Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo
vrae begin vra! Flink gooi sy haar kamerjapon oor, maak haar klere en toiletware bymekaar en draf in die gang af badkamer toe.
Sy het skaars die krane oopgedraai of iemand klop aan die deur en haar ma roep. “Marissa, is dit jy?”
“Wie anders?”
“Wanneer het jy teruggekom?”
“Nou net, Mamma. Ek is natgesweet van heeloggend se ry.”
“Ons kry ’n gas vir ete. Ek wil hê jy moet my help met die slaai. Die huis lyk treurig sonder blomme. Ek gaan rose pluk om ons tafel op te vrolik.”
Marissa kry ’n aardige gevoel. Almal wat vir hulle belangrik is, kuier op Poupan en haar ma sal nie praat van ’n gas as dit ’n bekende is nie. Kan dit wees? “Oukei … Wie is dit?” vra sy en probeer om doodgewoon te klink.
“Gannavlei se nuwe huurder. Maak gou, hoor!”
Huurder, nie huurders nie! Miskien het hy ’n vrou en kindertjies wat nog nie aangekom het nie. Maar wat nou? Sy kan maak of sy siek is, maar netnou laat val haar ma of pa iets oor die troue en hy begin uitvra, en kort voor lank weet hy net mooi als. Nie dat hy lank in die duister sal bly as hy en sy gesin hier intrek nie. Dis platteland, skinderstories versprei hier vinniger as enige ander plaag.
Marissa byt op haar tande en besluit sy sal maak of sy hom nog nooit voorheen gesien het nie. Sy gaan vriendelik wees met sy vet vroutjie, en terwyl die grootmense gesels, sal sy haar babaspeelgoed uit die mottegif gaan haal en die kindertjies vermaak.
Vasbeslote klim sy uit die bad, droog af, trek aan en ruim die badkamer op. In haar slaapkamer kies sy ’n kort wit rokkie en haar Indiese leersandale. Sy grimeer lig, blaas haar hare winddroog en spuit haar gunstelingparfuum aan. Staan nader aan die spieël. Nie ’n verkeerde merkie nie. Daar is selfs ’n blos op haar wange. Vir wie? Tog nie vir ’n ander vrou se man nie! Skielik voel sy skuldig. Dis wat sy doen, sukkel met ander vroue se mans! Met bewende hande, tel sy die kam op om haar hare te kam, gooi dit weer neer en maak dat sy van die spieël af wegkom kombuis toe.
Die slaaigoed lê op die tafel en wag. Sy tap ’n afspoelbak vol water, was die slaai, spoel die tamaties af, die seldery, soetrissie en komkommer. Daar is ook ’n botteltjie olywe, fetakaas en grasuie. Lyk of haar ma wil indruk maak. Aan die ander kant, elke gas wat op Jakkalspoort onthaal word, is ewe belangrik. Die assistent-stasiemeester wat leë melkkanne kom haal of die sprinkaanbeampte wat gif aflaai, word ewe deftig onthaal. Hier is min afleiding en gaste is altyd welkom. Gedwee begin sy die slaaiblare stukkend breek. ’n Deuntjie draal in haar kop, dis ’n lawwe ser-liedjie waarmee die koshuismans hulle snags wakker gesing het: “Ek wonder wat my hinder, daar’s onrus in my hart, of daar ’n bange vlinder … sag huiwer in sy smart.”
Dawie was nogal een van die voorsangers en aantreklik genoeg dat baie van die meisies haar beny het. Toe was alles perfek en kon hulle kastig treurige liedjies sing, vandag … Nee, sy wil nie nou weer aan Dawie en Mart dink nie, sy moet hulle uit haar kop sit. Dis dalk niks teen haar nuutste verleentheid nie. Hoe kyk sy die man in die oë sonder om te bloos? Kan sy op hom reken om diskreet te wees of het hy klaar sy mond verbygepraat?
Sy is besig om die komkommer in skyfies te sny toe die kombuis se sifdeur agter haar toeklap en sy haar pa se stem hoor, heel gemoedelik – en toe syne! Sy spits haar ore om te hoor of daar ’n vrou by is. Klink nie so nie. Haar pa en Theo Wessels verkeer heel gaaf met mekaar, byna soos ou vriende. Nou ja, hulle gaan bure wees en as hulle mekaar se geselskap geniet, laat dit so wees. Solank die Theo die ordentlikheid het om stil te bly oor die onderonsie wat hy met haar gedeel het, kan hulle gerus maar gesels.
“Marissa,” sê haar pa. “Het jou ma jou gesê ons het ’n gas vir ete?”
Ja, Pa, ek weet, wil sy uitroep, maar sy hou haar in en kap verwoed aan ’n selderystingel. Die mes maak diep kepies in die kapbord en mis haar vingers rakelings. Sy is bewus daarvan dat haar pa en Theo Wessels om die tafel stap sodat hulle haar in die oë kan kyk. Sy hou haarself besig, dié keer met ’n tamatie. Haar pa soen haar op haar wang. Nou moet sy opkyk.
Hy staan skuins agter hom, ’n lang man, nog langer as Flip. “Marissa, dis Theo Wessels, jou nuwe huurder.” Haar pa kyk trots van haar na Theo. “Dis my dogter Marissa. Gannavlei is haar plaas.”
Sy glimlag toe maar. “Aangename kennis,” sê sy, en hou haar hand met groentemes en al na hom toe uit.
Ewe kalm vat hy die mes by haar en sit dit op die tafel neer. Dan neem hy haar hand in syne en los dit nie. Sy ongelooflike grys oë is vol tergliggies. “Marissa? Het ons nie al ontmoet nie?”
Haar knieë knak en haar hart mis ’n slag. Gaan hy regtig die swak smaak openbaar om vanoggend se petalje op te rakel? Hoe sy dit regkry, weet sy nie, maar sy bly koel en kalm. “Meneer Wessels, ek dink jy maak ’n fout. Ek glo nie ons het mekaar al ooit gesien nie.”
Meneer Wessels glimlag soos ’n kat wat room gesteel het. “Ek is doodseker ek het jou iewers raakgeloop.”
Marissa kan iets oorkom van angs. Haar pa is besig om seker vir koue bier in die yskas rond te soek, en hy hoor hopelik min van die simpel gesprek. “Ek dink jy misgis jou, meneer Wessels.”
“Theo.”
“Ek het jou nog nooit voorheen met ’n oog gesien nie, Theo.”
Haar pa sit die biere op die tafel neer. “Marissa was een jaar Maties se karnavalkoningin. Miskien het jy haar foto iewers in die koerant gesien?”
Sy hou asem op.
“Dis wat ek netnou wou sê,” antwoord Theo Wessels tot haar verbasing. “Ek wou nie reguit vra nie en ek kan nie van jou verwag om almal te onthou nie, maar dis waar ek jou die eerste keer gesien het – die aand van jou kroning. Jy is vandag nog mooier as toe.”
Marissa wil haar vererg vir die twak wat hy kwytraak. Waar sou hy ewe skielik haar kroning kon bygewoon het? Sy maak die oorblyfsels van die slaaimakery met een vinnige veeg van haar hand bymekaar. “Jy is reg, daar was so baie mense, ek kan jou onmoontlik onthou. Wil Pappa nie vir Theo sitkamer toe neem nie? Dis koeler daar.”
Maar Theo Wessels het hom klaar op Flip se gunsteling-stoel tuisgemaak! “Die kombuis is vir my die koelste vertrek in die huis, ek bedoel die geselligste.”
Haar pa maak geen beswaar oor sy stoel nie. Hy gaan sit op die een regoor sy nuwe buurman, een van dié sonder armleunings. “Wat dink jy van organiese skape?” troef hy sy nuwe buurman.
“Ek dink dis ’n verkeerde woordkeuse. Skape is in elk geval organies.”
“Ek stem, maar ernstig nou …”
Marissa gryp die slaaibak en dra dit eetkamer toe.
Irma is besig om die rose wat sy gepluk het, in ’n langwerpige glasbak te rangskik. “Is jou pa al hier met die gas?” vra sy.
“Hulle sit in die kombuis en gesels soos ou vriende.”
“Goed so. Hy trek netnou in.”
“Hier? In ons huis?”
“In die gastekamer. Jy weet mos daar is nie ’n huis op Gannavlei nie.”
“Die laaste huurders het hul eie karavaan saamgebring, maar hý moet hiér slaap. Wat van die res van sy gesin?”
“Hy het nie ’n gesin nie en hy is nie getroud nie.”
“Ek is nie verbaas nie.”
“Hoe lyk dit my jy hou nie van hom nie?”
“Móét ek van hom hou?”
“Hy is aantreklik genoeg.”
“Mamma, ek stel nie belang nie.”
“Wees dan tog net vriendelik.”
“Hoekom het Mamma hom vir ete genooi?”
“Ek het nie, dis jou pa, en ek gee nie om nie. Dis vir my lekker om nou en dan geselskap van buite te hê. Die Wessels-man lyk my na ’n aangename