verdrink in haar trane as sy nie nou ophou en fokus nie. Sy het oproepe om te maak en tasse om te pak.

      Dis skaars lig genoeg toe spring sy op, gryp haar toiletsakkie en gaan badkamer toe. Haar pa is reg. Sy het nie meer ’n broer nie en al wil sy, sy kan hom nie terugwens nie. Sy was nog bitter klein toe hy van die bakkie afgeval het, so klein – al wat sy onthou, is dat hy altyd vooruit gehardloop het en oral kon bykom waar sy nie kon nie. Haar ma het haar later vertel dat sy twee jaar oud was en hy sewe toe hy dood is. Eintlik was sy maar altyd alleen.

      Marissa sluk die knop in haar keel en skud die gedagtes van haar af, klim onder die stort in, seep haar van kop tot tone in, was haar hare en staan lank onder die water. Die grond en die voortbestaan van hulle kant van die Du Plessis’s is haar verantwoordelikheid. Maar daar moet ’n man op die plaas wees en sy sal hom nog vir hulle aankeer. Miskien oor ’n jaar of so.

      Haar ma en pa is verbaas toe sy betyds is vir ontbyt. Hulle kyk vlugtig na mekaar, maar maak nie ’n opmerking oor haar dik gehuilde oë nie.

      “Goed geslaap?”

      “Nie juis nie.”

      Sy drink vrugtesap en wurg ’n paar lepels muesli en jogurt in. Haar pa eet wors en twee gebakte eiers, haar ma ’n


Скачать книгу