Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo
Sy wil nie naby hom wees nie, nie nou nie, nie vandat hy sy arm om haar gesit het en haar met soveel medelye getroos het, nie noudat sy juis sy troos begeer nie!
Dis al donker en sy moet die bedliggie aanskakel.
Hoe wens sy sy kan die komberse oor haar kop trek en slaap tot Kersfees! Ongelukkig ken sy die mense van die distrik te goed. Nie lank nie of iemand kom hier aan en wil met haar simpatiseer, haar niggies met bedekte beskuldigings, of Dawie se ma vra haar of sy weet wat Dawie besiel het, of Mart kom klap haar. Nee, sy bly nie ’n dag langer nie.
Sy gaan staan voor die spieël. Die rok wat sy aanhet is so lelik gekreukel, sy vervang dit met jeans en ’n T-hemp. Haar hare staan ook alkante toe. Sy vleg dit vinnig, verwyder die grimering wat in swart trane op haar wange lê en sluip in die gang af foon toe. Tot haar ontsteltenis staan hý daar en praat! Sy wil verbysteek studeerkamer toe, maar hy sit die gehoorstuk neer. “Wil jy bel?”
Sy vertrou nie haar stem nie en knik oordrewe. Hulle staan een tree uitmekaar. Sy waag dit nie nader aan die telefoon nie. Hy, die moedswillige mansmens, gee ook nie pad nie. “Hoe voel jy nou?” vra hy en hy klink waarlikwaar so opreg, sy wil huil.
“Oukei.”
“Jou ma sê jy wil môre Pretoria toe.”
Sy knik.
“Jy kan saam met my ry. No strings attached.”
“Dankie, maar liewer nie.”
“Jy wil alleen wees.”
“Niks soos die langpad nie.”
“Miskien sien ons mekaar in Pretoria.”
“Pretoria is groot.”
“Ek gee jou my kaartjie met my nommers.”
“Ek bel nie vreemde mans nie.”
“Mag ek jou selfoonnommer kry?”
“Kan ek eers vir Diana bel?”
Hy frons asof iets hom tref, glimlag dan. “Nes jy wil. Ek en jou pa het ’n paar sakies om af te handel. Dan sien ek jou miskien voor jy gaan slaap?” Hy maak ’n beweging, seker om eindelik weg te stap, maar bly op sy plek en kyk vir haar. “Marissa … Moenie jouself verwyt oor die … oor Dawie nie, hy het self besluit. Moenie dat jy jóú lewe ook verwoes nie.”
Haar trane sit so naby, sy moet haar rug op hom draai. Miskien sien hy dat hy haar ontstel, want hy maak hom uit die voete. Sy ken Diana se nommer so goed, sy skakel sonder om dit op te soek. Dit lui en sy haal diep asem. Sy gaan nie ’n woord sê oor die tragedie nie. Sy sal net sê sy strooi nie meer vir Mart nie. Sy en Diana verstaan mekaar. ’n Halwe woord is al wat nodig is tot hulle deurnag gesels en hul hartsgeheime met mekaar deel. Dit bêre sy vir later, vir wanneer sy eers daar is.
Die foon lui en lui en gaan oor na Diana se stemboodskap. “Hi, Diana here, please leave a message.”
Sy wag vir die piepgeluid en hou haar vrolik. “Hallo Diana, dis Marissa, ek wil ons kuier vervroeg. Gee jy om as ek môre daar aankom? Sal seker voor spitstyd voor jou deur staan. Not to worry, ek weet waar die sleutel is. Ek sal alles verduidelik. Sien jou môre.”
Sy sit die gehoorstuk terug en wil kombuis toe loop, maar haar ma staan in haar pad. “Het jy nou ’n boodskap gelos?”
“Ja, maak dit saak?”
“Jy kan nie sommer daar uitslaan nie. Sê nou sy is weg vir ’n week?”
“Sy los die sleutel in die blombak voor die deur.”
“In ’n stad soos Pretoria?”
“Stede soos Pretoria is deesdae veiliger as plase soos Jakkalspoort, Mamma. Diana woon in ’n meenthuiskompleks met sekuriteit.”
“Touché, maar ek gaan my bekommer.”
“Daar is gastehuise en hotelle as ek nie kan inkom nie.”
“Bly hier.”
“Nee.”
Irma sug. “Hoekom sien ek my eie hardkoppigheid by jou?”
“Verstaan Mamma nou?”
“Ja, my kind. Eet gou iets, dan help ek jou met jou klere. Siena het vandag gewas en gestryk. Jou goedjies hang in die strykkamer. Ek het jou selfoonnommer vir Theo Wessels gegee, ek hoop nie jy gee om nie?”
Marissa word rooiwarm, sy weet sy bloos. Sy het gewonder of hy die moeite gaan doen om sy belofte, of is dit ’n dreigement, uit te voer – en sowaar, hy het.
“Is jy nou kwaad?” vra haar ma.
“Nee.” Wys elke emosie wat sy ervaar, so duidelik op haar gesig?
“Hy sê hy het jou ook gevra, maar hy is bang jy vergeet.”
“Ek sou nie juis agter hom aanhardloop met my nommer nie.”
“Hy sal bel. Ek dink hy wil.”
“Ek dink hy is nuuskierig, nou maak hy of hy jammer is oor ons ellendes.”
“Marissa, nie ons ellendes nie, joune. Ordentlik van hom, sou ek sê.”
“Mamma, hy ken my nie. Vergeet van hom en wat tussen ons kan gebeur. Mans soos hy is volop. Kansvatters wat hulle sedig hou tot hulle jou het. Glo vir my, ek het sedert Dawie al ’n stel of twee afgetrap.”
“Nóú sê jy my.”
“Ek is lief vir Mamma, maar ek kan nie elke keer by Mamma kom huil as iets skeef loop met ’n man nie. Moenie worry nie; Mamma het my mooi geleer. Ek kan ook goeie oordeel aan die dag lê. Theo is nie te sleg nie, maar ek kan Mamma verseker hy het klaar ’n meisie of twee, en hy is ’n kansvatter.”
6
Later kry sy hom weer in die gang. Sy is op pad na haar kamer toe met arms vol klere en loop haar byna in hom vas. “Ja … jammer,” sê sy skoon van stryk af, “ek … ek moet nog hierdie gaan inpak.”
“Hoe laat ry jy?” vra hy kalm.
“As die son opkom.”
“Ek ry voor hanekraai.”
“Vroeg.”
“Ek het ’n negeuur-afspraak met iemand in Bloemfontein.”
“Oukei, ek hoop jy’s betyds.”
Hy steek sy hand in ’n groetgebaar na haar toe uit, besef blykbaar dat dit onmoontlik is om gewoonweg te groet, raak dan met sy vingers aan haar wang. “Dan sê ek maar totsiens en lekker slaap.”
“Jy ook.”
“Ek het nou jou selnommer.”
“My ma het my gesê.”
“Ek sal jou bel.”
“As jy wil.”
“Lekker slaap.”
“Jy het gesê.”
Hy haal sy skouers op asof hy verleë is, hou haar kamerdeur vir haar oop sodat sy kan ingaan, trek dit dan saggies toe. Sy plak die klerebondel op haar bed neer. Hom sien of hoor sy nooit weer nie, en die tasse moet gepak word. Sy doen dit en probeer doelgerig om nie aan hom te dink nie.
Haar ma bring vir haar ’n glas warm melk met gerasperde neutmuskaat, haar ouma se raad teen slaaploosheid. “Moenie jou wekker te vroeg stel nie, ek sal jou kom wakker maak. Nag, Marissa.”
“Nag, Mamma.”
“Drink alles op.”
“Ek sal.”
“Nie meer hoofpynpille nie! Belowe.”
“Ek belowe.”
Sy drink die glas leeg, gaan lê op haar rug en konsentreer daarop om te ontspan. Toe droom sy, en sy droom sy en Dawie en Mart staan saam voor die