Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo
sê sy, “shit …”
“Ek het weggehardloop, van die begrafnis.”
“Ek sou ook.”
“Mart is nog in die hospitaal.”
“Weet jy of sy oukei is?”
“Volgens my ma-hulle gaan dit goed. Ek het netnou, nadat Theo Wessels hier weg is, weer gebel.”
“Vriendin, waar kom jy aan Theo?”
“Hy huur grond by my pa, eintlik mý grond. Ek het hom gister eers ontmoet.”
“Is nie! Onthou jy nie? Hy was by met jou kroning, hy en daai aaklige ou Sylvia van hom. Simon het hom kom voorstel. Onthou jy? Die joernaliste wou met jou praat en Simon kom toe al tussenin. Nee, jy’t vergeet. Anyway, Theo kon sy oë nie van jou afhou nie, jou hand gevat en mooi woordjies gefluister. Ou Sylvia moes hom kom wegsleep. Mind you, hy steur hom nie veel aan haar nie, my ook al uitgeneem. Toe snuffel die heks my uit en wys my haar verloofring. Hy’s nicer as sy, maar pasop vir hom. Hy het ’n reputasie. Haai, jy lyk of jy wil omval. Ek kan Gunter bel as jy nie kans sien nie?”
“Nee, ek sal saamgaan. Enigiets om nie vanaand alleen te wees nie.”
“Ek moes daaraan gedink het dat jy moeg sal wees. Voel nou vir my of ek jou dwing.”
“Asseblief, Diana, jy dwing my nie. Doen my net een guns. Moenie ’n woord rep oor Mart en Dawie nie.”
8
Toe Theo aan die voordeur van die De Wildts se gerestoureerde herehuis in Parktown klop, lyk hy uiterlik koel en kalm en onberispelik in sy duur aandpak. Hy het tot die slotsom gekom dat hy nie met Sylvia kan trou nie en het heelpad in die kar gesit en oefen aan hoe hy dit vir haar moet sê. Nou staan hy hier sonder die regte woorde met ’n bos dieprooi rose en die halssnoer wat hy as ’n Kersgeskenk bedoel het.
Doris maak die deur oop. Sy groet styf, vat die ruiker en neem hom na die ontvangskamer. Dit amuseer hom. Hy kuier al jare by Sylvia en word steeds deur Doris verwelkom, na “ontvangs” geneem en aangesê om solank te sit, juffrou De Wildt is netnou hier.
Hy sit nie, hy bly in die middel van die vertrek staan, sy hand in sy sak om die boksie met die kosbare halssnoer; een volmaak geslypte diamant van 2.46 karaat wat aan ’n platinum-ketting hang. Die huis is onnatuurlik stil. Mom en Dad is duidelik reeds uit. Die antieke staanhorlosie tik die minute af, dit wys vyf-en-twintig voor agt. Verweg hoor hy ’n deur klap, ’n ruk later die geritsel van satyn. Hy wag geduldig, sy rug na die deur.
Sylvia hou van speletjies. Hy moet haar haar sin gee, veral vanaand. Saam met die geritsel kom die bedwelmende reuk van Dior se J’Adore, glo vir sjiek en gesofistikeerde vroue, aan haar altyd ’n titseltjie te veel. Dis wat hom na haar toe aangetrek het, die oordadigheid wat haar warmbloedigheid verraai; een eienskap wat geen afrondingskool kon temper nie.
Sy kom staan agter hom, sit haar hande voor sy oë, druk haar wang teen sy slaap. Sy liggaam reageer onwillekeurig. Hy draai om, neem haar hande in syne. Al kan hy haar nie meer verdra nie, bly sy nog begeerlik met haar koeltes wat so maklik vuurwarm kan word; haar stralende glimlag, donkerrooi geverfde lippe, hare glad en blink geborsel, volmaakte lyf gegiet in ’n vollengte, styfpassende aandrok. Om haar nek pryk die skepping van ’n bekende goudsmid. Sy diamant-halssnoer sal moet wag tot later.
“Jy’s pragtig,” sê hy en bedoel dit.
Sy is beeldskoon op haar harde manier en sy het genoeg geld om haar hele lewe lank so goed te kan lyk. “Dankie, my darling. As ek jou soen, besmeer ek jou met my lipstiffie, maar ek voel lus en vreet jou op.” Sy streel met die agterkante van haar lang naels oor sy slape. “Ek het só na jou verlang, ek is lus en skip die opera, bestel vir ons ’n pizza en ’n bottel rooiwyn, dan speel ons heelaand met mekaar. Doris het vroeg af, Mom en Dad is saam met oom Uncle. Ons kan doen net wat ons wil.” Sy vlei haarself teen hom aan, haar arms om sy nek. “Love you, need you, missed you.”
Theo kry lus en skeur haar rok van haar lyf af, maar Doris beweeg soos ’n skim by die oop deur verby en hy keer homself, vat Sylvia se arms by die gewrigte vas. Vreemd dat hulle vanaand so eenders voel! Albei lus vir pizza en wyn, albei lus om die reëls te breek, weg te kom uit die kring waarin hulle skaars kan beweeg. Bog, sy bedoel nie ’n woord wat sy sê nie.
“Alas!” sug sy dan en bevestig sy vermoede. “Duty calls, and we are off to the opera.”
Sy stap voor hom uit, die swaai van haar heupe ’n lus vir die oog. Doris staan en wag met ’n deursigtige aandjakkie. Theo neem dit by haar en drapeer dit oor Sylvia se kaal skouers.
Hy is nie lus vir gesels nie, veral nie om lastige vrae te beantwoord nie, en laat glip ’n CD in die speler.
By die skouburg wag die persfotograwe hulle in. Hulle staan styf langs mekaar, glimlag vir die kameras, op die oog af stralend gelukkig. Sylvia hang aan sy arm. Hulle groet bekendes links en regs. Hulle is net betyds, want die klokke lui alte dringend, oor en oor dieselfde deuntjie. Die voorportaal is vol malende mense, almal haastig op pad na hul bespreekte sitplekke. Hy en Sylvia kies die bekende paadjie na die De Wildts se losie.
Dis toe dat hy die meisie van sy drome weer sien. Hy vang net die beweging van haar skouers, die vag goue hare, ’n flitsgedagte in ’n droom. Marissa! Maar dan is sy skielik weg.
***
Die televisie-regisseur is ’n aantreklike, frisgeboude man in sy veertigs. Hy het rooi hare en groen oë. Sy gesig en hande is oortrek met roeserige sproete. Hy lag maklik en gesels net so maklik.
Marissa probeer hard om gaaf te wees, maar haar gedagtes dwaal. Diana neem in elk geval die voortou met eindelose skinderstories oor mense wat sy nie ken nie. Die fotograaf Vernon Palmer is so Afrikaans soos boerewors en biltong. Hy kry dit wonder bo wonder reg om Diana soms in die rede te val. Dit klink vir Marissa of die “bedryf”, so verwys hulle na die film- en TV-wêreld, ’n onuitputlike bron van skinderstories het. Die mense van die “bedryf” is blykbaar almal boheems of bloot net anders. Hul aweregse maniere word verskoon omdat hulle ware kunstenaars is en alles wat hulle doen tog maar larger than life is. Sy verwonder haar dus daaraan dat Gunter Winterbach en Vernon Palmer redelik normaal optree, hoewel hul aandpakke nie so konvensioneel is nie. Gunter dra ’n los baadjie van skitterende groen- en goudlamé, Vernon, ’n wyemou-syhemp, silwer kettings en ’n silwer serp om sy nek. Sy swart krulhare staan woes om sy kop en sy stoppelbaard is net ’n titsel te lank om in die mode te wees. “Ek laat groei,” maak hy verskoning.
Diana streel liefderik oor die stoppels en staan op haar tone om sy wange te soen.
Die twee is so ooglopend verlief dat Marissa en Gunter noodgedwonge ook by mekaar inhaak. Gunter sit sy hand op hare en Marissa voel sy teerheid aan. Hy lyk vir haar na ’n sagte soort mens en so bedagsaam ook, sy kan nie dink hoekom sy vrou hom gelos het nie. Kon hulle nie iets gereël het wat hulle werk betref nie? Maar dit was dalk nie al wat gehaper het nie, daar is baie misverstande wat verhoudings verongeluk. Sonder dat sy wil, dink sy aan Dawie en die sinlose daad wat hy gepleeg het. Wat het met hom verkeerd gegaan? Hy was tog nie ’n moorddadige mens nie of was hy? Was dit haar skuld? Het sy hom gedryf?
Die orkes stem hul instrumente, die laaste toeskouers neem hul plekke in. ’n Gevoel van afwagting vul die lug. “Jy lyk bekommerd,” sê Gunter hier langs haar.
Sy kyk na hom, in die skemer lyk hý bekommerd. “Hoekom vra jy?”
“Daar is iets wat jou pla.”
Sy kan voel sy bloos. “Jy is oplettend.”
“Ek is opgelei om emosies te ontleed.”
“Dalk is jy reg, dalk is ek bekommerd.”
Hy vat haar hand, druk dit een oomblik teen sy mond en los dit dan. Sy sou op sy skouer kon huil, maar liewer nie. “Die ouverture begin,” fluister hy in haar oor en dis skielik so dubbelsinnig.
Die dirigent lig sy stokkie. Die gehoor raak stil en spoedig vul die bekende musiek van Puccini se Madama Butterfly die konsertsaal.