Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo

Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo


Скачать книгу
Hulle loop in die vlak water, die flaminke wei ongestoord, die eende staan op die eiland in die middel van die dam. Die hamerkop styg op en vlieg, hy vlieg voor hulle uit. Hulle loop en loop. Die veld wemel van maer skape. Op die hoogste kop staan ’n klipkasteel. Hulle loop soontoe en kom nooit daar uit nie. Die kasteel skuif al verder weg. Dis warm. Die sonbesies skree. Die familie kom saam in die familiebegraafplaas op Kalkputs. Tant Chrissie bedien melktert, sy kyk Marissa aan en skud haar kop. Almal kry van die tert, sy nie. Mart speel klavier, haar niggies speel viool, die neefs trompette, John slaan die tromme. Dawie is die dirigent, die orkes speel harder en harder en stop. Almal kyk vir haar, sy staan daar poedelkaal.

      “Marissa, Marissa …”

      Dis haar ma voor haar bed met ’n beker koffie. “Ek het jou wekker stilgemaak. Sesuur. Jy moet opstaan.”

      “Het Theo gery?” vra sy sonder om te dink wat sy sê.

      Haar ma glimlag. “Twee uur gelede al. Is jy nou spyt julle ry nie saam nie?”

      “Hy het ’n afspraak in Bloemfontein. Ek sou in sy pad wees.”

      Haar ma skud haar kop. “Drink jou koffie, en eet die beskuit. Ek gaan jou padkos inpak.”

      “Dankie, Mamma.”

      “Nog iets! Hy het sy selfoonnommer vir ons gegee, toe tik ek dit vir ingeval in jou foon ook.”

      “Hoekom sal ek hom bel? Ek sal mos nie.”

      “Ingeval!” Irma wag nie vir nog besware nie, sy vat haar skinkbord en maak dat sy wegkom.

      Marissa tel haar selfoon op, en los dit. Wou sy sowaar seker maak of sy nommer regtig daar is? Die nagmerrie het haar ontstel en sy weet nie eens wat sy als onthou nie. Sy voel nie lekker nie, sy voel skuldig en skaam. Sy drink die koffie, eet die beskuit, gaan stort, trek aan, grimeer lig en pak die laaste van haar toiletware in. Buite maak sy ’n draai by die stalle. Prinses kyk na haar met vaak oë. Sy vryf haar neus. Die boerboele loop saam kar toe. Seuntjie, die mak springbok, kom aangedraf. Hy is altyd bang hy mis iets.

      “Ons hou nie daarvan dat jy alleen ry nie,” sê haar ma.

      “Bel ons dadelik as jy probleme kry,” sê haar pa. “Al is jy honderd kilometer van die huis af, ek kom haal jou.”

      Sy omhels hulle. “Moenie so bekommerd wees nie. Ek het al baiekeer alleen gery.”

      “Nie ná so ’n groot skok nie.”

      John se stem eggo deur haar kop: “And the heart must pause to breathe, and love itself have rest.” Hulle weet dit nie, maar hy was haar eerste groot teleurstelling. Nou Dawie. Sy sal gewoond moet raak aan skokke. “Ek is oukei,” sê sy, “ek moet wegkom. Dis al.”

      Sy soen haar ouers. Hulle hou haar vas. Sy soen hulle weer, klim in en skakel haar Polo’tjie aan. Die skaduwees begin al lig toe sy by die motorhek uitry. In die truspieëltjie sien sy hulle waai. Daar is ’n knop in haar keel. Is dit regverdig van haar om hulle agter te laat? Watter antwoorde sal hulle moet uitdink op die lastige vrae wat haar lafhartigheid gaan veroorsaak? Amper kry sy lus en draai om, maar sy onderdruk die gevoel en ry so vinnig as wat die grondpad haar toelaat. Sy sal nie dat Dawie se wraak haar lewe verwoes nie. En sy weet dat haar ouers haar lief genoeg het om saam met haar te veg.

      Die Karoo-oggend breek oor die bulte. Gryse en pienke verdwyn in diepblou en roosrooi. Die son kom op in al sy glorie. By die uitdraai hoofpad toe hou sy stil en skakel die enjin af. Sy maak die kardeur oop en klim uit. Agter haar het die stof gaan lê. Sy rek haar uit, asem die kruiegeure van die veld in. Vlug sy om weg te kom van die aaklige gebeure op Poupan of hardloop sy Pretoria toe agter Theo Wessels aan?

      Sou hulle kon hande vat en die veld invaar as hy langer gekuier het en Dawie en Mart veilig getroud was, as hy eers volgende jaar kom grond huur het, volgende jaar wanneer sy vry was en nuut kon begin? Onmoontlik! Dit gebeur net in drome.

      Sy klim terug in die kar, slaan die deur met mening toe, skakel die enjin aan en vat die lang pad na Gauteng toe. Adele met haar hartseer verlangeliedjies hou haar geselskap. Amanda Strydom, Anna Davel, Lize Beekman – almal is saam met haar so ontroosbaar hartseer.

      Hopelik help Diana se vrolike geselskap en aande uit saam met Kaapse vriende wat hul drome in die Noorde gaan najaag het en gelukkig is. Sy moet regkom voordat sy vir Kersfees teruggaan plaas toe. Miskien maak Theo Wessels daar ’n draai om vas te stel hoe sy vee vorder, dalk ook teen Kersfees of Nuwejaar? Rondom die feestyd raak die boere van die distrik heel plesierig. Daar is oral braaivleise en boeredanse van plaas tot plaas dwarsdeur die warm somernagte; die laastes van die ou jaar, die eerstes van die nuwe jaar. Dalk was hy al op ’n deurnagboeredans. Hy is immers ook ’n boer en die Duitsers van Namibië kan vrolik raak. Al wat meisie is, sal agter hom aan wees. Hy sal met hulle dans, maar meer met haar – al om die huis op die breë stoep tot hulle moeg is en veld toe stap. Hand aan hand in die grondpad tot die klanke van die dans stil word en dit net hulle en die naggeluide is, bokant hulle die ontelbare sterre van ’n helder Karoohemel.

      ***

      Marissa gee haar oor en droom. Op die langpad tussen Kimberley en Bloemfontein, droom sy van ’n lang donker man met smeulende grys oë en sagte hande. Hy volg haar van plek tot plek, oorlaai haar met geskenke en komplimente, hy dra haar op die hande. Sy droom tot die werklikheid haar tref: Hierdie jaar sal daar nie gedans word op Poupan en Kalkputs en Bitterfontein nie, ook nie op Jakkalspoort en baie ander plase in die distrik nie. Uit respek vir Dawid en Chrissie Nel en Dawie se broers Frans en Chris en Mart en tant Martha en oom Jan en almal wat na die troue genooi is, na die huwelik wat nooit voltrek is nie.

      Hoe gaan dit met Mart? wonder sy skuldig, sit die volgende hartseer-CD in die speler en verban elke simpel romantiese gedagte aan Theo Wessels uit haar hart. Op Bloemfontein bel sy haar ma-hulle om te sê hoe sy vorder. “Hulle het Mart deurgehaal, dit gaan goed met haar,” sê haar pa.

      “Weet sy al van Dawie?”

      “Hulle het haar nog nie vertel nie.”

      “Sy moet tog iets vermoed?”

      “Ons hoor maar als by tant Chrissie. Sy hou haar sterk.”

      Haar ma neem oor by die telefoon. “Moet jou nie oor hulle bekommer nie. Hulle kry hulp van oral.”

      “Ek wonder net of Mart oukei is. ”

      “Versigtig ry.”

      “Ja, Mamma. Die pad is nie so besig nie.”

      “Laat weet as jy aangekom het.”

      “Ek sal.”

      Arme Mart, sy sal moet uitkom met die waarheid oor die baba. Nog ’n skok vir tant Chrissie en oom Dawid-hulle, om nie te praat van tant Martha en oom Jan-hulle nie. Die geskinder gaan hoogty vier, maar miskien bring Dawie se kind die troos wat nodig is. Weet hulle al dat sy nie begrafnis toe kom nie? Eintlik moet sy vir ’n jaar of twee daar wegbly. Sy is net te vas aan die huis: haar ouers se enigste kind en lief vir die plaas, vir Prinses en Seuntjie en die ander diere en voëls, selfs die ou hamerkop.

      Voordat sy in trane uitbars sit sy liewer die radio aan en luister heelpad verder na RSG, en die nuus stiptelik om elke uur. Die suiglekkers, wat haar ma ingesit het, hou haar wakker en die reis verloop sonder voorval. Skuins voor vieruur die middag hou sy by die hekke van Diana se meenthuiskompleks stil. Die veiligheidsbeampte neem foto’s van haar kar se nommerplate en haar rybewys. Hy vra wie sy besoek en toe sy “Diana Boshoff” sê, wuif hy haar deur.

      Sy parkeer onder die groot jakaranda voor die regte eenheid. Die rit het haar uitgeput en sy kan nie wag om haar op Diana se sitkamerbank tuis te maak en rustig te gesels nie. Sy sal haar alles moet vertel; hoe gouer, hoe beter. Sy sluit die kar, altyd uit gewoonte sodra sy in die stad is. Met haar handsak oor haar skouer loop sy na Diana se voorstoep. Sy is waarskynlik nie tuis is nie, anders sou sy in die oop deur vir haar staan en wag het. Dalk beter so. Haar bene is lam van die lang sit en die spanning wat die laaste deel van die pad in die vreemde omgewing met sy snelweë en klawerbrûe meegebring het. Sy klou aan die stoeptrap se reling en klim stadig.

      “Hallo,


Скачать книгу